Laat sy Liefde jou Lei: Wees jy die een wat uitreik

Laat sy Liefde jou Lei: Wees jy die een wat uitreik – Milanie Vosloo

Wees jý die een wat uitreik!

Mag ons Here Jesus Christus se onverdiende goedheid julle geestelik versterk. Filippense 4:23

Vriende van Christus is mense wie se harte warm vir Hom klop. Dis mense wat iets van sy grootheid en genade tasbaar in hul lewens ervaar het en wat daarom ‘n passie vir Hom het.

Daarom is dit ook vir hulle lekker om tussen ander gelowiges te wees en die gerusstelling van geestelike kameraadskap te ervaar. Ek en jy kan deur net ‘n paar dinge te doen, ‘n aktiewe rol speel in die versterking van die gemeenskap van gelowiges:

 

  • Bid vír ander. Ons kan deurentyd vir die geloofsfamilie – hulle wat ons ken én die wat ons nie eens ken nie – bid. Ons Vader hoor mos elke gebed van sy opregte kinders. Verál ook dié wat ons vir mekaar bid.
  • Bid sáám met ander. Gelowiges het mekaar se gebedsondersteuning en bevestiging so nodig. Die blote feit dat ons saam kan hande vat wanneer ons voor sy troon staan, is outomaties vir almal geloofsversterkend.
  • Reik uit na ander. Mede-gelowiges het mekaar se liefde en omgee nodig. Ja, ook in jou kring is daar mense wat voel dat hulle die stryd alleen stry. En wie weet, dalk is jy die een wat ‘n wonderlike verskil kan maak in daardie enkel-gelowige se lewe.

 

Moenie wag dat ander gelowiges jóú hand neem nie. Wees jy die Christus-vriend wat ander versterk en ondersteun met jou toegewyde gebede en onvoorwaardelike liefde.

 

Vader, wys aan my hoe ek ‘n vriend-in-U vir ander kan wees. 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot (1)

Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie:

Kersfees word deur Christen en nie-Christen ewe hard gevier, maar om verskillende redes. Manne met lang baarde, engeltjies, sneeu, takbokke, alles is deel daarvan. Maar wat sê die Bybel daaroor?

 

deel 1[1] – die geboorteverhale van Jesus

 

 

 

* Kyk na die volgende. Dit is feitlik al die gegewens wat ons oor Jesus se geboorte in die Nuwe Testament het:

DIE VOORKOMS VAN DIE GEBOORTEVERHALE VAN JESUS IN DIE BYBEL

Matteus 1-2

Twee hoofstukke (uit 28): Na die geboorte kry ons die Herodesverhaal met die manne uit die Ooste, die kindermoord en Jesus wat moet vlug.

Lukas 1-2

Twee hoofstukke (uit 24): Die aankondiginge van die geboortes van Johannes en Jesus, asook hulle geboortes, word met lofliedere van die ouers en selfs die engele aangevul.

Johannes

– “Jesus het vlees geword en onder ons kom woon”. Joh 6:42 – “Is dit nie die seun van Josef nie”. In Joh 7:42 is daar ‘n implisiete ontkenning dat Jesus in Betlehem gebore is.

Paulus

– “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word”. Rom 1:3 – “As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore.” Rom 9:5 – “uit hulle is die Christus as mens gebore”.

Openbaring

– “Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer”.

  • Wat sou jy hieruit aflei oor die belangrikheid van die geboorte van Jesus?
  • Afleidings wat ‘n mens wel kan maak:

  • Die geboorteverhale is relatief tot die res van die evangelie maar skraal en lyk selfs onbelangrik. In die ander boeke van die Nuwe Testament (afgesien van die evangelies) kom dit omtrent nie voor nie, behalwe vir ‘n paar sinne.
  • Opvallend: Markus, wat die eerste evangelie is wat geskryf is, het nie eers ‘n geboorteverhaal in nie. (Kyk hoe begin Markus 1). Dit beteken dat Markus gedink het dat die geboorteverhaal nie nodig is om die evangelie van Jesus Christus te vertel nie. Dit kan daarsonder!
  • Ons weet ook dat die vroeë Christene nie kersfees (met ander woorde, die geboorte van Jesus) gevier het nie. Dit het eers baie later (hier in die vierde eeu) gebruik geword.

    Waarom was Kersfees vir die vroeë Christene nie so belangrik as wat dit vir ons is nie?

