Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 5 (slot)

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 5 (slot) – Retha Pretorius

Op die trant wat in die vorige meditasies weergegee is, het Job se gesprekke met sy vriende verder verloop. So het dán Job en dán sy vriende om die beurt mekaar beskuldig en hulself verdedig.

Hoe laat dit ons nie aan ons eie menslikheid dink, wat so maklik in wedersydse argumente verval, wat eintlik na niks lei nie!

Tog het hierdie diskoerse gelei na ‘n intensiewe selfondersoek by Job, en ‘n uiteindelike lewensveranderende gesprek met God.

Tussendeur het ‘n jonger vriend van Job en die ander drie vriende ook sy stuiwer in die armbeurs gewerp. Hy was baie kwaad vir Job en die ander drie vriende, omdat hulle nie die konflikte reg hanteer het nie, volgens sy mening.

Toe daag die Here vir Job uit, deur met hom uit ‘n stormwind te praat:

“Wie is dit wat my wysheid bevraagteken

Met woorde van onkunde?

Staal jouself!

Ek sal die vrae stel,

en dan antwoord jy My.” (Job 38:2,3)

God neem vir Job op ‘n tog deur Sy ganse skepping, om sy glorie en majesteit te beklemtoon. Dis die mees aangrypend poëtiese verse, wat ‘n mens tot diepe nadenke stem.

“Waar is die pad

na die oorsprong van lig?

Waar is die tuiste

van die oostewind?

Wie grawe ‘n kanaal

vir die stortreën ?

Wie maak ‘n pad vir die weerlig? (38:24,25)

“Is dit op jou bevel

dat die arend hoog vlieg

en sy vlerke sprei na die suide?” (39:29)

Job kan net in verwondering staan by die aanskoue van soveel majesteit, en antwoord die Here:

“Tot nou toe

het ek net met my ore

van U gehoor,

maar nou het ek U

met my eie oë gesien.”  (42:5)

 

Job moes vir sy vriende bid, nadat hulle ‘n brandoffer aan God moes bring vir hulle valse veroordeling van Job. God is barmhartig en genadig; selfs ons grootste oordeelsfoute word ons nie toegereken nie.

Job is verder op materiële gebied geseën met baie meer as wat hy voorheen gehad het, maar Job se grootste wins en seën was die feit dat hy so naby aan God gekom het, en waarlik God se hart leer ken het. “Hy het ná ‘n vol lewe op ‘n hoë ouderdom gesterf.”(42:17)

 

Hoeveel geloofslesse kan ons nie by Job leer nie ? Wat ‘n uitdaging aan gelowiges, om soos Job, nie die verkeerde geloofspad in tye van smart te volg nie, maar die oog en hart net op God te rig!

 

SKrywer: Retha Pretorius

 




Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 4

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 4

Job lewer in hoofstuk 10 ‘n pleidooi dat God hom asseblief alleen moet laat, en nie meer kasty nie:

“Wat baat U daarby om my te laat swaarkry?

Waarom verwerp U my, die werk van U hande, terwyl

U aan die kwaaddoener vreugde en voorspoed gee?” (10:3)

Klink dit bekend? Ja, onteenseglik! Hoewel die Heilige Gees ons weer lei na volkome vertroue op God, ten spyte van swaarkry, is hierdie uitroep gewoonlik ons eerste reaksie.

 

Sofar praat

Nou kom die derde vriend, Sofar, aan die beurt. Hy is sommer openlik aanvallend: “Wanneer jy God tart, moet iemand jou nie bestraf nie?”(11:3).  En baie hoogheilig gee hy raad: “Raak ontslae van jou sondes, los alle ongeregtigheid agter jou”(11:14).

Sonder enige bewyse vind Sofar vir Job skuldig, en speel daarmee ook in die satan se hand.

 

Job begin perspektief kry

Job begin opstaan teen sy bevooroordeelde vriende. Hy begryp dat hulle “wyshede” nie op hom van toepassing is nie, daarom wend hy hom al meer na God. Eers antwoord hy egter vir Sofar.

 

Job antwoord Sofar

Job verwys sarkasties na sy vriende se “wysheid”:

“Wel, ek weet ook ‘n paar dinge.

Julle weet niks meer as ek nie.

Wie weet nie hierdie dinge wat julle nou kwytraak nie?”(12:3)

 

Hy besing God se ware wysheid en mag:

“Maar ware wysheid en mag is by God.

Raad en insig is syne”(12:13)

 

Job wend hom na God

Job rig nog woorde aan sy vriende, maar hy probeer moed bymekaarskraap om die Lewende God te nader.

Toe hy hom uiteindelik tot God wend, smeek hy op ‘n ontroerende wyse vir genade:

 

” O God! Daar is twee dinge wat ek van u wil smeek, dan sal ek voor U kan staan.

Vat net U hand weg van my en moet my nie verskrik met U ontsagwekkende

teenwoordigheid nie.” (13:20,21)

 

Dit laat my wonder oor my eie ontsag vir God – Hy is deur Jesus ook my Vriend, maar is dit nie tyd om terug te keer na ‘n heilige ontsag vir die Skepper van die heelal nie?

In die volgende studie sal verder gekyk word na Job se diskoers met God self.

Skrywer: Retha Pretorius




Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 3

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 3 – Retha Pretorius

Job se vriend Elifas en sy “wysheid”

Nadat Job se vriende die regte ding gedoen het om vir sewe dae en sewe nagte, sonder om te praat, by Job gesit het, het Job sy geboortedag vervloek, soos ons vroeër gesien het.

