Laat sy Liefde jou Lei: Waarom glo jy?

Laat sy Liefde jou Lei: Waarom glo jy? – Milanie Vosloo

Waarom glo jy?

Maar ek, ek weet dat my Verlosser leef en dat Hy aan die einde op die aarde sal staan. Job 19:25

Glo en dien jy God oor die voordeel wat jy uit Hom kan kry of glo jy in jou hemelse Vader omdat jy onwrikbaar wéét dat Hy die enigste Gód is … dat Hy jóú Here is?

Job was ‘n man wat rede gehad het om ernstig met sy geloof te worstel. Alles wat hy gehad het, is immers in ‘n oogwink van hom af weggeneem. Toe Job op sy weerlooste is, was dit vir Satan dan ook die ideale geleentheid om hom te probeer wysmaak dat hy God net dien vir die voordeel wat hy uit Hom kon kry. Job slaag hierdie geloofstoets egter met vlieёnde vaandels wanneer hy erken dat Hy God dien vir wat God ís. Hy kies om in sy God te glo selfs toe hy die dood in die oё staar. Job verklaar onomwonde dat hy, ondanks al die teёspoed in sy lewe, sy Verlosser met sy hele hart vertrou en onomwonde wéét dat Hy – die God van ewige liefde – hom nooit in die steek sal laat nie. Job glo nie omdat sy geloof vir hom voordelig is nie, maar omdat hy met ‘n visie op die hemelse toekoms leef.

 

Job het geglo omdat hy vasgehou het aan dié wete dat God áltyd Gód sal bly en hom daarom altyd sal vashou. Is dit die rede waarom jý glo?

Immanuel-God, help my om my geloof te behou, selfs wanneer dit onmoontlik lyk.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 


 

  

 Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: Jou geloofsreis

Jou geloofsreis

Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieёl, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan. 1 Korintiёrs 13:12

Geloof is ‘n reis: ‘n Ontdekkingstog wat ons onderneem vandat ons die eerste keer van “Liewe Jesus” gehoor het totdat ons eendag self voor die lewende God staan. Nou weet ons almal dat ‘n reis nie noodwendig net maanskyn en rose is waarin ons met gemak van punt A na punt B beweeg nie. Heel dikwels gaan ‘n reis gepaard met teenspoed, onverwagse ompaaie, moeilike fases en ernstige verdwaal-tye.

Aanvaar vandag dat jy as gelowige deur fases kán gaan wanneer jy wonder oor die sinvolheid van jou geloof, oor God se goedheid en oor die waarhede van die Skrif. Jy mag selfs van tyd tot tyd hopeloos verdwaal voel in jou geloofswêreld. Boonop het die bose mos ‘n manier om Christene se GPS’e heeltemal deurmekaar te krap in ‘n poging om hulle van koers af te kry. Daarom is dit so belangrik dat ons onder alle omstandighede sal vashou aan die Vader-van-geloof. Dat ons, ongeag al die verskillende geloofsrigtings en invloede op ons lewens, Hóm en Hóm alleen voor oё sal hou. En dat ons elke dag sal bid: Gees van God, help my asseblief om werklik te (blý) glo!

 

‘n Geloofsreis is nie vir sissies nie. Maar ‘n reis sonder geloof beslis ook nie!

 

Ja, Gees van God, help my om wérklik te glo!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wanneer ander jou vreugde steel

Laat sy Liefde jou Lei: Wanneer ander jou vreugde steel – Milanie Vosloo

Wanneer ander jou vreugde steel

Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk. Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.” Markus 9:49-50

Soms staan ‘n mens met ‘n lied in jou hart op en sien jy met vreugde uit na die dag wat kom … totdat jy jouself in ‘n brullende leeu vasloop.

Iemand wat met ‘n “seer tand” opgestaan het en daarom kyk wie hy kan verslind! In ‘n ommesientjie word jou vreugde vervang met ‘n stuk omgekraptheid waarmee jy nie wil leef nie. En so bederf één onsmaaklike mens die res van jou dag.

Sulke dae moet ons onthou dat ons Vader wil hê dat ons blydskap-kinders sal wees. Satan daarenteen sal verskillende aanvalstegnieke en wapens gebruik om ons vreugde te steel. Ja, en mense wat vir ons saak maak, is hoog op sy prioriteitslys. Juis daarom moet ons elke dag bedag wees op ons vyand se aanvalsmetodes en, wanneer iemand ons vreugde steel, onmiddellik die blydskap wat ons in Christus het, terugeis. Vra dan dat die Gees in jou ‘n gesindheid van vergifnis en liefde sal sit wat brullende leeus in hul spore stop!

 

Jy is die sout van die aarde. Sorg daarom dat jy – wanneer die lewe laf is – nog meer gefokus bly op jou bron van krag en liefde: Jou Vader-van-Vreugde!  

 

Heilige Gees, vandag bind ek u halssnoer van liefde, vrede en hemelse vreugde om my hart.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: Twyfel jy soms?

Twyfel jy soms?

Dis nie vreemd dat gelowiges – selfs ernstige kinders van God – met tye twyfel nie! Dit mag dalk selfs gebeur dat ons, soos ons meer van God en ander gelowe weet, juis meer wonder oor hoe dinge werk en wat dan nou waarheid is.

Juis omdat ons God met hart én verstand lief het, is dit normaal om soms op intellektuele vlak met vrae en antwoorde oor geloof en God te stoei.

Theo Geyser sê hierop egter dat ons moet onthou dat daar ‘n groot verskil tussen gesonde en ongesonde twyfel is. Ongesonde twyfel is dikwels ‘n verskoning vir ‘n klomp ander dinge en ontstaan meestal uit onkunde of ‘n gebrek aan kennis. Gesonde twyfel daarenteen is ‘n sóéktog: ‘n aanhoudende soeke na antwoorde oor die verskillende idees oor God, oor sy wil en oor die manier hoe Hy in ons lewens werk. Met hierdie soeke is niks verkeerd nie, want dis dikwels ‘n groeiproses waardeur ons van baba-gelowiges tot volwasse geloofsmense groei, en waarmee ons sal aanhou totdat ons eendag van aangesig tot aangesig voor die ewige Waarheid staan.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za


Skrywer: Milanie Vosloo