11:19 Lukas tel die draad van die verhaal in Handelinge 8:1,4 op, van die vervolging van die gemeente in Jerusalem ná Stefanus se steniging, en hulle verstrooiing in Judea en Samaria. Wat nou vertel word, het gebeur terwyl die ander verhale oor Filippus en Petrus in Hand 8:5-11:18 plaasgevind het.
Die verstrooide gelowiges het verder noord as Judea en Samaria gegaan, tot so ver as Fenisië, Siprus en Antiogië. Fenisië is op die kusvlakte van noordelike Palestina – 12 km breed en 120 km lank van berg Karmel in die suide tot by die Eleutherosrivier in die noorde. Dit sluit die stede Tirus en Sidon, noord van Sesarea, in. By Tirus gaan Paulus se skip aan wal op pad na Jerusalem na sy derde sendingreis en besoek hy die dissipels vir ’n week lank (Hand 21:3). By Sidon gooi Paulus se skip anker op hulle reis na Rome en daar besoek Paulus sy vriende (Hand 27:3). Siprus is die groot eiland in die Middellandse See, suid van Klein-Asië (die huidige Turkye) en wes van Sirië wat noord van Palestina lê. Die eiland is ’n Romeinse provinsie met ’n goewerneur in die hoofstad Pafos (Hand 13:4-12). Barnabas het van die eiland af gekom (Hand 3:36). Antiogië aan die Orontesrivier met ’n halfmiljoen inwoners, is die hoofstad van Sirië. Dit is 35 km van die kus af, met Seleusië as hawe (Hand 13:4), die derde grootste stad van die Romeinse ryk naas Rome en Alexandrië in Egipte. Nikolaus, een van die sewe helpers van Hand 6:5 ,kom van Antiogië af. Hier was ’n groot Joodse kolonie (na skatting 45 000) met baie godvresendes en proseliete uit die heidendom wat by die sinagoges ingeskakel het (volgens Josefus in Bel. 7:1:3). Die stad word die basis waaruit Paulus sy sendingreise onderneem het.
Na die hele geskiedenis oor die uitbreiding van die evangelie na die heidene word as teenstelling vertel dat die gelowiges wat uit Jerusalem se vervolging gevlug het, die boodskap oor Jesus en sy verlossing orals waar hulle gekom het, slegs aan Jode verkondig het.
11:20 Daarteenoor het sommige van die mense wat van die eiland Siprus en van Sirene in Libië uit Noord-Afrika af in Antiogië gekom het, ook met die Helleniste gepraat en die evangelie van die Here Jesus aan hulle verkondig. Die Simon wat gedwing was om Jesus se kruis te dra, het van Sirene gekom (Luk 23:26) en op die Pinksterdag was daar mense uit Libië in die omgewing van Sirene wat in hulle eie taal die evangelie gehoor het en tot geloof gekom het (Hand 2:10,41). Die woord hellênistês wat in Hand 6:1 en 9:29 na Griekssprekende Jode verwys, verwys hier waarskynlik bloot na Griekssprekendes in teenstelling met die vorige vers waarvolgens die evangelie slegs aan Jode verkondig is. Volgens Galasiërs 2:12 was gelowiges uit die heidendom deel van die gemeente in Antiogië.
11:21 Die hand van die Here was oor die mense uit Siprus en Sirene se verkondiging en ’n groot aantal van die heidense Griekssprekendes in Antiogië het gelowig geword en hulle tot die Here Jesus bekeer (epistréfō). Die ‘Hand van die Here’ is ’n Ou Testamentiese beeld vir die Persoon van God wat met sy mag in beheer is van die mense (vgl. 1 Sam 5:7,11; 6:9 ‘sy hand;’ in 1983-vertaling ‘Hy;’ Jes 66:14 en Eseg 1:3 ‘die hand van die Here;’ 1983-vertaling ‘die mag van die Here’). Met sy hand oor sy getuies het die Here die groot getal Grieke tot geloof in Jesus as hulle Here gelei. So het hulle lewenswyse omgedraai en het hulle hulle aan Jesus oorgegee om hulle te lei en hulle lewens met sy liefde te beheer (vgl. Matt 11:29-30 om sy sagte juk op hulle te neem).
