Laat sy Liefde jou Lei: Geloof is ‘n geskenk

Laat sy Liefde jou Lei: Geloof is ‘n geskenk – Milanie Vosloo

Geloof is ‘n geskenk

Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor groot praat nie, want ons is God se handewerk. Hy het ons in ‘n verhouding met Jesus Christus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. Efesiёrs 2:9 – 10

God se liefde is vir álle mense. Anders as ons, deel Hy nie net sy liefdevolle goedheid aan “goeie” mense uit nie. Hy wag ook nie eers om te sien of ons gereeld Bybel lees, kerk toe gaan en ons bydraes getrou gee voordat Hy sy genade aan ons skenk nie. Nee, dieselfde son-van-verlossing wat oor getroue gelowige skyn, skyn ook op hulle wat dit die minste verdien. Juis wanneer ons sondes ons geestelik dood maak, kom staan Hy voor ons met arms vol genade-geskenke en sê: “Hier is ‘n gratis Geskenk aan jou. Hier is Ek self – die Een wat jou van die dood gered het. Aanvaar My. En gaan lééf dan in vrede.”

Moet nooit toelaat dat die bose of enige iemand jou aan God se goedheid laat twyfel nie. Moet nooit dink dat jy sy liefde nie werd is of dat jy eers ‘n klomp dinge in jou lewe moet “reg maak” voordat Hy sy genade aan jou gaan gee nie.

 

Gaan leef vandag en elke dag hierna met die seker wete dat Hy – ondanks alles en ten spyte van wie en wat jy is – aan jou sy liefdevolle goedheid gee.

 

Dankie dat ek – so onverdiend – ‘n sitplek langs U in die hemel het, Jesus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: “Here, help my glo!”

“Here, help my glo!”

 

Jy is Myne … Wanneer jy deur vuur stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die Here jou God …(Jesaja 43:2a,3a) 

Jy ken die verhaal van Daniёl se drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego wat, vanweë hul oortuigde geloof in God, in die brandende oond gegooi is. En jy onthou hoe die engel hulle ongedeerd  uit die vlammende oond laat stap het. Maar het jy al raak gelees wat hulle gesê het vóórdat hulle die vuur binnegestap het? In Daniёl 3:17 hoor ons hoe hulle vir koning Nebukadneser sê: “Die God wat ons aanbid, kán ons uit u hand bevry, u Majesteit. En selfs … al red Hy ons nie … sal ons nie u gode vereer nie.” Duidelik het hierdie drie manne se geloof nie gegaan oor wat God vir hulle kan doen nie. Dit het vir hulle gegaan oor die God van hul geloof. Hulle het God vertrou … ongeag die uitkoms van hul gebede en wense.

Ware geloof is nie gebaseer op dit wat God vir ons kan doen nie en in hoe ‘n mate Hy ons gebede beantwoord nie. Veel eerder gaan Bybelse geloof daaroor dat ons blý glo wanneer ons nié God se stem hoor nie, wanneer daar nié genesing is nie, wanneer teenslae jou blý tref … wanneer jy die mens wat jy die liefste het, verloor of wanneer die ergste gebeur.  

 

Ware geloof sê: “Here, help my glo! Want self kan ek nie!”  

 

Ja Here Jesus, kom my geloofswakheid te hulp.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Wees ‘n vredemaker!

Wees ‘n vredemaker!

 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.

Vrede is ‘n versamelwoord vir baie dinge soos kalmte, rustigheid, versoening en vreedsaamheid. Maar vrede is ook gelyk aan geluk. Want wanneer iemand in vrede met God, haarself en ander leef, kom woon sielsgeluk en ‘n gevoel van saligheid in haar. Wees daarom elke dag ‘n instrument van vrede:

  • Maak vrede met God. Doen dit deur jouself onvoorwaardelik in sy hande te plaas en te sê: “Here, dankie dat U my 100% vergewe het. Help my om vandag u wil myne te maak en dan daarvolgens te leef.”
  • Maak vrede met jouself deur jou tekortkominge en swakhede as klein struikelblokke te sien omdat jy die groter Jy-prentjie voor oё hou. Die volmaakte jý-mens wat jy in God se oё is nadat die bloed van die Lam oor jou gevloei het.
  • Maak vrede met ander mense. Om in onvrede en met onvergifnis teenoor ander te leef, is energie-dreinerend en aftakelend. Vrede daarenteen maak van jou ‘n gelukkige en tevrede mens.

 

Jakobus 3:18 lees: Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God. Bid dat die Gees jou met soveel liefde sal vul dat jy vandag met sy vrede sal leef: teenoor God, jouself en ander.

 

Vader, ek weet en glo dat ek deur U ‘n gelukkige en vredeliewende mens kan wees.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Soms skaaf ons wel aan mekaar

Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan. Romeine 12:21

Nie een van ons is ‘n sondelose engel nie. Daarom maak ons foute, is daar misverstande tussen ons, verstaan ons mekaar verkeerd en kan ons soms ons humeur totaal en al verloor.

Nouja, geen meningsverskil, krapperigheid, ongedurigheid of ‘n ernstige bakleiery is lekker nie, maar juis as gevolg van ons uiteenlopende perspektiewe, is konflik soms onvermydelik is. Daar bestaan nie ‘n bloudruk vir “liefdevolle” konflikhantering, tog kan die volgende TOP-beginsels ‘n waardevolle riglyn wees:

 


  • Tyd: Tyd het ‘n manier om kalmte, perspektief en insig te bring. As jy dus kan, speel of sorg vir ‘n afkoelperiode – ‘n fase waarin elke party kans kan kry om nugter oor alles te dink.
  •  ntspan: Baie dinge is al gesê en gedoen in tye wanneer mense gespanne, oorhaastig of ongeduldig is. Gee jouself asemhalingstyd en vra die Gees om aan jou kalmte, vrede en wysheid te gee.
  • Probeer verstaan: Die oomblik wat ons begrip het vir iemand anders se agtergrond, situasies, motivering en rede, raak dinge vir ons duideliker en kan ons met groter deernis hulle kant van die saak insien. Dis gewoonlik die begin van wedersydse respek en die vind van gesamentlike oplossings.

Tyd wat heel, ‘n gemoed vol vrede en ‘n hart gevul met begrip en liefde, kan menige moeilike situasies makliker maak. En waar daar onmin is, weer vrede bring.

Here, ek glo en weet dat ek saam met U ook konfliksituasies met liefde kan benader.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie


Skrywer: Milanie Vosloo