26 Februarie – Wat regtig vir die Here GROOT is. – Jan van der Watt

Mark 12:28-44 (fokus 12:41-44)

‘Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eers mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets te koop om te eet, het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.’ (12:43-44)

 

Die kinders by die kerk het altyd gegiggel as een spesifieke Omie verbystap. As nuwe dominee het ek gou agtergekom dat die kinders hom glo eenmaal ‘n knoop in plaas van geld in die kollektebord sien gooi het. En dit was die rede vir die gegiggel. Later, toe ek hom beter leer ken het, sou ek agterkom dat dit al was wat hy gehad het. Geld was daar nie. Daai knoop was vir hom ‘n simbool… ‘n simbool van sy hart en sy lewe wat aan die Here behoort. Hy het eintlik nie ‘n knoop ingegooi nie, maar homself.

Daar is ‘n stukkie menslike ironie in die hele storie: die kinders het die knoop raakgesien en gegiggel; God het die hart raakgesien en tevrede geglimlag. Die kinders het gegiggel oor die verleentheid; God het in blydskap geglimlag oor die geleentheid – die geleentheid wat sy kind nie gemis het om sy toewyding en liefde aan Hom te bewys nie. En dit het my aan Jesus se woorde laat dink toe die arme vroutjie alles ingegooi het wat sy gehad het. Mense het die geld raakgesien – Jesus het na die hart gekyk (12:43-44).

Hierdie verhaal in die Bybel het ‘n geweldige troosboodskap vir ons: ‘Groot’ beteken vir die die Here iets anders as vir ons. Vir Hom is blyke van liefde ‘groot’; vir Hom is jou hulp aan iemand wat dit nodig het ‘groot’; die besoek aan ‘n sieke of die tyd saam met iemand wat hartseer is, is vir Hom ‘groot’.

Die verhaal van die vroutjie met haar paar sent moet jou moed gee en motiveer: Moenie die kans laat verbygaan om klein dingetjies uit ‘n liefdevolle hart te doen nie. Vir die Here is dit ‘groot’.




25 Februarie – God is nie jy nie en jy is ook nie God nie. – Jan van der Watt

Mark 12:1-27 (fokus 12:18-27)

God is nie ’n dooie God of die God van die dooies nie. Julle wil dit nie glo nie, maar glo My, julle maak ’n reusefout.’ (12:27)

 

Hoe gaan die hemel wees? Hierdie vraag pla party mense nie, want hulle dink nie eintlik daar is so iets soos die hemel nie. Jesus het egter geweet daar is ‘n hemel en sy mense is daarheen oppad.

Jesus het dit self mooi aan die Sadusseërs, wat ook gedink het daar kan nie ‘n hemel wees nie, verduidelik. Hulle het Hom probeer vasvra en het ‘n moeilike vraag uitgedink.  Hulle wou weet hoe die hemelse huweliksregister van ‘n vrou gaan lyk wat op aarde met sewe mans getroud was. Wie se vrou gaan sy in die hemel wees? Met die vraag, het hulle gedink, het hulle Jesus in die hoek.

So maklik kry jy Jesus nie vasgevra nie. Jesus draai hierdie mense se oë toe na God toe (12:24). Dink daai Sadusseërs regtig God is of dink soos ‘n mens? Dink hulle Hy hou ‘n huweliksregister soos hulle aan? ‘n Groter fout as dit kan ons omtrent nie maak as ons oor God dink nie: ons moet nooit dink Hy moet soos ons wees of net soos ons maak nie.

Nee, God is ‘n God wat anders as ons is. Hy doen dinge anders as ons, want Hy is groter as ons en sien verder as ons. Ons reëls geld nie vir Hom nie en Hy werk volgens reëls wat ons ons nie eers kan voorstel nie. As ons dus by die hemel gaan uitkom, gaan dit anders wees as wat ons dink, want dit is nie deur ‘n mens uitgedink of gemaak nie. Daar sal ons nie trou of dinge doen soos ons hier op aarde daaraan gewoond is nie, dit verseker Jesus ons. Dit gaan regtig anders wees, goddelik anders.

