Die Handelinge van die Apostels: Petrus se visioen (Hand 10:9-16) – Francois Malan

10:9 Die dag na Kornelius se manne uit Sesarea vertrek het, teen die sesde uur (ongeveer 12 uur die middag volgens Westerse rekening) klim Petrus op met die trappe aan die buitekant van die huis om op die tipiese plat dak van die eenvoudige huis te gaan bid (vgl. Mark 2:4; Luk 5:19; Deutr 22:8). Dit was nie een van die vasgestelde gebedstye van die Jode nie, maar soos Daniël gewoond was om drie maal per dag in sy dakkamer voor sy oop venster te bid (Dan 6:11, vgl. Ps 55:18), gaan Petrus blykbaar ook in middel van die dag op hierdie huis se dak bid. Soos vir Kornelius word Petrus se tyd vir gebed ook ’n tyd vir ’n openbaring van die Here. Soos Filippus sy opdrag kry om na die suide/op die middaguur (mesêmbrían) na die verlate pad na Gasa te gaan (Hand 8:26) en soos Paulus wat naby Damaskus teen die middaguur die helder lig uit die hemel gesien en die stem van Jesus gehoor het (Hand 22:6-7), kry Petrus sy opdrag van die Here op die middaguur in ’n openbaring.

Kornelius se afvaardiging het blykbaar hulle opdrag laatmiddag ontvang en toe uit Sesarea begin stap, langs die pad oornag en die volgende dag verder gestap. Hulle was al naby Joppe toe Petrus gaan bid het. Soos met Ananias en Saulus, is die Here hier besig met twee mense, Kornelius en Petrus, om vir Petrus voor te berei vir sy nuwe opdrag.

10:10 Tydens sy gebed het Petrus honger geword. Eintlik was dit die eerste stap in die Here se voorbereiding van Petrus vir die hoogs belangrike wysiging wat die Here in die lewe van sy kerk wou aanbring. Hoewel die Grieke en Romeine ’n middagmaal geniet het (áriston in Grieks, prandium in Latyn) as hulle tweede ontbyt om twaalfuur, het die Jode slegs ’n ontbyt (áriston Luk 14:1) wat soggens gewissel het van 9-12,  en ’n laatmiddagete, die hoofmaal ná die aandoffer, wat met feeste tot laataand kon strek (deipnon Luk 14:16, Joh 12:2). [Die Romeine se eerste ontbyt is ientaculum genoem, en hulle hoofmaal in die aand cena]

Met Petrus se lang vas deur die oggend en tydens sy gebed, het hy baie honger geword. Maar terwyl die huismense vir hom ’n maaltyd voorberei, het ’n ekstase ‘op hom gekom,’ ’n Joodse segswyse vir ‘hy het in ekstase geraak’ (ékstasis beteken letterlik: om buite jouself te wees). Dit was ’n toestand wat God oor hom gebring het waarin hy vir die oomblik sy gewone beskikking oor sy sintuie verloor het, om noukeurig te kan onderskei en om op die saak te kan konsentreer. Hy verkeer in ’n hoë sfeer, wat Paulus in 2 Kor 12:2-4 beskryf as weggeruk tot in die derde hemel.

10:11 Petrus sien toe die hemel is geopen en ’n voorwerp is besig om af te daal, iets soos ’n groot linnedoek wat stadig aan vier hoeke neergelaat word op die aarde. Toe Petrus aan die Joodse Christene in Jerusalem die gesig beskryf het, het hy gesê hy het in ekstase ’n visioen gesien en die groot voorwerp het tot by hom gekom. Die geopende hemel het Petrus oortuig dat die Here besig is om iets aan hom bekend te maak, soos aan Stefanus wat die hemele geopen gesien het (Hand 7:56).

10:12 In die groot dalende voorwerp was daar van elke soort mak en wilde viervoetige diere en kruipende diere/reptiele (herpetá wat slange, rotte, muise, paddas, akkedisse, ens. insluit) van die aarde en voëls van die lug (vlieënde of wilde voëls). Noag moes ook van elkeen van die drie soorte in die ark opneem (Gen 6:20). Romeine 1:23 verwys ook na die drie soorte skepsels wat die Here gemaak het, waarvan mense afbeeldings maak om as hulle god te dien. Dit is eintlik ’n algemene uitdrukking wat al die diere en voëls insluit.

