Die Handelinge van die Apostels: Saulus se prediking en vervolging (Hand 9:19b-25) – Francois Malan

9:19b Die getal van die paar dae word
nie gemeld nie (hêmeras tinas ’n onbepaalde aantal dae), waarskynlik was
dit nie baie dae nie. Gedurende die paar dae was hy, Saulus, saam met die
dissipels
in Damaskus – die mense wat hy vroeër wou arresteer is nou sy
geloofsbroers. Hy word in die gemeente opgeneem, waarskynlik met die voorspraak
van Ananias wat die hele verhaal aan die gemeente sou vertel het, soos Barnabas
later in Jerusalem (Hand 9:26-27).

9:20 Dadelik, na sy paar dae saam met
die dissipels, het hy Jesus begin verkondig in Damaskus se Joodse sinagoges (kêrússō
aankondig, vertel, preek). Aan die Jode het hy verkondig dat Jesus die
Seun van God is
. Toe die hoëpriester Jesus voor die hele Joodse Raad
gekonfronteer het met die vraag: ‘Is jy die Christus, die Seun van die
Lofwaardige?’ het Jesus geantwoord: ‘Ek is!’ en hulle het Hom met veragting
verwerp, en vir godslastering laat kruisig (Mark 14:61-65). Nadat Jesus egter
persoonlik met Saulus uit die hemel gepraat het, was hy oortuig dat Jesus
waarlik die Seun van God is! (vgl. 1 Kor 8:6; Kol 1:15-20; Flp 2:9-11; Rom
8:34; Efes 1:2).

9:21 Almal wat Paulus se boodskap
gehoor het, was uitermate verstom oor die radikale omswaai van die
gevreesde man (eksístamai  so
verbaas dat jy amper nie kan verstaan wat jy ondervind nie). Dit was veral die
Jode wat so verbaas was, maar sy getuienis het ook die gelowiges verbaas. Die
vers bestaan verder uit twee retoriese vrae wat in Grieks die antwoord ‘ja, dit
is so!’ veronderstel, en omdat dit twee vrae is, veronderstel dit eintlik die
antwoord ‘ja, dit is verseker so!’  ‘Is
dit nie hy wat in Jerusalem dié wat daardie Naam noem aangeval het om hulle uit
te wis nie? (portheō aanval met die doel om uit te wis; die woord word
in die Nuwe Testament net hier en in Gal 1:13,23 gebruik); en het hy nie
hierheen gekom om hulle gebind na die hoëpriester toe te vat nie?’ Saulus se
reputasie het hom vooruit geloop.

9:22 Saulus het ‘n konsternasie onder
die Jode wat in Damaskus gewoon het veroorsaak, deurdat hy aan hulle
onteenseglik bewys het dat Jesus die Jode se verwagte Messias/Christus is.
Die Here hom gaandeweg al sterker daarvan oortuig. Hy kon skynbaar die Ou
Testamentiese woorde oor die Gesalfde van God al duideliker uitlê as profesieë
wat in Jesus vervul is. Daarop het die Jode nie ‘n antwoord gehad nie. Daarom
het hulle verbasing oor sy bekering in vers 21 ‘n verwarring in hulle gemoed en
geloof geword. Hulle wou nie aanvaar dat Jesus hulle Messias is nie, maar kon niks
daarteen sê nie.

9:23 Lukas gaan hierna oor na die Jode
se vervolging van Saulus in Damaskus na ’n lang tyd (hêmérai hikanaí ‘ná
baie dae’). Maar Saulus voeg hier ’n tydperk in waarin hy in Arabië gaan preek
het, teruggekom het Damaskus toe, en dat hy eers drie jaar na sy bekering na
Jerusalem opgegaan het (Gal 1:11-20). Dit kon alles in die ‘lang tyd’ van
Handelinge ingepas wees.

‘Toe baie dae voltooi is (plêróomai
om tot die einde van ’n tyd te kom, met die implikasie van die voltooiing
van ’n plan)  het die Jode saamgespan
(sumbouleuómai om saam te beplan om ’n gemeenskaplike aksie te loods) om
Saulus dood te maak (anairéō om van iemand ontslae te raak deur
eksekusie). Dit het ’n lang tyd van beplanning geneem voor die Jode se plan om
Saulus dood te maak eenstemmige goedkeuring gehad het. In 2 Kor 11:32 voeg
Paulus nog ’n ander aspek daarby: ‘In Damaskus het koning Aretas se goewerneur
die stad Damaskus bewaak om my te arresteer.’ Of die Jode agter die opdrag van
die goewerneur was, word nie gesê nie, maar die Jode kon die goewerneur
goedskiks oortuig het om Saulus te laat vang, soos hulle Pilatus oortuig het om
Jesus te laat kruisig.

[Aretas  IV het in Petra oor die Nabateërs regeer van
9 v.C. tot 39/40 n.C. Hy was die skoonvader van Herodus Antipas, wat van Aretas
se dogter geskei het om met sy halfbroer Filippus se vrou Herodias te trou.
Herodias was ook Herodus se halfbroer Aristobulus se dogter. Oor die verstoting
van sy dogter het Aretas in’n veldslag Herodus en sy soldate verslaan. Aretas
het oor Damaskus regeer van 37-39/40 n.C. in die tyd van keiser Caligula wat
hom goedgesind was. Saulus se ontsnapping uit Damaskus kon moontlik gedurende
die drie jaar geskied het.]

Dwarsdeur sy loopbaan was die Jode
Paulus se mees verbete teenstanders. In hulle oë was hy ’n verraaier van sy
volk en van hulle godsdiens. Hy moes uit die weg geruim word (vgl. Hand
21:27-31; 24:5-6). Hier in Damaskus het die Here reeds begin om hom te wys wat
hy vir die Naam van Jesus moet ly. Hierdie eerste vernedering word laaste
genoem in die lys van sy lydings in 2 Kor 11: 23-33 as ’n laaste van sy
swakhede waaroor hy roem. Dit het hom dwarsdeur sy lewe bygebly, maar hy het
daaroor geroem as sy verwerping en lyding vir en saam met Jesus (vgl. Hand
21:10-14). 

