Die Handelinge van die Apostels: Saulus vervolg Jesus se volgelinge (Hand 8:1b-3) – Francois Malan

8:1b Direk na die moord op Stefanus,
‘op daardie dag,’ bars ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem los
en Jesus se volgelinge word verstrooi deur die gebiede van Judea en Samaria.
Die groeiende gemeente wat tot nou toe in guns was by die volk (Hand 2:47), kon
nie langer rustig in Jerusalem voortgaan nie. Die Here gebruik die vervolging
van sy volgelinge om sy belofte te vervul: ‘julle sal krag ontvang wanneer die
Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem en in die
hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde’ (Hand 1:8). Later sou
hulle verder as Judea en Samaria gaan (Hand 11:19). In Jerusalem is hulle met
die Heilige Gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig
(Hand 4:31). Maar nou vlug hulle uit Jerusalem en word verstrooi deur die
gebiede van Judea en Samaria. Tertullianus het gesê: die bloed van die
Christene is die saad van die kerk. Dit lyk asof dit hoofsaaklik die liberale
Hellenistiese Jode was wat moes vlug, en dat van die meer konserwatiewe
Hebreeuse Jode, wat nog die tempeldienste besoek en die Joodse gebedstye gehou
het, in Jerusalem agtergebly het, soos later in Handelinge blyk (Hand 11:1;
15:2; vgl. ook 1 Kor 16:3). Die apostels het voorlopig nog in Jerusalem gebly
en die gemeente daar versorg.

8:2 Manne wat aan God toegewy gelewe
het, het Stefanus begrawe en ’n groot rou oor hom gehou, as die eerste
Christen martelaar
vir sy getuienis oor Jesus. ’n Gestenigde moes op dieselfde
dag begrawe word om die land nie te ontheilig met sy lyk nie (Deutr 21:23).
Maar oor ’n gestenigde mag, volgens die Joodse wet, nie gerou word nie. Hierdie
rou oor Stefanus bewys egter sy onskuld en dat hy onskuldig vermoor is. 

8:3 As teenbeeld van die vromes wat
Stefanus begrawe en oor hom gerou het, tree Saulus verwoed op teen al wat
Jesus-volgeling is. Hy verbreek die huisreg deur hulle van huis tot huis in
Jerusalem uit te snuffel en tronk toe te sleep in ’n poging om die
Jesus-beweging te vernietig
(Gal 1:13,23 vgl. Hand 15:9; Flp 3:6; 1Tim
1:13). Dit het vroue ingesluit, soos hy self erken het (Hand 9:2; 22:4). Hy het
geweet dat vroue ’n groot rol in geloofsake speel.

Filippus preek die evangelie in Samaria (Hand 8:4-13)

8:4 Die gelowiges, wat deur die
vervolging in Jerusalem verstrooi is in die streke van Judea en Samaria (8:1),
het rondgetrek (dierchomai het die gedagte van ‘n deeglike en verspreide
deurgang van plek tot plek) en die goeie nuus oor Jesus verkondig. Terwyl
Paulus in die stad van die oorsprong van die evangelie voortwoed, laat God sy
goeie boodskap in die wêreld versprei deur die vlugtelinge. Hulle vlug
word ’n sendingtog. Die boodskap oor Jesus se opstanding uit die dood, en dat
Hy aan die regterhand van God sit, waarvoor die Raad hulle ore toegedruk het en
probeer het om dit met klippe uit te roei, kry nou ’n wye gehoor. Jesus het
vroeër die twaalf uitgestuur om Galilea te deurreis om die koninkryk van God en
die evangelie te gaan verkondig in een dorpie na die ander (Luk 9:2,6) en later
die 72 na elke dorp en plek in Judea en Perea (Luk 10:1). Nou stuur Hy die
skare vlugtelinge uit, wat vervul was met die Heilige Gees (vgl. Hand. 4:31),
deur hulle te verstrooi deur die streke van Judea en Samaria. Hulle verkondig
die Woord dat Jesus uit die dood opgestaan het en oor die heelal regeer.  So vervul Jesus sy belofte in Handelinge 1:8
‘Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my
getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde
van die aarde.’

8:5 Lukas gee vir ons slegs enkele
voorbeelde van die werk van die verstrooides. Een voorbeeld is die getuienis
van Filippus, een van die sewe gekose dienaars wat later in Sesarea ‘die
evangelis’ genoem word (Hand 6:5; 21:8). Hy het na ’n stad in Samaria gegaan en
‘die Christus’ aan hulle verkondig. Die Samaritane het, soos die Jode,
gelewe in die verwagting van ’n Messias, ’n spesiale agent van God. Hulle het
hom Taheb ‘die een wat herstel’ genoem. Daarom gebruik Lukas hier die woord
‘die Christus’ – die Griekse vertaling van die Hebreeuse Messias, die Jode se
verwagte verlosser. Die Samaritane se Bybel het slegs die eerste vyf boeke van
die Ou Testament gehad. Op die berg Gerisim van Genesis 27:12, het hulle ’n
altaar gebou en later ’n tempel, wat deur die Siriese koning Antiochus IV aan
Zeus gewy is en toe deur die Joodse koning Johannes Hyrkanus afgebreek is.
Hulle verwagting van die koms van Taheb het gespruit uit die belofte van ’n
profeet soos Moses in Deutr 18:5. Die dorp Sigem is naby Gerisim, en word met
die dorp Sigar van Joh 4:5,20 geïdentifiseer. Die dorp kon moontlik die stad in
Samaria gewees het waarheen Filippus gegaan het.