11:22 Toe die gemeente in Jerusalem hoor dat ‘n groot getal Grieke in die gemeente opgeneem is, het hulle vir Barnabas tot by Antiogië uitgestuur, soos hulle Petrus en Johannes destyds na Samaria gestuur het toe hulle gehoor het dat die Samaritane die woord van God aangeneem het (Hand 8:14). Dat hulle hom ‘tot by Antiogië uitgestuur het’ skep die indruk dat hy die gemeentes langs die pad besoek het totdat hy by Antiogië gekom het om die band met die moedergemeente te versterk en hulle aanvaarding deur die moedergemeente te toon. Barnabas kom ook uit daardie geweste, uit Siprus wat teenoor Antiogië geleë is.
11:23 Toe Barnabas in Antiogië kom en die genade (cháris) van God sien waarmee Hy die gemengde gemeente van bekeerde Jode en bekeerde heidene geseën het, was hy deurtentyd bly en gelukkig (imperkfektum van chaírō van dieselfde stam as cháris). Die hartlike samelewing van die lede van die gemeente uit Jode en nie-Jode sien hy nie as mensewerk nie, maar as God se genadedaad. Die blydskap van Barnabas, die eertydse Levitiese wetsleraar, oor die almag van God se genade, kom ook uit die hemel. Waar die genade van God regeer, het die wet sy seggenskap verloor (vgl. Gal 5:18). Barnabas het hulle almal ernstig versoek/aangemoedig (Barnabas beteken ‘aanmoediger/helper,’ Hand 4:36) om van harte aan die Here getrou te bly (‘van harte’ letterlik: met die vaste plan/doel van hulle harte).
11:24 Van Barnabas word gesê dat hy ’n goeie man was. Hy is die enigste wat in Handelinge goed genoem word ( vgl. Luk 6:45 ’n Goeie mens bring die goeie tevoorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart; Luk 23:50 Josef van Arimathea was ’n goeie en regverdige man). Barnabas word verder beskryf met dieselfde woorde as Stefanus in Hand 6:5: vol van die Heilige Gees en geloof. Sy optrede in Antiogië getuig van sy geestelike wysheid en waagmoedige geloof dat hy, die gebore Leviet, die wetsvrye heidenchristene in hierdie beslissende aanvangstadium van die kerk goedkeur en self tot hulle vermeerdering bydra. Die aansienlike skare wat vir die Here Jesus bygevoeg word is duidelik die werk van die Heilige Gees wat deur Barnabas oor Jesus getuig en mense oortuig (Joh 15:26; 16:8).
11:25 Hier duik die naam van Saulus weer op, ongeveer 10 jaar na sy vertrek na Tarsus in Hand 9:30 (vgl. Gal 1:18 se drie jaar, plus Hand 11:26 se 1 jaar, afgetrek van Gal 2:1 se veertien jaar). Daarom gaan soek Barnabas na hom in Tarsus (anazêtéō om uit te vind waar hy is deur na hom te soek, met die implikasie dat dit moeilik is). Die Here het die soete inval aan Barnabas gegee om persoonlik na die geniale Saulus te gaan soek, om nou as die Here se uitverkore instrument sy Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel (Hand 9:15). So word Saulus in die wêreldsending betrek (Hand 1:8 tot aan die einde van die aarde). Dit is die man wat die teologie van die kerk gevestig het met sy kennis van die Ou Testament, wat hy verklaar het vanuit sy gesig op pad na Damaskus van die opgestane Jesus wat aan die regterhand van God sit as hoof oor sy kerk wat alles en almal vervul (Ef 1:20-23). Al Paulus se briewe was reeds geskryf toe die Evangelies eers geskryf word.
11:26 Barnabas het vir Saulus opgespoor en hom na Antiogië gebring as sy medearbeider. Vir ’n hele jaar was hulle saam met die gemeente en het ’n aansienlike skare onderrig. Dit is ’n aanduiding van ’n groot groeiende gemeente wat deeglik onderrig word in die geskiedenis en woorde van Jesus teen die agtergrond van die Ou Testamentiese geskrifte. Onthou die Nuwe Testament was nog nie beskikbaar nie en boekrolle van die Griekse vertaling van die Ou Testament was hulle Bybel. Hier in Antiogië het die Romeinse en Griekse heidene die volgelinge van Jesus Christus vir die eerste keer afkeurend Christene (Christianoi, ’n Latynse woord) genoem om hulle van die Jode te onderskei as ’n afsonderlike groep. Die gelowiges het die naam aanvaar met ’n nuwe voller betekenis. In die Nuwe Testament word dit net in Hand 11:26; 26:28 en 1 Petrus 4:16 gebruik. Die betekenis daarvan is egter dat hulle as volgelinge van God se Gesalfde, Jesus die Christus, self Christene is. Hulle is ook deur die Heilige Gees gesalf om priesters, konings en profete te wees (vgl. 1 Petrus 2:9 ’n koninklike priesterdom wat verkondig).
