Die Handelinge van die Apostels: Die vergaderig in Jerusalem (deel 2; Hand 15 vers 13-21) – Francois Malan

15:13  Nadat Paulus en Barnabas vertel het van wat die Here deur hulle onder die heidene gedoen het, het Jakobus daarop geantwoord met sy insig in die Here se uitsprake deur die profete. Hy het ook die bespreking saamgevat en die voorstel geformuleer wat die besluit van die vergadering geword het. Hy spreek die vergadering aan as ‘broeders,’ ’n term wat in die Nuwe Testament ook vroue kan insluit. Hy vra ook die vergadering se aandag vir sy mening oor die Here se uitsprake deur die profete (vgl. ook Lukas 10:16 vir Jesus se uitspraak oor luister na Hom).  

Hierdie Jakobus was die broer van Jesus (Mark 6:3). Jesus het ná sy opstanding ook aan hom verskyn (1 Kor 15:7). Toe die apostels uit Jerusalem gevlug het, tydens Herodes Agrippa I se vervolging van die leiers (Hand 12:1-3), het Petrus opdrag gegee dat die mense wat vir hom gebid het, van sy vrylating uit die tronk aan Jakobus moet gaan vertel (Hand 12:17). Hy het toe blykbaar die leiding in die gemeente in Jerusalem oorgeneem by Petrus. Paulus noem hom een van die pilare van die Jerusalemgemeente (Gal 1:19; 2:9). Hy is ook die skrywer van die brief van Jakobus aan die twaalf stamme van Israel in die diaspora (Jak 1:1; vgl Judas 1:1).

15:14  Jakobus verwys na Simeon, die Hebreeuse vorm van Simon (vgl. die vurige seun Simeon van Jakob, Gen 34:25; 49:5). Simeon het in Hand 15:7-11 die verhaal vertel van God se roeping van Kornelius-hulle wat deur die verkondiging van die evangelie tot geloof in Jesus gekom het, die Heilige Gees ontvang het en dat hulle gereinig en verlos is deur die genade van die Here Jesus. Dit beskryf Jakobus as die belangrikste (prōton) aanduiding dat God graag vir sy Naam ’n laós verbondvolk uit die éthnoi heidense volke wil bymekaarmaak (lambánō ontvang, verkry, kies, versamel). Deur geloof in Christus word heidene deel van die volk met wie God ’n verbond gesluit het, reeds van Abraham se tyd af (Gen 12:3). Met die verbond sê die Here: ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees  (vgl. Gen 17:7; Eseg 32:38 en nog 20 tekste in die Bybel). Die doel van God met die opneem van die heidene in sy genadeverbond is dat hulle getuies van sy Naam in die wêreld sal wees, deur sy Naam te dra as lede van sy volk, met hulle mond en manier van lewe saam met Hom voor die mense. Waar Petrus die koms van die Heilige Gees op die heidene as argument aanhaal vir hulle insluiting, verwys Jakobus na die werk van Christus as die beloofde Seun van Dawid. 

15:15 Jakobus verwys na die woorde van profete in die Ou Testament wat saamstem met Petrus se getuienis oor die heidene se geloof in Jesus (sumfōnéō Letterlik: saamklink, hulle woorde klink soos Petrus s’n, die profete en Petrus is in simfonie). Jakobus verwys na die woorde van die Here wat die profeet Amos ongeveer 800 jaar tevore opgeteken het (Amos 9:11-12). Amos was die eerste profeet wie se woorde van die Here aan hom in ’n profete-boek opgeteken is (die profete voor hom, soos Elia en Elisa, se woorde is in die Samuel- en Konings-boeke opgeneem). Nou sê Lukas in Handelinge dat die Here se woorde van 800 jaar tevore ooreenstem met die woorde van Petrus. Die aanhaling stem meer met die Griekse vertaling, die Septuaginta, ooreen as met die Hebreeuse Bybel se weergawe van Amos se woorde.    

15:16 In ongeveer 750 v.C. het Amos 9:11 gesê:  ‘op daardie dag’  met verwysing na die terugkeer van die volk uit Babel se ballingskap wat meer as 200 jaar na Amos geskied het, van 538-430 v.C. Jakobus pas dit aan met ‘Daarna sal Ek (die Here) terugkom’ met verwysing na Jesus se voortsetting van sy werk op aarde deur sy volgelinge (vgl. Joh 14:18 ‘Ek kom weer na julle toe;’ Joh 14:23 Ek en my Vader sal woon by wie My liefhet). Verder word Amos letterlik aangehaal in vers 16: ‘en Ek sal die vervalle huis/woonplek van Dawid  weer opbou (skênê letterlik: tentwoning of tabernakel of verwysing na sy koninkryk) en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel’ – Amos voeg nog by: ‘soos in die ou dae.’ Dié deeltjie laat Jakobus uit, want die koninkryk wat Jesus kom oprig is nuut en anders as Dawid se koninkryk wat met geweld gevestig en uitgebrei is. Die tempel wat Serubbabel na die ballingskap gebou het was ook nie so vol prag soos Salomo se tempel nie (Haggai 2:3). Herodes het hierdie tempel vergroot en verfraai, maar toe die Seun van Dawid kom het Hy die tempel vervang as die plek waar ons God ontmoet (Joh 2:19-22). Vergelyk ook die engel Gabriël se belofte dat die troon van sy voorvader Dawid aan Hom gegee sal word, in Luk 1:32; ook Sagaria se profesie oor die baba Jesus in Luk 1:69 oor die kragtige verlossing wat die Here uit die nageslag van Dawid vir ons bewerk het). Jakobus se verwysing na die opbou van die vervalle woonplek van Dawid, woonplek of die tabernakel/tempel en die koninkryk van Dawid, is vervul toe Jesus, gebore uit die geslag van Dawid, opgestaan het as oorwinnaar oor die dood.

