Die Handelinge van die Apostels: Ananias en Saffira (Hand 5:1-11) – Francois Malan

5:1 Teenoor Barnabas se
sprekende voorbeeld van barmhartigheid, vertel Lukas van ’n egpaar in die
gemeente wat in hulle harte anders gesind was. ‘’n Man met die naam Ananias het
saam met sy vrou Saffira ’n stuk grond verkoop.’ Ananias is moontlik die
Griekse vorm van die Hebreeuse Gananjah ‘Jahweh is genadig’ of van Ananejah
‘Jahweh hoor’ (Neh 3:23). Die naam Ananias kom ook voor in Hand 9:10 vir
die vroom man in Damaskus wat vir Saulus gaan bid en hom gedoop het (’n ander
Ananias kom in Hand 22:12 voor); en in Hand 23:2 het nog ’n Ananias, die
hoëpriester, opdrag gegee dat Paulus op sy mond geslaan moet word. Saffira
beteken ‘die mooie.’  Soos Barnabas
verkoop die twee ’n stuk grond wat aan hulle behoort, maar met ’n hele ander
gesindheid en doel
as die ‘seun van bemoediging.’

Soos Jesus vir Judas, die
werktuig van die Satan (Luk 23:3), in sy apostelkring opgeneem het, is Ananias
en Saffira ook werktuie van die Satan (Hand 5:3) vir wie Jesus in die
eerste gemeente opgeneem het en verraaiers van sy liefde geword het. So beskryf
Lukas die voortsetting van Jesus se bediening as die Here wat ná sy hemelvaart
deur sy volgelinge werk, met ooreenkomste uit sy bediening as die Seun van die
Mens op aarde. So het Akan uit die stam van Juda met die ingang in die beloofde
land tydens Jerigo se inname troueloos gehandel. Uit die goed wat aan die Here
gewy is  het hy mooi klere, goud en
silwer gevat, daaroor gelieg, en in die grond in sy tent gaan begrawe (Josua
7).

5:2 ‘en hy (Ananias) het van
die geld  (van sy grond) vir homself
teruggehou…’ (nosfizomai terughou vir jouself; dit is dieselfde woord as
in die Griekse vertaling van Josua 7:1 oor Akan; die woord word ook in Titus
2:10 gebruik). Ananias doen dit met die medewete van sy vrou. Van die begin af
was hulle plan om van die geld agter te hou en die skyn voor te hou dat hulle
alles vir die Here gegee het. Sy optrede is ’n model van ’n halwe hart wat tot
oneerlikheid lei. Hy wou homself as ’n besondere goeie Christen voorstel sonder
dat hy dit was. Sy misdaad (5:4 pragma onderneming) was nie dat hy nie
die volle verkoopsom afgelewer het nie, maar dat hy voorgegee het dat dit die
volle som was en homself valslik in ’n goeie lig probeer voorstel het (soos
Judas se soen om Jesus te verraai, en Judas se mooi praatjies oor geld vir die
armes in plaas van die salf vir Jesus se voete, Joh 12:4-6; Mark 14:44-45 ). Ananias
het die eer van mense gesoek
, maar nie die Here se goedkeuring nie (vgl.
Joh 5:44: Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie
die eer soek wat van die enigste God kom nie?’). Ananias het van die Here se
alsiende oë vergeet. Calvyn sê dat hy die voete van die apostels groter eer
betoon as die oë van die Here.

5:3 Onder die leiding van die
Heilige Gees sien Petrus egter deur Ananias se valsheiden die duiwelse
agtergrond van die bedrog (Luk 22:3; Joh 6:70). So het Jesus geweet wie Hom
gaan verraai (Luk 22:21; Joh 6:64; vgl. Hand 13:9). Maar Ananias bly ten volle
verantwoordelik vir sy daad. Deur die verleiding van die Satan om die eer van
die gemeente vir hulleself te kry asof hulle deur die Heilige Gees gelei is tot
barmhartige vrygewigheid, beplan Ananias en sy vrou die leuen voor die
apostels, maar lieg daarmee ook vir die Heilige Gees, en tree so teen
God self op. 

5:4 Hierdie vers verduidelik
die stellings dat die gemeente alles gemeenskaplik besit het (4:32,34-35).
Petrus stel ‘n dubbele retoriese vraag aan Ananias, waarop die antwoord ‘ja’
gesuggereer word. Toe die grond nog onverkoop bly lê het, was dit nie joune
nie? en toe dit verkoop is het dit nie onder jou seggenskap gebly nie? Daarmee
word die reg tot privaatbesit erken
. Die volgende vra na sy motief: Waarom
het jy hierdie daad (pragma onderneming wat beplanning en
verantwoordelikheid behels) in jou hart gesit/bedink? Sonder om daarop ‘n
antwoord te ontvang wys Petrus  hom wat
hy in werklikheid gedoen het. ‘Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir
God!’ 