8:6 Voorop in die Griekse sin, met
beklemtoning, staan proseichon ‘hulle het met aandag geluister, met die
implikasie dat hulle die woord aangeneem het.’ Daarby word die woord homothumadon
‘eensgesind’ gebruik (wat tien keer in Handelinge voorkom) om die positiewe
reaksie van die dorpie se skare op Filippus se woorde en die tekens wat hy
gedoen het, te beskryf  (vgl. vers 7).
Soos by Jesus en die apostels bevestig die tekens die woordverkondiging (Hand
1:1; 2:42-43). Soos in Hand 3:16; 9:34 is dit ‘die Christus (God se Gesalfde)’
wat deur sy gestuurdes die wonders doen as tekens van die Gesalfde koning
Jesus se heerskappy wat begin deurbreek
(vgl. Hebr 2:3-4). Indien die
dorpie in Samaria juis Sigar is, is die inwoners reeds deur Jesus se vroeëre
prediking daar voorberei (Joh 4:39-42), toe die vrou by die put vir die
Samaritane gesuggereer het dat Jesus ‘die Christus’ kan wees (Joh 4:29). Nou
het hulle gehoor dat Jesus opgestaan het en vanuit die hemel regeer. Hulle
eensgesinde reaksie verskil van Jerusalem se inwoners se teenstrydige reaksies
van geloof en ongeloof.

8:7 Die wondertekens wat deur Filippus
gedoen is word beskryf: baie mense wat onrein geeste gehad het wat die beheer
oor hulle lewe oorgeneem het, is daarvan verlos en die onrein geeste het
telkens met ’n groot geskreeu uit hulle uitgegaan; talle verlamdes en kreupeles
is ook deur Jesus genees (vgl. Luk 10:9,17; ook Mark 9:28-29/Matt 17:19-21).
Die eerste teken is gehoor toe die bose geeste uitgaan en die tweede is gesien
toe verlamdes en kreupeles loop.

8:8 Die skare se aanvaarding van die
goeie boodskap wat Filippus gebring het, die mense wat van die bose geeste
verlos is en die verlamdes en kreupeles wat weer kon loop, het die mense van
dié Samaritaanse stadjie met vreugde vervul. Die egtheid van die Samaritane se
geloof blyk uit hulle vreugde as eggo van die vreugdeboodskap wat
Filippus gebring het (die woord euangelizomai wat vir ‘verkondig’  in vers 4 gebruik is behels die oordrag van
die goeie nuus, die evangelie van die verlossingwerk van Christus wat alleen
ware vreugde kan bring).

8:9 Die nuwe toneel begin met ’n
sekere man, genaamd Simon. Voordat Filippus daar aangekom het, het Simon in die
stad magiese kunste beoefen en die bevolking van Samaria grootliks verstom,
sodat hy hulle oorweldig het. Hy het beweer dat hy iets besonders is.
(Justinus die martelaar wat ongeveer 100 n.C. in Samaria gebore is, op 30
jarige ouderdom tot bekering gekom het, en in 165 n.C. in Rome onthoof is oor
sy geskrifte en verdediging van die evangelie teen die filosowe, het Simon
beskryf as ’n groot towenaar wat sy kuns met die krag van demone beoefen het,
en beweer het dat hy die verskyning van die hoogste god is). Dat Simon beweer
het om iemand besonders te wees met sy bonatuurlike kennis en kragte, verwys na
’n soort superwese, ’n soort goddelike mens – moontlik die Samaritane se
verwagte Taheb? (vgl. vers 10). Die landstreek Samaria was bekend vir bygelowe
wat die mense verkneg het, en daarvan moes die evangelie van Christus die mense
kom verlos. 

8:10 
‘Almal (in die stad/streek), van klein tot groot (’n idioom wat na al
die inwoners verwys) het steeds in hom geglo en gesê: hy is die krag van Godwat die groot (krag) genoem word.’ ‘Die Groot Krag’/hé dunamis hê
megalê,
was ’n naam vir die hoogste God (vgl. Mark 14:62 ‘die Magtige/dunamis’).Die mense het Simon blykbaar as die menslike openbaring van god beskou. So
wou die mense van Listra ook later vir Barnabas en Paulus as gode begin vereer
(Hand 14:11-13).