15:17 Die Septuaginta, wat in Handelinge aangehaal word, het twee Hebreeuse woorde anders as die bekende Hebreeuse teks gelees (was dit uit ’n ander manuskrip van Amos of ’n ander lesing van dieselfde teks?). Die Afrikaanse vertaling wat die Hebreeuse teks uit die 10e eeu n.C. volg, vertaal Amos 9:12 soos volg: ‘sodat hulle (=my volk) die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.’

Die Hebreeuse sin ‘sodat hulle die oorwinnaar sal wees (jijreshu) oor die oorblyfsel van Edom (’êdom), oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is’  word deur die Septuaginta vertaal met ‘sodat die oorblyfsel van die mense (’adam) en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, ernstig sal soek (jidereshu) (na My). In die oorspronklike Hebreeuse tekste is slegs medeklinkers geskryf: ‘Edom’ en ‘Adam’ sonder klinkers is altwee slegs ’dm; by ‘sal oorwinnaar wees’ jjrshw en ‘sal ernstig soek’ jdrshw is die verskil tussen die Hebreeuse j wat soos ’n afkappingsteken lyk en d  slegs die lengte en hoek van die twee strepies en kan maklik verskillend afgeskryf word uit die Amosteks wat sedert 750 v.C. telkens met die hand oorgeskryf is (In 1436 n.C. het Johannes Gütenberg eers die bewegende drukpers ontwerp en is Bybels gedruk en nie meer met die hand oorgeskryf nie).

Volgens die 10e eeu n.C. se handgeskrewe Hebreeuse Bybel met vokale het Amos geprofeteer dat Israel die klein klompie Edomiete wat oorgebly het en al die nasies wat deur die Here aangeneem is, sal oorwin. Volgens die Septuaginta wat 200 jaar v.C. uit die Hebreeuse teks sonder vokale vertaal is, het Amos geprofeteer dat die oorblyfsel van die mense en al die nasies wat die Here vir Hom aangeneem het, (Hom) ernstig sal soek. By altwee tekste gaan dit oor die nasies oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Die passiewe werkwoord veronderstel dat die Here sy Naam oor hulle uitgeroep het en dat hulle daarom aan Hom behoort. Die perfektum vorm van die werkwoord ‘uitgeroep’ impliseer ook dat die gevolge daarvan vir hulle voortduur. Daarin sien Jakobus die Here se plan om die nasies permanent in te sluit onder sy Naam. Daarom haal Jakobus die slot van Amos 9:12 aan: dit ‘sê die Here wat besig is om hierdie dinge te doen.’ Dit is nie maar die profeet se woord nie, maar waarlik die Here wat deur hom gepraat het.

15:18 ‘(die dinge) wat van lank gelede bekend is’  – in Jesaja 45:21 sê die Here: ‘Wie het wat nou gebeur lankal aangekondig? Wie het al vantevore gesê dit sal gebeur? Is dit nie Ek, die Here, nie?’ Jakobus haal dit hier verkort aan om te beklemtoon dat die sending na die heidene en die wêreldwye volk van God deel is van God se oorspronklike raadsplan (vgl. Ef 1:4), wat Hy reeds aan Abraham geopenbaar het in Genesis 12:3 en dikwels daarna. God is besig om alles te doen wat Hy Hom van ewigheid af voorgeneem het. So is die bekering van heidene deel van God se grootse werk van skepping en herskepping.

15:19 Op grond van alles wat gesê is, die ooreenstemming met die profetewoorde (v15-18) en God se skenking van die Heilige Gees (v8-9) gee Jakobus sy mening wat saamstem met Petrus se woord (v10) en Paulus se verhaal (v12) wat die basiese vryheid van die wet aan die heidenchristene gee. Daarmee erken Jakobus dat Paulus se wetsvrye sending onder die heidene volgens die woord en wil van God is, en word die Judaïste (v1) en Fariseërs (v5) se eise afgewys: ‘Daarom meen ek (krinō besluit, verkies, beoordeel, dink, reël) om nie ’n ekstra las op te lê (parenochléō para ekstra, enochléō las oplê) vir dié uit die heidene wat hulle tot God bekeer nie.’  Die mening van Jakobus word in vers 22 en 28 die besluit van die vergadering.

15:20 Die eerste twee van die vier eise wat Jakobus voorstel vir die bekeerlinge uit die heidendom is om weg te bly van die die besmettings van die beelde wat as gode vereer word en van porneía (onwettige seks, hoerery, prostitusie). Vir die Jode en die vreemdelinge onder hulle is ‘n lys van onwettige verhoudings in Levitikus 18 verbied (Lev 18:26; Suid-Afrika se huwelikswet volg vandag nog die aanwysings van Lev 18). Dit was twee sondes teen God waarvoor die heidene juis bekend was en dwarsdeur die Ou Testament deur God afgekeur word as teen sy wil vir die mensdom (vgl. Eks 20:3-6, 14). Daaraan het Israel hulle by Sinai skuldig gemaak met hulle goue kalf wat hulle as god aanbid het met hulle wellustige fees (Eks 32:1-6). Die tweede groep eise, ‘om weg te bly van wat verwurg is en van bloed’ is deur die Jode beskou as die Noagitiese gebod wat daarom vir alle mense geld, omdat alle mense, Jode en nie-Jode, ná die groot vloed, uit Noag stam; vgl. Genesis 9:4-5 se opdrag aan Noag: ‘Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in nie, dit is met sy bloed in nie. Wanneer julle eie bloed vergiet word, sal Ek daaroor rekenskap eis, want dit is julle lewe; van ’n dier sal Ek rekenskap eis oor die lewe van ’n mens, en van ’n mens sal Ek rekenskap eis oor die lewe van sy medemens.’   