10:13 Die stem wat Petrus hoor, kom uit die geopende hemel. Dit is die stem van die verhoogde Christus vir wie Petrus liefhet (Joh 21:15,16,17) en dien en verkondig, wat hom beveel om die diere en voëls te slag en te eet. Die implikasie is dat hy hom nie hoef te bekommer of dit rein of onrein vleis is nie. Die kruipende diere/reptiele was feitlik almal as onrein beskou. Daarmee hef Jesus die verbod van Levitikus 11:1-47 en Deutr. 14:1-21 op. Nuwe wyn kom in nuwe leersakke (Markus 2:22) as beeld van die nuwe verbond se nuwe lewenswyse wat die oue kom vervang. Jesus het verduidelik dat niks wat in die mond ingaan ’n mens onrein maak nie, maar wel wat by die mond uitkom, uit ’n bose en onbarmhartige hart. En daarmee het Hy alle kos rein verklaar (Mark 7:19; vgl ook Matt 15:10-20). 

10:14 Petrus antwoord met ’n baie sterk beklemtoonde ‘Nee, beslis nie! (mêdamōs), Here, want ek het nog nooit enigiets wat besoedel of onrein is geëet nie’ – dit verwys na wat ’n Jood verontreinig of vir hom onrein is. Die impulsiewe Petrus het Jesus ook by geleentheid sterk aangespreek (Matt 16:22). Dat hy egter bly by ’n Christen-Joodse leerlooier wat met dooie diere se velle werk, wat ook vir hom kos maak, het hom skynbaar nie gepla nie.

 10:15 Die Here het weer met die stem met Petrus gepraat en gesê: ‘Wat God gereinig het, jy nie as onrein’ – verkorting vir ‘wat God rein gemaak het mag jy nie as onrein beskou nie’  (vgl. ook 1 Kor 10:25-26 en 1 Tim 4:4-5)

Wat God egter rein gemaak het, blyk uit die verloop van sake, waar die Here vir Petrus stap vir stap ingelei het in die betekenis van die woord wat tot Petrus gekom het. Dit gaan veral oor twee sake: oor alle kos wat Jesus rein verklaar het en oor alle mense wat deur die Here gereinig word.

                1 Op ’n direkte aanskoulike manier is vir Petrus en al die Joodse Christene gewys dat hulle onderskeiding tussen rein en onrein kos laat vaar moet word. Die ou tradisie in Israel, op grond van Levitikus 11:1-47, Deuteronomium 14:1-21 en Genesis 6:20; 7:2-3 om tussen rein en onrein diere onderskeid te maak, is reeds deur Jesus deurbreek (Markus 7:17-23/Matt 15:10-20). Jesus het gekom om alle kos rein te verklaar (Mark 7:19). Die Jerusalemgemeente het Petrus voor stok gekry omdat hy met sy besoek aan Kornelius saam met onbesnede mans aan huis saam geëet het (Hand 11:3). Maar na Jesus se woord aan Petrus mag kos hulle nie langer weerhou om saam met die gelowiges uit die heidendom te eet nie.

                2 Toe Petrus verder oor die visioen nagedink het, het die Gees gesê hy moet sonder aarseling saam met die drie manne van Kornelius gaan (Hand 10:20). Daarom beskou hy die visioen as ’n gelykenis waarmee Jesus hom wou leer dat hy die heidene nie langer as onrein moet beskou nie, maar hulle in die gemeenskap van die gemeente moet opneem.       

                2.1 Daarom nooi hy Kornelius se gesante om die nag by hom oor te bly (Hand 10:23), betree hy die heiden Kornelius se huis, en sê hy vir die gemeente wat in Kornelius se huis bymekaar gekom het, dat God aan hom getoon het dat hy geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie (Hand 19:28).

                2.2 Hy verkondig die evangelie ook aan die heidene, want hy het oortuig geword dat Jesus Christus die Here is van alle mense (Hand 10:36).

                2.3 Terwyl Petrus nog met Kornelius en sy mense gepraat het, is die geskenk van die Heilige Gees selfs op die heidense gelowiges uitgestort, soos op die Joodse gelowiges op die Pinksterdag (Hand 10:44-47).

                2.4 Die gelowiges uit die heidendom is daarom toe gedoop in die Naam van Jesus Christus om hulle in die kerk van Christus op te neem en Petrus het self met hulle in gemeenskap getree (Hand 10:48).

So het die Here vir Petrus stap vir stap gelei oor hoe Jesus alles kom nuut maak het. In Johannes 15:3 het Jesus reeds vir sy dissipels gesê: Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het (1 Tim 4:4-5). Hy is die Woord van God, by God, self God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe en dié lewe was die lig vir die mense (Joh 1:1-4; vgl. 1 Kor 8:6 en Gen 1 waar God telkens deur sy Woord skep, en sê: ‘laat daar lig wees…ens.).  Die woord van die Here bewerk wat Hy sê (Ps 33:3,6,9; 147:15; Jes 46:10; 55:11).