Daarna het sy een vriend, Elifas, begin praat en Job geantwoord: “Dink daaraan, het onskuldige mense ooit vergaan? Wanneer is die mens wat God getrou dien, al ooit vernietig?” (4:7)

So subtiel val hy vir Job aan, dat dit voorkom of hy hom werklik wil help: ” Gaan na God toe en stel jou saak aan Hom…..” (5:8) Sy filosofie is: omdat Job soveel leed ervaar, moes hy iets verskrikliks verkeerd gedoen het om God so kwaad te maak!

Op die oog af lyk hierdie redenasies van Elifas na die waarheid, maar wat hy en die ander vriende verkondig is vergeldingsdogma. Hulle wou ook vir God in hierdie soort optrede vasvang, maar God werk nie só nie!

Hoeveel keer is ek en jy ook ‘n “jobstrooster” wat vir iemand in smart wil laat verstaan dat lyding as straf deur God gestuur is?

 

Job praat ‘n tweede keer

Job sê weer hoe intens hy sy lyding ervaar, en hoe intens hy sy toestand beleef. Hy stort sy pyn uit.

Hy antwoord sy vriend: “Eerlike kritiek maak nie seer nie, maar julle argumente bewys niks! Dink julle dat julle woorde oorreed as julle nie eers my wanhoop kan hoor nie?” (6:25,26)

Hierdie wanhoop neem Job na God, en my hart wil breek oor soveel on-eindige diepe leed:

O God, onthou tog

My lewe is maar ‘n asempie…….(7:7)

Daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek moet kla oor my lyding.

Ek moet praat, want ek is bitter. (7:11)

Wie van ons kan nie identifiseer met Job se wanhoopskrete nie? Het elke mens nie al deur sy of haar lewe só gevoel, wanneer die lewe se géselhoue ons platslaan, en ons God daarvoor verantwoordelik hou nie?

 

Bildad se beurt

Nou praat Bildad met Job, en weereens gee hy voor dat Job en sy kinders gróót moes gesondig het om soveel straf te verdien. Hy kom baie vroom voor, en moedig Job aan om God om genade te vra.

Job se reaksie is ‘n erkenning van die beginsels wat Bildad vir hom voorhou, maar……. hy voel dit is nie reg om met God te redeneer nie, of hy wat Job is nou skuldig of onskuldig is!

Hy sou graag ‘n middelaar wou hê, sodat hy nie vir sy straf bang hoef te wees nie: “Maar in my eie krag kan ek dit nie doen nie” (9:35b)

Is dit nie merkwaardig nie – ‘n verwysing na ‘n middelaar, soos Jesus in die Nuwe Testament was. So is alles in God se woord in ‘n perfekte patroon en harmonie, en al die legkaartstukke pas presies inmekaar.

Job is vir my ‘n intens emosionele en poëtiese werk, wat my deurentyd aan die hart gryp.

In deel 4 sal verder na die vriende se “wyshede” gekyk word, en Job se gesprekke met God onder oë geneem word.

 

Skrywer: Retha Pretorius




Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 2

Meditasies en gebede uit Job se hart – deel 2 – Retha Pretorius

Job se tweede toets, en mense om hom se reaksies

Die aanklaer, die satan, het gesê dat Job sal ophou om God te dien as sy gesondheid weggeneem word.

God het ingestem tot so ‘n toets.

Job se vrou kon nie verstaan dat hy nog vir God dien nie, en sy moedig hom aan om God te vloek en te sterf aan sy pynlike swere. Job se antwoord was: ” Ek het goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?” Job het steeds niks verkeerd gedoen of gesê nie. (Job 2:10)

Sy vriende was sprakeloos oor sy smart en verliese, en sy fisiese toestand. Vir sewe dae en nagte het hulle in stilte by hom gesit, en sy smart gedeel: “Hulle kon sien dat Job se smart te groot is vir woorde” (2:13)

Kan ek iets hieruit leer, oor hoe om met ander se smart om te gaan? Praat ek nie dikwels te veel nie?

 

Job word rebels

Job was aanvanklik verdraagsaam en het sy lyding aanvaar. Die lydsame Job word egter nou ‘n uitgesproke rebel, wat begin om sy geboortedag te vervloek: “As my geboortedag tog nooit aangebreek het nie……..Mag dit vir niemand enige vreugde bring nie. (3:3-7)

Job is opstandig oor sy leed en smart, maar nooit, ooit laster hy vir God nie. Hy verwoord sy leed, en is eerlik teenoor God oor sy lyding.

Job se hantering van sy lyding is vir my ‘n navolgenswaardige voorbeeld – hy het nooit oorweeg om sy eie lewe te neem nie, maar het in alle opregtheid, met magtelose en passiewe woede sy situasie na God gebring.

Rampe is deel van die onverklaarbaarheid van die lewe, en, soos Job, kan ek ‘n ontmoeting met God beleef midde-in ‘n smartlike situasie, en met die vrede wat alle verstand te bowe gaan aan die anderkant uitkom.

 

Die boek Job, saam met Prediker, vorm werke van “proteswysheid” en is familie van die klaagpsalms en die klaagliedere van Jeremia.

In deel 3 sal Job se vriende en hulle optrede onder oë geneem word.

Skrywer: Retha Pretorius