Jode eet kosher vleis (Hebreeus: cashēr = ‘gepas’ (gepas om geëet te word) omdat dit deur ’n shochet (’n rabbi of ’n lid van die sinagoge wat die Shabbat onderhou) geslag is, deur die dier te laat doodbloei (vgl. Lev 17:14; 7:26-27; Deutr 12:23-25). Die Griekse woord pniktós ‘verwurg’ of ‘versmoor’ is deur die Rabbi’s toegepas op diere wat in die veld gesterf het of wat verskeur is en vanweë die bloed in die vleis nie kosher is nie. Vleis wat nie kosher is nie, ‘nie-gepas’ is nie, word in Hebreeus genoem trafah = verskeur (deur ’n dier; vgl. Eks 22:31; Lev 17:15) deurdat die vleis nog te veel bloed in het.

15:21 Die tekste waarna in 15:20 verwys is, kom almal uit die Wet van Moses, soos die eerste vyf boeke van die Ou Testament genoem is. Nadat Jakobus aangehaal het uit die Profete in 15:15-18 as tekste wat van lank gelede bekend is en waarin die koms van die Christus voorspel is, verwys hy in 15:19 na vier eise uit die Wet van Moses, wat veel ouer is as die profeteboeke. Die sinagoges het ontstaan toe die tempel deur Nebukadnesar vernietig is, tydens die Jode se jare in ballingskap. Na hulle terugkeer is daar sinagoges in elke dorpie opgerig vir gereelde samekomste elke Sabbat, waar elke Sabbat uit die Wet en die Profete vir die gemeente voorgelees is. Die godvresendes het reeds die vier eise onderhou, maar hulle het hulle nie laat besny nie, anders as die proseliete wat hulle laat besny het om al die seremoniële wette te onderhou.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die vraag oor die besnydenis word verwys na ’n vergadering in Jerusalem (Hand 15:1-4a) – Francois Malan

Die vraag of die besnydenis en die onderhouding van die wet van Moses noodsaaklik is vir verlossing word in Antiogië verwys na ’n vergadering in Jerusalem.

Hoofstuk 15 is die middelpunt en die keerpunt in Handelinge. Die hoofstuk begin reg in die middel van die boek Handelinge.  Maar dit is ook ’n keerpunt in die geskiedenis van die kerk: 1. Jerusalem is ná die vergadering nie meer sentraal en rigtinggewend in die lewe van die kerk nie. 2. Petrus word hier vir die laaste maal in die boek genoem. Ook Barnabas word, na sy breuk met Paulus, vir die laaste maal in hoofstuk 15 genoem. Paulus word die sentrale figuur in die res van die boek. 3. Die apostels word nog slegs in 16:4 genoem in verband met hoofstuk 15 se besluit, maar die ouderlinge word deur die Here gebruik as die leiers in die Christusgemeentes (16:4; 20:17; 21:18). 4. Die sending na die heidene word die fokus van die res van die boek. 

Die vraag waaroor die vergadering moes besluit, is van sentrale belang vir die Christus-beweging: word heidene toegelaat tot die kerk deur geloof in Christus alleen, of moet hulle besny word en die wet van Moses volg om legitieme Christene te word? Die vraag gaan om die vryheid van die evangelie en die eenheid van die kerk. Daaroor word ’n paar sentrale punte genoem: 1 God ken die mens se hart en het sy goedkeuring gegee aan gelowiges uit die heidendom deur aan hulle die Heilige Gees te gee net  soos aan die Joodse Christene. 2 God het geen onderskeid gemaak in die vergifnis van die sonde van die heidene en die Jode nie. 3 Jode en heidene word van sonde gered deur die genade van die Here Jesus. Om verdere eise aan die Christene uit die heidendom te stel, is om God te beproef. 4 God het sy goedkeuring gegee aan die ontvangs van die heidene in die Christelike gemeenskap deur wonders en tekens onder heidene soos onder Jode.

Die finale besluit van die vergadering is gebou op God se uitsprake in die Ou Testament. Die besluit word in ’n brief aan die gemeentes uitgestuur saam met Paulus en Barnabas wat die vraag na die vergadering toe gebring het. [Paulus behandel die saak breedvoerig in sy brief aan die Galasiërs waar die probleem ook in daardie gemeentes opgeduik het, en later in sy brief aan die Romeine]

15:1 Met ’n vae aanduiding verwys Lukas na  ‘sommige mense’ wat van Judea af na Antiogië gekom het, waar Paulus en Barnabas toe gewerk het, volgens 14:28. Dié Judaïste het in Antiogië se noue gemeenskap van Christusgelowiges (onder die versamelnaam ‘broers’ wat die susters en kinders insluit) die vrede in die gemeente kom versteur (15:24). Hulle het begin verkondig ‘julle kan nie gered word as julle nie besny is volgens die gebruik wat voorgeskryf is in die wet wat deur Moses gekom het nie.’ Om toegang tot die volk van God te verkry moet heidene eers besny word as teken van die verbond van God – so sê die Fariseër Judaïste-gelowiges in Jerusalem. Hulle is wel Christusgelowiges wat as Fariseërs nog toegewy is aan die studie van die Wet (15:5) en ’n lewe volgens die Wet vereis vir redding uit die oordeel van God. 

15:2 Paulus en Barnabas het ’n warm  (Lukas sê: nie klein nie) meningsverskil en woordewisseling met die Judaïste gehad teen hulle vereistes vir verlossing. Vir Paulus en Barnabas was dit duidelik dat ’n bekeerde heiden onbesnede bly en vry is van die verpligting om die wet te vervul om jou self voor God te red met goeie werke. Vir die Judaïste is die besnydenis die teken van God se verbond, en kan jy nie deel word van God se volk daarsonder nie. Volgens hulle moet die wet wat die Here deur Moses gegee het vervul word om gered te word.