8:11 ‘Hulle het hom aangehang omdat hy
vir ’n geruime tyd al met sy magiese kunste hulle verwonderd gelaat
het.’  Die herhaling van wat reeds in die
vorige twee verse gesê is, versterk net die beskrywing van wat daar in die stad
vir ’n lang tyd aangegaan het.

8:12 Toe hulle egter geglo het in die goeie boodskap van verlossing in die Naam van Christus wat Filippus verkondig het oor die koninkryk van God, is hulle gedoop, mans sowel as vroue (die imperfektum werkwoord wys die doop het voortgegaan soos die mense tot bekering gekom het).Die Naam van Christus verwys na sy reputasie as die Verlosser uit die bande van sonde en siekte en demone, deur sy lewe, sterwe en opstanding. Anders as die Jode se besnydenis van seuns en mans alleen, is Jesus se verlossingswerk vir alle mense om hulle lewe te onderwerp aan die koninklike heerskappy van God se Christus/Gesalfde Koning aan God se regterhand (Luk 22:69). 8:13 Ook Simon het geglo, en nadat hy gedoop is het hy heeltyd by Filippus gebly, en toe hy die tekens en groot kragte  sien wat gebeur, was hy verbaas. Soos Simon die bevolking met sy toorwonders verbaas het, word hy nou verbaas deur die wonders wat die Gees deur Filippus verrig, wat sy wonders ver oortref.

Skrywer: Prof Franxois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Stefanus word gestenig (Hand 7:54-8:1a) – Francois Malan

Die reaksie van die Joodse
Raad op die toespraak van Stefanus is ’n finale bevestiging van sy aanklag teen
Israel in Hand 7:51-52. Soos Israel in die verlede God se boodskappers verwerp
en vermoor het, so het hulle Stefanus se woorde verwerp en hom doodgemaak
om alle getuienis oor Jesus te probeer uitroei. Die slotwoorde in 8:1a is ’n
inleiding tot hoofstuk 9 se verhaal oor Saulus. 

7:54 Die ‘hulle’ waarvan die
teks praat verwys na ‘almal wat in die Sanhedrin gesit het’  (vgl. Hand 6:15). Met ’n Joodse uitdrukking
‘om op die tande te kners oor iemand’ word hier verwys na ’n geweldige emosie,
na die felheid van hulle woede wat hulle innerlik verteer (soos in Ps
35:16; 37:12; 112:10). Die teenwoordige lede van die Joodse Raad het innerlik
briesend geword (Letterlik: ‘deurgesaag in hulle harte’) en op hulle tande
gekners as uitdrukking van hulle intense woede oor Stefanus se getuienis oor
Jesus en sy aanklag teen hulle. Die grond vir hulle woede is die omkering van
hulle posisie as regters oor oortreders. Hulle staan nou voor Jesus en sy
volgelinge as húlle regters wat hulle beskuldig as oortreders van die wet van
God, waarvan hulle juis vir Jesus en Stefanus valslik beskuldig het. Die Raad
word deur Stefanus aangekla as rebelle teen God en moordenaars van God se
beloofde Messias. Die Raad vergeet dat hulle as regverdige regters moet optree.
Soos in Jesus se verhoor laat hulle hulle lei deur hulle woede-emosie (vgl.
Mark 14:65). 

7:55 Lukas teken twee
indrukwekkende beelde: Die Raad se innerlike woede teken hy met knersende tande
teen Stefanus en stel daarteenoor Stefanus wat rustig om hulp stip na die hemel
kyk. Pas voor sy martelaarskap open die hemel vir hom om hom innerlik te
versterk. Soos die drie apostels op Jesus se berg van verheerliking (Luk 9:32)
en later Paulus (Hand 22:6) sien Stefanus die glansende heerlikheid (doksa)
wat van God uitstraal en in dié glans sien hy vir Jesus wat aan die
regterhand van God staan as Regter oor die ganse skepping om sy getuie te
ondersteun en eervol in die hemel te ontvang. So mag ’n Christen wat sterf die
vreugde van sy Here jubelend ingaan (vgl. Judas 24). Dat Stefanus op die
oomblik in die besonder deur die Heilige Gees vervul is, het hom in staat
gestel om die geopende hemel te sien, die ligglans wat uit God straal en dié
Jesus wat hulle vermoor het, maar uit die dood opgestaan het en, soos Hy aan
hulle beloof het, aan die Regterhand van God is (Luk 22:69). 