9:24 Die Here sorg egter dat
Saulus hoor van die Jode se komplot, en dit word bekend dat hulle die stad se
poorte dag en nag dophou om hom dood te maak.

9:25 Saulus se dissipels het hom egter geneem (dieselfde Griekse woord vir ’n  dissipel mathêtês kom van twee verskillende werkwoorde: manthánō om te leer, en mathêteō om te volg. Daarom kan die woord verwys na leerders of volgelinge van ’n persoon). Saulus het in die lang tyd alreeds ’n aantal volgelinge wat deur hom onderrig word, waarskynlik onder die Jode vir wie hy in hulle sinagoges verkondig het dat Jesus die Seun van God is (Hand 9:20) en nie-Jode, die heidene onder die Arabiere, aan wie hy Jesus verkondig het (Gal 1:16). Hierdie lojale dissipels van Saulus het hom in die nag geneem, geleidelik laat afsak deur die versterkte stadsmuur, af in ’n groot mandjie (spurís). In 2 Kor 11:33 sê Paulus hy is met ’n groot mandjie van tou gevleg (sargánê) deur ’n venster (thurís) in die stadsmuur geleidelik laat afsak. (So het Ragab Josua se twee verkenners met ’n bloedrooi tou deur die venster van haar huis in die stadsmuur van Jerigo laat afsak om te ontvlug (Jos 2:15,18).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Jesus roep Ananias om vir Paulus te sê wat hy moet doen (Hand 9:10-19a) – Francois Malan

9:10 Lukas stel Ananias (‘Die
HERE – Jahweh – is genadig’) aan sy lesers voor as ’n dissipel (volgeling van
Jesus). In 9:13 beskou Ananias homself as een van die Here se ‘heiliges’ – wat
aan die Here toegewy is. In Paulus se verweer voor die Joodse volk in Hand
22:12 beskryf Paulus hom as ’n vroom man wat volgens die wet lewe en ’n goeie
naam onder die Jode het (Daar is drie persone in Handelinge met die naam
Ananias – die bedrieër in 5:1; hierdie vroom man (ook in 22:12 genoem) en die
hoëpriester in 23:2 voor wie Paulus aangekla is na sy derde sendingreis.

Die Here Jesus het in ’n visioen
Ananias op sy naam geroep en hy het homself direk tot die beskikking van die
Here gestel: ‘Hier is ek, Here.’ Hy herken Jesus in die visoen en is dadelik
bereid
om na Hom te luister as die Here aan wie hy homself oorgegee het, en
wat die seggenskap oor sy lewe het.

9:11 Reguitstraat was destyds die
hoofstraat wat oos-wes deur Damaskus geloop het, met ’n poort van pilare aan
elke kant. Die huis van Jason in die hoofstraat skep die vermoede dat dit ’n
herberg was waar Paulus se metgeselle hulle blinde leier gelos het (vgl. Luk
10:34). As inwoner van Damaskus sou Ananias die huis geken het. Saulus word
hier vir die eerste keer deur sy geboortestad Tarsus geïdentifiseer om hom te
onderskei van ander met die naam Saulus wat dikwels voorgekom het. ‘Want kyk!’
Luister mooi! Die belangrikste omtrent die man is dat hy op die oomblik in
afhanklikheid besig is om soekend met Jesus te praat (proseuchomai om
met God te praat, jou versoeke tot God te rig). Sy gebed is die bewys
van die egtheid van sy bekering om Ananias gerus te stel.

 9:12 Ook Saulus het ’n visioen gehad, soos
Ananias. Daarom moes Ananias besef dat Jesus met Saulus besig was. Met die
visioen aan Ananias het Jesus die pad na Saulus vir Ananias oopgemaak. Hy
verwag Ananias as gestuurde van die Here om hom die hande op te lê om hom weer
te laat sien. Ananias kan weet die man is tans hulpeloos blind en wag op die
Here se antwoord op sy gebed. Hy sal Ananias as God se bode ontvang. So
berei die Here die twee voor vir die ontmoeting wat Hy reël.

9:13 Ten spyte van die Here se
verduidelikings bly Ananias skrikkerig vir die man van wie hy by baie mense gehoor
het watter bose dinge hy met die Here se mense in Jerusalem gemaak het en hy
sien op teen sy opdrag. Daarmee word ook onderstreep hoe sleg Saulus die
gelowiges behandel het(vgl. 
Moses in Eks 3:11 en Jeremia in Jer 1:6 se opsien teen die Here se opdrag
aan hulle). Saulus se naam is al in Damaskus bekend onder die gelowiges.
Ananias gebruik die benaming ‘u heiliges’ vir Jesus se volgelinge. Die
woord heilig het die betekenis van toegewy aan God. ‘U heiliges’ is mense wat
aan Jesus toegewy is deur hulle geloof in Hom en deur hulle lewenswandel
volgens sy woord (vgl. 1 Kor 1:29 ‘Deur God is julle in Christus Jesus, wat vir
ons die wysheid geword het wat van God kom: regverdiging sowel as heiliging en
bevryding.’ 

9:14 Ananias is ook ingelig oor Saulus
se opdrag van die Joodse Raad om Jesus se mense te kom arresteer. Hy noem hulle
‘al die Here se mense.’ Dit was die onderskeidingsteken tussen Jode wat aan
hulle ou godsdiens toegewy was en   mense
wat die naam Jesus gebruik het, die naam wat die Joodse Raad wou uitwis (Hand
4:18; 5:40; 7:55-57). Letterlik staan hier ‘almal oor wie u Naam uitgeroep
word’ – die passiewe werkwoord van die idioom word die beste weergegee met ‘om
die mense van die Here te wees.’ Later word hulle Christene genoem as
mense wat aan Christus behoort (Hand 11:26). 