Paulus en Barnabas en sommige van die Judaïste en van die lede van die gemeente is toe deur die gemeente aangewys om na die apostels en ouderlinge in Jerusalem te gaan om uitsluitsel oor hierdie dispuut/strydvraag te kry vir vrede en eenheid in die kerk. [Galasiërs 2:1-10 word ook gesien as ’n verwysing na hierdie vergadering, hoewel die besonderhede nie in alles ooreenstem nie. Die leer wat die Judaïste in die gemeentes in Galasië verkondig, het Paulus deeglik in die brief aan die gemeentes in Galasië behandel, en ook in Romeine].

15:3 ‘Daarom het hulle as die gemeente se gestuurdes deeglik deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig vertel van die bekering van die heidene. So het hulle groot vreugde aan al die broers en susters verskaf. ‘ Dit is die eerste keer dat Lukas die gemeentes in Fenisië noem, die kusstrook noord van Galilea met o.a. die stede Tirus, Sidon  en Ptolomaïs. In Hand 11:19 is egter reeds genoem dat die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het in Fenisië die evangelie aan Jode gaan vertel het. Dit is die gebied se mense vir wie Herodes Agrippa I woedend was (Hand. 12:20). Van die gemeentes in Samaria is reeds in Hand 8:1-25 vertel. Lukas gee nie ’n volledige verslag van die uitbreiding van die kerk nie, maar gee enkele steekproewe. Die woord wat Lukas gebruik om Paulus-hulle se deurreis (diérchomai) deur die twee streke op pad na Jerusalem te beskryf het die implikasie dat dit ’n uitgebreide reis met deeglike werk is, wat besoeke by die gemeentes langs die pad insluit. Daarby is dit ’n reeks besoeke wat groot vreugde gebring het in die gemeentes van die Samaritane en Fenisiërs. Die vreugde van die Joodse gemeentes is oor die bekering van die heidene in Galasië en omstreke. Aan die einde van Paulus se derde sendingreis bly hy sewe dae by die gemeente in Tirus en een dag in Ptolemaïs (Hand 21:3-7). As gevangene op pad na Rome het Paulus ook by sy vriende in Sidon oornag (Hand 27:3). Mense uit Tirus en Sidon het al na Jesus kom luister (Mark 3:8) en het Hy in die gebied van Tirus die onrein gees  uitgedryf uit die dogter van die Griekse vrou van Siro-Fenisiese afkoms (Mark 7:24-30). Toe die gemeentes hoor hoe God die Heilige Gees ook aan die bekeerlinge uit die heidendom geskenk het, het die Heilige Gees hulle ook met ’n groot vreugde gevul (vgl. Gal 5:22 dat blydskap deel is van die vrug van die werk van die Heilige Gees). Hier gaan dit oor die uitbreiding van God se koningskap in die lewens van soveel mense wat in Jesus en sy verlossing begin glo het.  

Lukas vertel graag van vreugde (chará vreugde 8 maal in sy Evangelie teenoor Johannes se 7, Mattheus 6, Markus 1, Handelinge 4 maal; makários gelukkig wees 15 maal in Lukas, 2 in Handelinge; chairō vreugde geniet 11 in Luk, 7 in Hand; sunchaírō saam gelukkig wees 3 in Luk; asménōs vreugdevol ontvang 1 Hand; euphraínō bly maak 5 Luk, 2 Hand; agallíasis met ekstreme blydskap Luk 2, Hand 1; agalliáō om groot vreugde te beleef Luk 2; Hand 2; skirtáõ om te dans/opspring van vreugde Luk 2; totaal 67 maal in Luk-Hand).

15:4 Toe hulle in Jerusalem aankom is hulle vriendelik ontvang (paradéchomai) deur die gemeente, apostels en ouderlinge. Ná die dood van Herodes Agrippa I is die vervolging van die leiers blykbaar gestaak en kon van die apostels weer vryelik na Jerusalem toe kom, die gemeente kon openlik vergader.  Onder leiding van die ouderlinge is dit ’n gemeente-byeenkoms wat oor ’n ernstige vraag vir die hele kerk kon besluit. In die loop van die vergadering kom die apostel Petrus aan die woord, maar die besluit van die vergadering word deur die leierouderling Jakobus geformuleer.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Paulus en Barnabas se terugtog na Antiogië in Sirië (Hand 14:21-28) – Francois Malan

14:21 Terwyl hulle die evangelie in Derbe verkondig het, het hulle ’n aansienlike getal (hikanós) dissipels vir Jesus gemaak. Hulle sou hulle seker in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees gedoop het en geleer het om alles te onderhou wat Hy beveel het (vgl. Matt 28:19-20) asook Jesus se nuwe wet van die liefde (Joh 13:34; 15:13). Volgens Hand 20:4 vergesel Gaius van Derbe vir Paulus aan die einde van sy derde sendingreis as verteenwoordiger van die gemeente in Derbe, met die kollekte van die gemeentes wat Paulus georganiseer het vir die gemeente in Jerusalem. Ná die opbou van die gemeente in Derbe is Paulus en Barnabas terug na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië waar hulle vroeër telkens weggejaag is. Die kortpad na Antiogië in Sirië sou oor die Taurusberge wees. Dit het Paulus op sy tweede sendingreis gevolg. Maar nou het hulle nog werk om te doen in die gestigte gemeentes.

