29 Mei: Dink groot. – Jan van der Watt

Hand 12:1-25 (fokus 12:1-11)

 As God jou God is, moet jy leer om groot te dink. Ons dink partykeer God “klein”, so asof Hy niks buitengewoons kan doen nie. Ons verwag maar min van Hom. Selfs Petrus het dit gedoen. ʼn Mens kan byna nie glo dat selfs hy, wat die Here so goed geken het, nie kon glo dat die Here hom uit die tronk kon red nie (12:10). Vir sy klein verwagtings was dit net te groot gewees.

Die Here wil hê dat ons Hom moet vertrou, ja, vir Hom ‘n kans moet gee om ons te verras. Hy wil vir ons wys Hy kan ook vir ons “tronkdeure” laat oopswaai. Daarom moet ons Hom vertrou vir wonders in ons lewe.

Ons vrees vir mislukking of teleurstelling keer ons dikwels om groot te dink, of om drome te droom. Sê nou net ek dink “groot” maar God stem nie saam nie, dan kan alles skeefloop. Dan wag daar net teleurstellings op my. Net díe gedagte alleen laat my al klaar in my dop kruip. Ons wil nie waag nie…

As jy op die Here vertrou kan jy maar waag ook. Moenie die Here in jou eie onvermoë of onsekerheid “toesluit” nie. Dalk gaan God jou verras, want een ding is seker: Hy kan baie meer doen as wat jy kan droom.




28 Mei: Gebruik die regte agendas. – Jan van der Watt

Hand 11:1-30 (fokus 11:1-18)

Christene kan soms lekker baklei. Dikwels is dit omdat hulle ander agendas op die tafel sit as dit wat regtig vir die Here saakmaak (Hand 11:3). Gelukkig eindig die storie in Hand 11 goed. Petrus het vir die klomp ontevredenes verduidelik dat hulle nie so ongelukkig en bakleierig hoef te wees nie. Wat met Kornelius gebeur het was op God se agenda. Dit was vir hom ʼn prioriteit. Toe het hulle besef waaroor dit gaan (11:18). Skewe prioriteite is reggetrek en hulle kon God lekker saam loof.

Ons sukkel ook dikwels met prioriteite in die kerk. En as die agendas op die tafel nie deur God se pen geskryf is nie, kry ‘n mens ʼn getoutrekkery, geskinder en wat nog alles; ja, alles behalwe lof aan God. Hoekom is dit so?

Miskien is dit omdat te veel lidmate se storie klink soos die seuntjie s’n wat by sy pa wou weet of hy gereeld kategese toe gegaan het. “Natuurlik”, sê sy pa. Die seuntjie toe sê: “Wel Pappa, ek dink ook nie dit gaan my veel help nie”. Dikwels lyk dit of dit wat in die kerk gebeur nie regtig vir baie mense saakmaak nie. Dit verander nie regtig mense se lewens nie. Dit is so of baie mensekerk speel in plaas van kerk leef. As jy kerk speel, is jou agenda die belangrikste. As jy kerk leef, is God se agenda, vir Wie jy leef, die belangrikste. Dit maak nogal ‘n reuse verskil.

Voor ons begin verwyt en baklei en dreig, laat ons eers ons agendas nagaan en kyk of dit soos God s’n lyk … dan sal ons God daarna lekker saam kan loof.




27 Mei: Droom God se drome. – Jan van der Watt

Hand 10:23-48 (fokus 10:34-43)

 In Hand 10 lees ons van een van die mees dramatiese gebeure in die geskiedenis van die kerk. Die Jode het gedink God se redding is net vir hulle bedoel. Gelukkig maak die Here Petrus se oë oop en stuur hom na ʼn nie-Jood toe, iets wat Jode eintlik nie gedoen het nie (10:28). Maar Petrus moes ‘n les daar gaan leer. Juis so kon Petrus leer dat Jesus die geskiedenis van mense vir altyd kom verander het. Die sluise van redding wat God deur Jesus oopgetrek het gaan ook die nie-Jode oorspoel (10:34-36). Sy liefde en genade loop nie in smal stroompies net na party mense toe nie. Nee, dit bars los in storms oor almal.

Petrus het geleer dat vir God dit nie so belangrik is wie jy is nie, maar waar jy kyk. Toe Petrus van homself begin vergeet en op God se planne en drome begin konsentreer, het dinge rondom hom begin gebeur. Daar ontdek hy toe die God van liefde en aksie.

In ons geestelike lewe is dit nie anders nie. Ons moet ook seker maak dat ons reg kyk. Daarom is dit miskien goed dat ons weer die les by Petrus leer: Kyk van jouself af weg  na wat God vir jou wil wys. Begin sy drome droom… en dan sal die goddelike aksie rondom jou losbars.




26 Mei: “Waarom ek?” Moenie te veel vra nie. – Jan van der Watt

Hand 9:32-10:33 (fokus 9:32-43)

 “Tabita het omgegee vir ander mense. Waar sy kon het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen… (tog) het sy ernstig siek geword en is kort daarna oorlede” (9:36-37). “Waarom juis Tabita?” kan ek mense hoor vra.

Ons het dikwels baie vrae oor waarom die Here slegte dinge met gelowiges laat gebeur. Dit is amper asof ons dink dat gelowiges ingeënt is teen enigiets wat verkeerd kan loop. Daarom is dit vir ons dikwels so groot krisis as iets verkeerd loop. Negatiewe gedagtes reën dan op ons neer: “Waar’s die Here?”, “Het Hy my vergeet?”, “Hoekom nou juis ek?”

Tabita was ʼn wonderlike mens, maar dit het haar nie immuun gemaak teen dinge wat verkeerd kon loop nie. Sy het siek ook geword en is dood… dit is die beloop van die lewe. Dit help nie ons raak vir die Here kwaad en bombardeer hom met allerhande verwytende vrae in sulke situasies nie. Hy het mos nie beloof dat alles net altyd goed sal gaan met Christene nie.

Wat ons miskien meer moet doen is om soos Petrus die Here te vertrou, nie alleen vir wat gaan gebeur nie, maar ook dat Hy ons hand vashou juis as alles rondom ons gebeur. Aan dinge wat verkeerd loop kan jy dikwels niks doen nie, maar jy kan baie doen aan jou gesindheid en hoe jy die dinge hanteer. ‘n Mens moet nie onnodige vrae vra wat jy weet nie beantwoord gaan word nie. Dit maak ‘n mens net ongelukkig en deurmekaar. Daar is baie dinge wat ons eenvoudig in hierdie lewe nie gaan verstaan nie. Juis daarom is aanvaarding en vertroue miskien twee van die belangrikste sleutelwoorde vir ‘n gelukkige lewe.