13:4 Na die sending (apolúō) deur die handoplegging van die gemeente in Antiogië, onderstreep Lukas dat hulle deur die Heilige Gees uitgestuur is (ekpémpō). Hulle het van Antiogië 25 kilometer afgereis na die hawestad Seleusië, wat deur Seleukus Nikator (die ‘oorwinnaar,’ wat Sirië na die dood van Alexander die Grote gekry het) in 300 v.C. opgerig is en nog steeds die hawe van die huidige Turkse stad Antakya is. Daarvandaan het hulle die 96 km. na Siprus geseil, na die geboorte-eiland van Barnabas (Hand 4:36). Die eiland is 240 km. lank en 100 km. op sy breedste gedeelte, bekend vir sy kopermyne, wingerde en olyfboorde. Die evangelie is reeds vroeër daar aan Jode verkondig (Hand 11:19).
13:5 Hulle kom in Salamis aan, die hawestad aan die Ooste, ook die grootste stad op die eiland, met ’n aansienlike getal Joodse inwoners, en verkondig die woord van God in die verskillende Joodse sinagoges in die stad. Volgens Romeine 1:16 en 2:9-10 beskou Paulus die evangelie as eerstens vir die Jood en ook vir die Griek. In sy sendingwerk het Paulus die orde toegepas. Die Jode in die verstrooiing moet ook die evangelie van Christus hoor en in die sinagoges tref hulle gewoonlik ook die godvresendes aan, wat die mees vatbares vir die evangelie was. Die jong Johannes Markus is hulle helper in die evangelieverkondiging (vgl. by Hand. 12:12,25). Later neem Paulus ook die jong Timotheus met hom saam op sy reise (Hand 16:3). In die sinagoges is ook van ‘helpers’ (hupêrétês) gebruik gemaak (Luk 4:20); vgl. ook die jong Samuel in die tempel (1 Sam 2:11; 3:15).
13:6 Hulle het die hele eiland deur gereis (diérchomai impliseer dat hulle dit uitgebreid van plek tot plek en deeglik deurgegaan het) tot hulle by die hoofstad Pafos gekom het. Die nuwe Pafos, ’n hawestad, was geleë aan die westekant van die eiland. Die ou Pafos, 11 km vanaf die huidige Pafos, is in 15 v.C. deur ’n aardbewing verwoes. Pafos was die offisiële hoofstad van die provinsie en sentrum van die diens aan Afrodite, die Griekse godin van skoonheid en liefde, wat hier uit die see gebore sou wees. Haar tempel het nog in die ou Pafos gestaan.
Die twee sendelinge tref ’n sekere man aan met die naam Barjesus (‘seun van Joshua’- Jahweh is Verlosser). Hy is ’n towenaar, ‘n valse Joodse profeet, wat aanspraak maak dat hy ’n profeet van God is maar nie die woord van die Here verkondig nie, Soos die towenaar Simon in Samaria (Hand 8:9), het Barjesus die oosterse bygeloof as towenaar, mágos, probeer kombineer met ’n sterk Joodse inslag as profeet van God. Dit is iets wat in Egipte en die Midde-Ooste en ook in Siprus baie voorgekom het. Dit word deur die Here o.a. in Jeremia 14:14 verbied.
13:7 Barjesus was saam met die prokonsul Sergius Paulus, ’n verstandige man – ’n prokonsul was deur die Romeinse senaat aangestel om namens hulle oor ‘n provinsie te regeer (’n Legaat of onderbevelhebber was direk deur die keiser aangestel om hom te verteenwoordig, veral in moeilike provinsies). Barjesus was blykbaar ’n soort hoftowenaar/profeet soos die farao se waarsêers en raadgewers in Josef se tyd (Gen 41:8) en in Moses se tyd (Eks 7:11). Die sterrekenners met Jesus se geboorte is ook mágoi genoem omdat hulle voorspellings uit die stand van sterre gemaak het (Matt 2:1). Sergius Paulus was ‘verstandig,’ suníêmi, iemand wat kan verstaan en ’n saak kan beoordeel. Saulus se eerste bekeerling uit die heidendom het hulle laat roep, soos Kornelius, Petrus se eerste bekeerling uit die heidendom vir Petrus laat roep het (Hand 10:7-8). Die Heilige Gees het duidelik met Sergius Paulus gewerk dat hy daarna gesoek het (epidzêtéō soek om uit te vind) om die woord van God te hoor. Hy het waarskynlik gehoor van Barnabas en Saulus se werk in Pafos en dat mense werklik God se woord by hulle gehoor het.
13:8 Die Joodse towenaar Barjesus is in Grieks Elimas genoem. Hy het die twee apostels teengestaan omdat hy die prokonsul van die geloof wou laat wegdraai (diastréfō laat wegdraai, weglei). Hy het gesien waarheen dit loop toe die prokonsul die twee manne laat roep het, en wil ten alle koste sy invloed in die stad as die prokonsul se raadgewer behou. Daarom stel hierdie valse profeet homself teen die twee profete van God met ’n bitter teenstand teen die verkondigers van God se woord om daarmee die prokonsul van hulle boodskap af weg te lei.