14:22 Die rede waarom Paulus-hulle teruggegaan het na die drie stede word in drie sinne weergegee. Hulle het die geestelike lewe van Christus se dissipels gaan versterk, hulle aangemoedig in die geloof en die wete dat hulle deur baie moeilikhede heen ingaan in God se koninkryk. Versterk (epistêrizō) beteken om hulle sterker te laat word in die sin van stewiger en onveranderlik in hulle geloof in Christus; 1 Kol 1:23). Hule is aanmoedig om voort te gaan (emménō) in die geloof, om te groei in hulle verhouding met die Here Jesus deur al meer op Hom te vertrou. ‘Ons,’ alle gelowiges,’ moet ‘deur baie moeilikhede heen (thlipsis moeilikheid wat direkte lyding en vervolging insluit) in Hom bly glo. 1 Petrus 1:6 noem dit allerhande beproewings. So gaan ons in ‘die koningskap van God’ in.  Die koningskap van God (hê basileía tou Theou) verwys nie na ’n gebied of ’n tyd nie, maar na God se heerskappy.. Om God se koninkryk ‘in te gaan’ beteken om God se beheer oor jou lewe te aanvaar en te verwelkom. Dit behels die verloëning van jouself en elke dag jou kruis opneem en Jesus volg (Luk 9:23). Paulus se vervolgings en lyding wat hy moes verduur was ’n aanskouingsles om dié vier gemeentes in te lei in die aanvaarding van God se heerskappy oor hulle lewe, die ingaan deur die smal poort wat na die lewe lei (Matt 7:13-14; Joh 15:20).

14:23  Verder het hulle twee die organisasie van elke gemeente gaan reël. Met die opsteek van hande het hulle vir elke gemeente ouderlinge laat kies. In die ander drie gemeentes buiten Derbe kon Paulus-hulle nie ouderlinge deur die gemeente laat kies nie, omdat hulle telkens uit die vorige drie stede weggejaag is voordat hulle die organisasie van die gemeente kon reël. Die Jerusalemgemeente het reeds ouderlinge gehad wat as voorbeeld vir Paulus-hulle gedien het (Hand 11:30). Volgens Paulus se brief aan Titus 1:5,7,9 was ’n ouderling ’n bestuurder oor die huishouding van God, wat die gemeente deur die gesonde leer bemoedig en ook dié wat dit teengaan, weerlê het.

Met gebed en vas het hulle die gemeente en die ouderlinge in die hande van die opgestane Here oorgegee (paradídōmi) sodat die gemeentelede en ouderlinge op die Here sal wag om hulle te lei en te gebruik in sy diens in hulle gebied. Dit is die Here Jesus in wie hulle reeds begin glo het en voortgegaan het om in Hom te glo – dit is die betekenis van die voltooide verlede tyd van die Griekse werkwoord vir glo wat Lukas hier gebruik. Na Paulus en Barnabas  se vertrek gaan die Heilige Gees voort om die gemeente te lei in hulle geloof in Jesus. So neem Paulus en Barnabas voorlopig afskeid van die gemeentes tot Paulus weer op sy tweede en derde sendingreise die gemeentes weer besoek (Hand 16:1-6; 18:23). In 2 Korinthiërs 11:28 vertel Paulus van die daaglikse druk op hom wat sy kommer oor al die gemeentes hom besorg het. Daarom het hy soveel briewe aan die gemeentes gestuur om hulle op die pad van die Here voort te help, en het hy daagliks voorbidding vir die gemeentes gedoen dat die Here hulle sal lei, bewaar en  beskerm. 

14:24-25 Ná hulle tweede besoek aan Antiogië in Pisidië om ouderlinge aan te stel, waar hulle laas deur die Jode uitgedryf is (13:50), volg hulle terugtog dieselfde roete waarlangs hulle in die suidelike deel van die Romeinse provinsie Galasië ingekom het, oor die Taurusberge na Perge. Hier word vertel van hulle sendingwerk in Perge in Pamfilië aan die Cestrosrivier, waar Markus hulle verlaat het en na Jerusalem teruggekeer het (13:13). In Perge het hulle hierdie keer vertoef en die woord van God aan die mense van die stad verkondig. Daarna gaan hulle na die hawe Attalia waar hulle makliker ’n skip sou kon kry. Dié hawe is deur koning Attalos II laat bou. Hy was koning van Pergamum van 159-138 v.C.

14:26 Van Attalia af het hulle om die eiland Siprus gevaar, waar hulle op die heenreis gewerk het. Hulle skip het direk na die hawe Seleusië gegaan. Seleusië word egter nie weer hier genoem nie. Van Seleusië af is hulle weer te voet die 25 kilometer bergop na Antiogië in Sirië. Aan die begin van hulle sendingreis het die gemeente in Antiogië vir Paulus en Barnabas aan die genade van God opgedra (perfektum van paradídōmi) vir die werk wat hulle vervul het. Met dié perfektum impliseer Lukas dat Paulus-hulle die hele sendingreis in die genade van God gebly het en daarom die Heilige Gees se opdrag in (13:2) kon vervul. Die eerste sendingreis van Paulus het waarskynlik geskied in die jare 48-49 n.C.

14:27 In hulle sendende gemeente Antiogië aangekom, het hulle die gemeente saamgeroep vir ’n verslagvergadering oor hulle werk. Daar het hulle alles vertel wat God met hulle as sy instrumente, gedoen het (vgl. Hand 9:15 het die Here vir Ananias oor Saulus gesê: ‘Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’). Die Here het vir die heidene ’n deur van geloof oopgemaak. Aan die einde van Petrus se verslag oor sy werk by Kornelius se groep mense, het die gemeente in Jerusalem ook God verheerlik en gesê: ‘So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk’ (Hand 11:18). Geloof in Christus is vir almal die enigste toegang tot God en tot sy heil. God self skenk aan ’n mens die oop deur van geloof in Christus na Hom toe (Ef 2:8: ‘Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie; dit is die gawe van God’).

14:28 Paulus en Barnabas het nie ’n klein tydjie saam met die dissipels gebly nie (dit is Lukas se manier om ’n lang tyd aan te dui, waarvan hy nie die presiese lengte ken nie). Die gemeentelede word hier almal dissipels=leerlinge of volgelinge van Jesus genoem (vgl. Jesus se opdrag in Matt 28:19 maak dissipels van al die nasies…). Die Griekse woord hier vir ‘bly’ (diatríbo) impliseer dat hulle daar gebly het om in die gemeente te werk.