Hoe gaan die hemel wees? Ons moet maar wag en sien, want ons kan onsself dit nou nie eers naastenby voorstel nie. Wat ons wel weet is dat ons by God gaan wees, en dit is sowaar hemels




24 Februarie – Kits krag… gewaarborg. – Jan van der Watt

Mark 11:12-34 (fokus 11:20-25)

‘Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee.’ (11:24)

 

Gebed het groot krag, daarvan kan ons seker wees. Dit word díe bron van krag as ons begin wonder waar ons krag vandaan gaan kry. En dit kan die bron van krag wees omdat gebed ons in kontak met die Almagtige bring.

Die krag van gebed lê juis daarin dat God die Een is wat gebede verhoor. Dit beteken dat gebed nooit op dowe ore kan val nie. As ons vra, is Hy die Een wat luister en besluit wat gedoen moet word. Die gelowige hoef nooit sonder God wees nie, daarvoor sorg gebed. En die beste van alles: God is net die buig van ‘n knie ver. Wat ‘n troos is dit net nie. Die boodskap van gebed is dus uiteindelik: dit is nie die gebed wat so belangrik is nie, maar die God wat na ons gebede luister.

Juis daarom is die hart van gebed vertroue op God (11:24). As gebed nie vir jou beteken dat jy op God se skoot sit en Hom so in die oë kyk nie, mag jou gebed dalk leë woorde van wanhoop word. As jy egter in die oë van God kyk, kan jy nie anders as om te besef dat jou woorde nooit leeg kan wees nie. Dit kan en sal nooit leeg terugkom van die Persoon af wat dit hoor nie. Ja, God luister.

Daarom hoef jy nie aan jou gebede te twyfel nie, veral nie as jy styf op God se skoot sit nie – want daar is dit Hy self wat luister. En as Hy gehoor het, sal Hy ook doen soos Hy goeddink. Daarin lê die krag van gebed. Wat is daar dan nog om oor te twyfel?

As jy op jou knieë gaan, soek die oë en ore van God!




23 Februarie – Hoe kan jy op ‘n foto saam met Jesus wees?. – Jan van der Watt

Mark 10:32-11:11 (fokus 10:35-45)

 ‘Jesus antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie.’ (10:38)

 

Die dissipels het nie mooi besef wat in Jerusalem vir Jesus voorlê nie en dit nog minder verstaan. Hulle het iets heeltemal anders verwag as wat uiteindelik gebeur het. Hulle het gedink Jesus gaan die Romeine onderdrukkers uit Jerusalem verwilder en Pontius Pilatus se plek op die troon vat. Juis omdat hulle nie reg oor Jesus gedink het nie, kon hulle ook nie reg oor hulleself dink nie. Hulle grootste bekommernis oppad Jerusalem toe was wie van hulle die beste plekke gaan kry as die “foto’s” van die “nuwe Koning met sy vriende” in Jerusalem geneem gaan word (10:37). Dit terwyl Jesus oppad kruis toe is! Hulle verwag ‘n troon – Jesus gee vir hulle ‘n kruis.

Die begeerte om deur ander raakgesien te word kan jou snaakste dinge laat doen. Status en die handeklap van mense kan ‘n mens nogal bedwelm. Dit kan jou so aan jouself laat dink dat jy van ander belangriker dinge begin vergeet…, ja, dit kan jou so na jouself en jou eie drome laat staar dat die werklike lewe by jou verbygaan.

As ons na die storie van Jesus kyk, is die enigste Een wat uiteindelik regtig “raakgesien” is, Jesus; nie omdat Hy daarna gesoek het nie, maar omdat ons sonde Hom hoog aan die kruis laat hang het. Daar kon almal Hom sien. Op daardie “foto” was net Hy en twee onbekende sondaars; ons ken nie eers hulle name nie. Hulle is onbekend, want hulle is ook eintlik ek en jy. Die een het Jesus om hulp gesmeek… die ander het sy rug op Jesus gedraai. Vir altwee het Jesus ‘n boodskap gehad: vir die een aan die een kant wat Hom aanvaar het, was daar plek in die Paradys. Vir die ander een aan die ander kant wat selfs op daardie oomblik nie sy oë na Jesus wou draai nie, was dit maar net slegte nuus.

As jy nie die beste plek op ‘n troon soek nie, maar bloot wil wees waar Jesus is, kom jy op sy “foto”. Sorg net dat jou plek aan die regte kant is! Dan sal daar nie vir jou verrassings wees soos vir die dissipels nie.