10 Maart: Wees maar nederig as jy by God kom…. – Jan van der Watt

Luk 4:1-30 (fokus 4:1-13)

 

Jesus sê vir die duiwel dat hy God nie moet uittart nie (4:12). Is so iets dan moontlik? Kan ons God so kwaad of ongeduldig met ons maak dat Hy later niks meer van ons wil weet nie?

Kom ons kyk: Hoe tart die duiwel God uit? Deur kanse te vat. Al weet hy van beter, probeer hy wegkom met iets wat Hy weet God nie wil hê nie. Hy kyk hoe ver hy God kan druk. Hy probeer manipuleer, klink vroom, bring argumente, ja, werp alles in die stryd sodat hy God net na sy wil kan buig. Hierdie soort van uittarting neem God se heiligheid nie ernstig nie. Ons is nie God nie en moet dit ook nie probeer wees nie.

So kan wat ons doen of sê partymaal maar gevaarlik word: mense word vir God kwaad of sê sommer Hy bestaan nie meer nie omdat Hy nie doen wat hulle wil nie; ons bargain dikwels met God terwyl ons voor ons siel weet dat wat ons nou vra nie reg is nie; ons dreig God af, asof ons mag. Dis asof ons vergeet God is heilig en nie ons speelmaat nie.

Ons moet mooi dink voor ons te spraaksaam oor en voor God raak.




9 Maart : “Kuier” gereeld saam met God se Gees. – Jan van der Watt

Luk 3:1-38 (fokus 3:15-20)

Die Heilige Gees is God se onsigbare manier om in en by jou te wees… en dit maak al die verskil.

Ons besef dikwels nie dat Jesus eers begin preek en wonders doen het toe die Heilige Gees op ‘n spesiale manier op Hom gekom het nie (3:22). En as Jesus weggaan, laat Hy die Gees by sy mense (3:16). Dit is vir Hom genoeg, want Hy weet dat as jy die Gees van God het, sy krag in jou is.

Die Gees is die manier waarop God aan ons lewens kom raak. Dit is die manier waarop Hy ons lewens van gewoon na buitengewoon kom verander; van doelloos na doelgerig; van kragteloos na kragvol.

Maar hoe? God het van sy kant tot by ons gekom, nee, tot in ons. Hy is binne hoorafstand, binne voelafstand. Maar dan moet ons tyd maak vir “kuier”, baie “kuier”, in die sitkamer van ons hart. Maar oppas, die sitkamer van jou hart kan so deurmekaar en vol van allerhande bedrywighede, of selfs van jouself, wees dat daar eenvoudig nie meer lekker “kuierplek” met die Gees is nie. En dan moet jy nie verwag om die Gees nog te hoor nie. Die Gees is maar daar, maar jy gun jouself nie ‘n kans om na Hom te luister nie.

Gee die Gees ‘n kans… “kuier” deur in gebed of stilte te vra en te luister. As dit stiller en rustiger in jou “sitkamer” word, sal jy begin hoor. En dit sal al die verskil maak – van moedeloos na vol moed, van onseker na doodseker, van vraagteken na uitroepteken.




8 Maart : God druk niks ryp nie. – Jan van der Watt

Lukas 2:21-52 (fokus 2:41-52)

Ons raak dikwels ongeduldig en wil hê dinge moet vinniger op godsdienstige gebied gebeur. Maar hoe sê die spreukwoord: Rome is nie in een dag gebou nie. En dit geld ook vir die godsdiens.

God laat dinge gebeur, maar op hulle tyd. Hy druk niks ryp nie.

  • Jesus het vir die grootste deel van sy lewe in Nasaret gebly. Daar het God Hom voorberei vir wat voorlê (2:40, 52). Jesus was al oor die 30 jaar oud toe Hy eers begin preek en wonders doen het – hy het maar vir tussen een tot drie jaar gepreek voordat Hy gekruisig is. Waarom so lank gewag en so kort opgetree? Dink net wat Jesus nog alles sou kon doen as Hy dalk vroeër begin het. Ons sou dit miskien anders gedoen het, maar ons is nie God nie. God het sy plan…
  • Paulus, die groot apostel, het ongeveer in 33nC tot bekering gekom. Vir veertien jaar hoor ons eintlik bitter min van hom. Dit was al amper 50nC toe hy eers begin het met sy sendingreise. So bietjie meer as tien jaar later was alles verby. As Christen was hy langer “onbekend” as “bekend”. Ook hier was God nie oorhaastig nie.

Wat leer ons hieruit? Wees geduldig en laat God toe om sy pad met jou te loop. As Hy sê die tyd is reg, moet jy gereed wees. Maar moenie oorneem en dinge ryp probeer druk nie.




7 Maart – Lof is jou vreudge en dankbaarheid wat aan God raak. – Jan van der Watt

Luk 1:57-2:20 (fokus 1:46-56)

 

Die verhaal van Jesus se geboorte in Lukas is een groot lofsang. Sagaria loof God (1:68) en Elizabeth prys Hom (1:44-46). Maria kan haar blydskap teenoor die Here nie terughou nie (1:46-55) en die engele sing oor die vrede op aarde (2:13).

Ons kan nogal iets oor egte lof hieruit leer. Egte lof is vreugde wat oorloop; dankbaarheid wat jy nie kan keer nie. Om egter regtig lof te wees, moet daardie dankbaarheid en vreugde altyd weg van jou af na God toe loop. Hy is die fokus en doel van alle lof, anders is dit nie lof nie.

Ons kan maklik die werklike doel van lof mis – solank ons lekker voel tussen die musiek en liedjies deur, dink ons ons het God geloof. As dit egter net by ons lekker gevoel bly, is dit nog nie egte lof nie. Ons mag ook lekker voel – dit is nie verkeerd nie, maar ons het God eers werklik geloof as Hy die lekkerste voel. Hy is die Een oor wie alles gaan, nie jy nie.

Daarom kan ‘n mens in die stilte van jou kamer God loof… as jou dankbaarheid uit jou hart na God toe vloei. In jou grootste krisis kan jy God loof, deur vir Hom opreg dankie te sê dat Hy jou vashou en dra. In vreugde en uitbundigheid kan jy ook liedere sing sodat almal van jou God kan hoor.

Lof is ‘n wonderlike ding… dit is waar jou vreugde en dankbaarheid aan God raak.