Paulus beskou die wet van die Ou Testament as ’n oppasser (paidagōgòs, ’n slaaf wat die kinders skool toe neem en sorg dat hulle leer, Gal 3:24); ons was onder die toesig van die wet, totdat Christus sou kom, sodat ons deur geloof vrygespreek kan word. Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van ’n oppasser nie, maar is almal kinders van God in Christus Jesus, Jood, Griek, slaaf, vryman, man, vrou, almal één in Christus Jesus! (Gal 3:25-28). Die onderskeid voor God is nie meer rein-onrein kos of rein-onrein mense nie, maar geloof in Jesus en sy woord wat alles rein maak, teenoor ongeloof in Jesus en sy woord. 

10:16 Die feit dat die opdrag van die stem uit die hemel driemaal na Petrus toe gekom het om te slag en te eet, beklemtoon die erns daarvan. Daar mag geen onsekerheid meer wees nie. Petrus moet oortuig word dat die vroeëre gebooie van God nie meer geld nie. Hebreërs 10:1 sê: ‘Die wet bevat immers net ’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge.’ Hebr 10:9-10: ‘Die Here skaf die eerste offers af, om ’n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd’ (vgl. Hebr 4:1-7 oor die Jode wat soos slawe onderworpe was aan die elementêre beginsels. Maar Christus het diegene wat onder die wet was losgekoop, sodat hulle as sy kinders aangeneem kon word en as sy kind is jy ook erfgenaam deur die wil van God.

Toe Petrus die opdrag aanvaar, is die groot voorwerp dadelik weer in die hemel opgeneem vanwaar dit gekom het om te beklemtoon dat dit van God af gekom het, en dat die hemel dit nou aan Petrus oorlaat om dit te oordink en toe te pas.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus en die heidense hoofman Kornelius (Hand 10:1-48) Ananias se visioen (Hand 10:1-8) – Francois Malan

10:1
Die laaste woord waarmee Lukas hoofstuk 8 afgesluit het was Sesarea. Nou tel
Lukas die draad van sy verhaal op in Sesarea, die stad wat Herodes die Grote
van 25-13 v.C. herbou het van ’n klein dorpie tot ’n pragtige stad om vir
Palestina ’n grootse hawe aan die Middellandse See te bou en om keiser Augustus
te vereer. Die goewerneurs wat die keiser oor Palestina aangestel het (soos bv.
Pilatus), het in die keiserlike paleis gebly en dit was ook die hoofkwartier
van die Romeinse garnisoen. ’n Man genaamd Kornelius was ’n Romeinse
offisier in Sesarea.

Hy was die bevelvoerder oor ’n
afdeling van 100 soldate (hekatontarg) in Sesarea se Italiaanse kohort
(kohort is’n afdeling Romeinse soldate wat gewoonlik uit 600 soldate bestaan
het, ’n tiende van ’n legioen van 6 000).

10:2 Kornelius saam met sy hele
huisgesin (wat sy familie en ook sy slawe ingesluit het, vgl. 10:7) was
toegewyde (eusebês vroom) ‘Godvresendes’ (foboumenoi ton Theon,
Hand 13:16; vgl. ook sebomai ton Theon ‘om God te vereer’in
Hand  16:14). Godvresendes was heidene
wat teleurgesteld geraak het in hulle afgode en heidense lewenswyse. Hulle was
aangetrek deur die Joodse monoteīsme van een God wat die Skepper van die hemel
en die aarde is en die Heer van die hemel. Hulle was ook aangetrek deur die hoë
sedelike lewe van die Jode en die Jode se onderlinge verbondenheid. Hulle het
egter nie al die wette van die Jode aanvaar (vgl. Hand 15:20) om volledig by
die Jode aan te sluit, soos die proseliete wat die proselietedoop en die
besnydenis aanvaar het nie (Hand 2:11; 6:5; 13:43. Die godvresendes het
innerlik en uiterlik die heidendom gelos en, ten spyte van die verspreide
antisemitisme in die Romeinse ryk, noue bande met die sinagoges gehad. Hulle
het die Sabbatsdienste bygewoon (Hand 13:16,26) en bedevaarte na Jerusalem
onderneem, soos die hofdienaar van Ethiopië (Hand 8:27). Soos hy, het die
godvresendes die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik. Hulle is vir
die evangelie goed voorberei deur hulle kennis van die Ou Testament en het die
kern van die gemeentes gevorm wat deur Paulus op sy sendingreise gestig is
(vgl. ook Hand 2:5). Kornelius het baie aalmoese aan die (Joodse) volk gegee
(vgl. Matt 6:2-4) en gereeld tot God gebid met die Joodse gebedstye (Hand
10:30).

10:3 Tydens die Joodse tyd vir die
aandoffer en aandgebed (vgl. Hand 3:1), teen ongeveer die negende uur (volgens
Westerse tydsbepaling die middag 15:00) het hy duidelik in ’n visioen ’n
engel/boodskapper van God sien inkom na hom toe, wat sê: ‘Kornelius!’  Gedurende die tyd waarin jy tot God bid, kom
die Here na hom (Konelius) toe deur ’n engel met ’n boodskap. Dit geskied in
die helder lig van die middag om alle vergissing uit die weg te ruim en hy die
engel duidelik kon sien.  