 7:56 Soos Jesus aan die Joodse Raad verklaar
het: ‘Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die
Magtige…(Mark 14:62; vgl. Luk 22:69), sê Stefanus aan dieselfde Joodse Raad:
‘Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand
van God
staan.’ Die ou wêreldbeeld het drie lae hemel: wolkehemel,
sterrehemel, en die derde hemel waar God woon. Die drie word vir Stefanus
geopen om die Seun van die Mens van Daniël 7:13-14 te sien staan. Hy is
Stefanus se opdraggewer en sy getuie voor die Raad om hom te versterk in sy
getuienis en martelaarskap en hom te verwelkom in die hemel by God. Toe Jesus
dit voor die Raad verklaar het, het hulle Hom tot die dood veroordeel oor
godslastering (Mark 14:64).

7:57 By die aanhoor van vir
hulle godslastering, skreeu hulle Stefanus se woorde dood, druk hulle ore toe
om dit nie verder te hoor nie en storm op hom af, homothumadon ‘soos een
man.’ Dieselfde woord is in Hand 1:14 gebruik vir die groep wat van Jesus se
hemelvaart teen die Olyfberg teruggekom het en eensgesind in gebed tot God
volhard het – hier van die Raad wat almal op hom afstorm in hulle eensgesinde
volharding teen God
). Sonder beredenering of uitspraak handel die
Raad nie soos regters nie, maar storm soos ’n moordbende op Stefanus af, en
sleep die mense wat na die hofsaak kom luister het waarskynlik saam met hulle.
Dit word ’n massa optrede teen die nuwe Jesusbeweging.

7:58 Soos Jesus word Stefanus
buite die stad uitgegooi, soos Deuteronomium 17:5 voorskryf (Num
15:35; vgl. Jesus se gelykenis in Luk 20:15; ook Hebr 13:11-12). Vir
godslastering skryf Levitikus 24:14 die doodstraf met steniging deur die hele
gemeente voor. Die vals getuies teen Stefanus (Hand 6:11,13) moes volgens Deutr
17:6-7 die vonnis begin voltrek en daarna moes die hele volk dit help uitvoer.
So is ook met Paulus in Listra gedoen na aanhitsing deur die Jode teen hom
(Hand 14:19). Sagaria, die laaste profeet wat in die Hebreeuse Bybel genoem
word, is egter in die voorhof van die tempel gestenig (2 Kron 24:21; vgl. Matt
23:35).

Die getuies het hulle klere
aan die voete van die jongman Saulus neergesit om dit vir hulle op te pas.
Later sou die hele stad die einste Paulus gryp en hom uit die tempel sleep
(Hand 21:30), skreeu en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi,  so woedend was hulle vir hom oor sy getuienis
oor Jesus en dat die Here met hom gepraat het, met hom wat destyds nog goedkeurend
die klere opgepas het van Stefanus se moordenaars (Hand 22:20-23). Op hierdie
manier stel Lukas vir Saulus aan sy lesers voor, om later voort te gaan
met sy bekendstelling.

7:59 Terwyl hulle besig was om
Stéfanus te stenig (die imperfektum werkwoord druk uit dat hulle aangehou het
om hom te stenig) was hy besig om tot die Here in gebed uit te roep (epikaléomai
hulp vra of na ’n hoër hof appelleer ): ‘Here Jesus, ontvang my gees!’  So het Jesus ook gesterf met ‘Vader, in u
hande gee Ek my gees oor!’ (Luk 23:46). Dit klink soos die Jode se aandgebed,
na aanleiding van die woorde van Ps 31:6 ‘In u hand lê ek my lewe…HERE troue
God.’ Soos Jesus, vertrou Stefanus dat die verheerlikte Jesus hom sal opneem in
die hemel, soos die engele die bedelaar Lasarus van Jesus se verhaal weggedra
het om teen die bors van Abraham te rus (Luk 16:22); vgl. Jesus se woorde aan
Martha: ‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy
ook gesterf; en elkeen wat leef en in my glo, sal tot in ewigheid nooit sterf
nie.’ 

[Keiser Tiberius se ambassadeur
in die Ooste,Vitellius, het Pilatus in 36 n.C. afgesit en sy handperd en
swakkeling Marsellus vir die res van 36 n.C. oor Israel, aangestel. Vitellius
was die Jode goedgesind en het aan die Joodse Raad groter mag gegee. Stefanus
is waarskynlik in 36 n.C. deur die Raad gestenig. Vitellius se goeie gesindheid
teenoor die Joodse Raad is ’n moontlike verklaring waarom dit kon geskied
terwyl Vitellius besig was by die Eufraat. Vitellius het ook vir Jonathan, die
magsugtige seun van Annas as hoëpriester aangestel wat die Raad teen die
Christene gelei het, en sonder vrees vir Rome vir Stefanus gestenig het.
Dit terwyl die Joodse Raad vroeër oor Jesus gesê het: ‘Ons word nie toegelaat
om iemand om die lewe te bring nie’ (Joh 18:31). Jonathan het blykbaar vir
Saulus aangestel om die gelowiges te vervolg, Hand 9:1].