5:5 Die onthulling en
beskuldiging van Petrus was vir Ananias ’n ‘dodelike’ verrassing. Terwyl
Ananias die laaste woorde hoor het hy geval en gesterf. God wat deur die
mond van die apostel praat, het die oordeel voltrek (vgl. die eersgeborenes van
die Egiptenare wat almal gesterf het met die tiende plaag, soos Moses gesê het;
Eks 11:4-6; 12:29-30. Dit is soos die skielike dood van Abia, die seun van
Jerobeam oor die skreiende sondes van sy pa, net soos die profeet Agija
aangekondig het, 1 Kon 14:12-17). Hebreërs 10:31 sê: ‘Verskriklik is dit om te
val in die hande van die lewende God,’ oor mense wat die Seun van God vertrap
en die Gees van genade uitdaag. In 2 Kor 2:11-17 sê Paulus: ‘ons versprei die
geur (wierook) van die kennis van Christus; vir dié wat verlore gaan is dit ’n
reuk vanuit die dood tot die dood, vir dié wat verlos word, ’n geur vanuit die
lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos baie wat smous
met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid asof vanuit God, en dit
in Christus.’ 

Ananias se soeke na eer het
van hom ’n werktuig van die Satan gemaak deurdat hy voor die gemeente
vir die Heilige Gees en vir God gelieg het (5:3,4). Deur Ananias se
eersugtigheid het die Satan ingekom in die eerste gemeente wat so mooi
saamgeleef het. So het Eva die leuen van die slang geglo en die dood oor die
mensdom gebring met haar begeerte om soos God te word wat alles kan ken (Gen
3:4-6).   

En ’n groot vrees/ontsag
vir God
, het oor almal gekom wat daarvan gehoor het (vgl Hand 5:13
vir die reaksie van die res van die volk). 1 Petrus 2:8 sê Jesus is ‘n ‘klip
waaroor ’n mens struikel, ja, ’n rots wat ’n mens laat val. Hulle struikel
omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem’ (deur
Petrus aangehaal uit Jesaja 8:14). Hand 2:47 vertel dat die hele volk die
volgelinge van Jesus goedgesind was oor hulle eenheid en milddadigheid. Ná
hierdie straf op die sonde van een van die gemeentelede is die volk ook
versigtig vir hierdie kinders van God.

5:6 Die jonger manne (neōtreroi)
van die gemeente kom en draai hom in linne toe, dra hom uit (waarskynlik ook
uit die stad uit) en begrawe hom (waarskynlik in die graf vir misdadigers,
vgl. Jes 53:9). In die Ben-Hinnomdal is die Tofet opgerig waar kinderoffers aan
Molog gebring is (2 Kon 21:6) en wat ’n kerkhof vir misdadigers geword het
(vgl. Jer 7:31-32; 19:11). In Jeremia se tyd, voor die ballingskap, het die
Potskerfpoort na die dal gelei (Jer 19:2). In Nehemia se tyd, na die
ballingskap, is dit die Aspoort genoem (Neh 2:13). Die vure wat altyd op
Jerusalem se ashope gebrand het, het aanleiding gegee dat Ben-Hinnom (die seuns
van Hinnom se dal) in die Talmud Ge-Henna geword het, waar die woord ‘hel,’ die
plek van die ewige vuur/straf, vandaan kom.

5:7 Saffira kom in, onbewus
van wat met haar man gebeur het, ongeveer 3 uur na sy dood, daar waar die
apostels en gemeente byeen was. Daar word nie verder verduidelik waarom sy
gekom het, en waarom sy onbewus was van alles nie.

5:8  Petrus vra haar ook direk na die koopsom wat
haar man aan die voete van die dissipels kom neersit het, of dit die bedrag is
wat hulle vir die grond ontvang het (5:2). Toe sy bevestig dat dit die koopsom
is wat hulle ontvang het, was dit duidelik dat hulle twee saamgespan het
om van die geld terug te hou.

5:9 Petrus se retoriese vraag
aan haar gaan oor haar en haar man se samespraak oor die bedrag. Waarom het
hulle gedink hulle kan die gemeentelede se hoë agting met hulle valsheid koop?
Het hulle dan nie geweet dat dit eintlik die Gees van die Here is vir wie hulle
getoets het om te kyk of Hy dit miskien nie sal agterkom nie? Dit is die Gees
wat op die gemeente uitgestort is en juis mense tot bekering van hulle sonde
lei. Toets (peirazō) het hier die implikasie dat dit nie sal werk nie.
Weet hulle nie dat die Here alles weet nie, en dat dit onmoontlik is om
vir Hom te lieg sonder dat Hy jou diepste gedagtes en begeertes ken?