10:4 Soos die apostels stip na die
hemel bly kyk het met Jesus se hemelvaart en die twee mans in wit klere meteens
by hulle gestaan het (Hand 1:10, atenízō stip kyk), kyk Kornelius stip
na die engel en vra verskrik: ‘Wat is dit, meneer?’ (kúrios word gebruik
as beleefde aanspreek van jou meerdere as meneer, of van ‘n regeerder as heer,
of deur ’n slaaf teenoor sy eienaar as my heer, of tot God en Christus as
Here). Kornelius vra eintlik na die rede waarvoor die engel na hom toe gekom
het. Daarop antwoord die engel dat wat hy in gebed van die Here gevra
het, en sy aalmoese wat hy aan armes gegee het, opgestyg het (anabaínō
opstyg of groei) tot ’n gedenkteken voor God. God het sy gebede en
sy gawes aan die armes met goedkeuring aangeneem en dink met vreugde aan
Kornelius. Gedenkteken (mnênósunon 
’n herinneringsteken, soos Maria se salwing van Jesus in Matt 26:13/Mark
14:9). Die Septuaginta het Lev 2:2,9,16 se ‘simbool van die hele offer’ vertaal
as ‘n ‘gedenkteken van die gewyde gawe,’ wat ’n voorloper is van die
gedenkteken voor God van Kornelius se aandoffer op die Joodse uur van die
aandgebed (vgl. Openb 5:8 se goue bak met die gebede van die heiliges voor die
troon van God). Die heidense Romeinse soldaat Kornelius se toewyding aan die
Jode se Skepper-God en aan sy arm medemense is duidelik die werk van die
Heilige Gees wat hom voorberei vir sy geloof in Jesus as die Jode se verwagte
Messias, soos die hofamptenaar wat die lang pad uit Afrika na Jerusalem gereis
het in sy soeke na die wil van die Here. Jesus het gesê: ‘Die koninkryk van die
hemele is soos ’n handelaar op soek na goeie pêrels…’ (Matt 13:44).   

10:5 ‘En noú (met klem voorop in die
sin), stuur mans na Joppe om ’n sekere Simon wat Petrus (‘rots’ Joh
1:42) genoem word, te gaan haal en te bring’ (metapêmpomai se
betekenis en werkwoordsvorm sluit ‘gaan haal en bring’ in). Uit die
besonderhede van die omskrywing van Petrus blyk dit dat Kornelius nog niks van
hom of van Jesus gehoor het nie en dat die gemeente in Sesarea nog nie ’n
heiden in hulle geledere opgeneem het nie.

10:6 Tot die adres, in ’n huis langs
die see,’ waar hulle Petrus sal vind, word beskryf; ook dat Petrus as gas daar
ontvang word (ksenízetai as gas ontvang) om te bevestig dat Kornelius
niks van Petrus of sy omstandighede geweet het nie. In die geloof moet hy, in
opdrag van die Here, ’n wildvreemde man laat haal. Simon die leerlooier
se ambag sal hom onderskei van Simon Petrus wat tydelik by die leerlooier as
gas oorbly. Daarom moet die mans dadelik vertrek, voordat Petrus die adres
verlaat. Maar oor die doel van wat Petrus moet kom doen, bly Kornelius in die
duister as toets vir sy gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here.

10:7 Na die engel wat met hom gepraat het se vertrek, roep hy twee van sy persoonlike slawe (oikétai) en as hulle beskermer een van sy persoonlike soldate wat aan God toegewy gelewe het (eusébês). Al drie is sy vertrouelinge en waarskynlik godvresendes saam met hom. 10:8 Kornelius vertrou aan hulle al die besonderhede toe van wat met hom gebeur het en die opdrag wat hy van die engel gekry het. Hy stuur hulle na Joppe, ongeveer 50 kilometer suid van Sesarea.

Skrywer: Prof Franncois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus in Lidda en Joppe (Hand 9:32-43) – Francois Malan

9:32 Petrus het rond
beweeg en van tyd tot tyd deeglik huisbesoek gedoen, die man wat deur die Here
as herder van die skape aangewys is in Joh 21:15-17. So het hy ook van
Jerusalem se berge afgegaan na die heiliges (mense wat aan die Here toegewy is)
wat in Lidda woon (die huidige Lod) op die vlakte van Saron. Lidda is so
40 kilometer noordwes van Jerusalem af. Filippus het moontlik die gemeente
gestig (vgl. Hand 8:49). Lukas gebruik die ou terme dissipels en heiliges
afwisselend.