13:9 Maar Saulus, dit is ook Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom stip aangekyk. Hier stel Lukas sy lesers vir die eerste keer aan Saulus se Latynse naam Paulus voor. Die Joodse naam Saul (van God ‘gevra’), soos Jesus hom op die pad na Damaskus aangespreek het (Hand 9:4), se Griekse en Latynse vorm is Saulus. Sy Latynse naam Paulus beteken ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9 ‘Ek is die geringste van die apostels…’ en Ef 3:8). Na hierdie konfrontasie met Elimas neem Paulus ook die leiding tydens die sendingreise by Barnabas oor en gebruik Lukas konsekwent die naam Paulus. In 11:30; 12:25 en 13:2 was Barnabas eerste genoem. In 13:43,46,50, ens. word Paulus eerste genoem. Die Heilige Gees het Paulus deur die hele konfrontasie gelei en Paulus ook aangewys as die leier van die Here Jesus se voortgesette arbeid vanuit die hemel as sy instrument onder die nasies, konings en Israel (vgl. by Hand 1:1; 9:15; 26:16-18). Met Paulus se deurdringende kyk en woorde is hierdie towenaar ontmasker. Dat Paulus met die Heilige Gees vervul was vir die konfrontasie wys na sy onderwerping vir sy taak aan die leiding en krag van die Heilige Gees, soos die Heilige Gees op Jesus neergedaal het met sy doop vir die begin van sy openbare bediening (Luk 3:21-22; Joh 1:33). Reeds met Paulus se bekering is hy met die Heilige Gees vervul vir sy verkondiging dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:17,20). Vervul met die Heilige Gees beteken dat hy homself aan die leiding van die Gees oorgegee het soos by sy bekering toe hy gevra het: ‘Wat moet ek doen, Here?’ (Hand 22:10).
13:10 Onder leiding van die Heilige Gees herken Paulus sy teenstander vir wat hy is en noem hom sonder verskoning wat hy eintlik is. Elimas wat homself as ’n ware profeet aangebied het, is in werklikheid vol elke soort bedrog (dólos om met allerlei kullery en valsheid te bedrieg) en elke soort kwaaddoen (rhadiourgía wat morele beginsels verkrag deur gewetenloos en beginselloos op te tree). Hy wat as Barjesus paradeer (in Aramees: Bar-Jehoshua, kind van die Here se verlossing), is in werklikheid kind van die duiwel, in diens van die duiwel (diabólos lasteraar, skinderbek, kwaadspreker, boosdoener). As vyand van alles wat reg/goed is (Letterlik: vyand van alle geregtigheid) verdraai hy sonder ophou die reguit paaie van die Here; ‘verdraai,’ letterlik mislei of weglei (diastréfō 13:8), soos hy die prokonsul probeer weglei het van die woord van God.
13:11 ‘En nou, kyk!’ Daarmee word Elimas en Sergius Paulus en almal teenwoordig en die leser opgeroep om op te let na wat nou gaan gebeur. Vir Elimas, wat die prokonsul van die geloof wou weglei, beteken dit dat hy nie meer sal kan sien nie. Hy sal wel die straffende hand/mag van die Here belewe (soos die hand van die Here straffend op die Filistyne was, in 1 Samuel 7:13), net soos Paulus toe hy voortgewoed het om dissipels van die Here in Damaskus se sinagoges met geweld te gaan arresteer (Hand 9:1-2). Vir Elimas sê Paulus ‘Jy sal blind wees en die son nie sien nie tot ‘n tyd’ (áchri kairou) wat God sal bepaal. Die moontlikheid van herstel indien hy tot besinning kom, word oopgelaat, maar Lukas vertel nie wat later met Elimas gebeur het nie. ‘En op daardie oomblik het hy blind geword (letterlik word blind word met ’n idioom beskryf: mistigheid soos een wat blind word en duisternis van ’n blinde het op hom geval) en hy het rondgesoek na gidse’ (cheiragōgoús, persone wat ander aan die hand lei, soos vir Paulus in Hand 9:8; vgl. die strawwe van die Here op ongehoorsames in Deutr 28:28-29). Paulus se eerste wonderwerk wat Lukas beskryf is ’n kopie van wat met hom gebeur het. Die halfheidense Elimas se geestelike blindheid is ’n spieëlbeeld van Saulus die Joodse Fariseër se geestelike blindheid om Jesus as die Seun van God te erken. Die strafwonder is egter die inleiding tot die Here se bereiking van sy doel met Saulus as sy uitverkore instrument om sy Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel (Hand 9:15), wat in die res van Handelinge beskryf word, en uit Paulus se 13 briewe in ons Bybel blyk.
13:12 Die wyse prokonsul wat graag die woord van God wou hoor (13:7), het gesien wat gebeur het. Hy het toe die goeie nuus oor Jesus Christus geglo (pisteúō) en ’n volgeling van Jesus geword. Hy was verstom (ekplêssomai so verbaas dat hy oorweldig is) oor die leer van die Here. Deur die werking van die Heilige Gees aanvaar hierdie Romeinse goewerneur die leer omtrent die Here Jesus, nie as ’n woord van mense nie, maar as die woord van God.
Die evangelie het nou reeds skares Jode bereik, ook Samaritane, ‘n man uit Afrika, ’n Romeinse offisier oor 100 soldate, ’n gemeente van mense uit die heidendom in Antiogië, en nou die goewerneur van ’n hele Romeinse provinsie. Gamaliël het die Joodse Raad gewaarsku: ‘as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie…’ (Hand 5:38-39).
Skrywer: Prof Francois Malan