Daarop spreek Petrus die
oordeelswoord van God
. ‘Let op! Dié wat jou man begrawe het, is voor die
deur en sal jou uitdra.’ Onder leiding van die Heilige Gees weet Petrus dat
hulle voor die deur is, en weet hy dat hulle haar ook dood gaan uitdra. Dit
bevestig dat dit God se oordeel oor haar is wat Hy met die skielike dood
voltrek. Petrus het dit slegs aangekondig.

5:10  Op Petrus se woord, dat dié wat haar man
begrawe het, haar ook sal uitdra, val sy onmiddellik (paragrêma ) dood
neer voor Petrus se voete, waar haar man die geld neergesit het. En dan kom die
jongmanne (neaniskoi) in, soos hy gesê het, vind haar klaar dood, en
hulle dra haar uit om haar langs haar man, met wie sy saamgespan het, in die
graf vir misdadigers te gaan begrawe. Saam het hulle gesondig, saam word
hulle begrawe
.

5:11 Oor die hele gemeente en
ook oor almal wat van die dood van Ananias en Saffira gehoor het, het daar ’n
groot fobos vrees/diepe eerbied en ontsag vir God gekom – vrees
by dié wat nie in Jesus geglo het nie, en diepe eerbied en ontsag by die
gemeente van die Here. 

Die woord ekklêsia word hier vir die eerste keer in Handelinge gebruik. Dit kan verwys na ’n vergadering van gelowiges wat aan Christus verbind is, en na ’n gemeente waarvan die lidmate op die Here vertrou, en na die kerk van God in die wêreld. Hulle is nou die volk van God (Hand 15:14). Met die twee voorbeelde, Ananias en Saffira die bedrieërs teenoor Barnabas die barmhartige,stel Lukas die lewe in die eerste gemeente van die Here se vreugde en hartseer voor, van die voortgang van Jesus se werk deur die Heilige Gees in mense. Soos Judas in Jesus se dissipelkring en Akan by die wonderlike inname van Jerigo met die intog in Kanaän, word die gemeente se daaglikse afhanklikheid van die Here se leiding beklemtoon en van die teenwoordigheid van God wat sy wil deurvoer. Die straf op sonde teen die Heilige Gees word duidelik beskryf in Jesus se uitspraak oor laster teen die Heilige Gees in Luk 12:10; en oor iets wat teen die Heilige Gees gesê word in Matt 12:32).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Gemeenskaplike besit (Hand 4:32-37) – Francois Malan

4:32 ‘Die groot groep (plêthos)
wat gelowig geword het was een van hart en siel…’ Die Jode het die ‘hart’ as
die sentrum van die mens se denke beskou, en met ‘siel’ die setel van die mens
se wil. Saam verwys die twee terme na die hele innerlike lewe van die mens. Die
groeiende gemeente het dieselfde dinge gedink en wou dieselfde dinge hê.

Filippense 1:27 praat van ‘in een gees vasstaan en met een siel saam stry vir
die geloof in die evangelie.’

‘…en niemand het na enige van
sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit.’
Die teks praat egter van elkeen se eie besittings en 5:4 erken die eiendomsreg
van elke lidmaat. Dit beteken dat niemand gesê het ‘wat ek besit behoort slegs
aan my nie.’ Hulle het hulle besittings beskou as iets wat die Here aan
hulle toevertrou he
t om ander wat gebrek ly, vrygewig daarmee te help.
Hulle het nie vasgeklou aan hulle besittings om slawe van hulle besittings te
word nie.Die besluit om van jou besittings te verkoop om te kan uitdeel
was vrywillig (vgl. 5:4). So het gelowiges uit barmhartigheid van tyd tot tyd
selfs van hulle besittings verkoop om behoeftiges te kan help, as die gevolg
van hulle liefdesband, hulle koinōnia met mekaar (2:44-45). In Deutr.
15:4-5 het die Here reeds beloof dat daar nie ’n arme in die beloofde land sal
wees nie, as die volk net na die Here sal luister en elke sewe jaar die skuld
van ’n mede-Israeliet afskryf (vgl. ook Lev 25:10 se landswye afskrywing van
skuld in die hersteljaar, elke 50ste jaar).

4:33 Die groot krag waarmee
die apostels getuig het oor die opstanding van die Here Jesus, is onderskraag
deur die gemeente se onderlinge verbondenheid en hulp aan mekaar, en is die
werk van die Heilige Gees in hulle. Dit het Jesus net voor sy hemelvaart aan
hulle belowe (Hand 1:8 ‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom en julle sal my getuies wees…’). Die opstanding van Jesus het
hulle oortuig dat Jesus die Here is wat oor hulle lewe regeer; dat Hy God is
(vgl. 2:32-36). Met sy opstanding het die nuwe skepping begin, waarvan die
liefdesgemeenskap van die Christene ’n sigbare bewys is.
Dit is die
uitwerking van die groot genade van God wat oor al die gelowiges gekom het en
sy genade in hulle harte vir mekaar. En dit het hulle getuienis oor Jesus se
opstanding en dat Hy hulle Here is, voor ander mense geloofwaardig gemaak.