9:33 Tydens sy
huisbesoek in die stadjie Lidda kry Petrus vir Eneas, wat al vir agt
jaar verlam op sy draagbaar lê (krábbatos bedjie, draagbaar Mark 2:4; ).
Waarskynlik was Eneas ’n Joodse gelowige in wie se huis Petrus as Jood sou kon
ingaan (vgl. Hand 11:3). Lukas die dokter (Kol 4:14) skryf hoe lank Eneas al
verlam is, soos in Hand 4:22. 

9:34 Die uitsonderlike
gebruik van die werkwoord om te genees het die betekenis: ‘Op hierdie
oomblik genees Jesus Christus jou
.’ As bewys dat hy genees is, gee Petrus
die opdrag aan Eneas: ‘Staan op en maak jou bed op!’ Eneas reageer en staan
onmiddellik op, na ‘n agt jaar lange verlamming. Dit is soos Jesus die 38 jaar
lange sieke by Betesda genees het (Joh 5:8) en nou, na sy hemelvaart, gaan
Jesus voort om deur sy apostel Petrus sy opdrag tot genesing aan Eneas te gee.
Petrus is geen towenaar nie, maar getuie en werktuig van sy Meester Jesus
Christus wat genees. So het die Here ook deur Petrus as sy werktuig die man
onmiddellik genees, wat van sy geboorte af lam was en by die Mooi Poort van die
tempel gesit en bedel het (Hand 3:6-7).

9:35 Al die inwoners
van Lidda en die vlakte van Saron het die verlamde sien loop en hulle
het omgedraai na die Here toe. Saron is die vrugbare seevlakte wat strek van Haifa
aan die voet van Karmel in die Noorde tot by die Jarkonrivier by Tel Aviv met
Joppe (Jaffa) in die suide (vgl 1 Kron 5:16 ‘die veegebiede van Saron;’ 27:29
‘die vee van Saron;’ Hooglied 2:1 ‘Ek is ’n affodil van Saron;’ Jes 33:9:
tydens die ballingskap treur die verwelkte land 
‘en die Saron lyk soos ’n woestynvlakte;’  maar in Jes 35:1-2 belowe die Here aan die
ballinge in Babel: Israel sal die mag van ons God sien in die dorre woestyn wat
sal juig oor die skoonheid van Saron, oortrek met affodille in volle bloei; en
in Jes 65:10: vir dié uit die teruggekeerde ballinge wat na die wil van die
Here vra, sal die Saronvlakte ’n weiveld wees vir kleinvee’). Hulle het
omgedraai na die Here Jesus toe (epistrefō om jou lewenswyse te
verander, terug na die Here toe).

In die Nuwe Testament
is epistrefō ‘om heeltemal om te draai’ een van die drie Griekse woorde
vir bekering, stréfō ‘omdraai’, metánoia ‘lewensverandering
a.g.v. verandering van denke’. Die Heilige Gees gebruik die wondergenesing om
mense te oortuig van hulle sonde en van die vergifnis daarvan deur Jesus
Christus (Joh 16:8) en so word die evangelie, die goeie nuus, verder uitgebrei.
Gamaliël het die Joodse Raad gewaarsku: ‘as hierdie werk van God af kom, sal
julle hulle nie kan keer nie’ (Hand 5:39).

9:36 Soos Lukas dikwels
doen, volg die genesing van ’n vrou op wat die Here aan ’n man gedoen het, hier
haar opwekking uit die dood (bv. die besetene van Gadara, Matt 8:28/Gerasa, Luk
8:26; word gevolg deur die vrou wat 12 jaar aan bloedvloeiing gely het en die
12 jarige dogtertjie van Jaïrus, Lukas 8:26-56). Die toneel verskuif van Lidda
(hedendaagse Lod) na Joppe (hedendaagse Jaffa; vgl. vir Filippus se
veronderstelde verkondiging van die evangelie in Joppe toe hy al die dorpe in
die Saronstreek besoek het, Hand 8:40). In Joppe was daar ’n vrouedissipel (mathêtria;
dieenigste voorkoms van die woord in die Nuwe Testament) van Jesus.
Haar Hebreeuse naam Tabita is in Grieks vertaal as Dorkas,
‘gemsbokooitjie’ in Afrikaans. ‘Sy was vol goeie werke en het aan armes dade
van barmhartigheid gedoen’ – sy het al haar tyd spandeer, uitgemunt in die doen
van  goeie werke, en was mededeelsaam
besig met barmhartigheid/liefdadigheid aan armes.

9:37 Gedurende die tyd
wat Petrus in Lidda besig was, het Dorkas in Joppe siek geword en gesterf.
Nadat haar lyk gewas is, is dit in die bokamer neergelê volgens destyds se
gebruik (vgl. die tyd van Elia, met die dood van die seuntjie van Sarfat (1 Kon
17:19) en in Elisa se tyd met die seuntjie van die vrou in Sunem (2 Kon 4:21).