9:15 Jesus laat Ananias uitpraat en
dan herhaal hy sy opdrag: ‘Gaan!’ en gee vir Ananias ’n kykie in sy planne met
Saulus. Deur die Here se onbegryplike verkiesing het Hy Saulus, die vyand van
Jesus uitgekies om sy instrument te wees om juis die Naam Jesus, wat Saulus wil
uitdelg, uit te dra;‘Want juis hy is vir My ’n uitverkore werktuig
om my Naam te dra’ (bastázō ónoma, ’n idioom, letterlik ‘dra ’n naam,’
om informasie oor ’n persoon wyd te versprei). Jesus maak van sy doodsvyand sy
bruikbare werktuig (skeuos voorwerp, ding, instrument, word figuurlik
gebruik vir ’n persoon vir ’n spesifieke taak). Jesus gaan hom stuur na
heidene, en ook na konings, en die kinders van Israel – Jode en nie-Jode,
hooggeplaastes en gewone mense. Die heidene kom eerste in die lys en hy beskou
homself eerstens as die apostel na die heidene toe (Rom 1:13; 1:14; Gal 1:16;
Ef 3:1, ens.). Hy het voor koning Agrippa getuig (Hand 25;13,22; 26:2) en voor
goewerneurs (Hand 13:6). Paulus het gewoonlik eers in die Joodse sinagoge
gepreek en as hulle die evangelie verwerp, dan na die heidene gegaan (vgl. Hand
9:20; 13:44-46; 17:1-2; 18:4,6). Om sy Naam uit te dra behels die
bekendstelling van Jesus as die Seun van God wat vir ons sondes kom sterf het, uit
die dood opgestaan het om vir ons die pad na die ewige lewe oop te maak,
en aan die regterhand van God oor die ganse skepping regeer en dit onderhou.

9:16 Van die onwaarskynlikste man,
vervolger van Jesus se volgelinge, sê Jesus: 
‘En Ekself sal aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly
– Hoe sleg (hósa kakà) Saulus die Here se mense behandel het (8:13),
word gebalanseer met hoeveel hy moet ly (hósa dei pathein) ter wille van
die Here se Naam. Die vers begin met ’n beklemtoning deur die Here: ‘Ek, Ek sal
aan hom bekendmaak…’ Soos Jesus moes ly om ons verlossing te bewerk (Luk
24:26,46; Hand 17:3) moet Jesus se volgelinge ter wille van die evangelie ly (1
Kor 4:9-13; 2 Kor 1:5-7; Flp 1:29-30; 3:10; Kol 1:24). Jesus se lyding is vir
ons ’n voorbeeld, soos Paulus se lyding ook vir die gemeentes wat hy gestig het
’n voorbeeld was om te volhard in baie ontberings om in die koninkryk van God
in te gaan (Hand 14:22).  

9:17 Ananias wat in opdrag van die
Here moes kom, kom die huis binne. Die blinde Saulus word aan hom bekendgestel
deurdat hy sy hande op Saulus lê, soos Saulus in die visioen gesien het (9:12).
Hy sê ook vir Saulus dat die Here hom gestuur het – die Jesus wat aan hom
verskyn het op die pad waarmee hy gekom het – sodat hy weer kan sien, soos
Jesus aan Saulus in sy visioen gesê het. Daaruit is dit vir Saulus duidelik dat
Ananias alles weet wat met hom op die pad gebeur het. Ananias spreek hom in sy
moedertaal aan as ‘Saul,’ en voeg daaraan toe ‘broer’ wat beteken dat hy Saulus
in die gemeente verwelkom as ’n mede-broer in Christus (vgl. Hand 1:15). Met
die handoplegging word die Here se belofte vervul dat hy weer kan sien en met
die Heilige Gees vervul
word. Met die Heilige Gees wat in Saulus kom woon
verbind die Here Hom aan Saulus en neem Hy hom in diens as sy dienskneg en
getuie, sy gestuurde apostel (vgl. Hand 22:14-15; 26:16-18; Rom 1:1; 1 Kor 1:1;
2 Ko 1;1; Gal 1:1; Ef 1:1; Kol 1:1; 1&2 Tim 1:1; Titus 1:1). Saulus is die
Latynse naam vir Saul, sy Hebreeuse naam.

9:18 Onmiddellik val daar iets van sy oë af, soos vliese (wat sy oë teen die verblindende lig beskerm het?), of soos die skubbe van ’n vis of die skilfers van jou vel (lepís ’n skub of ’n skilfer) en hy het weer gesien (vgl. Luk 4:18) – na drie dae se duister waarin hy tot stilstand moes kom, sy opstand teen God bely het (vgl. 1 Kor 15:9-10; 1 Tim 1:13-14), sy woede teen die Jesus-gelowiges moes aflê en hy anders oor Jesus en sy volgelinge moes begin dink. Die man wat dreiging en moord in- en uitgeasem het (Hand 9:1), het later gelowige eienaars vermaan om hulle dreigemente teen hulle slawe te staak omdat hulle altwee dieselfde Here in die hemel het, wat niemand volgens die uiterlike beoordeel nie (Ef 6:9). Dit was drie dae vir besinning en aanvaarding van Jesus as die verwagte Messias van Israel en as die Here ook van sy lewe. Hy het opgestaan en is deur Ananias gedoop as die seël op sy kindskap van God. 9:19a Na drie dae se vas (9:9) eet Saulus weer en het hy sy liggaamlike en geestelike kragte herwin. Hy het later gesê: ‘As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het…’(2 Kor 5:17-18).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Saulus se bekering (Hand 9:1-9) – Francois Malan