4:34-35 ‘want daar was nie ’n
behoeftige persoon onder hulle nie (endeês iemand wat nie het wat nodig
of noodsaaklik is om te bestaan nie), want wie eienaars van grond (chōrioi, vir
landerye of weiding) of huise was, het verkopers geword (pōlountes,
imperfektum deelwoord om aan te dui dat dit verkoop word soos wat daar behoefte
aan was) en het die opbrengs van die verkope gebring, en dit voor die voete van
die apostels neergesit; en dit is uitgedeel aan elkeen soos iemand ook al
behoefte gehad het.’ Al die Griekse werkwoorde in die twee verse is in die
onvoltooide tyd, wat aandui dat dit ’n proses is wat voortgegaan het soos
wat iemand ’n behoefte/tekort gehad het.

4:36-37 Lukas gee ’n voorbeeld van die barmhartigheidsdiens van die eerste gemeente. ‘En toe het Josef, wat die eienaar was van ’n stuk grond, dit verkoop en die geld aan die voete van die apostels neergesit.’ Josef was ’n Leviet, uit die stam van Levi. Die Leviete was die helpers van die priesters, ook onderwysers by die sinagoges, en het gehelp met die regspraak in die stede waar hulle tussen die stamme van Israel geplaas is. Die apostels het vir Josef die bynaam Barnabas gegee om hom te onderskei van die baie Josefs onder die Israeliete (vgl. Hand 1:23 Josef Barsabbas). Lukas se verklaring vir die bynaam Barnabas is huios paraklêsios, ‘seun van vertroosting, bemoediging, hulp,’ soos die naam van die Heilige Gees, Parakleet, ‘Helper, Trooster, Bemoediger.’ Barnabas ontferm hom oor Saulus ná Saulus se bekering (9:27); die gemeente stuur Barnabas om die gemeente in Antiogië te gaan help (Hand 11:22); hy gaan haal Saulus in Tarsus om in Antiogië te kom help; daardie gemeente stuur vir Barnabas en Saulus om hulle kollekte weg te bring na die broers in Judea, ná die swaar hongersnood (Hand 11:20); in opdrag van die Heilige Gees stuur die gemeente in Antiogië vir Barnabas en Saulus op hulle eerste sendingreis wat in Siprus begin, waarvandaan Barnabas gekom het. Van Siprus af noem Lukas vir Saulus op sy Latynse naam Paulus, ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9) wat daarvandaan eerste genoem word as die leier. Na die lang reis is Paulus en Barnabas na die vergadering in Jerusalem oor die vraag of bekeerlinge uit die heidendom besny moet word (Hand 15:2). Met die tweede sendingreis is Barnabas en Markus na Siprus (Hand 15:39). Dat die Leviet Josef, van die eiland Siprus in die Middellandse See, grond besit het in die gebied om Jerusalem, kan ’n aanduiding wees dat hy en/of sy ouers van die vroom Jode was wat by die stad kom woon het in afwagting op die koms van die Messias (vgl. Hand 2:5). Barnabas se bynaam was waarskynlik ’n beskrywing van sy goeie gesindheid en optrede as helper wat mense bemoedig. Dat die geld van die verkope aan die voete van die apostels neergelê is, is ’n aanduiding van ’n fonds wat deur hulle beheer is om aan behoeftiges uit te deel. Volgens 2:45 het gemeentelede self ook van hulle geld aan behoeftiges gegee.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die gemeente se gebed om vrymoedigheid (Hand 4:23-31) – Francois Malan

4:23 As vrygelatenes deur die
Raad (4:21) is die eerste gedagte by Petrus en Johannes om na hulle ‘eie mense’
te gaan, die gemeente van Christusgelowiges bymekaar te kry en te vertel wat
met hulle gebeur het. Wie en waar  die
‘eie mense’ was, word nie gesê nie. Dit is egter nie ’n gesprek oor wat die
gelowiges moet doen teen die vervolging wat nou van die Raad se kant af begin
het nie. Dit is ’n gebed, die grootste gebed in die Nuwe Testament, wat herinner
aan Hiskia se gebed in die tempel (Jes 37:16-20; 2 Kon 19:15-19). Dit is ’n gesprek
met God oor wat gebeur het
, en hulle loof die Here in reaksie op die groot
verlossingsdade van God. Die geloofsekerheid van die Christelike gemeente word
gestel teenoor die onsekerheid van die Joodse leiers; en die eensgesindheid
tussen die gelowiges teenoor die tweespalt tussen die leiers en die volk. Hulle
vertel die Here wat die leierpriesters (die Sadduseër-dagbestuur van die
Sanhedrin) en die familiehoofde vir hulle gesê het (4:17,21), soos Hiskia die
brief van Sanherib voor die Here gelê het. 

