DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (5)
DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (5) – Jan van der Watt
2. Hoe lyk die “historiese gegewens” vir die opstanding?
- Watter “feite” het ons?
a) Volgens die berigte in die Nuwe Testament het niemand gesien hoe Jesus uit die graf kom nie. Al getuienis is die oop graf. Toe Maria en die dissipels daar kom was net die doeke daar – die graf was leeg.
b) Jesus het na sy dood aan heelwat mense verskyn en selfs met hulle gepraat en saam met hulle geëet. Hulle kon selfs aan Hom vat.
c) Die ervaring van Jesus wat mense se lewens radikaal verander het, was vir die vroeë Christene ‘n bewys dat die opgestane Jesus by hulle is. Hulle was veranderde mense.
- Die leë graf
Daar is geen getuienis enige plek dat die graf nie leeg was nie. Selfs die vyande van Jesus het nie so iets beweer nie. Die graf was leeg… en Jesus se liggaam was weg. Hoe het die graf leeg gekom? (Ons gaan elke keer die teorie noem en dan die waarskynlikheid dat dit so kon gebeur het).
- Sommige het beweer dat die dissipels Jesus se liggaam gesteel het.
Sommige beweer dat die Jode Jesus se liggaam verwyder het.
Daar is mense wat beweer dat Jesus nie regtig dood was nie. Dit het maar net so gelyk – in die koel graf het Hy toe bygekom en toe lyk dit of Hy uit die dood opgestaan het. Die verhaal is hoogs onwaarskynlik: a) verskeie mense het Jesus se liggaam hanteer – dit was die soldaat wat by die kruis gewerk het se werk om seker te maak die gekruisigdes is dood. Veronderstel dat hy op een of ander manier ‘n fout gemaak het. Dan was daar die volgelinge van Jesus wat sy liggaam gewas en gebalsem het. Hulle sou tog seker iets agter gekom het, soos dat Jesus tog effens asem haal. En dan is daar die probleem van hoe Jesus uitgekom het. Daar was soldate voor die graf en die graf was toegemaak met ‘n massiewe rots wat jy eintlik net van buite af kon oopmaak. Hoe het Jesus ongemerk die klip weggekry en verby die soldate gekom sonder dat hulle dit eers agter gekom het? Daar is net te veel onwaarskynlikhede om die teorie waar te maak. Ander maak ‘n storie op dat die vroue by die verkeerde graf uitgekom het – hulle kon nie rigting hou nie en omdat dit ‘n nuwe graf was, het hulle by ‘n ander leë graf uitgekom. Toe dink hulle Jesus het opgestaan. Wel, hieroor hoef ons nie eers veel te sê nie. Daar word vertel dat van die dissipels soos Petrus en Johannes ook graf toe is en dieselfde leë graf gesien het. Vir die teorie om waar te wees moes al die dissipels van Jesus en die Jode ook nie rigting kon hou nie. Dit lyk of die beste verklaring op die ou einde tog is dat Jesus uit die dood opgestaan het! Dit verklaar waarom soveel mense se lewens verander het, waarom die graf leeg was en mense daarna Hom kon sien, aan Hom kon vat, en so meer. Volgende keer kyk ons na Jesus se verskynings na sy opstanding. Skrywer: Prof Jan van der Watt