9:1-2 Saulus
se dringende versoek (aiteō) aan die hoëpriester om vir hom lasbriewe
aan die sinagoges te gee vir die vervolging van ‘aanhangers van die Weg,’  Jesus se volgelinge in Damaskus, skep die
indruk dat hy die gelowiges in Jerusalem genoegsaam bang gemaak het met sy
doodsdreigemente (letterlik om ernstige doodsdreigemente uit te blaas: ‘hy het
dreiging en moord uitgeblaas’ of: ‘hy het dreiging en moord ingeasem,’empneō
word gebruik vir uit- en inasem). Maar sy ywer om hulle uit te roei het nie
bedaar nie, en hy wil as offisiële gesant van die hoëpriester ook in die
hoofstad van Sirië voortgaan om sy haat en moordlus teen die gelowiges te stil.
Volgens Hand 26:10-11 is daar gelowiges met Paulus se instemming vermoor, het
hy ook teen hulle gestem (letterlik: sy klippie teen hulle gebring) en was hy
rasend van woede teenoor hulle. Die teenwoordigheid van volgelinge van Jesus in
Damaskus getuig daarvan dat die Here reeds besig is om deur sy volgelinge die
evangelie daar te versprei – en Saulus wil dit ook daar probeer uitroei. 

Jesus het gesê
Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Joh 14:6). ‘Die Weg’ word in
Handelinge figuurlike gebruik vir die Jesus-beweging se gedrag volgens die
beginsels en optredes wat Christus geleer het. In Hand 18:25 word verwys na die
Weg van die Here; 16:17: die weg van verlossing; 13:10: die reguit paaie van
die Here; 18:26: die Weg van God; 1 Kor 4:17: my weë in Christus;  2 Petr. 2:2: die weg van die waarheid; 2 Petr
2:21: die weg van die waarheid. Met ‘die Weg’ verwys die ongelowiges na die
gelowiges (Hand 19:9 die Weg beswadder; 19:23 oproer in Efese oor die Weg;
24:14 hulle noem die Weg ’n sekte; 24:22: Feliks was goed bekend met die feite
van die Weg). Ook gelowiges verwys daarna – Paulus verwys na sy vroeëre
vervolging van die Weg in Hand 22:4.

Daar was
verskeie sinagoges van die Jode in Damaskus, en Saulus wil Joodse gelowiges
daar gaan uitsnuffel en geboeid na Jerusalem toe bring, met ’n groep van die
tempelwagte saam met hom (9:7; vgl. 4:1; 5:26). Hy voorsien dat hy mans en
vroue sal vasbind/arresteer en na Jerusalem toe bring vir verhoor en straf.

9:3 Terwyl
Saulus en sy manne op pad is na Damaskus om sy plan uit te voer met die
toestemming van die hoëpriester, gryp Christus self in. Skielik (soos die
engele in Luk 2:13) het daar ’n lig uit die hemel die gebied rondom Saulus en
sy reisgenote verblindend helder verlig (amper soos ’n weerligstraal wat net
aanhou skyn). Volgens Hand 22:9 en 26:13 het die mense by hom ook die lig gesien
en volgens 26:13 was dit helder oordag en was die lig helderder as die son.

9:4 Terwyl
Saulus in die verblindende lig op die grond val hoor hy ’n stem wat vir hom sê:
‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Die stem gebruik die Hebreeuse naam ‘Saul’
(‘geleen,’ die Latynse vorm daarvan is Saulus). Dit is die naam van die eerste
koning van Israel (1 Samuel 9:2). Dat hy op sy Hebreeuse naam genoem is
veronderstel dat die Here met hom in sy moedertaal gepraat het. Dat sy naam
tweemaal uitgeroep word, wys op die dringendheid van die roep en gee
uitdrukking aan die Here se verwyt. Dat Saulus die volgelinge van Christus
vervolg het en nou op pad is om daarmee voort te woed, word deur die stem
gesien as ’n direkte vervolging uit haat vir Christus self. Christus is besig
om sy evangelie oor die wêreld te versprei en gebruik sy volgelinge as sy
mondstuk en voorbeeld van die nuwe soort lewe in liefde wat Hy vir mense
moontlik gemaak het. Saulus se hele optrede en strewe word as ‘n vervolging van
Christus self gesien. Saulus het gedink hy beywer hom geheel en al vir die God
en godsdiens van Israel. Nou hoor hy uit die hemel dat hy teen die Here self
optree. Saulus is duidelik bewus dat ’n Persoon uit die hemel met hom praat.
Wie ’n Christen vervolg, vervolg vir Christus (vgl. Luk 10:16!)

9:5 Saulus
spreek Hom as Here aan. Kurios is ’n respekvolle aanspreekvorm vir
meneer, of eienaar, of heerser, en word ook gebruik vir ’n godheid, ’n
bonatuurlike wese wat gesag uitoefen oor mense. Met die hemelse lig en die stem
uit die hemel gebruik Saulus ‘Here’ hier respekvol vir ’n hemelse wese. Jesus
se antwoord: ‘Ek, Ek is (ego eimi) Jesus, wat jy vervolg – jou
doodsvyand wat jy wil uitdelg. Die beklemtoning van ‘Ek’ by die eerste
persoonsvorm van die werkwoord ‘Ek is’ eggo die ‘Ek is wat Ek is’ waarmee die
Here hom aan Moses bekendgemaak het in Eksodus 3:14-15, en Jesus Homself genoem
het in Johannes 8:58: Ek sê vir julle, ‘Ek is’ al van voordat Abraham gebore
is.  In 1 Korinthiërs 9:1 verwys Paulus
na hierdie ontmoeting en sê dat hy Jesus, ons Here, gesien het.