9:38 Joppe, aan die
Middellandse See, was ongeveer 16 kilometer van Lidda af. Die dissipels, wat
reeds gehoor het dat Petrus in Lidda is, stuur toe twee mans na hom toe met die
ernstige versoek: “Kom asseblief sonder vertraging na ons toe!’  sonder vertraging – mê oknêsês is in
Grieks ’n beleefde manier om ’n versoek te maak, daarom: Kom asseblief
dadelik na ons toe. Dit is ’n dringende beroep van die Here op Petrus, deur die
twee mans, om sy werk in Lidda te los en haastig na Joppe toe te gaan.

9:39 Petrus gehoorsaam
dadelik, staan op en gaan saam met die twee mans na Joppe. In die bovertrek
word hy omring deur al die huilende weduwees. As bewys van hulle gemis
en van Dorkas se armsorg aan hulle wys hulle vir Petrus die onderklede en
bo-klede wat Dorkas vir hulle gemaak het toe sy nog by hulle was. Destyds het
mans en vroue ’n lang kleed gedra. ‘n Dame se kleed was langer, fyner en met
handversierings op om die vroulike stempel daaraan te verleen. Die armes het
dikwels slegs die een onderkleed gehad (vgl. Luk 3:11 ‘wie twee onderklede het,
moet dit deel met iemand wat niks het nie.’ Die bokleed vir beskerming teen
koue in die winter was ook lank, amper soos die hedendaagse japonne. Jesus het
in Mattheus 5:40 gesê: ‘As iemand jou onderkleed wil vat (chitōn,jou
daaglikse drag), gee hom ook die bokleed (himátion)’ – Lukas 6:29 stel
dit andersom. Oor Jesus se naatloos geweefde onderkleed (chitōn) is die
lot gewerp deur die vier soldate (Joh 19:2324).

9:40 Petrus beveel
almal om die bovertrek te verlaat, soos Jesus by die dogtertjie van Jaïrus
(Mark 5:40). Petrus kniel in afhanklike gebed voor die Here om seker te maak
wat die wil van die Here is, en toe hy oortuig is (soos Elisa, 2 Kon 4:33; vgl
Matt 10:8 se opdrag om dooies op te wek) draai hy om na die liggaam en sê: ‘Tabita
, staan op!
’ (soos Jesus in Mark 5:41 vir Talita). Sy maak haar oë oop as
eerste teken dat sy lewe, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit as bewys
dat sy haar liggaamskragte herwin het (soos die jongeling in Nain, Luk 7:15.
Dit is die enigste twee plekke in die Nuwe Testament waar dié Griekse woord anakathízō
‘regop gaan sit’ gebruik word, en dit verwys albei na ’n dooie persoon wat weer
lewendig geword het).

[’n Griekse manuskrip
en Latynse vertalings uit die 6e eeu n.C. het by die opdrag ingevoeg: ‘in die
Naam van Jesus Christus van Nasaret’ soos in Hand 3:6].

9:41 Petrus het haar
aan die hand gevat en opgehelp, soos hy die verlamde man by die tempelpoort
opgehelp het (Luk 3:7). Hy roep toe die heiliges (Jesusgelowiges) saam met die
weduwees en lewer die bewys dat sy lewe (parístêmi om bewys te verskaf
dat iets waar is, soos ook in Hand. 1:3). Haar opwekking uit die dood
was ook ’n heenwysing na die dag wanneer Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons
almal saam met die opgewekte Jesus sal opwek uit die dood om voor die hemelse
Regter te verskyn, sê Paulus in 2 Kor 4:14. 

9:42 Ook hier in Joppe
het die nuus oor die wonder-opwekking uit die dood gou versprei en het daartoe
gelei dat baie tot geloof in die Here Jesus gekom het. Jesus is besig om
baie mense tot bekering te lei. Die Heilige Gees werk deur sy opwekking van
Dorkas om geloof in Jesus by hulle te wek (vgl. Ef. 2:8: ‘Want uit genade is
julle verlos deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe
van God’). Jesus het gesê dat die Heilige Gees oor Hom sal getuig (Joh 15:26).
Ons getuig dat Jesus die Seun van God is; dat ons in Jesus Christus is, die
ware God en die ewige lewe (1 Joh 5:2,20).