7:60 Stefanus het op sy knieë
geval om te bid terwyl die klippe op hom reën en met ’n luide stem, om bo die
lawaai van die klipgooiers gehoor te word, uitgeroep: ‘Here, reken hulle
hierdie sonde nie toe nie!
’ So het Jesus ook met ’n luide stem gebid toe
die soldate Hom aan die kruishout vasgespyker het: ‘Vader, vergeef hulle, want
hulle weet nie wat hulle doen nie’ (Luk 23:34). Jesaja 53:12 het al gesê dat
die Kneg van die Here die sondes van baie op hom geneem het en vir die
oortreders gebid het. Stefanus se voorbidding vir sy moordenaars is nog
dringender as sy bede vir homself. So vervul hy Jesus se opdrag: ‘Julle moet
julle vyande liefhê…dan sal julle kinders van die Allerhoogste wees omdat Hy goed
is vir die ondankbares en slegtes’ (Luk 6:27,35).

En met dié woorde het Stefanus ontslaap, ’n eufemistiese tegniese term vir Christene en Ou Testamentiese gelowiges wat sterf (1 Kor 7:39; 15:6; 1 Thess 4:13; Hand 13:36; vgl. Joh 11:11-14). 8:1a Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (anaireõ om van iemand ontslae te raak deur eksekusie dikwels met kwasi-wettige prosedures, daarom moord). Stefanus se gebed tot die Here vir sy moordenaars is in die geval van Saulus wel verhoor (vgl. Hand 22:20 oor die indruk wat dit op Paulus gelaat het)

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Stefanus kla die Raad aan (Hand 7:51-53) – Francois Malan

7:51 ‘Hardnekkiges en
onbesnedenes van harte en ore…!’ So beskuldig Stefanus die Joodse Raadslede wat
almal besnede Jode is, maar in hulle verstarde denke en ongehoorsaamheid aan
die Here, onbesnedenes van hart en ore is. Stefanus pas sy lang relaas oor die
vaders se hardnekkigheid op die Raad toe. Hulle het harde koppe, met heidense
harte en heidense ore en weerstaan altyd die Heilige Gees. Hulle hoor
nie en is nie oop vir oortuiging nie. Hulle nekke is hard en wil nie buig voor
die woord van God nie. Hulle ken die woord van God wat nou weer tot hulle gekom
het deur die Heilige Gees wat die woorde vir Stefanus gegee het. Sy getuienis
was ‘n oorsig oor die volk se dwase optrede teen Josef en Moses, mense wat die
Here gestuur het om hulle te red. Die Septuaginta gebruik ook die woord
‘hardnekkig’ (sklêrotráchilos) vir Israel wat die goue kalf aanbid het
terwyl Moses die wet van die Here op Sinaiberg ontvang het (Eks 33:3,5). Die
woorde ‘onbesnede hart’ (kardía aperítmêta in Lev 26:41) en onbesnede
ore (aperítmêta ōta in Jer 6:10) word ook deur die Septuaginta gebruik.
In Jesaja 63:10 sê die profeet dat die volk van die Here, wat deur die Here
teruggebring is ná hulle Babiloniese ballingskap, in opstand gekom het teen die
Heilige Gees. In Numeri 27:14 gebruik die Septuaginta ook die woord ‘weerstaan’
(antipíptō) vir die volk se optrede teen die Here. So het die Raad nou
die Heilige Gees weerstaan met hulle verwerping van die apostels se getuienis
oor Jesus. Al die woorde wat Stefanus gebruik vir die Raad se teenstand teen
Jesus, is aan die Raad bekend uit wat die Ou Testament oor hulle vaders se
teenstand teen die Here en sy Gees sê. Die Gees het juis gekom om van Jesus te
getuig deur die getuienis van Jesus se volgelinge in wie Hy kom bly het (Joh
15:26-27 en 14:17).

7:52 Met sy retoriese vraag
dring Stefanus daarop aan dat die Raadslede nadink hoe hulle vaders
opgetree het teen die boodskappers wat die Here na hulle gestuur het. Die ware
profete het altyd ’n woord van die Here vir sy volk gebring as die volk die
wet, wat die Here deur Moses aan hulle gegee het, oortree het en hulle rug op
die Here gedraai het. Daarmee het hulle die verbond verbreek wat die Here met
hulle gemaak het om hulle God te wees (Gen 17:7; vgl. Lev 26 se seëninge en
strawwe). In sulke tye het die volksleiers en priesters vóór geloop deur die
Here se pad te verlaat en die profete te vervolg. Vergelyk Elia se klag in 1
Kon 19:10; die beskrywing in 2 Kron 36:14-16;Daniël 9:6 se belydenis;
die volk wat uit ballingskap teruggekom het se belydenis oor hulle voorvaders
(Neh 9:26); Jesus se aanklag in Lukas 13:34. Hulle het die profete
doodgemaak
, vgl. bv. Josia wat die Here se boodskapper Sagaria met klippe
laat doodgooi het. Sagaria was die seun van die priester Jojada wat vir Joas
uit sy ouma Atalia se moord van al haar kleinkinders gered het en vir Joas saam
met sy seun Sagaria grootgemaak het. En dit omdat Sagaria gesê het dat die Here
hulle gaan straf omdat hulle die Here verlaat het (2 Kron 24:20-22; Luk
11:50-51).