[ Manuskripte
uit die sesde en sewende eeu n.C. het woorde uit Paulus se weergawe van die
gebeure in Hand 26:14 en 22:10 in 9:5-6 ingevoeg, soos in die 1933 en 1953
Afrikaanse vertalings: ‘Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En
terwyl hy bewe en verbaas was sê hy: Here wat wil U hê moet ek doen?’ In die
ouer manuskripte ontbreek die gedeelte hier.]

9:6 Met
hierdie opdrag vanuit die hemel word Saulus se opdrag van die Joodse Raad
heeltemal gekanselleer. Die man wat na Damaskus toe jaag om die mense wat glo
dat Jesus uit die dood opgestaan het te gaan arresteer, gaan na Damaskus as
gearresteerde in opdrag van die opgestane Jesus. Die Jesus wat hy vervolg
beveel hom: ‘Staan op!’ Van nou af is die opgestane Jesus sy opdraggewer wat
hom sal lei: ‘en gaan na die stad en daar sal vir jou gesê word wat jy moet
doen.’ Sonder ’n gespesifiseerde opdrag moes hy gaan om daar sy verdere
opdragte te kry. Voortaan sal Jesus aan hom opdragte gee om uit te voer. Sy
lewe, wat hy tot nou toe self beheer het, sal nou deur Jesus beheer word, die
man wat later kon skryf: ‘So moet julle dan julleself beskou as dood vir die
sonde, maar in Christus Jesus lewend vir God…Julle moet ook nie meer julle
ledemate as wapens (instrumente) van ongeregtigheid tot beskikking van die
sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, moet julle
julleself tot beskikking van God stel, en julle ledemate as wapens van
geregtigheid tot beskikking van God’ (vgl. Rom 6:1-13). So groot is die
liefdesmag van God om ’n mens se lewe om te draai, en so groot sy genade dat Hy
sy kinders beskerm teen hierdie rasende wolf wat sy kudde in Damaskus kom
verskeur, en hom teen homself beskerm om van hierdie woedende leeu ’n gedweë
lam te maak wat aan die hand gelei moet word.

9:7 Saulus se
begeleidingskommando wagte het sprakeloos van skrik en vrees daar gestaan,
want hulle het die stem/geluid gehoor maar niemand gesien nie.  (Die Israeliete het by Sinaiberg toe die Here
met hulle gepraat het die klank van die woorde gehoor, maar niemand gesien nie,
Deutr 4:12; vgl. Eks 20:18-19). Saulus se metgeselle was getuies dat daar iets
groots gebeur het, maar was nie getuies van Jesus vir wie Saulus gesien het en
mee gepraat het nie (in Paulus se weergawe daarvan voor die volk in Hand 22:9
word dit: ‘hulle het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van
Hom wat met my praat nie;’  in sy
weergawe voor koning Agrippa in Hand 26:14 word dit: ‘toe ons almal op die
grond val, hoor ek ’n stem wat vir my in die Hebreeuse dialek sê:’…; Dit
is kleiner besonderhede wat verskil, maar die punt is dat sy metgeselle nie
deel gehad het aan die openbaring van die verheerlikte Messias wat slegs aan
Saulus gegun is nie. Moontlik het hulle slegs Saulus se woorde teenoor Jesus gehoor.
Met Daniël se laaste visioen het die mense by hom dit ook nie gesien nie, maar
was so skrikbevange dat hulle gevlug en weggekruip het (Dan 10:7).

9:8 Saulus
gehoorsaam die bevel van Jesus om op te staan (9:6), maar toe hy sy oë oopmaak
na die verblindende lig om hulle verdwyn het, kon hy niks sien nie. Sy
metgeselle moes hom toe aan die hand Damaskus inlei.  Die leier van die tempelwagte, wat moes help
om Jesus-volgelinge uit te snuffel en uit Damaskus na Jerusalem toe te sleep,
word deur hulle aan die hand die stad ingelei, ’n hulpelose blinde. Saulus se
sending is met geweld uit die hemel beëindig.

9:9 Vir drie dae het die Here Saulus tot stilstand gebring met oë wat nie kan sien nie. Daarby het hy drie dae lank gevas. Die Here het vir hom ’n tyd geskep om die openbaring wat hy ontvang het in sy gesprek met die opgestane en verheerlikte Jesus, te deurdink. Dit het hom tot bekering geruk uit sy verstarde Joodse denke oor God en tot ’n erkenning van sy sonde teen God (vandaar sy drie dae vas voor God). ’n Nuwe wêreld het vir hom oopgegaan in sy ontmoeting met die ware lig wat elke mens verlig (Joh 1:9). Wat hy tot nou toe beskou het as godslastering (Hand 6:11), is toe altyd ’n lastering teen die ware God en sy genade. Stefanus se gesig van Jesus aan die regterhand van God, waarvoor hy sy ore toegedruk het en doodgeskreeu het (Hand 7:56-57), het Saulus nou met sy eie oë gesien! Sy eie denke en geloof oor God en sy stryd teen die Weg was toe altyd ’n veldtog teen God self. Jesus, wat vir hom ’n valse messias was, was toe waarlik die hemelse Here wat nou aan hom in goddelike heerlikheid verskyn het. Jesus van Nasaret het toe waarlik uit die dood opgestaan! Die Here oor alle lewe het hom nie uit die lewe weggeruk nie, maar uit genade aan hom ’n opdrag gegee om op te staan, en wat Jesus van hom verwag sal aan hom verduidelik word. Vir die besinning en omkeer in sy gedagtes en lewe het die Here hom in die lewe gehou.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Filippus en die hofdienaar van Ethiopië (Hand 8:26-40) – Francois Malan

8:26 Lukas keer met sy verhaal
terug na Filippus. Die Here stuur sy engel/hemelse boodskapper (vgl. by 8:29)
na Filippus om aan Hom ’n opdrag te gee om op ’n spesifieke tyd, op ’n
spesifieke plek met ’n spesifieke mens te gaan praat (vgl.  Ps 31:16 sê: ‘my tye is in u hand;’ Ps 139:3
‘My omswerwinge en waar ek rus, U het dit afgemeet). Mordegai laat weet vir
Ester: ‘miskien is dit juis op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het’
(Ester 4:14).