     

    1. Die lewe en veral die dood van iemand was eerder belangrik. Hoe jy gesterf het, het eintlik alles gesê van hoe dapper en belangrik jy was. Die sterfdae van belangrike persone is dus onthou. (Ons weet Jesus is gedurende die paasfees dood). Mense het dus baie meer in die sterfdag as in die geboortedag ingelees. Dit was so met die meeste van die belangrike persone in daardie tyd.
    2. As die geboorteverhaal van so belangrike persoon dan geskryf is, is dit altyd in die lig van sy latere lewe geskryf. Jy sal nooit in so verhaal ‘n pap babatjie kry wat met rooi wangetjies met sy beentjies in die lug skop nie. Nee, in die geboorteverhale lê die merke van die persoon se latere lewe reeds baie duidelik, of so is die verhale geskryf. Die rede was omdat die vertellers wou beklemtoon dat die persoon wat gesterf het dieselfde is as die kind wat gebore is – toe hy gebore is, het hy reeds hierdie karaktertrekke gehad.

  • Dink na oor dit wat jy van die geboorteverhale weet in die lig van bogenoemde gegewens. Lees Matteus 1:18-2:23 en kyk of jy “tekens van Jesus se latere lewe” in die verhaal kry.
  • 1.2) ‘n Storie begin soos ‘n telefoonboek??

  • Skryf die dinge wat vir jou die opvallendste is in hierdie genealogie (soos die geslagsregister ook genoem word) neer.
  • Geslagsregisters was vir die antieke mense baie belangrik. Waarom? Omdat hulle geglo het dat die bloed wat in jou are vloei jou karakter direk bepaal. Jy word met sekere eienskappe gebore. As jy dus weet uit watter “bloedlyn” of geslag iemand gebore is, sal jy sommer ook baie weet oor sy persoonlikheid en wat jy van hom of haar kan verwag. Deur Jesus se geslagte op te noem, gee vir die leser ‘n aanduiding wat van Jesus verwag kan word. Wie is Hy? Lees die geslagsregister en jy sal ‘n groot deel van die antwoord kry.

  • Kyk nou weer vinnig na jou antwoorde op die vorige vraag en skryf vir jouself neer wat jy uit die geslagsregister van Jesus oor Hom as persoon kan leer.
  • Kom ons kyk na ‘n paar lesse wat ons uit die geslagsregister van Jesus oor Hom kan leer:

    Lesse oor die geslagsregister van Jesus

    Voorkoms in Matt

    Ou Testament verwysings

    Betekenis

    – baie plekke: lees 1 Sam 13:14.

    Abraham, die vriend van God genoem, is die een wat God uitgekies het as die beginpunt van sy volk en met wie Hy ‘n verbond gesluit het.

    Dawid, die man na God se hart, is die beste koning van die volk.

    Veral die vrouename in die geslagsregister is merkwaardig:

    1:3 Serag by Tamar

    Lees Tamar se verhaal in Gen 38

    Tamar, skoondogter van Juda (wat die geslag van Abraham moes voortsit en seker maak die beloftes van ‘n groot nageslag wat God aan Abraham gemaak het, gaan realiseer) het nie ‘n kind by Juda se seun gehad nie. Toe sy sien dat daar kanse is dat die geslagslyn gaan doodloop het sy haar as prostituut opgemaak en by Juda, haar skoonpa geslaap. So is ‘n kind verwek wat gesorg het dat die geslagslyn aanloop. Sy het nie aan haarself gedink nie en haarself verneder ter wille van die saak van God. Klink dit na Jesus?

    1:5 Boas by Ragab

    Lees Ragab se verhaal in Jos 2 en 6

    Ragab het die ware God geglo en was hom gehoorsaam, soveel so dat sy haar eie lewe gewaag deur die verkenners van Israel te help. Sy het God eerste gestel, bo haarself.

    1:5 Obed by Rut

    Lees Rut se verhaal in die boek Rut

    Rut het alles gelos wat sy gehad het en saam met Naomi, haar skoonma, na ‘n vreemde land gegaan. Haar opoffering en toewyding staan voorop.

    1:16 Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

    Josef word ook in die geslagsregister opgeneem, nie as fisiese vader nie (kyk mooi hoe word dit gestel), maar as regtelike vader (deur adopsie). Mense kon dus destyds kinders as hulle eie erken sonder dat die kind spesifiek uit die pa gebore is. “Op die boeke” sou Josef se naam dus verskyn as sy regtelike pa (hoewel nie fisiese nie).