Jesus het gesê dat vir die
bloed van al die profete, wat sedert die skepping van die wêreld uitgegiet is,
vergelding van hierdie geslag geëis sal word – van die bloed van  Abel tot by die bloed van Sagaria (Luk 11:47-51).
Dit beteken van al die verwerpte en vermoorde profete wat in die Bybel genoem
word – die Hebreeuse Bybel begin met Genesis en eindig met 2 Kronieke. Die
profete het die koms van die Regverdige vooraf aangekondig. In Hand 3:14 noem
Petrus Jesus ‘die Heilige en Regverdige,’ wat die Raad laat vermoor het.
Ananias het na Jesus, wat aan Saulus verskyn het, verwys as ‘die Regverdige’
(Hand 22:14), so ook 1 Joh 2:1.  ‘Die
Regverdige
’ verwys na iemand wat lewe volgens God se vereistes (vgl. Luk
3:22 ‘God se geliefde Seun oor wie Hy Hom verheug’). Pilatus het geen skuld in
hierdie ‘Regverdige’ mens voor hom gevind nie (Luk 23:4,14,22; vgl. Matt
27:4;19,24).

In die toepassing van sy lang
oorsig oor Israelse verwerping van die Here en sy boodskappers, wys Stefanus
die vinger na die volk, die familiehoofde en skrifkenners wat hom met geweld
voor die Sanhedrin gebring het (Hand 6:12). ‘Julle het nou die Regverdige
Jesus
se verraaiers en moordenaars geword.’ Hulle het deur hulle haat
teenoor God en sy profete, die enigste Regverdige op aarde vermoor (vgl. Rom
3:10: ‘Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie).’ Die Romeinse
offisier by die kruis het ná Jesus se dood getuig: ’Waarlik, hierdie man was dikaios,
regverdig/onskuldig (Luk 23:47).’ Pilatus se vrou het hom tydens Jesus se verhoor
gewaarsku om niks te doen te hê met ‘daardie regverdige man’ nie (Matt 27:19).

7:53 Hulle moord van Jesus is ’n blatante oortreding van die wet wat hulle kastig so verdedig (Hand 6:13). Die wet sê duidelik: ‘Jy mag nie moord pleeg nie’ (Eks 20:13). Die verwysing na die wet kan ook die hele Ou Testament insluit wat dikwels die wet van die Here genoem word. Die verwysing na engele kan al die boodskappers van die Here insluit  – die Hebreeuse woord malak kan na boodskapper en engele verwys (Hand 3:18 God se profete; Hand 3:21 heilige profete; Hand 3:24 al die profete). In Hand 3:38 is reeds na ’n engel verwys (vgl. Gal 3:19; Hebr 2:2). Die Griekse vertaling het die moeilik verstaanbare Deutr 33:2 se ‘vurige wet’ (1983 vertaling: ‘hulle plek’) vertaal as ‘was sy engele  met Hom.’  Dit het moontlik aanleiding gegee tot die gedagte dat die wet deur die beskikking van engele gegee is. Vir Stefanus is die beskikking deur engele des te meer rede om die Raad te beskuldig dat hulle God se wet, wat deur hemelse engele oorgedra is (diatassō), oortree het met hulle verraad en moord op Jesus. Die engele is deel van die heerlikheid van God en sy heiligheid wat deur die Raad geskend is. Stefanus se prediking eindig met die vermaning wat eintlik ’n oproep op die Raadslede om tot bekering te kom en nie soos hulle vaders voort te gaan met hulle verwerping van die Here en sy boodskappers nie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Tabernakel en tempel deur Jesus vervang (Hand 7:42-50) – Francois Malan

7:42 In vers 39 het Stefanus
gesê ons vaders is in hulle harte omgedraai (passief van die werkwoord strefō)
na Egipte toe. Hier sê Hy God het Hom van hulle af weggedraai (aktiewe vorm van
strefō). God se swaarste straf op die mens is om hom aan homself en sy
eie begeertes oor te gee (vgl. Rom 1:24,26,28). Hy los mense nie passief uit
nie, maar gee hulle aktief aan die gevolg van hulle sonde oor om hulleself te
vernietig. So het Hy die vaders oorgegee aan hulle geliefde afgode, die
leërskare van hemelliggame, ’n Joodse spreekwoord vir die sterre aan die hemel
(vgl. Rom 1:23). ‘Die boek van die profete’ verwys na die boekrol van die 12
klein profete. Hieruit word aangehaal uit Amos 5:25-26 volgens die Septuaginta.
Die Here het gevra of Hy van Israel tydens hulle woestynreis offers verwag het.
Die Septuaginta verander dit in die Here se aanklag dat die huis van Israel nie
vir Hóm tydens hulle woestynreis offers gebring het nie, maar vir hulle stergode.