4:24  Toe hulle die verslag van die apostels hoor,
het die gemeente eensgesind (homothumadon, soos in Hand 1:14, almal met
dieselfde gedagte) God geloof (hulle stemme tot God verhef) en gesê:
‘Soewereine Heerser (despotês wat volkome beheer het, soos in Luk 2:29)
U wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin (in die hemel en op die
aarde en in meer en see) gemaak het – soos in Eksodus 20:1 as deel van die
vierde gebod, en in Ps 146:6 as deel van Israel se lofsang/‘Halleluja.’ Die
hemel verwys na die hemelruim met al die hemelliggame soos die son maan en
sterre; alles op aarde verwys na plante, diere, mense op die vlaktes, berge en
in bosse; thalassa verwys na mere en die see (soet en sout water) – oor
die ganse heelal heers Hy as Skepper en Onderhouer. Daarom is Hy ook
Heer oor die geskiedenis van sy skepping en hou Hy ons lot in sy hande (vgl.
Jes 37:16).

4:25 Soewereine Heerser, U
‘wat deur die Heilige Gees, by monde van ons voorvader, u dienskneg Dawid, gesê
het:

Die gemeente verwys in hulle
gebed na Psalm 2:1-2 as ’n profesie van Dawid, en Lukas haal die Griekse
vertaling daarvan aan. Hulle aanvaar dat Dawid dié profetiese Psalm onder die
leiding van die Heilige Gees geskryf het, en daarom God se eie woord is, Hy wat
die Alleenheerser oor sy skepping is. Dawid word ‘ons voorvader’ en  ‘u dienskneg’ genoem. Daarmee
onderwerp die gemeente hulle as kinders van hulle voorvader Dawid as
diensknegte van God, die Alleenheerser. Die woord pais word vir ’n
persoonlike slaaf of vir ’n kind gebruik. Jesus is Dienskneg van
die Here volgens Jesaja 52-53, en Kind/Seun van God soos die Nuwe Testament Hom
bekend maak. Paulus gebruik nie die woord pais nie, maar tekna vir
kinders, bv. ‘Almal wat deur die Heilige Gees gelei word, hulle is kinders van
God’ (kinders tekna – van tiktō geboorte gee) omdat hulle aan die
Seun van God verbind is in geloof, wat deur die Heilige Gees geskenk word.

4:26 Ps 2 sê: ‘Waarom gaan die
nasies te kere’ – die werkwoord frussō verbind woede met sterk
teenstand, uitvaar en uitskel,om brutale woede te wys ‘…en bedink die
volke nietige dinge?’- meletaō ernstig bedink en beplan aan ’n
komplot; kena leë dinge, dwase dinge, wat geen doel dien nie. Die konings
van die aarde het hulleself opgestel en die heersers het op een plek
bymekaargekom teen die Here en teen sy Gesalfde (sy Christus).’

Die Jode het ook Ps 2 as ’n
Messiaanse Psalm beskou wat op hulle konings as God se gesalfde
(Messias/Christus) toegepas is, en hier pas die gemeente van Christus dit toe op
die teenstand van die leiers en konings
wat teen Jesus saamgespan het. Nou
is die woorde van Dawid, wat op sy tyd ook die tipe teenstand beleef het, in
Jesus vervul.

4:27 Die gebed van die gemeente
gaan voort om aan God te vertel hoe koning Herodus en goewerneur Pontius
Pilatus (vgl. bv. Luk 23:12), saam met die heidene (die soldate wat Jesus
bespot en gekruisig het) en die volke van Israel (Israeliete uit verskillende
stamme) in hierdie stad (in Jerusalem het dit toe werklik gebeur) saamgespan
het teen God se heilige Dienskneg/Seun Jesus, wat U gesalf het (echrisas,
verlede tyd van chriō, salf as teken van aanstelling en bonatuurlike
toerusting vir ’n taak). ‘Heilig’ beteken toegewy aan die diens van God, en met
goddelike eienskappe toegerus. Dat God vir Jesus gesalf het (met verwysing na
die Heilige Gees wat op Hom gekom het na sy doop, vgl. Luk 3:21-22), bevestig
dat Hy die beloofde en verwagte Messias van God is. Vers 27 verwys na waarneembare
feite. Vers 28 praat in die geloof dat Jesus se teenstanders niks anders kon
doen as om God se plan uit te voer nie.  