Daar is ’n aantal woordspelings in
die Griekse teks:  Die engel sê: ‘Staan
op! (2014 vertaling: Maak gereed!) en gaan na die suide…’ (kata mesêmbrian kan
‘na die suide’ beteken, of ‘teen die middaguur.’ Waarskynlik word altwee
bedoel, dat hy teen die middaguur in die suide moet wees.

‘Gaan…met die pad wat afloop
van Jerusalem na Gasa. Dit is verlate’ (erêmos woestyn,
wildernis, eensame plek, verlate, sonder inwoners). ‘Afloop:’ Jerusalem lê in
die Judese hoogland en Gasa op die Middellandse seevlakte by die suidgrens van
die destydse Palestina en die begin van die woestynpad deur die Negev na
Egipte. Die woord negev ‘droë’ verwys ook na die suide (1 Sam 27:10). ‘Dit’ kan
na die verlate pad of na die verlate stad Gasa verwys – ‘dit’ (haútê vroulike
vorm, ‘pad’ (hodós vroulike woord) en ‘Gasa’ (gaza vroulike woord)
is in Grieks aldrie vroulik.

Die Here Jesus stuur Filippus weg
uit sy vrugbare bediening in Samaria na die verlate pad. Die Griekse woord gazabeteken ‘skat,’ soos in staatskas, die reserwebank. Op die eensame
pad na Gasa ontmoet Filippus op die middaguur se hitte die eensame reisiger,
hoof van die staatskas van die Ethiopiese koningin. Met die woordspel op Gasa
met twee betekenisse dui Lukas die bestiering van die Here aan. ’n Reis wat vir
Filippus sinneloos moes gelyk het, is deur die Here die uitverkore tyd en plek
vir sy openbaring (vgl. bv. onverwagte tye van die Here se openbaring: Paulus
se bekering teen die middaguur, Hand. 22:6; Matt 25:6 se middernag wat die
bruidegom kom, so ook van Paulus en Silas se middernagtelike gebed en sang in
die tronk, Hand 16:25; die vierde nagwaak 3-6vm wat Jesus op die see aangestap
kom na die dissipels wat worstel teen die wind, Markus 6:48; die vroue wat baie
vroeg op die eerste dag van die week by Jesus se leë
graf aankom, Mark 16:2; laat en op ’n verlate plek voed Jesus die skare, Matt
14:15; die Emmausgangers wat Jesus onverwags herken toe die dag al verby is,
Luk 24:29; laat-aand in die geslote kamer verskyn Jesus skielik aan sy
dissipels, Joh 20:19, ens.)   

8:27 Filippus gehoorsaam die opdrag
van die engel, staan op en gaan. ‘En kyk!’ Lukas wys na Filippus se verrassing
oor die ingryping van die Here: ’n swartman van Ethiopië (Jer 13:23),
die eerste man uit Afrika wat gedoop word; daarby ’n eunug – ’n
ontmande, wat volgens Deuteronomium 23:1 nie lid van die gemeente van die Here
mag wees nie (die opsigters oor ’n harem in die Ooste is ontman, en sommige van
die hofdienaars); ’n minister van die kandake (’n titel soos farao) vir die
koningin van Ethiopië – Ethiopië was destyds deel van die Soedan, wat oor ’n
wye gebied van Afrika versprei was. Ethiopië het ’n reeks koninginne gehad wat
oor hulle regeer het; en omdat sy ’n koningin was sou haar hoë amptenare
waarskynlik ontman wees – hy was oor al haar skatte (gazas) aangestel,
haar minister van finansies. Die man het na Jerusalem gekom om te aanbid.

Waarskynlik was hy ’n godvresende
wat in aanraking gekom het met die Jode in die suide van Egipte, en hulle God
aanbid het. Teen 570 v.C. was daar reeds ’n Joodse nedersetting op Elefantine
gevestig. Dit was ’n eiland in die Nyl, deel van die stad Aswan naby die
destydse grens tussen Egipte en Soedan. Die papiri wat sedert 1893 daar
opgegrawe is, het o.a. briewe wat in 410 v.C. hulp vra met die herbou van hulle
tempel wat deur die priesters van Khnum, ’n Egiptiese god, verwoes is. Jode het
hulle in Egipte gevestig toe hulle in 585 v.C. vir Nebukadnesar gevlug het (2
Kon 25:26, vgl. Jer 43;4-7).

Of die Jode in Jerusalem die eunug
in die voorhof van die heidene toegelaat het, is nie seker nie. Maar die besoek
het skynbaar nie so goed verloop soos hy gehoop het nie, want hy ry nie met die
beter besige pad tussen Jerusalem en Gaza nie, maar met die eensame pad in
die hitte van die middag
, wat lyk asof hy mense probeer vermy omdat hy
beskaamd terugry Ethiopië toe. Ps 68:32 se voorspelling dat die Kussiete
bronsware uit Egipte eiehandig en haastig vir God bring, begin weer eens in
vervulling gaan. 

8:28 Op pad terug van Jerusalem af
met sy oordekte wa wat rustig deur perde getrek is sodat hy kon lees, het die
man die profeet Jesaja hardop gelees, soos destyds gebruik was. Moontlik
het hy ’n kopie van die Jesajaboekrol in Jerusalem bekom. Boeke het eers teen
die einde van die eerste eeu die moeilik hanteerbare boekrol begin vervang.
Alles is met die hand afgeskryf van ’n ouer manuskrip af en was duur, wat so’n
hoë amptenaar egter sou kon bekostig.

