Laat sy Liefde jou Lei: Sê in die storm: Ek glo!

Laat sy Liefde jou Lei: Sê in die storm: Ek glo! – Milanie Vosloo

Sê in die storm: Ek gló!

Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het swaar gedra aan ons pyn. Jesaja 53:4a

Soms ruk lewensomstandighede ernstig aan ons geloofsbootjies. Veral wanneer daar slegte dinge met goeie mense gebeur wat glad nie sin maak nie. Dan is dit nie vreemd om te hoor dat mense voel of hulle geloofsoortuigings wil sink nie.

 

Sulke tye moet ons onthou: Ons is nie God nie. Daarom sál ons sy weё nooit kan verstaan nie. Die feit dat Hy God en ons mens is, beteken egter dat ons nie hóéf te verstaan nie! Ons kan egter altyd vashou aan die volgende waarhede:

  • God se hart is saam met ons s’n seer oor enige vorm van onreg, wreedheid en verwoesting. Hy het elke mens op aarde so lief dat Hy sy lewe gegee het. Waarom sal Hy dan genoegdoening uit ons pyn kry?
  • Die stukkend van hierdie wêreld kan nie voor God se deur gelê word nie. Dis Satan wat elke greintjie skoonheid en volmaaktheid probeer afbreek. En as gevolg van die sonde wat hy skep, leef ons, tot en met die wederkoms, in ‘n gebroke wêreld.
  • Om God te ken, waarborg nie aan ons ‘n uitgesonderde pynlose en immer-gelukkige lewe nie, máár kinders van God kry midde in hulle ergste pyn troos in die wete dat God se genade in alle omstandighede vir hulle genoeg sal wees.

 

Glo vandag – ondanks alles – dat jou God steeds in beheer is.

 

Redder van my lewe, help my om te glo … en te wéét: U blý die God van liefde!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart

Laat sy Liefde jou Lei: Hang skoon wasgoed in jou hart – Milanie Vosloo

Hang skoon wasgoed in jou hart!

Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen. Moenie lelike dinge sê nie. Spreuke 4:23 – 24a

Ons steek dikwels dit wat regtig in ons harte is, met vroom woorde weg. So bluf ons mekaar soms met mooi woorde terwyl ons eintlik iets totaal anders dink. En dan, op ‘n dag, stort ons daardie gedagtes in woorde teenoor iemand uit … wat groot en onnodige skade berokken. Die feit is dat ons nie vir baie lank vuil wasgoed van ons hart kan wegsteek nie. Een of ander tyd word ons ware kleure hoor- en sigbaar.

Salomo het geweet waarvan hy praat toe hy gesê het dat dit wat in ons hart gebeur, die allerbelangrikste basis van wysheid is. Dit is immers dié deel van ons menswees waaruit ons hele lewe vloei. En daar is maar een manier om te sorg dat ons harte suiwer is: ons moet dit elke dag onvoorwaardelik in die hande van die Gees van God plaas. Net Hy kan die vuil wasgoed in ons harte agter die wegsteekplekke uithaal, dit suiwer en dit netjies terug pak in die kas. Net Hy kan die ongenaakbare vlekke wat ons lewens so vervuil, uitwas en in die plek daarvan sy geur van liefde sit.

 

Bid dat die Gees jou ryklik met sy skoonheid sal vul sodat jy ánders oor mense sal dink, die beste van hulle sal glo en kraakvars suiwer in jou liefde sal wees.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Jy kan ‘n kragtige geesgenoot wees

Laat sy Liefde jou Lei: Jy kan ‘n kragtige geesgenoot wees – Milanie Vosloo

Jy kán ‘n kragtige geesgenoot wees

Lei ‘n toegewyde lewe met geloof, liefde, volharding en deernis. Stry die goeie stryd van dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.1 Timoteus 6:11b-12

Paulus was vir baie mense ‘n ware geesgenoot. ‘n Rol wat hy met groot passie en verantwoordelikheid vertolk het. Jy kan gerus weer die twee briewe wat hy aan sy getroue vriend, Timoteus, geskryf het, gaan lees. Die vraag wat ons as medegelowiges in hierdie moderne eeu kan vra, is: Hoe kan ék ‘n ware geesgenoot wees vir die ander lede van geestelike familie? 

 

  • Ons kan dit doen deur ons self elke dag met nuwe toewyding aan ons Vader toe te wy. Wanneer dit ons opregte begeerte is om sy liefde te leef en sy wil te doen, sal ons harte ingestel wees op die mense om ons en sal ons met liefde en deernis teenoor hulle optree.
  • Ons kan elke oggend bid dat die Gees ons leeg sal maak van ons eie selfsug en eer en ons sal vul met sý soort begrip en deernis vir ander mense. Wanneer die Gees ons lewens beheer sál ons in geesgenote vir ander wees omdat liefde, vreugde, vrede, geduld, getrouheid, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing deel van ons lewens is.

 

Wie weet of die Vader nie dalk vandag jóú geloof en jóú geesvervulde menswees in die lewe van ander wil gebruik nie?

 

Heilige Gees, mag my geloof vrugte dra wat by my bekering pas.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 

Milanie Vosloo

 




Laat sy Liefde jou Lei: soms is die wind uit jou seile

Laat sy Liefde jou Lei: soms is die wind uit jou seile – Milanie Vosloo

Soms is die wind uit jou seile!

Hy het op sy knieё neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Handelinge 7:60a

Het jy al gevoel asof iemand die wind uit jou seile neem?

Jy het nog ewe rustig op die see van die lewe gevaar, toe jy uit die bloute deur ‘n rukwind van aanvalle onkant gevang word en jy heeltemal van koers af gedwing word. Dis dan wanneer jy sprakeloos wonder hoe dit moontlik is dat mense mekaar so verkeerd kan hanteer. Meer as dit maak sulke ongevraagde optredes nogal vrek seer. Dis asof dit sommer sulke repe uit jou hart skeur.

 

Die vraag is dan: Wat nou? Kap jy terug, val jy aan, retireer jy of hanteer jy dit in stilswye. ‘n Klinklare antwoord is daar nie, want elke situasie en mens is immers uniek. Wat wél belangrik is om die Gees te vra om onmiddellik goddelike beheer oor die situasie te neem. Bid dat Hy aan jou die selfbeheersing sal gee om vir ‘n oomblik terug te staan, werklik te luister en te probéér verstaan. Vra dat Hy jou sal help om as’t ware in daardie mens se skoene te klim en met begrip na sy/haar situasie te kyk. Bid dan veral dat jy die wysheid sal hê om te weet hoe jy moet reageer.

 

Dis nooit maklik om moeilike mense en situasies te hanteer nie. Deur die Gees is dit egter wel moontlik om ook dán die liefde te laat seёvier.

 

Bly vandag in beheer van my emosies sodat ek sal wéét wat om te doen, Vader.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

 

 

 


 

Milanie Vosloo