12 Augustus: Al stralend vir die Here . – Jan van der Watt

2 Kor 3:12-4:6 (fokus 3:12-17)

 Daar was ‘n voëlverskrikker wat so lelik was dat die voëls die saad wat hulle twee dae gelede gesteel het, teruggebring het. Niemand kan die voëlverskrikker daarvan blameer dat hy nie sy werk effektief doen nie.

Paulus sê dat gelowiges so van heerlikheid moet straal dat dit vir ander moet voel asof hulle by Jesus self staan (3:17). Ja, so effektief moet ons Jesus dien dat mense na ons toe wil terugkom as hulle die heerlikheid van God soek. Om dit te kan doen het ons ‘n groot voorsprong bo die voëlverskrikker. Die voëlverskrikker is maar net voëlverskrikker, maar ons het die Gees van die Here self in ons. Dit is nie ons alleen wat van heerlikheid hoef te straal nie. Nee, die Gees van die Here moet deur ons straal.

Dit kan net gebeur as jy vry is, sê Paulus (3:17). Vryheid beteken dat niks ons bind of keer om regtig die Here te dien nie. Niks verdof die staal van heerlikheid nie. Dit beteken om vry te wees van alles wat in jou pad mag staan om jou aan Jesus te kan bind. Dit is al manier hoe jy Jesus effektief kan dien en om al hoe meer te kan lyk en te leef soos Hy. Om vry te wees beteken dus om beskikbaar te wees – vry van jouself beteken om beskikbaar te wees vir die Gees; vry van onnodige wette en reëls beteken om gereed te wees om na die Gees te luister.

‘n Voëlverskrikker kan sowaar nie groter invloed hê as Christene nie, veral nie as die Gees deur hulle straal nie.




11 Augustus: Parfuum kruip nie weg nie. – Jan van der Watt

2 Kor 2:14-3:11 (fokus 2:14-17)

 Parfuum kruip nie weg nie, want dit kan nie. As iemand in ‘n vertrek instap met goeie parfuum aan weet almal dit. Net so kan Christene ook nie wegkruip nie. Hulle is God se parfuum in die wêreld. Hulle is die aangename geur in die wêreld wat mense van God bewus maak, sê Paulus (2:15).

Daarom kan ons as Christene ook nie wegkruip nie. Of jy nou wil of nie, jy is gedurig in situasies waar ander uit wat jy doen jou “geestelike aroma” optel. Hulle kom iets agter as jy daar is en hou iets oor as jy weg is. Soos iemand vandag kan sê: “Sy het Chanel 5 aan of Este Lauder Youth Dew” kan en moet hulle van gelowiges sê: “Jy het die aroma van Jesus”.

Hoe sit ‘n mens die aroma aan? Deur in gehoorsaamheid so naby aan Jesus te bly dat sy aroma teen jou afvryf – jy moet so graag sy wil doen, by Hom wees in gebed, in sy voetstappe loop dat dit die kenmerk, die geur word wat ander opmerk as jy by hulle kom.

Natuurlik sal nie almal hou van die aroma nie en sal hulle hulle neuse daarvoor optrek (2:16). Dit sê baie van hulle – dit sê hulle hou nie van Jesus nie. Hulle wil nie nader aan hom kom sodat sy geur teen hulle kan afvryf nie. Maar hulle moet dan net ‘n bietjie aan hulleself ruik. Waar hulle gaan laat hulle die geur van die dood agter. En dit is alles behalwe lekker.

Hoe ruik jy?




10 Augustus: Vergifnis kom van twee kante. – Jan van der Watt

2 Kor 1:23-2:13 (fokus 2:5-11)

 Een van die grootste manipulasieinsturmente van Christene is vergifnis: “Jy moet vergewe, want die Here het so gesê”. So speel ons op ander se gewetens om te kry wat ons wil hê. Een ding vergeet ons egter te dikwels en dit is wat vergifnis presies is. Dit is God se instrument om stukkende verhoudings heel te maak; om verhoudings reg te maak wat gebreek het. As daar verhoudings betrokke is, is daar altyd twee kante.

As verhoudings stukkend gegaan het, moet daar ‘n rede vir die onmin wees. Vergifnis kan egter nooit werk as ons nie van daardie rede ontslae raak nie. Daardie verhouding sal dan maar net weer en weer verkeerd loop, want die doring is nie uitgetrek nie. Vergifnis is soos die salf wat die wond gesond maak, maar voor die doring nie uit is nie, kan die wond nie gesond word nie, al smeer jy al die salf of wat jy het.

As iemand dus iets slegs teen iemand anders gedoen het, moet daardie persoon eers erken dat hy dit gedoen het en daarvan “ontslae” raak. Soos ‘n doring moet hy dit uittrek en weggooi. Dan eers kan hy verwag dat die ander persoon die salf van vergifnis moet opsit. Dan eers kan die verhouding behoorlik genees.

Vergifnis werk met verhoudings en verhoudings kom van twee kante. Voordat daar vergewe kan word, moet daar eers reggemaak word wat verkeerd is. As die persoon wat verkeerd gedoen het nie wil regmaak nie, moet hy ook nie verwag om vergewe te word nie. Maar as die ander persoon wil regmaak, mag jy nie weier om te vergewe nie. Dit verwag die Here van ons.

Vergifnismanipulasie werk nooit. Jy hoef dit nie eers te probeer nie.




9 Augustus: ‘n Tweegesig…nooit. – Jan van der Watt

2 Kor 1:12-22 (fokus 1:12-22)

 Iemand het eenmaal gesê: “Daai man is baie beleefd. Hy slaan altyd eerste maar vra darem om verskoning nadat hy jou geslaan het”. Maar die vraag is, waarom het hy jou in die eerste plek geslaan as hy so beleefd is?

Mense is dikwels so “beleefd” dat hulle totaal oneerlik en agterbaks is. Jy weet nooit waar jy met hulle staan nie. Jy voel altyd ongemaklik, want jy is nie seker of wat hulle voor jou sê dieselfde is as wat hulle agter jou rug sê nie. Partymaal loop hulle “beleefdheid” ‘n ander pad – hulle sal vir jou kom sê: “Ek wil jou nou nie beledig of seermaak nie”, en dan slaan hulle jou pimpel en pers met hulle skerp woorde wat agter hulle valse glimlag uitborrel. Ja, hulle slaan jou “beleefd”. As hulle wegstap en jou seer en gekneus los, wonder jy wat dit wat hulle nou so oor gal gebraak het regtig met hulle te doen het. En as dit hulle wel aangaan, kon hulle nie hulle valse “beleefdheid” gelos het en dit op ‘n liefdevoller en mooier manier gedoen het nie.

So ‘n tweegesig is hy nie en wil hy nie wees nie, sê Paulus (1:12,17). Mense moet eerlik weet waar hulle met hom staan. Dit beteken nie dat hy ongeskik is of soos ‘n bul in ‘n porseleinwinkel alles stukkend hardloop ter wille van “eerlikheid”  nie. Om opreg en liefdevol eerlik te wees, is al pad wat hy wil loop, want dit is die regte pad. Dan klink jou woorde agter die persoon se rug nie anders as wat jy voor hom praat nie. Jy sal ook nooit jou vuiste in “beleefdheid” oplig nie.

Liefdevolle opregtheid en eerlikheid is skaars onder ons mense. Jy kan dit meer maak.