4:28 In hulle gebed tot God sê
die gemeente eintlik met die tong in die kies, dat die leiers en groepe wat in
vers 27 genoem is, met hulle brutale woede om Jesus uit te wis, iets saam
bedink het wat toe net mooi anders as wat hulle beplan het, uitgewerk het.
‘Hulle het (saamgespan) om alles te doen wat U deur u hand (figuurlik vir u
krag of mag) en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.’ Hulle het teen Jesus
saamgespan sonder om te weet dat hulle besig was om God se krag aan die
werk te stel om Jesus te laat opstaan uit die dood en so die krag van die dood
te breek, die dood wat God as straf oor die mens se sonde gegee het (Gen 2:17).
Met hulle lawaai teen Jesus het hulle God se verlossingsplan deurgevoer. Uit
liefde het Jesus God se straf op die mensdom se sonde op Hom geneem en die mens
se verhouding met God reggestel. In sy wysheid het God hulle dwase geskreeu,
‘Kruisig, kruisig Hom!’ (Luk 23:21) gebruik om sy verlossingsplan vir die
wêreld uit te voer. Ps 2:4 sê: ‘Hy wat in die hemel sit, sal lag; my Heer dryf
die spot met hulle.’ Die gemeente dank nie die Here dat die apostels vrygelaat
is nie, maar prys God omdat sy raadsplan vervul is. Die Here het sy plan
uitgevoer selfs deur die optrede van goddelose mense; en nou ook met die
Sanhedrin se optrede teen die apostels.

4:29 ‘En nou oor dié dinge…’
met verwysing na wat nou met die apostels by die raadsvergadering gebeur het,
‘…Here (kurios kan verwys na God die Vader en/of na Jesus), slaan ag op
(eforaō om spesiale aandag te gee aan iets, met die implikasie om jou
daarmee te bemoei, soos in Jer 37:17) hulle dreigemente…’ die gemeente brei nie
hierop uit nie. Dit gaan nie soseer oor die Raad se dreiging van die apostels
nie, maar oor hulle eintlike dreiging teen Jesus, dat sy Naam nie eers
uit hulle mond gehoor mag word nie. Sy lyding word voortgesit deur wat aan sy
diensknegte gedoen word.  

‘…en gee aan u diensknegte (douloi
slawe) om u woord met alle vrymoedigheid te spreek…’  ‘Om u woord te spreek’ het in die vroeë kerk
’n tegniese term geword vir hulle prediking van die goeie nuus oor en van
Jesus. Hulle sien hulle prediking as die Here wat deur hulle spreek. Dit is ‘u
woord,’ en daarom is die dreiging eintlik teen Hom. Hulle is slegs hulle Here
se persoonlike slawe wat sy wil uitvoer. ‘Met alle vrymoedigheid’ beteken
sonder enige vrees en met volle vertroue op Hom, om sy woord te verkondig,
terwyl hulle juis verbied is om dit te doen.  

4:30 ‘deur u (magsvolle) hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige pais, Dienskneg/Seun, Jesus geskied.’ So het Jesus ook sy hand uitgesteek en die melaatse genees (Luk 5:13). Deur genesings en wondertekens sal die Naam van Jesus as Redder bevestig word. So sien die apostels dat Jesus se genesende hand in en deur hulle swak hande werk, soos toe Petrus die lamme aan die hand gegryp het en hy op die woord ‘stap’ genees opgestaan en geloop het (3:7). Daarmee word die gebed van die gemeente afgesluit. 4:31 Nadat hulle by die Here gepleit het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud (saleuō nie so hewig soos ’n seismos, aardbewing, nie). Die skudding is ‘n teken van die werking van die hand van die Here, vgl. Eks 19:18 toe Sinaiberg geskud het; en Jesaja 6:4 dat die deure gerammel het van die serafs se geroep. ‘En almal van hulle (die hele gemeente) is met die Heilige Gees vervul en het die woord van God (oor Jesus se woorde en werke) met vrymoedigheid verkondig’ – soos hulle van die Here gevra het. Soos die Heilige Gees die 120 gelowiges op die Pinksterdag vervul het om oor die groot dade van God te getuig (2:4), word die hele groeiende gemeente deur die Heilige Gees toegerus om die woord van die Here te verkondig. Op dieselfde dag waarop die apostels verbied is om van Jesus te getuig, rus die Here die hele gemeente toe om vrymoedig oor Hom te getuig.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die Joodse Raad se reaksie op Petrus se voordrag (Hand 4:13-22) – Francois Malan

4:13 Die Raad het uit die
optrede van die twee apostels gesien (theoreō) hoe vrymoedig hulle is en
deur ondervraging uitgevind (katalambánomai) dat hulle ongeleerde mense
is (agrammatoi wat nie formele opleiding gehad het nie, ongeletterde
vissers, Luk 5:2,10), en leke (idiōtai – sonder formele onderrig in ’n
spesifieke veld, hier waarskynlik die terrein van die Skrifte). ‘En die
raadslede was verwonderd oor die vrymoedige optrede van die eenvoudige
manne. En het hulle herken, dat hulle saam met Jesus was.’

