6 Maart: Moenie verbaas wees as die Here jou kies nie. – Jan van der Watt

Luk 1:29-56 (fokus 1:26-38)

 

Het jy al ooit gewonder waarom ‘n onbekende jong meisie, Maria, nou juis uitgekies is om Jesus se ma te wees? Waarom nie iemand anders nie? Wel, ‘n mens kan in die Bybel soek, nadink, wonder, maar jy kry geen duidelike rede nie. God het haar eenvoudig gekies (1:42)… Maria, ‘n gewone meisie uit ‘n gewone dorp met ‘n gewone lewe.

Maria mag gewoon wees, maar een eienskap het sy gehad wat vir God onmisbaar was – haar gehoorsaamheid. In 1:38 sê sy: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied”. Dit was vir die Here genoeg. Met sulke instrumente in sy hand kan Hy wonders doen.

Vandag nog kies die Here gewone mense as sy instrumente om wonders te doen. Al wat Hy vra is gehoorsaamheid, want gehoorsaamheid maak jou die ideale kanaal vir God om deur te werk. Moet dus nie verbaas wees as die Here ook vir jou kom kies nie. Al voel jy dalk nie so nie, Hy kan ook deur jou wonders doen. Wees dan gehoorsaam deur stil te luister en doelgerig te gaan doen.




5 Maart: God kán waar Hy wíl. – Jan van der Watt

Luk 1:1-28 (fokus 1:5-25 )

Die seuntjie het sy ma gevra hoe hy en sy pa gebore is – “Die ooievaar het julle gebring”. “En oupa en ouma?” wou hy weet. “Die ooievaar het hulle ook gebring”, kom die antwoord weer. “Sjoe, dit lyk my ons het geslagte lank geen natuurlike geboorte in die familie gehad nie?”, sê die seuntjie uiteindelik moedeloos.

So van “natuurlike geboortes” gepraat: Min van die geboorteverhaal van Jesus is “natuurlik”, maar dit is nie die ooievaar se skuld nie. Johannes die Doper, wat Jesus se pad moes kom voorberei, se ouers was al so oud dat Elisabet nie meer kinders kon hê nie; in elk geval nie volgens die gang van die natuur nie (1:7). Teen alle verwagting in word sy swanger en word Johannes toe gebore. Wat menslik onmoontlik gelyk het, was vir God moontlik. God kán waar Hy wíl. Dit sien ons op ‘n nog wonderbaarliker manier in die verhaal van die maagdelike geboorte van Jesus. Waar God lewe wil skep, kan niemand Hom keer nie. Hy is immers die Skeppergod wat alles uit niks gemaak het.

Kyk net na God se geestelike familie vandag. In sy familie is daar nie natuurlike geboortes nie, maar sommer baie geestelike geboortes. Elkeen wat in Jesus glo word deur die Gees uit God gebore, ja, kry opnuut lewe. Dit is nie lewe wat eindig nie, maar wat jou verseker dat jy vir altyd saam met God sal wees.

Kan jy ook die verhaal van jou onnatuulike geboorte vertel? Het jy ook al ervaar dat God in ‘n sondaarmens nuwe lewe gee sodat jy sy kind kon word? Het jy die ewige lewe omdat jy uit God weer gebore is?

Dan sal jy weet: Hy kán… want Hy is die God van lewe.




4 Maart: Die Here is dáár… vir jou. – Jan van der Watt

Mark 16:1-20 (fokus 16:1-8)

 

‘n Mens kan regtig nie help om so biejtie emosioneel te raak by die tuingraf in Jerusalem nie. (Dit kon moontlik Jesus se graf gewees het, hoewel die bewyse daarvoor skraal is). Dit laat ‘n mens in alle geval sien hoe dit kon gewees het: Daar gekom stap jy in die klein grafkamertjie in wat uit rots gekap is. Aan jou regterkant is die plek waar hulle die lyk neergelê het. Maar daar’s niks, want dit is leeg… Bokant die ingang staan daar “Hy is nie hier nie. Hy het opgestaan” (sien 16:6).

Skielik kom die gevoel by jou op: As Hy nie meer daar in die graf lê nie, waar is Hy dan? En dit is die toweroomblik: jy besef dat juis omdat Hy is nie meer daar is nie, kan Hy nou by jou wees. Hy het opgestaan en dit beteken: Hy is nog dáár, by jou in die graf. Jy staan nie alleen daar nie – Hy is by jou, nie as ‘n dooie mens nie, maar as jou lewende Here; nie as iemand wat in ‘n graf gewys het hoe eindig die lewe nie, maar in daardie graf vir jou wys hoe begin die lewe: lewe saam met Hom. Dan wil jy huil en lag tegelyk.

‘n Graf kan dan ook nooit weer vir jou dieselfde wees nie, ook nie jou graf nie. Dit is nie die plek van die dood nie, maar die plek van die lewe – mits jy Jesus ken.




3 Maart: Daar is ‘n verskil tussen of die Here kan en of Hy wil. – Jan van der Watt

Mark 15:21-47 (fokus 15:21-32)

 

Ons kan vinnig sê: “Waar is die Here?” as ons in gebed ons vraelysie ingedien het en Hy nie dadelik gee wat ons vra nie.

Kyk wat gebeur aan die kruis (15:29-30). Mense stap verby en sê spottenderwyse dat Jesus van die kruis moet afklim, die tempel moet afbreek en in drie dae moet opbou, soos Hy mos beweer het Hy kon. Jesus kon, maar het nie. Waarskynlik sou dit die Joodse volk wakker geskud het. Tog doen Hy dit nie.

Die punt is: Jesus doen nie wat hulle vra nie. Beteken dit nou dat Hy nie daardie mense liefgehad het nie of miskien dat Hy hulle nie wou help nie? Natuurlik nie. Daar was goeie redes waarom Hy dit nie gedoen het nie. Jesus se optrede op daardie oomblik het by God se groter plan ingepas en nie andersom nie.

Daarom, as Jesus nie alles doen wat op jou vraelysie staan nie, beteken dit ook nie dat Hy nie vir jou lief is nie. Dit beteken eerder dat God dink dit is nie die regte ding om op daardie oomblik te doen nie. As ons mooi daaroor dink, is dit die manier waarop Hy jou ook beskerm en jou lewe rig. En watter veilige hande is dit net nie om jou lewe in te plaas nie!

God sien dinge raak wat jy miskyk. Daarom moet jy leer aanvaar dat jou planne by God se groter plan moet inpas en nie andersom nie. Daarom moet jy sy keuses vir jou lewe vertrou en respekteer. God sal wel jou drome en planne op die beste manier waar maak. Jy moet geduldig wees.

Die Here is daar. Vertrou Hom met jou planne.