9:43 Dié teks is ’n
oorgangswoord na die volgende geskiedenis (Hand 10:1-48) en begin met ‘Dit het
gebeur…’ Die vers sluit die berig oor Dorkas af en berei met Petrus se verblyf
van ’n hele paar dae in Joppe die volgende opdrag van die Here aan Petrus voor.
Petrus bly by Simon die leerlooier. Die ambag van ’n leerlooier was deur
die Jode as onrein beskou, want hy moes deurentyd met onrein dooie diere werk
(Lev 11:1-47; Deutr 14:3-21). Dit is egter ’n voorbereiding vir die gesig wat
Petrus hier by die leerlooier gaan sien, van ’n laken vol onrein diere wat hy moet
slag en eet in opdrag van die Here (Hand 10:12-14). ’n Leerlooier wat in Jesus
glo is iemand wat deur God rein gemaak is (Hand 1:15). Jesus het in elk geval
alle kos rein verklaar (Mark 7:19). 

Met die opwekking van Dorkas word die geskiedenis van die uitbreiding van die kerk onder die Jode in Judea, Samaria en Galilea afgesluit, en begin die verhaal van die sendingwerk onder Jode en heidene ‘tot aan die einde van die aarde’ (Hand 1:8), wat reeds met die bekering van die hofdienaar van Ethiopië begin het.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Saulus in Jerusalem (Hand 9:26-31) – Francois Malan

9:26 
Na sy ontsnapping uit Damaskus gaan Saulus na Jerusalem. In Galasiërs
1:18 sê Paulus dat hy daarheen gegaan het om Sefas te ontmoet, waarskynlik
omdat Sefas die hele tyd saam met Jesus was tydens sy bediening, en leiding
geneem het onder die volgelinge van Jesus. Maar toe Saulus in Jerusalem kom en
by die gemeente wou aansluit, was die dissipels almal bang vir hom omdat
hulle hom nog as hulle kwaaiste vervolger onthou en nog nie kon glo dat hy
waarlik ’n dissipel van Jesus geword het nie. Na die oorlog tussen Herodes en
Aretas was die verbinding tussen Damaskus en Jerusalem nie te goed nie, en het
die gemeente moontlik nog nie gehoor van sy bekering nie.

9:27 Josef, die Leviet uit Siprus, het
by die apostels die bynaam Barnabas (seun van vertroosting) gekry. Hy
was die eerste dissipel wat sy stuk grond verkoop het en die geld na die
apostels gebring het vir die weduwee-versorging (Hand 4:36-37). Hy was Markus
se oom, in wie se huis die gemeente bymekaar gekom het (Hand 12:12). Die
lidmaat Barnabas was dié keer die middelman wat Saulus na die apostels geneem
het (Paulus sê in Gal. 1:18-19 dat hy met dié geleentheid van die apostels
slegs vir Sefas ontmoet het, en by ’n volgende geleentheid met van die ander
kennis gemaak het, Gal 2:9). Barnabas het aan die apostels die hele verhaal van
Saulus se bekering vertel en hoe hy in Damaskus vrymoedig in die Naam van Jesus
gepreek het (parrêsiazomai om openlik en met vrymoedigheid oor iets te
praat). Waar Barnabas aan die kennis van Saulus se bekering gekom het, word nie
gesê nie, maar dit is duidelik dat die Here, wat met hom op die Damaskuspad
gepraat het, Barnabas gebruik het om Saulus te laat opneem in sy gemeente in
Jerusalem. In Galasiërs 1:18 vertel Paulus dat hy vyftien dae by Sefas gebly
het. In dié tyd kon hulle hom inlig oor alles wat Jesus gesê en gedoen het,
maar veral oor Jesus se dood, opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die
Heilige Gees. Die lys wat aan Saulus oorgelewer is van persone aan wie Jesus na
sy opstanding verskyn het, het hy waarskynlik met dié geleentheid by Sefas
gehoor (1 Kor 15:5-9).

9:28 Die vers beskryf hoe Saulus saam
met die apostels was en met vrymoedigheid gepraat het in die Naam Jesus,
wat hy vroeër wou uitroei (parrêsiázomai om openlik en met algehele
vertroue te praat).Om in Jerusalem in en uit te gaan, is ’n Hebreeuse
idioom wat sê dat hulle dit dwarsdeur Jerusalem gedoen het, sonder vrees vir
die Joodse Raad, in vertroue op die Here wat van hulle sy getuies gemaak het in
die stad van sy lyding (vgl. Lukas 18:31-33). In die Naam van Jesus beteken dat
hy oor die Jesus wat aan hom verskyn het vertel het, uit die Ou Testament bewys
het dat Jesus die beloofde Messias van die Ou Testament is, en dat hy waarlik
God is wat aan die regterhand van die Vader oor alles en almal heers (soos Dan
7:14 sê). 

9:29 Soos Stéfanus voor die
Griekssprekende Jode uit die verstrooiing geredeneer het (suzêtéō Hand
6:9), so het Saulus ook met die Helleniste (Griekssprekende Jode) in
Jerusalem gepraat en geredeneer. Hulle het, soos met Stefanus, steeds
probeer/gesoek (epicheiréō imperfektum) om Saulus dood te maak. Saulus,
wat Stefanus se dood goedgekeur het (Hand 8:1), neem nou sy plek in as Jesus se
getuie en sendeling onder die Helleniste.

