14 Februarie – Moenie te lank wag om by God te gaan rigting vra nie. – Jan van der Watt

Mark 5:21-43 (fokus 5:21-23 en 35-43)

‘Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom.’ (5:23)

 

Vriende loop mekaar in die Kaap raak en die een man sê vir die ander een: “Ek het nie geweet julle kom Kaap toe nie; ek het gedog julle was oppad Durban toe”. Die vrou van die ander man antwoord: “Dit was die plan, maar Piet het geweier om rigting te vra”.

Dit is ook maar die verhaal van baie van ons se lewens. Ons is oppad iewers heen, maar ons is nie seker hoe om daar te kom nie. Daarom eindig ons dikwels waar ons nie wil wees nie – eenvoudig omdat ons nie pad wil vra nie. Ons wil niemand se raad vra of hulp hê nie. So reis ons dikwels in die lewe sonder ‘n geestelike kompas of padkaart.

Die mense in 5:23 en 29 was nie so nie. Hulle was nie bang om die pad te vra nie. So is hulle vinnig gehelp, want hulle het geweet waar om te vra.

Geestelik het ons die beste Gids. Jesus weet waarheen ons moet gaan en hoe ons daar moet kom. En Hy wil graag help. Daarom moet ons nie bang wees om te gaan vra nie, maar ook bereid wees om te luister.

Die pad wat die Here vir ons wys loop, deur die lewe. Om die waarheid te sê, die pad van die Here neem ons dikwels op reis na “onsself”. Om regtig die lewe voluit te kan leef moet ons onsself dikwels eers ontdek en vind. Jy moet eers vir jouself uitmaak wie jy is en waarheen jy oppad is. Dan begin die lewe ‘n avontuur raak, veral as jy ontdek dat jy nie alleen oppad is nie, maar dat die Here saam met jou is. Dan kan jy buitentoe kyk en die pad saam met ander begin geniet. Maar jy moet bereid wees om pad te vra as jy onseker begin raak of twyfel… jou hemelse Gids het die antwoorde.

As jy agterkom jou pad raak rof, vra maar weer rigting.




13 Februarie – Wees geduldig met jouself. – Jan van der Watt

Mark 4:21-5:20 (fokus 4:26-34)

‘”Die saad groei self uit die grond uit. Eers kom die plantjie uit. Daarna maak dit ’n klein vruggie en uiteindelik hang die ryp vrug daar. As die vrug ryp is, oes die boer dit af, omdat die oestyd daar is.”’ (4:28-29)

 

Wees geduldig met jouself. Moenie te veel en te hoë eise aan jouself stel nie, want dan gaan jy gedurig teleurgesteld wees. Gun jouself die tyd wat jy nodig het om geestelik te groei en sterk te word. Dit gebeur nie sommer oornag nie en boonop is die pad van geestelik groei ook ‘n pad met baie terugslae. Daarom het Jesus gesê die koninkryk is soos ‘n saadjie wat groei (4:26-29).

Die Here plant nie bome nie – Hy plant saad en die saad moet groei om ‘n boom te word. Ja-nee, die Here maak nie vooraf vervaardigde perfekte Christene nie. Die Here maak Christene wat deur die lewe nader en nader na Hom toe sal groei. Die saad groei vanself, sê 4:27-28. Elkeen wat in die Here glo, sal binne hom of haar ‘n inherente krag ervaar. Hoe dan ook anders, want God self woon in ons deur sy Gees. Dan kan daar mos nie niks gebeur nie. Ons moet net daardie krag toelaat om in ons lewens deur te breek en ons na die wil van God te vorm. Maar dit vat tyd. Om te vinnig te veel te verwag, voorspel net teleurstelling.

Daarom moet ons geduldig wees met die pad wat die Here met ons stap. Ons moenie te vinnig ongeduldig of moedeloos raak nie. Ons moet liewer geduldig wag en leer, want so kan ons groei. Dit is miskien die moeilikste ding om geestelik te doen: om in die oomblikke van swaarkry waar jy die verste van God af voel, te aanvaar dat Hy op sy manier met jou besig is – ja, dat hy besig is om jou te vorm en reg te laat groei. Op daardie oomblikke moet ons onsself die tyd gun om te leer – te leer ken, te leer vertrou, te leer gehoorsaam wees… en te groei.