Jesaja is die enigste boek in die
Ou Testament wat goeie nuus het vir eunugs wat die Here dien: ‘’n
Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. So sê die Here
aan die ontmandes…Ek sal in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam
wat beter is as seuns en dogters… en ’n naam wat nie uitgewis sal word nie …
want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke’ (Jes
56:3-7). Die laaste gedeelte is deur Jesus aangehaal  toe Hy die tempel gereinig het (Luk 19:46).
En nou begin die profesie van Jesaja ook vervul word.

8:29 Die Engel of boodskapper van
God word hier die (Heilige) Gees genoem. Soos Hy aan Filippus die eienaardige
opdrag gegee het om na die eensame pad na Gasa toe te gaan (8:26), wys Hy nou
wat die rede was vir die opdrag. Nou word Filippus beveel om by die wa te bly
(kollaomai beteken om vas te klou aan, of om aan te sluit by). Die Gees
wat Filippus reeds vervul het oor sy verkiesing as helper vir die apostels
(Hand 6:3) en in hom woon om hom te lei, oortuig hom van die doel van sy
sending na hierdie vername man toe. Uit homself sou hy vir seker nooit so iets
bedink het nie.

8:30 Filippus gehoorsaam en sien
nie alleen die man nie, maar hoor ook waaroor hy met hom moet praat. Die Here
het klaar gesorg vir die aanknopingspunt. Haastig hardloop hy na die wa toe,
hoor die man hardop lees uit die profeet Jesaja en vra hom of hy werklik begryp
wat hy lees (ara en ge waarmee die sin in Grieks ingelei word
beteken albei ‘werklik’ ‘inderdaad’ en is aan die begin van die frase na mekaar
gestel om die vraag te beklemtoon). Verstaan hy werklik die betekenis van die
profesie van Jesaja (en die vervulling daarvan deur Jesus)? Die man lees
waarskynlik ’n Griekse weergawe van Jesaja, in die wêreldtaal van destyds, wat
ook in Ethiopië deur ’n minister, wat buitelandse kontakte vir sy land moes
onderhou, gepraat het. Die woorde van die Griekse vraag behels ’n paronomie
(woorde wat eners klink): ginōskō verstaan’ jy wat jy anaginōskō ‘lees?’Die
woordspel wat die Heilige Gees aan Filippus gegee het (vgl. Luk 12:12) sou die
Ethiopiër se belangstelling in Filippus se mening geprikkel het. 

8:31 Die Ethiopiër antwoord: ‘Hoe
sou ek kon as nie iémand vir my verduidelik nie’ (hodêgeō om
iemand te lei om kennis te verkry). Dit klink soos ’n aanklag dat niemand in
Jerusalem die profesie vir hom kon verduidelik nie. Dit blyk ook dat die
Heilige Gees die begeerte om die profesie beter te verstaan by hom gewek het.
Hy nooi Filippus om verder saam met hom te ry: hy het ‘Filippus genooi om op
die wa te klim en by hom te kom sit’ om vir hom te kom inlei in die boodskap
van Jesaja.

8:32 Die gedeelte wat die Ethiopiër
besig was om te lees en waaroor hy getob het, is die Griekse weergawe van
Jesaja 53:7b-8a, wat hier aangehaal word. Maar Lukas haal die woorde van die
Jesaja verkeerd aan. In die Septuaginta (die Griekse vertaling van die Ou
Testament) en die Hebreeuse teks van Jesaja wat deur die Afrikaanse Bybels
gebruik is, staan: Die lam wat geslag word en die skaap wat geskeer word. In
Handelinge se vers 7b ruil Lukas dit foutiewelik om as die skaap wat geslag
word en die lam wat geskeer word.

Vers 33 lewer groter probleme op:
die Hebreeus en die 1983 Afrikaanse vertaling lui: ‘terwyl hy gely het en
gestraf is, is hy weggeneem.’ Dit word in die Septuaginta en in Handelinge: ‘in
vernedering is regspraak hom ontneem.’

Hebreeus: ‘Maar sy geslag – wie kon
vertel dat hy uit die land van die lewendes afgesny is; vir die oortredings van
my volk was die plaag op hom gelê (1983-Afrikaans: ‘en wie van sy mense het dit
ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf
oor die sondes van my volk). Septuaginta: ‘wie sal sy geslag ten volle vertel,
want sy lewe is van die aarde af weggeneem; oor die sondes van my volk is hy
tot die dood gelei.’  Handelinge het net
die eerste deel van die Septuaginta: en wie sal sy geslag ten volle vertel,
want sy lewe is van die aarde af weggeneem.

Die beeld van die lam en die skaap
verduidelik die gelatenheid waarmee die Kneg van die Here van Jesaja
52-53 sonder teenspraak sy lyding sou verduur.

‘Is hy weggeneem’ word vervang met
‘sy regspraak word hom ontneem,’ maar kom later voor in ‘sy lewe is van die
aarde af weggeneem.’

Niemand kan sy geslag, die mense
wat aan hom behoort, ten volle beskryf nie, hoe en hoeveel sy volgelinge sal
wees nie, so baie sal hulle wees en so anders hulle manier van lewe, omdat hy
deur die opstanding van die aarde af weggeneem word.

Die Here het die Ethiopiër gelei om
juis op dié oomblik oor die kernteks van die verlossing na te dink.
Jesaja se profesie is egter redelik onduidelik vir iemand wat nie weet van
Jesus se plaasvervangende dood en sy opstanding uit die dood nie.