9:30 Toe die gelowiges (hier ‘broers’
genoem) hoor van die planne van die Helleniste om Saulus te vermoor, het hulle
hom van Jerusalem bo in die Efraimsberge na Sesarea aan die kus afgebring.
Daarvandaan het hulle hom na Tarsus weggestuur. Paulus se weergawe van die
gebeure voor die volk in Hand 22:17-21 voeg by dat die Here vir hom in die
tempel gesê het om haastig uit Jerusalem pad te gee omdat hulle sy getuienis
oor Hom nie sal aanvaar nie. Hy moet weggaan omdat die Here hom ver weg wil
stuur na die heidene. Tarsus, Paulus se geboortedorp, was ’n welvarende
stad aan die Taurusgebergte in die huidige Turkye. Destyds was daar ’n beroemde
universiteit wat meegeding het met die universiteite van Athene en Alexandrië.
In Hand 21:39 verdedig Paulus hom voor die Romeinse hoofman wat vra of hy dan
Grieks ken: ‘Ek is ’n Joodse man, afkomstig uit Tarsus in Silisië, ’n burger
van ’n nie te onbelangrike stad nie (Paulus was ’n gebore Romeinse burger met
die regte van Romeinse burgerskap, vgl. Hand. 16:27; 22:25-29; die Romeine het
die ou stad Tarsus, wat sedert 833 v.C. bekend was, in 64 v.C. die hoofstad van
hulle nuwe provinsie Silisië gemaak).

Handelinge 11:25 tel weer die
geskiedenis van Saulus op nadat hy vir ongeveer 10 jaar in Tarsus, in die
provinsie Silisië  was. Van die tyd ná sy
vlug uit Jerusalem, skryf hy in Galasiërs 1:21: ‘Later het ek na die streke van
Sirië en Silisië gegaan’ waar hy skynbaar in die ongeveer tien jaar voortgegaan
het met sy prediking van die evangelie (vgl. Gal 1:22).

                Oorsig oor die lewe van die vroegste
gemeentes
(Hand 9:31)

9:31 Die Griekse mèn oun lui ’n
nuwe gedeelte van Handelinge inoor wat verder gebeur, deur op te som
wat vooraf gebeur het, en om verder iets nuuts te beskryf. So vertel dié vers
dat die kerk vrede beleef het – ná die bekering en getuienis van Saulus, die
leier van die vervolging van die Jesus-gelowiges; ‘en opgebou is.’ Die passiewe
werkwoord veronderstel dat die Here sy kerk opgebou het – deur die gelowiges se
verkondiging van sy woord.  ‘En hulle het
met die vrees van die Here gewandel…’ – met ontsag vir die Here geleef, dat sy
woord en wil hulle manier van lewe bepaal het. ‘En met die hulp van die
Heilige Gees is hulle getalle deurlopend baie vermeerder
’ (plêthúneto
om baie uit te brei in getalle en omvang; imperfektum wat voortgang aandui,
passief wys dat dit die Heilige Gees is wat ongelowiges oortuig het om in Jesus
te glo deur die gelowiges se getuienis met woord en lewenswyse; vgl. Joh 16:8;
Matt 5:13-16). Die vredestyd vir die kerk was ook die tyd vir sy innerlike
opbou en uitbreiding. Die tyd van vrede (Hand 9:3-11:30) staan egter tussen
twee gedeeltes van vervolging van die kerk (tussen 8:1-9:2 en hoofstuk 12).

Die Griekse woord ekklêsia vir kerk, was voorheen altyd gebruik vir die onderlinge verbondenheid van die burgers van ’n Griekse stad. Maar in die Nuwe Testament wys dit veral na ’n gemeente van Christene wat die interaksie en gemeenskap van die lidmate impliseer. Hier verwys die enkelvoud na al die gemeentes saam as kerk. Elders in die Nuwe Testament verwys ekklêsia na ’n plaaslike gemeente (bv. 1 Kor 1:2) of ’n byeenkoms van gelowiges (bv Hand 19:39). Die gebied waarin die kerk vrede beleef het en opgebou is, word aangegee as in Judea, Galilea en Samaria. Handelinge 9:32-12:19 handel juis oor wat verder gebeur het in Lidda, die Saronvlakte, Joppe, Sesarea en Jerusalem, wat in die provinsies Judea en Samaria geleë is. Die vers is ook die begin van die tweede reeks oor Petrus in die volgende vier hoofstukke, wat in 11:19-30 onderbreek word om Saulus weer onder die aandag van die leser te bring (die eerste gedeelte oor Petrus het gestrek van Handelinge 1:15-5:42).

Skrywer: Prof Francois Malan