7:43 Amos tree twee jaar voor
die aardbewing van ongeveer 760 v.C. op (Amos 1:1; Sag 14:5). Hy het eintlik in
Amos 5:25-26 voorspel dat hulle die beelde van die Assiriese god Saturnus sal
dra. Die Assiriërs het twee name vir Saturnus gehad, Sikkut en Kijjun. In die
Septuaginta is die name verander na Molog, die Kanaäniete se afgod waarmee
hulle die son en die sterre aanbid het, en Refan, moontlik die Egiptiese god
Saturnus, wat ook die ou Italianers se god was en deur die Romeine vereer is as
die vader van Jupiter (Mattheus 2:2 se ‘ster van die koning van die Jode’
volgens die sterrekyker uit die Ooste, kon verwys na ’n konjunksie van
Saturnus, die ster van die Jode, en Jupiter, die ster van die konings in 7
v.C.).

Amos voorspel dat die Here vir
Israel, die tien stamme, in ballingskap sal laat wegvoer verby Damaskus:

            ‘Dra
dan Sikkut julle hoofgod (mêlêk, koning of hoofgod) julle beeld
vanjulle stergod Kijjun wat julle vir                  julleself             gemaak het’ (Amos 5:26).

Die Septuaginta se weergawe
daarvan lui:

            ‘Julle
het die tent (skênê in Grieks, sakkut in Hebreeus vir Sikkut)
van Molog (molêk vir mêlêk koning/hoof) en             die ster van julle god Refan (vir Kijjun)
opgetel en gedra, die afbeeldings (tupoi) daarvan, wat julle vir
julleself             gemaak            het.

In 722 v.C. is die tien stamme
van Israel in Assirië versprei. Stefanus het egter die ‘verby Damaskus’
toegepas op die wegvoering van die twee stamme van Juda, tot anderkant Babilon
in 596 en 584 v.C. (vgl. Jer 7:18; 19:13 vir die Jode se afgode). Die Romeine het
die Jode van 66 tot 70 n.C. weggevoer verby Damaskus en in die Romeinse ryk
versprei. Telkemale gebeur dit omdat die vaders die Here verwerp het. In Moses
se tyd, toe hulle harte aan die kalwerbeeld verbind was, moes hulle 40 jaar in
die woestyn rondswerf; in Amos se tyd in Assirië, in Jeremia se tyd in
Babilonië, ná Stefanus se dood het hulle in die Romeinse ryk verdwyn, omdat
hulle Jesus as hulle Here verwerp het. Die Here sê: Ek sal julle laat
wegvoer na waar julle wil wees.

7:44 Eers in Moses se tyd is
die tent van getuienis in opdrag van die Here gemaak volgens die tupos,
die afbeelding/model wat hy gesien het (vgl. Eks 25:9 en Eks 26; Hebr 8:5). Die
tent van getuienis’  is die
getuienis van die Here se teenwoordigheid onder sy volk, en waarin die ark van
die verbond was, met die wet van die Here op kliptafels, as getuienis van die
Here se verbond met Israel. In die woestyn was die tent die tydelike voorloper
van die tempel wat Salomo meer as 260 jaar later sou bou, wat deur die
Babiloniërs 385 jaar daarna verwoes is, deur Serubbabel na die 70 jaar
ballingskap in 517 v.C. opgebou is, en deur Herodus net voor Jesus se tyd
vergroot en versier is, waaroor die Jode met Stefanus baklei. Maar die hemel is
die ware heiligdom, waarvan die Here vir Moses ‘n voorbeeld laat sien het (Hebr
9:11,23-24; 8:5). In plaas van die afbeeldings (tupoi) wat die Jode van
hulle afgode gemaak het, het Moses ’n afbeelding (tupos) van wat die
Here hom laat sien het laat bou. Die tent was ‘n getuienis van die Here se
teenwoordigheid by hulle. 

7:45 Die tent wat gebou is
volgens die model wat die Here aan Moses gewys het, wat ons vaders van die Here
ontvang het, het ons vaders saam met Josua ingebring in die land wat hulle in
besit geneem het van die nasies wat God voor ons voorouers uitgedryf het. Die
tent is gebruik tot in die dae van Dawid. Die sin beskryf die geskiedenis van
die tent van getuienis van die tyd toe die priesters die verbondsark deur die
Jordaan gedra het (Jos 3:6), en die tent van ontmoeting later by Silo
opgerig het (Jos 18:1) tot die tyd van Dawid 250 jaar later. Gedurende daardie
lang tyd was daar nog geen tempel waaroor die Raad nou so uitvaar nie, maar was
die tent die plek van ontmoeting met die Here. Daar is ’n stukkie ironie in die
Griekse vertaling van die naam Josua (Hebreeus: Jehosjua‘ – ‘Jahweh red/die
Here is die Redder,’ Grieks: Jesus). 