Die Handelinge van die Apostels: In Listra (Hand 14:8-20) – Francois Malan

14:8 In Listra was ’n man wat onbekwaam was. Sy onbekwaamheid word uitgespel met drie beskrywings om die erns van sy situasie te beskryf en die wonder van sy genesing daarteen te laat skyn: onbekwaam aan sy voete het hy gesit, lam van sy geboorte af (soos die bedelaar by die tempel in Jerusalem, 3:2) en kon nog nooit vry loop nie.

14:9 Die Here open die man se ore dat hy luister na wat Paulus oor Jesus in Grieks aan die skare naby die tempel van Zeus aan hulle vertel. Die Here open ook die oë van Paulus wat deurdringend na die man kyk en sien dat die Heilige Gees in die man die geloof gewek het om genees/gered te word (die woord sōzō kan verlos, red en/of genees aandui). Jesus het ook geweet wat in die gedagtes van sy dissipels aangaan (Luk 9:47; vgl. ook Matt 9:4; 12:25; Luk 6:8; Joh 2:25).

14:10 Onder leiding van die Heilige Gees sien Paulus ook hoe die man genees kan word. Soos Stefanus met ’n harde stem uitgeroep het dat almal dit kon hoor: ‘Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie’ (Hand 7:60), sê Paulus vir die lam man met ’n harde stem dat almal dit kan hoor:’ Staan op, regop op jou voete!’ Dat dit die Here is wat deur Paulus praat, blyk uit die Here se opdrag aan Esegiël 2:1 ‘Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.’ Jesus sterf ook met ’n harde stem: ‘Vader in u hande gee Ek my gees oor!’ en net daarna het Hy sy asem uitgeblaas (Luk 23:46). Die lam man het opgespring en rondgestap (vgl. ook die lam man voor die tempel in Jerusalem, Hand 3:8 waar dieselfde woord gebruik word; die Griekse woord vir opspring, hállomai, in die lug opspring, word volgens Joh 4:14 deur Jesus gebruik om die werking van die Heilige Gees te beskryf as die lewende water wat Hy gee, wat in ons sal opborrel tot die ewige lewe (vgl. Joh 7:37-38). Dat die wondergenesing van God kom, was vir die hele skare duidelik. Die man het in geloof Paulus se opdrag gehoorsaam, en aan sy uitbundige vreugde uiting gegee deur ’n borrelende gespring op die voete wat sy lewe lank sy hindernis was en sy gees ook terneergedruk het.

14:11 Die wondergenesing het hier ’n ander reaksie as by Hand 3:9 toe die Jode God geprys het oor die lam bedelaar se genesing en Hand 9:35 toe al die inwoners van Lidda en Saron hulle tot die Here gekeer het. Die Jode beskou ’n genesing as ’n wonder van God. Die heidene glo dat hulle gode self in mensgestalte verskyn. Die legende van die Griekse gode Zeus en Hermes wat in die gedaante van gewone sterflike mense Frigië kom besoek het, was by hulle bekend. Die gode is deur niemand gasvry ontvang nie, behalwe deur die ou egpaar Filemon en Baucis in hulle hutjie. Zeus het hulle daarna op ‘n heuwel laat bly waar hulle veilig was toe daar ’n groot vloed gekom het, hulle aangestel as die bewakers van sy tempel, tegelyk laat doodgaan en hulle toe in bome verander. Ten spyte van Paulus se verkondiging van die evangelie in Listra (14:7) het hulle bygeloof, dat hulle gode ’n menslike gestalte kan aanneem om by die mense uit te kom, hulle opinie van Barnabas en Paulus beïnvloed. In hulle moedertaal Likaonies, wat vir Paulus-hulle onbekend was, het hulle hulle stemme verhef (vir mekaar begin skreeu): ‘Die gode het soos mense geword en na ons toe afgedaal.’

14:12 Zeus was die hoofgod van die Grieke wat vanuit die berg Olimpus met sy bewolkte top regeer het, en Hermes was die boodskapper van die gode – Die Romeine het Zeus Jupiter genoem wat vanaf hulle berg Alba af regeer het en vir Hermes het hulle Mercurius genoem. (Die Romeine het ons planete se name gegee. Ons grootste planeet is Jupiter, die koning van die gode. Ons planeet met die kortste baan om die son is Mercurius, genoem na die vlugvoetige Romeinse god met vlerkies aan sy enkels).

Vir Barnabas het die mense van Listra Zeus genoem, die god wat nie self praat nie, maar deur sy boodskapper wat sy woorde oordra, en vir Paulus, wat die praatwerk gedoen het, noem hulle Hermes, die welsprekende boodskapdraer van die gode, wat voorspoed aankondig en bring. Die inwoners van Listra het geglo dat Barnabas en Paulus as dié twee gode self in menslike vorm na hulle toe gekom het. Hulle het die twee se goddelike name in Likaonies uitgeroep.

14:13 Die mense wou die vermeende gode goddelik vereer met ’n groot offerande. Hulle word gelei deur die priester in die tempel van Zeus wat buite die stadsmuur gebou is, soos baie tempels in die ou tyd. ’n Feestelike skare, gelei deur die priester en gevolg deur bulle met blomkranse om hulle nekke, beweeg deur die stad na die stadspoorte (letterlik: die stad se deure) op pad na die groot altaar voor die tempel, waar die bulle as offers gebring gaan word aan die gode wat hulle kom besoek het. Die apostels aanskou die skouspel. Die verlamde het waarskynlik by die poort van die stad op pad na die tempel gesit, waar Paulus hom voor die skare genees het.

14:14 Lukas noem Barnabas en Paulus hier apostels, hoewel hulle nie onder die twaalf apostels getel is wat Jesus op sy aardse reise in Palestina vergesel het nie. Die woord apóstolos verwys na iemand wat met ’n spesiale boodskap gestuur word, veral van die twaalf dissipels wat Jesus as apostels uitgekies het (Lukas 6:13), maar ook van Paulus wat Hy vanuit die hemel uitgekies het (Hand 9:15) en van ander vroeë Christene wat die evangelie aktief uitgedra het.