8:34 Hoflik en beskeie pleit die
hoë amptenaar by Filippus (deomai dringend vra omdat daar ’n nood is):
oor wie sê die profeet dit? Is Jesaja self die Kneg van die Here van wie hy
hier praat, of iemand anders? Vir alle ongelowiges, Jode en nie-Jode, was dit
deur die eeue die vraag rondom Jesaja 53, omdat hulle nie aanvaar dat Jesus God
se beloofde Messias is wat as die Seun van God vir ons sonde as Kneg van die
Here
gesterf het en die dood vir ons oorwin het nie.

8:35 Vir Filippus was die vraag ’n
welkome aanknopingspunt om Jesus as die goeie nuus aan hom te verkondig.
Die man van wie Jesaja praat is Jesus! Die kernwoorde van dié Skrifgedeelte
verwys na Jesus as die Kneg van die Here wat sy onregverdige dood in stilte
aanvaar het, dat Hy uit die dood opgestaan het en na die hemel opgevaar het.
Dit blyk uit 8:36 dat hy ook die ryke betekenis van die doop verduidelik het.

8:36 In die dorre landstreek
waardeur hulle reis is daar nie baie water nie. By een van die wadi’s het die
Here op dié tydstip beskik dat hulle by water uitkom. Die ontmande sien die
water en vra wat verhinder dat hy gedoop word. Uit Filippus se
verkondiging weet die man blykbaar dat geloof in Jesus as Verlosser van jou
sonde en om Hom te volg, deur Hom bevestig word deur die doop in sy Naam.
Anders as die Joodse wet, verhinder Jesus niemand wat Hom wil volg nie. Jesaja
45:22 sê reeds: Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde.
Jesaja 56:3-6 sluit die ontmandes wat die Here wil dien daarby in.

[Vers 37 makeer in die oudste
manuskripte, bv. Papirus 45 uit ongeveer 225 n.C., kodeks Sinaiticus ongeveer
325 n.C., kodeks Vatikanus ongeveer 350 n.C., ens. Die eerste manuskrip wat die
vers opgeneem het is kodeks E uit die vroeë seshonderd jaar n.C. maar is reeds
aangehaal deur Ireneus in 202 n.C. Die teks lui: ‘En Filippus het gesê: As jy
met jou hele hart glo, kan jy gedoop word. En hy het geantwoord en gesê: Ek glo
dat Jesus Christus die Seun van God is.’]

8:38 Uit die bevel van die
hofdienaar dat die wa moet stilhou kan afgelei word dat daar ’n drywer van die
wa was aan wie die opdrag gegee is. Filippus en die ontmande klim altwee af tot
in die water waar Filippus hom doop. 

8:39 Onmiddellik na die doop gryp
die Gees van die Here andermaal in deur Filippus skielik weg te neem  (harpazō gryp, skielik wegneem), hoe
word nie gesê nie, maar die eunug kon hom nie meer sien nie, maar mense van die
stad Asdod, noord van Gasa, het hom daar gesien.

Die Here het die hofdienaar van
Ethiopië aangeneem en daarom kon hy sy reis met blydskap voortsit. Dink
daaraan, ’n eunug wat ten spyte van sy liggaamlike toestand deur die doop en
Gees ’n volwaardige lid van die nuwe volk van God geword het. Lukas se
Evangelie en Handelinge vertel telkens van die vreugde wat geloof in die Here
Jesus veroorsaak (bv. Luk 19:6 Saggeus se blydskap; 19:37 die skare se
blydskap; Hand 11:23 Barnabas se vreugde; 13:48 heidene wat die woord aanneem;
13:52 die
dissipels vervul met blydskap;
15:31 Antiogië se vreugde). Galasiërs 5:22 sê: vreugde is die vrug van
die Heilige Gees se inwoning in die gelowige (vgl Rom 14:23;1 Thess 1:6).

8:40 Filippus is egter in Asdod gevind waar hy voortgaan om die evangelie te verkondig. Die ou Filistynse stad lê 32 kilometer noord van Gasa. Die passiewe werkwoord ‘is gevind’ kan ook refleksief vertaal word, dat hy homself daar bevind het, en dat hy nie tydens sy wegrukking bewus was van wat met hom gebeur nie, maar dat dit net ’n oombliklike oorstap uit die wadi in die stad Asdod 32 kilometer verder was, soos gesuggereer deur die woord dat die Gees hom skielik ‘gegryp het’ in vers 39 (vgl. hoe Petrus dog hy droom toe hy uit die tronk verlos is, Hand 12:9,11; Paulus in 2 Kor 12:2-4). Van Asdod af stap Filippus noord en verkondig die evangelie in elke dorpie wat hy deeglik deurgaan (vgl. dierchomai in 8:4) tot by Sesarea aan die see. Op die pad lê bv. die dorpe Lidda en Joppe waar Petrus later gemeentes vind (Hand 9:32, 36). Sesarea (Kaisaria die stad van die Kaisar/Caesar) was die woonplek van die Romeinse goewerneur. Hier kom Petrus om vir die heidense hoofman Kornelius en sy nie-Joodse vriende die evangelie te verkondig en hulle te doop (Hand 10). Filippus werk vir baie jare in Sesarea. Met Paulus se terugkoms van sy derde sendingreis op pad na Jerusalem, bly hy ’n paar dae by Filippus in Sesarea (Hand 21:8-9,16). Paulus bly daarna vir twee jaar in die gevangenis in Sesarea waar sy eie mense vir hom kon sorg (Hand 24:23,27). Die stad word later ’n belangrike sentrum van die Christelike teologie waar die kerkvader Origenes vanaf 230 n.C. die leier word van die Bybelskool, en hom toelê op die verklaring van die Skrif.  Eusebius 265-339 n.C. brei die biblioteek uit, wat Origenes begin het, en skryf sy ‘Kerkgeskiedenis’ in 10 boeke verdeel, wat tot 324 n.C. strek.

Skrywer: Prof Francois Malan