26 Maart: Jou binnekant en buitekant moet dieselfde lyk. – Jan van der Watt

Luk 11:27-44 (fokus 11:37-44)

“Hoekom gee julle nie ook julle binnekant vir die Here nie?”, vra Jesus (11:41) vir die Farisseërs. Aan die buitekant leef hulle vreeslik vroom, maar dit is alles net skyn. Hulle binnekante is vuil en hulle probeer dit wegsteek. Hulle het ‘n “kortsluiting-lewe” gelei. En almal weet dat as daar ‘n kortsluiting is, kan daar nie krag vloei nie. Dan loop dinge verkeerd.

Die kortsluiting het gekom toe die Fariseërs gedink het die buitekant maak saak, maar nie die binnekant nie. Dit was ‘n buitekant wat anders gelyk het as die binnekant. So moet die Here se mense nie lyk nie. Hy wil nie hê hulle moet dinge wegsteek nie. Soos hulle binne is, moet hulle buite ook wees en omgekeerd.

Om binne soos buite te lyk, vra eerlikheid. Eerlikheid met die Here, want ons binnekant behoort aan Hom. Hy sal ons binnekant skoon en rein maak. Maar dit vra ook eerlikheid met jouself, want ons moet ons binnekant skoon hou sodat die Here daar tuis kan voel. En ‘n mooi binnekant is die sekerste resep vir ‘n mooi buitekant, want, wat binne is, sal buitentoe kom. Dit kan niemand keer nie.

Oppas vir ‘n “kortsluitingslewe” waar jou buitekant anders lyk as jou binnekant. Dit is nie eerlik met God nie en ook nie met jouself nie. Gee jou binnekant en jou buitekant vir die Here!




25 Maart: Christene hoort in hokke nie. – Jan van der Watt

Luk 11:1-26 (fokus 11:14-26)

In die klein dorpie Wilmore in Amerika is daar ‘n staalhok in die museum. Die storie is dat dit eens op ‘n tyd die leeuhok van Barnie se sirkus was. Toe die sirkus destyds met hulle ossewaens daar verby is, is die sirkusleeu dood. Hulle verkoop toe daar en dan die hok aan die dorp – wat dit as ‘n tronk gebruik het. Al plek wat hulle vir die leeuhok gehad het, was in die stadsaal. As iemand iets verkeerd gedoen het, moes hy daar in die stadsaal sit en almal kon hom dan uitsorteer tot hy weer goeie maniere geleer het.

Een van die belangrikste dinge vir die Here is dat Christene met mekaar oor die weg moet kom. Dis wat 11:17 sê. Geen weermag kan tog wen as die soldate onder mekaar baklei nie. Hulle moet hulle verskille uitsorteer en in vrede leef, daar is geen ander keuse nie.

As Christene van mekaar verskil moet hulle dit nie in die openbaar in die leeuhok in die “stadsaal” doen nie. Hokke is vir leeus wat wil baklei en nie met ander oor die weg kan kom nie. Dit is nie waar Chritsene hoort nie. Hulle moet in liefde en begrip vir mekaar hulle probelem uitsorteer, want hulle veg in die weermag van die God van liefde en vergifnis.

Dit is nie altyd maklik om die vrede te bewaar nie. Dit is nog moeiliker om die vrede te herstel as dinge verkeerd geloop het. Maar dit moet gedoen word. ‘n Weermag kon tog nie onder homself verdeel wees nie, veral nie God se weermag nie.




24 Maart: Jou plek is by die voete van Jesus. – Jan van der Watt

Luk 10:25-41 (fokus 10:38-41)

Vrouens het al deur die eeue swaar gekry. Hulle is nie altyd goed behandel of het ook nie altyd die geleenthede gekry wat hulle moes nie.

Dit is een ding waarvan ‘n mens Jesus nie kan beskuldig nie – dat Hy daarop uit was om vrouens sleg te behandel, inteendeel. Telkens trek Hy vroue voor. As Hy na sy dood verskyn, verskyn Hy eerste aan Maria. Hy stuur die Samaritaanse vrou as die eerste sendeling aan die heidene. En hier (10:41) haal Hy die vrou uit die kombuis uit waar sy moet swoeg en laat haar aan sy voete sit. Ja, haar plek is ook by Hom.

Daarmee bedoel Hy nie dat die kombuis nie ook belangrik is nie, maar eerder dat eerste dinge eerste moet kom. En eerste dinge is om te weet dat Hy nie mans of vrouens raaksien nie, maar net God se kinders. Sy liefde ken nie grense nie en Hy sit ook nie mense in hokkies nie. Almal is welkom, mans, vrouens, kinders!

Wie jy ook al is, jou plek is by die voete van Jesus.




23 Maart: Kindwees is gehoorsaam wees. – Jan van der Watt

Luk 10:1-24 (fokus 10:21-24)

 

Wat is nou so moeilik aan die evangelie dat slim mense dit nie kan verstaan nie? Om dit nog moeiliker te maak – hoekom kan kinders dit verstaan en nie slim mense nie (10:21)?

Die geheim lê by hoe kinders destyds was. In Jesus se tyd het mense gesê kinders is nog nie “vol” mense nie. Hulle is soos ʼn glas (wat hulle basiese karakter is) wat eers met kennis (hulle opvoeding) “volgemaak” moes word voor hulle behoorlike volwasse mense kon wees.  Hulle moes nog baie leer om die spel van die lewe reg te speel. Daarom moes die glas eers volgemaak word. Kinders moes daarom nie teëpraat nie – hulle moes soos ‘n glas waarin water gegooi word, luister en leer. Kindwees beteken gehoorsaam wees.

Slim mense wil nie altyd luister of leer nie. Hulle wil praat en vooskryf. Hulle weet mos hoe… of so dink hulle. En so kan die Here nie werk nie – as jy sy kind wil wees, moet jy regtig kind wees.

As jy saam met Jesus wil loop, moet jy nie wil voorloop of voorskryf nie. Jy moet volg. Jy moet jou laat leer. Daar gaan dinge wees wat jy nie verstaan nie, maar nogtans sal jy moet volg. Jy sal gewillig en gehoorsaam moet wees, soos ‘n glas waarin water gegooi word.

Christenwees is kindwees en kindwees is gehoorsaam wees.