‘Toe die apostels hoor…’  Iemand sou vir hulle verduidelik het dat die groot feestelike optog bedoel is om hulle twee as gode in hulle stad te verwelkom en te vereer. Die persoon, waarskynlik die priester, het hulle kom haal vir die okkasie. Toe hulle dit hoor het hulle hulle klere geskeur as protes teen die stad se planne (Die Joodse hoëpriester het sy klere geskeur by die aanhoor van Jesus se ‘godslastering;’ (Mark 14:63-64; Matt 26:65). Vir Barnabas en Paulus was die gedagtes van die mense om hulle twee as gode te vereer, godslastering teen die ware God, die Here (Lev 24:13-16). Met die skeur van hulle klere wil hulle ook aan die skare wys dat hulle bloot mense is wat nie vereer moet word nie, dat hulle heidene die heerlikheid van die onsterflike Skeppergod verruil het vir sterflike mense wat deur Hom geskep is (Rom 1:23).  

Hulle twee storm toe skreeuend tussen die skare in om hulle optog te staak.

14:15 Hulle skreeu: ‘Mense wat maak julle? Ons is ook mense met dieselfde gevoelens (homoiopatheis) as julle’ – in alle opsigte soos julle, met dieselfde menslike natuur as julle.

‘Ons is verkondigers van die goeie nuus (euangelízomenoi; oor Jesus) aan julle, om heeltemal weg te draai van hierdie futiele dinge (mátaios nutteloos, sonder inhoud en vrugteloos; vgl. Rom 1:21 sinloos; in die Ou Testament gebruik van afgode, 1 Kon 16:13,26; Jer 2:5; Ps 115:4-8 se beskrywing) na die lewende God’ wat ook die lewe gee en om sinvol te lewe (vgl. 1 Thes 1:9-10). Hy het die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak’ (Eks 20:11); dit sluit ons mense as sy skeppings in. Teenoor die heidene met hulle baie gode wat vir verskillende dinge verantwoordelik is, skilder Paulus die een ware God van die Ou Testament wat alles geskape het en alles onderhou (Jer 10:10-16; Jes 28:23-29).

Hierdie kortste preek in Handelinge is die eerste preek van Paulus voor heidene wat Lukas beskryf. Later volg die een op die Areopagus, wat langer weergegee word (Hand 17:22-31). Paulus se preek voor die Jode in Antiogië kon begin by die Ou Testament se heilsgeskiedenis. Die heidene ken nie die Ou Testament of die God van die Ou Testament nie. Hier begin Paulus met die valse voorstelling van die heidene se baie gode, en roep hulle om hulle tot die ware God te bekeer. Vir die heidene begin Paulus die ware God bekendstel met sy openbaring in die natuur en hoe Hy die skepping onderhou. Hy roep hulle om hulle heeltemal van die afgode af om te draai (epistréfō jou geloof en lewenswyse te verander en tot God te keer met jou denke oor God, geloof in Hom wat Jesus se offerande vir ons aangeneem het met Jesus se opwekking uit die dood en met ‘n lewenswyse wat daarby pas). Hy is die lewende God wat alles geskep het, sin aan die lewe gee en sy skepping onderhou. 

14:16 Gedurende die afgelope geslagte (paroíchomai merk die verloop van tyd, met die fokus op die voltooiing daarvan, tyd wat verby is) het die Skepper, Onderhouer en Regter van al die nasies, hulle toegelaat om volgens hulle eie lewenswyse (figuurlike gebruik van hodós pad) voort te lewe (poreúomai om op te tree volgens die gebruiklike manier, met die fokus op die voortgang daarvan). Die tyd van God se geduld en toelating van die mense se eie lewenswyses teen die wil van God, is nou voltooi. Die mense was onkundig oor die lewende God en sy wil vir die mense wat Hy geskep het. God het hulle afgodediens oorgesien vanweë hulle onkunde oor die ware God se wil vir al sy mense  (Hand 17:30). Maar nou het Hy sy wil spesifiek geopenbaar met die koms van Jesus Christus. Om dié goeie nuus te verkondig het Hy sy apostels, sy gestuurde boodskapdraers, uitgestuur na al die nasies van die wêreld.

 14:17 Teenoor die aanskoulike beeld van die heidene se lewe en toewyding aan afgode in verse 11-13, skilder Lukas met ’n aanskoulike beeld die Bybelse God se goedheid teenoor hulle, waaruit hulle Hom eintlik moes leer ken het. ‘Al het God in die verlede al die nasies toegelaat om hulle eie paaie te gaan, het Hy Hom tog (kaítoi tog, hoewel Hy dit toegelaat het) nie sonder die getuienis gelaat as Iemand wat steeds goed doen nie; vanuit die hemel/uitspansel het Hy aan julle reëns gegee en vrugbare seisoene (kaioùs, tye, geleenthede), julle gevoed met voedsame voedsel en julle harte met vreugde gevul;’ Letterlik: julle harte gevul met voedsame kos en vreugde (Ps 65:9-14; 145:15-16; 147:7-9). God se goedheid oor alle mense spreek uit die reën wat Hy gee oor regverdiges en onregverdiges (Matt 5:45) en vrugbare seisoene in die droogtegeteisterde gebied van Listra, waardeur Hy aan julle in Listra kos voorsien het en daarmee vreugde in julle harte gegee het. God gee wat die mens nie self kan maak nie, reën en goeie seisoene. Hy openbaar Hom van die skepping af in sy werke, maar die mense het die heerlikheid van die onsterflike God deur hulle sinlose denke verruil vir afbeeldings van sy skepsels om dié te vereer (Rom 1:20-23).