11:27 Gedurende die jaar se werk in Antiogië (‘in daardie tyd’) kom daar profete uit Jerusalem. Die profete van die Nuwe Testament het deur die Heilige Gees geïnspireerde uitsprake gemaak in die Naam van die Here en op gesag van God.
11:28 Een van die profete, naamlik Agabus (Hagabos van die Hebreeuse hagab ‘sprinkaan’), het opgestaan en deur die Heilige Gees voorspel (sêmainō duidelik aanteken) dat daar ’n groot hongersnood sal wees oor die hele bekende wêreld van destyds (Volgens Hand 21:10 voorspel Agabus 9 jaar later dat Paulus in Jerusalem gebind sal word). Lukas verduidelik dat dit tydens die regeringstyd van keiser Claudius (wat regeer van 41-54 n.C.) gebeur het. Josefus (Ant 22:2:5) vertel van die hongersnood wat Jerusalem se inwoners tot op die rand van die dood gebring het. Tydens Claudius se regering was daar ’n paar tye van hongersnood in verskillende dele van die Romeinse ryk, maar in Jerusalem was die ergste die een tussen die jare 46-48 n.C. Daarby was 47/48 n.C. ’n Sabbatsjaar wat dit vir die Jode ná 46 se droogte nog moeiliker gemaak het om kos te kry, omdat hulle vir ’n jaar nie mog saai nie.
11:29 Die gemeente (dissipels/volgelinge van Jesus) in Antiogië het op grond van Agabus se duidelike aankondiging besluit dat elkeen van hulle volgens elkeen se vermoë/rykdom ’n bydrae sal stuur aan die broers en susters wat in Judea woon. Die besluit deur die gemeente van Antiogië, wat ’n groot komponent bekeerde heidene gehad het, getuig van die gemeente se vrygewigheid wat deur die Heilige Gees in hulle bewerk is, en van hulle liefdesverbondenheid aan hulle broers en susters in Christus in Judea, wat hoofsaaklik uit bekeerde Jode bestaan het (vgl. Matt 5:7; 25:40; Jak 2:15-16; 1 Petr 1:22; 1 Joh 3:16-17).
11:30 Die gemeente het hulle besluit uitgevoer en die bydraes aan die ouderlinge in Judea gestuur deur die hande van Barnabas en Saulus. Hiermee word ’n patroon gevestig wat Paulus gedurende sy sendingreise volg met die kollekte wat hy vir Jerusalem organiseer in die gemeentes in Klein-Asië, Masedonië en Griekeland. Die beginsel van vrywillige besluit volgens vermoë oor ’n bydrae, word in 2 Kor 9:6-7 uitgespel. Hoofstukke 8-9 van 2 Korinthiërs handel oor die kollekte, vgl. ook 1 Kor 16:1-4; Rom 15:25-28. Hierdie reis van Barnabas en Saulus na Jerusalem kan moontlik met Galasiërs 2:1 se besoek aan Jerusalem 14 jaar na Saulus se bekering verbind word.
Dit is die eerste keer dat Handelinge van ouderlinge praat. ’n Presbuteros is ’n persoon met die verantwoordelikheid en gesag in sosio-godsdienstige sake in Joodse (Matt 15:23 familiehoofde) en Christelike (Hand 11:30) gemeenskappe.
[Gereformeerde Kerke volg ’n presbiteriale stelsel waar die ouderlinge en diakens deur die gemeentes gekies word en die leiding neem in gemeentes (Hand 6:3-6; 1 Tim 5:17). In die Nuwe Testament word ouderlinge opsieners (episkopoi) genoem (Hand 20:28; ook in Titus 1:5-9; vgl. ook Flp 1:1; 1 Tim 3:2). Die Roomse kerk het die woord met biskoppe vertaal en daarvolgens ‘n hiërargiese episkopale stelsel ingestel. Hulle sien die gesag van die pous as die opvolger van die leierapostel Petrus, die rots waarop Jesus sy kerk bou en aan hom die sleutels van die koninkryk van die hemel gegee het (Matt 16:18-19). Die Roomse biskoppe verteenwoordig die ander apostels en regeer saam met die pous oor die kerk. Die biskop is ook die leier van die gemeenskap van priesters, wat weer leiers is van gemeentes.]
Skrywer: Prof Francois Malan