Lukas skilder weer ’n
indrukwekkende teenstellende beeld: aan die een kant die vreugdevolle geloof
van die apostels, bewus van die oorwinning van Jesus oor sonde en dood, en sy
wondergenesing van die lamme. Aan die anderkant die stomgeslane verwonderde
raadslede. Hulleherken die apostels as volgelinge van Jesus (wat hulle
laat kruisig het); as ongeleerde eenvoudige mense van die volk; hulle
verstommende vrymoedigheid wat nie as aangeklaagdes optree nie, maar as
aanklaers van die Raad, as uitlêers van die Skrif en verkondigers van Jesus se
opwekking deur God, en van die genesing van die lamme deur dié Jesus wat hulle
doodgemaak het (vgl. ook die Jode se verwondering oor Jesus wat die Skrifte ken
sonder dat Hy dit bestudeer het (Joh 7:15), dat Hy hulle geleer het soos iemand
wat gesag het en nie soos die Skrifkenners nie (Mark 1:22).

4:14 Maar omdat hulle die man
wat genees is by Petrus en Johannes sien staan, het hulle niks om dit te
weerlê nie
(anteipen). Langs hulle, sonder om ’n woord te sê, staan
die geneesde man, wat hulle almal as die lam bedelaar ken. Sy wondergenesing is
’n sprekende getuienis van wat gebeur het. Verleë swyg die Raad. Nie een van
die apostels se teenstanders kon die apostels se wyse woorde wat Jesus in die
oomblik aan hulle gegee het, weerstaan of weerlê nie (anteipen, Luk
21:15). Teen die Skrifgegronde (Hand 4:11) Christusboodskap, wat Jesus die
apostels in die mond gelê het, het die Jode geen steekhoudende argument gehad
nie. Ten spyte daarvan bly hulle verstok, soos teenoor Jesus se pogings om
hulle bymekaar te maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke (Luk 13:34;
vgl. Joh 5:39-40). Hulle harte is afgestomp (Volgens Matt 13:15 haal Jesus
Jesaja 6:9-10 aan; ook in Joh 12:40; Hand 28:26-27). Hulle sien nie die enigste
logiese gevolgtrekking nie: Jesus het deur sy volgelinge die wonder bewerk en
ons was verkeerd om Jesus se kruisiging te eis (Luk 3:23). 

4:15 Nadat hulle die apostels
en die geneesde man beveel het om uit die Raad(saal) uit te gaan (keleuō het
die idee van met gesag en/of geweld te beveel), het hulle met mekaar
beraadslaag. Die hoë raad het belaglik gelyk. Die ongeletterde volgelinge van
Jesus het hulle op hulle neuse laat kyk. Maar hulle bewaar die skyn van gesag.
Agter geslote deure soek hulle ’n uitweg uit hulle verleentheid. Lukas stel die
onbeholpe Joodse leiers
teenoor die jong oortuigde gemeente aanskoulik
voor.

4:16 Radeloos vra hulle vir
mekaar: ‘Wat gaan ons met hierdie mense doen? Want dat ’n kennelike teken deur
hulle geskied het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik, en ons kan
dit nie ontken nie.’ Hulle vraag toon duidelik hulle  hulpeloosheid teen die manne se aanklag en
getuienis, en hulle moeilikheid om uit die pynlike situasie uit te kom. Vir al
Jerusalem se inwoners wat die lam man jarelank geken het, is sy genesing ’n
klinkklare wonder van God, en word daar oral gepraat. Dat die raadslede nie die
genesing kan ontken nie bevestig die wonder daarvan, maar hulle radelose vraag
wys ook hulle onwilligheid om dit as ’n getuienis oor Jesus te aanvaar.
Hulle sou dit graag wou ontken. Maar hulle onwilligheid om dit te glo toon die
verhardheid van hulle harte (vgl. dieselfde verhardheid in Joh 12:37-43 dat
hulle nie in Jesus geglo het nie ten spyte van die baie tekens wat Hy in hulle
teenwoordigheid gedoen het).       

4:17 Die besluit van die Raad
hou nie veel in nie. Dit praat nie van straf nie, maar hulle wil die apostels
stuit deur hulle met kwaai woorde te dreig. Hulle wil die volk probeer red uit
die invloed van die apostels. ’Maar sodat dit (die verkondiging van Jesus se
opstanding en kragvolle werking) nie verder onder die volk versprei nie (diamenō
versprei, kan ook beteken nie verder of langer onder die volk bly bestaan nie),
laat ons hulle dreig (apeileō dreigdat ons hulle leed sal
aandoen as hulle nie luister nie) om met geen mens meer te praat op grond van
hierdie naam nie.’ Omdat hulle nie kan ontken dat hier ’n kennelike teken
plaasgevind het nie, probeer hulle die oorvertel daarvan stopsit. Hulle waag
egter nie om die apostels te veroordeel as valse getuies nie, want die geneesde
man staan daar lang hulle. Hulle noem ook nie die gevaarlike Naam Jesus
Christus nie, maar verwys slegs na ‘hierdie naam,’ en ook nie na die
verkondiging van Jesus nie, maar slegs na ‘dit,’ hierdie saak, met ander woorde
die geloof in Jesus, om so die uitbreiding van sy gemeente te stop. Hulle
veroorloof hulleself om, van die uitspreek van die Jesusnaam wat die wonder
laat geskied het, verder te gaan en ’n verbod te plaas op alle verkondiging en
noem van die Naam Jesus – God se Messias wat Hy vir hulle gestuur het.