Moenie te vinnig moedeloos word nie. Gun jouself tyd om te groei.




12 Februarie – Wie is jou Pa?. – Jan van der Watt

Mark 3:31-4:20 (fokus 3:31-35)

 Jesus kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: “Hier is my regte familie. Elkeen wat doen wat God van hom of haar verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma.’ (3:35)

 

Om vir jou ma te sê sy is nie jou ma nie is nie iets wat ‘n mens sommer doen nie – tog doen Jesus dit (3:32-35). Maar Jesus wou haar nie seermaak of kwets nie. Hy wou die goeie nuus bring – nuus bring dat álmal nou deel van God se groot familie kan wees, maak nie saak wie jou aardse pa of ma is nie. By God is jy welkom. Ja, almal, sonder uitsondering kan God nou hulle Pa noem, mits hulle die pad saam met God wil loop. Wie Hom in geloof omhels, sal deur Hom omhels word.

Dit is nou nie dat jou pa of broer minder belangrik word nie, maar eerder dat God vir jou belangriker word. As jy moet kies, kies jy in die eerste plek vir God. En dit is nie altyd so maklik nie. Ons kan mos vir meer as een persoon op ‘n slag lief wees… ons kan gelyktydig vir God en ons man of ma of vrou of kind lief wees. Dan wil ons hulle almal graag gelukkig hou. So is dit ook met die Here. Hy wil nie nou skielik jou familie uitmekaar kom skeur nie. Hy het nie bedoel dat jy nou skielik jou rug op jou familie moet draai om hom te kan volg nie. Nee, Hy wil juis hê jy moet nou die mense naby jou liewer hê as ooit.

Maar wat daarvan as jou familie van jou dinge verwag waarvan God nie hou nie? Wat as hulle wil hê jy moet tussen hulle en God kies? Dit is wanneer Jesus sê: “Doen wat God verwag”. Dit gebeur nie baie nie, want in die meeste gevalle bots dinge nie so ernstig nie. Maar as dit gebeur dat jy tussen God en ander dinge moet kies, moet jy besluit watter familie is vir jou die belangrikste is.

Onthou, jou ma mag jou ma wees en jou pa jou pa, maar God is jou hemelse Vader!




11 Februarie – Wees versigtig – jy kan God maklik miskyk. – Jan van der Watt

Mark 3:1-30 (fokus 3:20-30)

‘Sowaar ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.’ (3:28-29)

 

Kan jy nog die Here in die gewone dinge van die lewe raaksien? Dit word al hoe moeiliker. Alles het so verander… die TV vertel vir ons waar en wanneer dit gaan reën. Ons drink pille as ons siek is of gaan hospitaal toe vir spesiale behandeling as ons sukkel om ‘n baba te kry. Geen wonder nie dat party mense vra wat vir God oorgebly het om te doen? Oral in die lewe het ons ons eie raad en planne. Dit is byna of God “werkloos” geword het, of so lyk dit miskien.

Ons kan God maklik in die lewe miskyk. God kan soms selfs reg voor ons staan sonder dat ons Hom raaksien. Kyk maar na die Jode in ons verhaal: hulle het voor Jesus gestaan en sowaar gedink Hy is die duiwel (3:22), so skeef het hulle gekyk. So het hulle God nie alleen werkloos nie, maar ook magteloos in hulle lewens gemaak. Hy kon nie in hulle lewens werk nie, want hulle wou nie erken dat Hy daar is nie. Hulle het Hom nie meer raakgesien nie en het daarom ook nie meer iets van Hom verwag nie.

Hoe kan jy God raaksien en herken as jy nie wil soek of mooi wil kyk nie? Om God raak te sien, beteken om jouself so bietjie “oop te maak”. Jy moet bereid wees om te erken dat Hy dáár is, meer nog, deel van jou lewe is. Jy moet bereid wees om sy voetspore in die gewone dinge rondom jou raak te sien. Die lewe kom nog van God af, al word die baba in ‘n buis gebore… lewe kom tog nog van God af. Hy het die wette van die natuur geskryf  – al het ons geleer om dit te voorspel. En dit is as ons besef dat die Here by ons is, dat ons Hom weer in die dinge rondom ons sal kan raaksien.

Die Here is nog daar in die alledaagse dinge… kyk net mooi.