7:46 Dawid het guns in die oë
(enōpion) van God ontvang en daarom het hy die ingewing van God gekry
‘Om te pleit om ’n woonplek vir die huis van Jakob te verkry.’ Soos die
sin letterlik geskryf staan, lyk dit of Dawid pleit om ‘n land vir die
Israeliete (die huis van Jakob) te verkry waar hulle kan woon. Die Westerse
teks het,  ‘pleit vir ’n woonplek vir die
huis van Jakob’ vervang met ‘pleit vir ’n woonplek vir die God
van Jakob,’ soos 2 Samuel 7 en Ps 132:5 dit beskryf. Volgens Salomo het die
Here vir Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy die voorneme het om vir my Naam ’n
tempel te bou…’ (2 Kron 6:8). Die woord ‘woonplek’ (skênōma) het die
gedagte van tydelikheid. Die tempel is finaal afgebreek nadat Jesus se liggaam
die tempel geword het (Joh 2:19-21), en ons die Vader in Gees en waarheid kan
aanbid (Joh 4:23-24). Deurdat die Heilige Gees in ons kom woon, word ons
liggame die tempel van die Heilige Gees (1 Kor 7:19). Die gemeente het ook die
tempel van die Heilige Gees geword (1 Kor 3:16-17; 1 Petr 2:5; Ef 2:20-22). So
het Jesus ‘hierdie heilige plek’ in Jerusalem afgebreek en die gebruike
verander wat Moses oorgelewer het (Hand 6:14; vgl. Luk 5:36-38).

7:47 Dit was toe Salomo wat
vir die Here ’n huis gebou het, 480 jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek
het (1 Kon 6:1-2; 8:20). Daarmee is die tydelike tent vervang met ’n permanente
tempel, wat nou vir die Jode ’n struikelblok geword het om Jesus te
aanvaar as God, wat vol genade en waarheid, onder ons kom woon het (Joh 1:14).

7:48-50 Met die inwyding van die tempel het Salomo gebid: ‘Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het …’ (1 Kon 8:27). Nou stel Stefanus dit radikaal in woorde: ‘Die Allerhoogste (Hupsistos Hoogste) woon nie in (huise) wat met hande gebou is nie…’  Die teenstelling ‘Allerhoogste’ en met ‘hande gemaak’ is absoluut, en verklaar die tempel as nie geskik vir die Skepper van die ganse heelal as woning nie. Dit is die hoogtepunt van Stefanus se konklusie oor die waarde van die tempel, in ooreenstemming met die woorde van die Here in Jesaja 66:1-2 ‘Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon? Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan.’ Johannes 1:3 sê van Jesus as die Woord van God: ‘Alles het deur Hom ontstaan en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.’ Selfs die hemel is nie die Here se woonplek nie, maar, waar die Here is, is dit die hemel. Dat die hemel sy ‘troon’ is, is ’n simbool van sy gesag om oor sy hele skepping te heers, en Hy heers met genade. Hebreërs 4:16 ‘Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.’ ‘Voetstoel vir my voete’ (hupopodion tōn podōn) verwys hier na die aarde wat in die volle beheer van die Here staan. As dit dan so is, ‘Watter soort huis sal julle vir My bou,’ sê die Here. ‘…of watter plek van russal julle vir my bou?’(van rus – katapausis beteken eintlik ‘ophou werk’ – die Here hou nie op werk nie, vgl. Joh 5:17) Die Here is nie aan ’n plek gebind soos die afgode nie. ‘Het my hand dan nie al hierdie dinge gemaak nie?’ Die vraag suggereer die antwoord ‘ja, U hand het die hemel en die aarde alles gemaak.’Dit het Salomo al verwoord met die inwyding van die tempel wat hy laat bou het: ‘Die hemel, selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het?’ (1 Kon 8:27). Daarmee het die Here die belangrikheid van die tempel en van Jerusalem in perspektief gestel. Die grote God heers oor die heelal en kan nie aan ’n tempel of tot ’n plek beperk word nie, nie in Salomo se tyd, of in Jesaja se tyd nie, en ook nie in Stefanus se tyd nie. Jesus het gesê: ‘…wat hier is, is groter as die tempel…Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ (Matt 12:6). Hy het gekom om die tempel, met al die offers wat deur die eeue daar gebring is, te vervul en te vervang deur sy liefdesoffer van Homself aan die kruis. Sy liggaam is die ware tempel (Joh 2:19-21).

Skrywer: Prof Francois Malan