4:18 Hulle het hulle toe
geroep en beveel om glad nie meer te praat (fthengomai nie eers ’n
geluid te maak nie) en geensins te verkondig in die Naam Jesus nie – die Naam
enigsins te noem nie. Onder die Jode was dit gebruik om nie die Naam van God, Jahweh,
uit te spreek en so miskien ydellik te gebruik/misbruik, nie (vgl. Eks
20:7. Jahweh beteken ‘Ek is’ hier werkend teenwoordig, Eks 3:14-15).
Ironies plaas hulle nou dieselfde verbod op die noem van die Naam Jesus,
wat hier teenwoordig is en deur sy volgelinge werk. Eintlik is dit ’n
onbedoelde erkenning van Jesus se Godheid. Dit kom as opdrag van die hoogste
raad van die Jode. Die bevel gee dan aan die Raad die wetlike grond vir hulle
verdere optrede teen die apostels, as hulle nie sou luister nie, soos by die
tweede verhoor geblyk het (Hoofstuk 4).

4:19 Teen die Raad se
verwagting werk hulle dreigement toe nie. Petrus en Johannes daag hulle eintlik
uit. As antwoord op hulle dreigement kom die apostels met ’n opdrag aan die
Raadslede
: ‘Oordeel julle, is dit voor die aangesig van God (as Regter) reg
om eerder na julle te luister as na God.’ Die apostels beroep hulle op die
raadslede se sin vir geregtigheid voor God wat die veel hoër gesag as die
Sanhedrin is. Die vraag is of die Raad se besluit nie juis teen die wil van God
is nie, hulle wat juis voorgee dat hulle die wet van God handhaaf.   

4:20 Die slot van die apostels
se betoog is ’n baie besliste keuse aan hulle kant en stel dit aan die Raad om
’n besliste keuse te maak. ‘Want ons, ons kan nie swyg (nie praat) oor
wat ons gesien en gehoor het nie.’ Daarmee verwys hulle na wat hulle van Jesus
gesien het (sy wonders, dood, opstanding en sy genesing van die lam man), en
gehoor het (o.a. Jesus se opdrag om sy getuies te wees in 1:8; maar veral sy
hele onderrig aan hulle). Omdat hulle aan Jesus gehoorsaam is, weier hulle om
die Raad te gehoorsaam. Daarmee eis hulle eintlik dat die Raad sy besluit moet
verander. Hier begin die eerste konflik tussen Christene en die Joodse
owerheid, wat later uitloop op die skeiding tussen die kerk en die sinagoge.

4:21 Die Raad was in ’n dilemma geplaas en hulle reaksie is baie treurig en swak vir die hoogste Raad van die volk. Hulle maak toe nie die keuse nie en bly by hulle standpunt oor Jesus;  maar die volk het almal God geprys oor wat gebeur het. Die volk meen almal dat die genesing God se werk is, deur die apostels van Jesus. Die Raad was duidelik skrikkerig vir die volk en wou hulle invloed by die volk behou. Omdat die volk die genesing beskou het as ’n goeie daad aan ’n lid van die volk sou die Raad invloed by die volk verloor as hulle teen die apostels optree. Hulle kon ook geen werklike grond vir ’n klag of straf vind om die apostels te kan straf nie. Hulle moes eintlik erken dat die volk en die apostels reg is om die genesing as God se werk te sien, maar hulle wou niks weet van Jesus nie. Al wat hulle kon doen was om die apostels net meer te dreig en toe los te laat. Dit wys nóg meer hoe swak die Raad se saak was.        4:22 Vir meer as 40 jaar was dit bekend dat die man lam gebore is en vir sy volwasse jare as bedelaar by die tempel gesit het (Hand 3:2,10). Hy was deur almal as ongeneeslik beskou. Sy ouderdom verhoog die wonder van sy genesing. Dat hier ’n wonderteken van God plaasgevind het, was vir almal duidelik. Selfs die Raad noem dit ’n onmiskenbare teken (4:16). ’n Teken (sêmeion) is ’n wonder met groot betekenis. Elke onbevooroordeelde mens sou erken dat die genesing ’n teken is dat God hierdie genesing bewerk het. Ná Jesus se opwekking van Lasarus uit die dood het die Raad ook bymekaargekom en radeloos gevra: ‘Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan sal almal in hom glo…’ (Joh 11:47-48). En nou, nadat hulle Hom laat doodmaak het, is hulle weer radeloos oor een van Jesus se tekens wat bewys dat Hy opgestaan het en lewe, om met sy werk voort te gaan deur sy dissipels.

Skrywer: Prof Francois Malan