    Wat kan ons dus hieruit leer?

  • Dit gaan oor die vraag wie Jesus is. Dit is eintlik wonderlik hoe die geslagsregister vir ons ‘n prentjie van Jesus teken. Hy staan in die lyn van die grootste koning van Israel, Dawid (so Hy self is koning), van die een waar alles begin het en aan wie God trou gesweer het, naamlik Abraham. Hy is waarlik mens, wat sonde verstaan, soos Tamar en Ragab bewys, maar wat tog aan God getrou sal bly, al gebeur wat. Miskien kan jy nog hierop uitbrei.
  •  




    Laat sy Liefde jou Lei: Waarheen gaan jy onder druk?

    Laat sy Liefde jou Lei: Waarheen gaan jy onder druk? – Milanie Vosloo

    Waarheen gaan jy onder druk?

    Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die wind en die see streng aangespreek en daar het ‘n groot kalmte gekom. Matteus 8:26

     

    Soms plaas die lewe ons onder geweldige druk. Ons moet dalk meer doen as waartoe ons in staat is, ons moet ‘n pad loop waarvoor ons nie kans nie of ons moet dalk selfs vir ons lewe vlug. Soos Saddam Hoessein en Martin Luther al moes doen. Albei van hulle moes op ‘n stadium vir die twee magtigste leiers van hul tyd, gaan wegkruip. Toe Saddam vir George Bush en Tony Blair vlug, gaan kruip hy in ‘n rioolpyp weg. Daarteenoor lees ons hoe Martin Luther, in ‘n tyd toe die pous en keiser hom agtervolg het, in ‘n kasteel gaan werk. Daar, terwyl sy lewe bedreig word, besluit hy om die Nuwe Testament in Duits te vertaal.

     

    Hoe ironies dat die vlugteling wat sonder die Here leef, in sy krisistyd net verder in die moeras afsak terwyl die kind van God net nog stérker op sy pos staan.

     

    Onthou dat, watter druk jy ook al ervaar, jy as gesalfde van die Here, nooit alleen is nie. In jou grootste nood is God se genade sterker as ooit. Daar waar jy nie meer kan nie, sal Hy die pad vir jou oop maak en wanneer jy val, is sy hand reeds onder jou. 

     

    Here van die Heelal, maak die storms in my stil en lei my asseblief na stille waters.

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

     

     

     


     

     Skrywer: Milanie Vosloo




    Laat sy Liefde jou Lei: Jou spanmaats het jou nodig

    Laat sy Liefde jou Lei: Jou spanmaats het jou nodig – Milanie Vosloo

    Jou spanmaats het jóú nodig

    Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieё wat knak, en laat julle voete reguit vorentoe hardloop. Dan sal die beseerde voete nie ingee nie, maar eerder gesond word. Hebreёrs 12:12

    Hoe meer ons dink dat ons uniek is, hoe meer kom ons agter dat daar ‘n duisend ooreenkomste tussen ons as mense is. Dit maak nie saak hóé vol selfvertroue iemand lyk nie, diep binne in hom/haar lê daar ook maar ‘n stukkie vrees, onsekerheid, twyfel en ‘n paar bondels wegsteek-bagasie.

    Met kinders van God is dit niks anders nie. Elkeen van ons ervaar – ongeag die diepte van ons geloof – tye waarin ons ver van God voel, onseker is oor sy liefde is en skaam is oor ons eie sonde-swakheid. Juis daarom het ons as gelowiges mekaar so nodig. Ons kan bloot deur ons eie skanse te laat sak vir ander sê: “Dis okay. Ek verstaan. Ek weet hoe jy voel, want ek het ook al geloofskrisisse en sondeskuld ervaar. Maar … ek is daar vir jou. Ek is daar om na jou te luister, jou moed in te praat of sommer net vir jou te bid.”  

    Dalk is daar mense in jou kring wat smag na begrip, na iemand wat sommer net bereid is om hul hart se roep te hoor. En miskien is jý juis die een wat die wêreldse verskil aan jou spanmaat se lewe kan maak.

     

    Mag die Gees jou sensiteer om jou geloofsmaats se hande … en harte hoog te hou.

     

    Maak my hart oop vir ander se broosheid, Vader.

     

    Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

    Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 


     

     

     

     

     

     Skrywer: Milanie Vosloo