Die hoofpunte van Paulus se preek aan heidene in verse 15-17 (wat in hoofstuk 17 breër uitgewerk is en in die brief aan die Romeine) was anders as sy preek aan die Jode in Antiogië. Die Jode het die Ou Testament gehad en Paulus verwys hulle na die groot dade van God in die geskiedenis van Israel wat na Christus verwys. Maar tog is Paulus se preek aan die heidene gebou op die Ou Testament se uitsprake, soos sy teologie ook, byvoorbeeld in sy brief aan die Romeine:

  1. Die radikale onderskeid tussen God en die mens – v15 (Jes 31:3; Eseg 28:2) vgl. Rom 1:20: sy onsigbare          goddelikheid is duidelik sigbaar in sy werke, wat elke mens kan sien.
  2. Die sinloosheid van die afgodediens – v15 genoem ‘nuttelose dinge’ (Jer 2:5;8:19 hulle wat nikswerd afgode dien en so self niks word). Rom 1:21 hulle denke het sinloos geword en hulle het die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir afbeeldings van sy skepsels.
  3. Oproep tot bekering – v 15 wegdraai van die nuttelose dinge na die lewende God (is die hoofboodskap van die    profete en van Jesus, Mark 1:15). Rom 2:4 besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?
  4. Die titel ‘lewende God’ – v15 (Gen 16:13-14 Lagai Roï ‘Hom wat lewe en my sien’; Jos 3:10 die lewende God is    tussen julle; 2 Kon 19:4 om die lewende God te smaad; Hos 1:10  kinders van die lewende God, aangehaal in          Rom 9:26).
  5. God as die Skepper van alles – v15 (Eks 20:11) Rom 1:25 die Skepper wat tot in ewigheid lofwaardig is; 1 Kor 8:6.
  6. Die ‘eie paaie’ van die heidene – v16 (Jer 18:15 ompaaie, ongebaande weë van gode wat nie bestaan nie; Ps 1:1,6 die pad van sondaars, goddelose mense). Rom 3:16 Verwoesting en ellende is op hulle paaie.
  7. Die gawe van reën – v17 (Jer 5:24, Joël 2:23 God wat die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns elkeen op die  regte tyd).
  8. Die gawe van die jaargetye as tekens van die genadige mag van God – v17 (Gen 8:22 vir so lank as die aarde bly    bestaan; Ps 74:17 somer en winter, U het dit gevorm)
  9. Kos as bron van vreugde – v17 (U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer koring en mos volop is;   Ps 145:15-16) 2 Kor 9:10 Hy wat die saad aan die saaier voorsien en ook die brood as voedsel…

14:18 Met dié teregwysing kon die apostels die mense kwalik bedwing om aan hulle twee apostels offers te bring, asof hulle die gode Zeus en Hermes in menslike gestalte is, vir wie die mense van Listra wil vereer. So diep was die indruk wat die wondergenesing van die man wat van geboorte af lam was, op hulle gemaak het.

14:19 Verrassend en skokkend is die omswaai van die mense van Listra. Die een oomblik wil hulle die twee apostels as gode vereer, en die volgende oomblik stenig hulle vir Paulus, die woordvoerder – soos Jesus wat op Palmsondag in Jerusalem feestelik ontvang is op ’n donkie onder swaaiende palms, en Vrydag met sy kruis uit die stad moes strompel na Golgota. Die ommekeer word toegeskryf aan die haat van die Jode van Antiogië, wat Paulus-hulle uit hulle stad verdryf het en 138 km gekom het om saam met Jode uit Ikonium, wat destyds georganiseer het om Paulus-hulle te stenig oor ‘godslastering’ en 38 km gekom het om dit doen. Die haatdraende Jode het die Listra-skare omgepraat, Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep, onder die indruk dat hy dood is (onder die indruk nomízō is om aan te neem dat iets so is sonder spesifieke sekerheid). Die lyk word buite gegooi vir die diere, want ’n lyk verontreinig die stad. Daarom moes Jesus ook buite Jerusalem gaan sterf het. Paulus verwys na hierdie steniging in 2 Kor 11:25; vgl. 2 Tim 11. So word vervul wat die verheerlikte Jesus vir Ananias oor Saulus gesê het: ‘Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly’ (Hand 9:16).  In Romeine 8:17 sê Paulus self; ‘..as ons saam met Christus ly, kan ons ook saam met Hom verheerlik word.’   

14:20 Maar toe die dissipels rondom hom gaan staan het, is hy opgewek/uit die dood opgewek (anístêmi kan altwee die betekenisse aandui). Die kousale werkwoord impliseer dat dit die Here is wat Hom opgewek het. Nêrens word vertel van iemand wat gestenig is en daarna nog gelewe het nie. In 2 Korinthiërs 6:9 verwys Paulus na die uithouvermoë van die dienaars van God: ‘as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes wat tog nie doodgemaak word nie.’ Dan was Paulus se spoedige opwekking uit sy amperse of regte dood deur die Here, ’n wondergenesing dat hy dadelik in die stad kon ingaan en die volgende dag saam met Barnabas na Derbe kon stap, wat 75 km oos van Listra geleë was. Dit spreek ook van Paulus se moed en vertroue op die Here om weer in die stad Listra wat hom vermoor het, in te gaan. Vir Jesus was dit egter op die derde dag ’n opwekking uit die dood met ’n verheerlikte liggaam. Te midde van die teenstand teen Paulus en sy steniging het sommige inwoners van Listra wel in Jesus geglo en kom hulle rondom die gebroke Paulus staan om hom te begrawe en het toe ook sy wondergenesing aanskou. Onder hulle was daar moontlik Timotheus en sy ma en ouma (2 Tim 1:5). Toe Paulus met die tweede sendingreis weer in Listra kom het hy die jongman Timotheus, wat daar gebore is, met hom op sy reise begin saamneem (Hand 16:1-3).

Skrywer:  Prof Francois Malan