5 Mei: ‘n Reis sonder ‘n einde. – Jan van der Watt

Joh 11:1-46 (fokus 11:17-37)

 Geen reis hou vir ewig aan nie. Dit het altyd ‘n einde. Ongelukkig is dit ook so met die lewe. Een of ander tyd kom die einde van die reis… en wat dan?

Luister hierna: “As iemand waarlik ʼn Christen is, kan hy of sy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe” (11:25). As gelowiges kan ons na die einde van aardse lewenspad kyk sonder om bang te wees. Ons weet dat God ons vir ewig sal vashou; dat ons vir altyd saam met Hom sal leef.

As gelowiges is ons nie oppad na ʼn hopelose of hooplose einde nie… Nee, ná die graf wag ʼn nuwe reis; ‘n reis saam met ons hemelse Vader. En hierdie reis het nie ‘n einde nie. Maak seker jou plek is vir die reis bespreek.




4 Mei: Moenie twyfel nie, kyk net!. – Jan van der Watt

Joh 10:12-42 (fokus 10:31-42)

As die twyfel of God bestaan en my liefhet my bekruip en soms so skielik en onverwags oorval, het ek myself al baie afgevra: wat meer moes God gedoen het om my te oortuig dat Hy my regtig liefhet? En ek moet erken… ek kan nie eintlik aan iets dink wat God nog moes gedoen het nie. As ek terugkyk oor my lewe is daar so baie plekke waar ek die spore van sy liefde my lewenspad sien kruis.

Juis dit vra Jesus vir die Jode: hulle wil Hom doodmaak, maar waaroor? Hy het dan net goed gedoen? (10:32). Dit is amper asof hoe meer goed Hy doen hoe meer wil hulle hom doodmaak. Een ding is duidelik: die fout lê nie by Jesus nie, maar by daai klomp ander mense. Dit is nie Jesus wat nie genoeg gedoen het nie, maar hulle wat nie kan raaksien wat Hy gedoen het nie.

Juis dit is ook te dikwels die storie van ons lewens. Ons land in allerhande krisisse en twyfels omdat ons oë verdof. Ons wil eenvoudig nie raaksien wat Jesus vir ons gedoen het en nog vir ons wil doen nie.

Die vraag bly, wat meer moet Jesus vir jou doen voordat jy Hom heeltemal en sonder allerhande twyfels en vrae sal vertrou? Kom ons begin tel wat Hy al gedoen het: Hy het vir jou gesterf, Hy het jou sonde vergeef, Hy geen jou n nuwe lewe…




3 Mei: Saam met Jesus is daar altyd hoop. – Jan van der Watt

Joh 9:24-10:12 (fokus 9:35-41)

 Die lewe kan ons partymaal so platslaan dat ons net daar wil bly lê, so asof al die lus vir die lewe uit ons geslaan is. Ons verloor smaak vir die lewe.

ʼn Sekere dominee het eendag so gevoel. Met sy rewolwer is hy die veld in. Op die plek waar hy homself wou skiet het hy vir oulaas gekniel om te bid. Toe sy oë grond toe draai, sien hy ʼn boomstomp wat afgekap is. Aan die een kant van die stomp het ʼn klein takkie met twee groen blaartjies uitgekom… nuwe lewe. Dit was asof God sy oë op daardie oomblik oopgemaak het. Die blinde kon weer sien! Selfs uit hierdie stomp wat met die grond gelyk gemaak is, kon weer nuwe lewe groei; en hy het daar en dan geweet: daar kan weer ʼn nuwe begin wees. Saam met Jesus ken hoop nooit ‘n einde nie. Die God van lewe sal altyd weer sorg vir vars blaartjies.

Jesus gee lewe. Die Joodse leiers het die arme blinde tot op die grond afgesny met hulle skerp woorde en uit die sinogoge weggejaag (9:34). Hy het letterlik niemand meer oorgehad nie… behalwe vir Jesus (9:35-38). Dit was genoeg om sy lewe hoop te gee… en die groen blaartjies het vir hom begin bot.

Moet nooit jou oog van Jesus afhaal nie. Vergeet die stomp, kyk na die groen blaartjies!




2 Mei: Jou verleentheid mag God se geleentheid wees. – Jan van der Watt

Joh 8:48-9:23 (fokus 9:1-23)

God se somme werk anders as ons s’n. Een sonde is nie gelyk aan een straf nie.

Die lewe is nie altyd voorspelbaar soos ‘n optelsom nie. Soms kan jy nie aan ‘n enkele rede dink waarom dinge vir jou so verkeerd loop nie… dit loop net verkeerd – soos met hierdie blinde man. Selfs Jesus se dissipels het gedink dat een of ander vreeslike sonde agter sy blindheid moet lê. Ja, hy betaal vir wat hy verkeerd gedoen het.

Dan kom die verrassing – God se optelsom werk nie so nie. As hierdie man nie blind was nie, hoe sou mense God se krag kon sien? Dikwels gebeur iets wat vir jou sleg voel juis sodat God soveel wonderliker dinge daaruit kan laat voortborrel. Op die oomblik dat dit sleg gaan is die miskien nie so lekker nie, maar as God se krag die sleg in iets wonderliks verander, word alles sommer die moeite werd. Toe hierdie blinde se oë oopgegaan het, het nie net sy oë oopgegaan nie, sy hart het ook sommer oopgegaan en hy het Jesus gevind (9:38).

Ons verleenthede word dikwels God se geleenthede (9:3-5). Dinge wat verkeerd loop hoef nooit vir jou soos die einde van die pad te voel nie. Saam met God is daar altyd die ander kant, daar waar die lig skyn, waar jou oë oopgaan en ‘n nuwe toekoms vir jou wink. Moet nooit in jou probleme vaskyk nie. Sien liewer dit raak wat saam met God vir jou voorlê.