Die Handelinge van die Apostels: Genesing van die verlamde (Hand 3:1-10) – Francois Malan

Die volgende episode is die genesing
van die verlamde man, wat die gedeelte tot Handelinge 4:22 inlei. Dit gaan eers
oor sy genesing (3:1-10); dan oor Petrus se boodskap aan die mense in die
tempel oor die genesing (3:11-26); en dan oor Petrus en Johannes se verskyning
voor die Sanhedrin oor hulle verkondiging oor Jesus se opstanding uit die dood
en dat Hy die verlamde genees het (4:1-22). Dié hele verhaal vorm die basis vir
die volgende deel 4:23-31 oor die rol van gebed in die lewe van die gemeente.

3:1 Op die negende uur (na sonop, nl.
15:00), die Jode se uur van gebed, het die twee apostels, Petrus en Johannes,
na die tempel opgegaan (hieron verwys na die tempelkompleks en nie na
die sentrale heiligdom, naos, waar slegs priesters ingegaan het
nie).  

3:2 ’n Man, wat van voor sy geboorte
af verlam is, en gedra moes word, is daagliks by die tempelpoort, bekend as
Mooi Poort, neergesit om van die mense wat die tempelterrein binnegaan ’n
aalmoes te vra.  Die Mooi Poort is
waarskynlik die poort tussen die voorhof van die vroue met 15 trappies na die
voorhof van die Israeliete. Terwyl die ander binnepoorte met goud oorgetrek
was, was dié een van glinsterende korinthiese koper gebou, wat geskenk was deur
‘n Alexandrynse Jood Nikanor, en ook die Nikanorpoort of Korinthiese Poort
genoem is. Om aalmoese te gee was beskou as ’n verdienstelike goeie werk. Van
die offergawekiste vir vrywillige offers het juis in die voorhof van die vroue
gestaan voor jy die voorhof van die Israeliete ingegaan het. ‘Van voor sy
geboorte af’ – letterlik ‘van sy moeder se skoot af’ moes hy gedra word.

3:3 
Twee van die twaalf dissipels wat Jesus uitgekies en apostels genoem het
(Luk 6:13), Petrus die segsman, en Johannes, wil deur die Mooi Poort die
voorhof van die Israeliete binnegaan vir die daaglikse gebed om 3nm. Die lam
man sien hulle is op die punt om in te gaan, vra om van hulle ’n aalmoes te
ontvang, en kry ’n verrassende gawe.

3:4 Soos hulle stip na Jesus gekyk het
met sy hemelvaart (1:10), staar hulle nou stip (atenizō) na die lam man
– volgens Mattheus 25:40 sal Jesus eendag as Regter sê: ‘Wat julle ookal vir
een van hierdie geringste broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.’
Petrus sê vir die lam man: ‘Kyk na ons!’ – blepō let fyn op; gereed om
te luister en te reageer op die mag van die woord wat hulle gaan sê. Daarmee
word hy losgemaak uit sy gewone dubbelslagtige aanvaarding dat enkeles iets sal
gee en ander verbystap, en word die verwagting geskep van ’n positiewe reaksie
op sy bedel om ’n aalmoes.

3:5 ‘Hy het toe sy aandag op hulle
gevestig (epechō) met die verwagting om iets van hulle te ontvang’ – hy
weet egter nie wat of hoeveel dit sal wees nie, maar dink in terme van geld.

3:6 Petrus stel sy verwagting teleur:
‘Silwer en goud het ek nie;’ maar stel iets baie beters voor: ‘Wat ek egter
het, dit gee ek vir jou: “In die Naam (namens) Jesus Christus (die verwagte
Messias) van Nasaret, [staan op en] loop (rond)’- Petrus is slegs die mondstuk
van Jesus wat eintlik die man genees, soos Hy tydens sy aardse lewe gedoen het
(Mark 2:11; Luk 7:22) en nou daarmee voortgaan deur die woord van sy
gevolmagtigde gesant. Dit is die bewys dat Jesus die verwagte Verlosser Messias
van Israel is. Maar Hy is ’n ander soort Verlosser as wat hulle verwag het. Hy
het van die klein dorpie Nasaret gekom as ’n nederige dienskneg van die
mensdom. Die uitdrukking ‘staan op en’ is in die vyfde eeu ingevoeg in die
oorspronklike teks, maar word veronderstel in die enkele opdrag ‘loop! (rond)’
(peripateō).

3:7 ‘En terwyl hy (Petrus) hom stewig
aan die regterhand gevat het, het hy hom opgehelp; en onmiddellik is sy voete
en sy enkels (deur die Here) sterk gemaak’ – die passiewe werkwoord estereōthêsan
impliseer dat die Here sy voete en enkels onmiddellik sterk gemaak het op
Petrus se enkele woord ‘loop!’ 

3:8 Lukas beskryf die jubelende man met ’n stortvloed van woorde: Hy het van die grond af opgespring, op sy voete gaan staan, rondgestap, saam met hulle (twee) die tempel ingegaan al lopende en springende in die lug van vreugde terwyl hy God prys (aineō) – so het die hemelse menigte aan die begin van Lukas se Evangelie ook God geloof (aineō, 2:13). Sy eerste reaksie op sy wondergenesing is om God in die tempel te gaan loof saam met die Here se twee verteenwoordigers wat die magswoord van Jesus uitgespreek het.So word Jes 35:6 vervul: lammes sal soos takbokke kan rondspring. So het Miriam en al die vroue tamboeryne gevat en dansend die Here geloof vir hulle redding uit Egipte en deur die Rietsee (Eks 15:20-21), so het Dawid al dansende die ark Jerusalem ingebring (2 Sam 6:14) en word die Psalmboek afgesluit met Ps 149:3 en 150:4 se jubeling. 3:9-10 Die hele volk het hom sien loop en God prys. Op die uur van gebed is daar baie mense by die tempel. Hulle het so pas by hom verbygestap op pad tempel toe, sommige het moontlik nog vir hom ’n aalmoes gegee. En hier dans ‘n man skielik voor hulle, wat hulle begin herken as die lam man wat al jare lank sit en bedel voor die tempel se Skone Poort (vgl. 4:22) en hy loof God uit dankbaarheid vir sy genesing. Die volk reageer met verwondering en verbasing oor die duidelike wonder van God – ‘verwondering (thambos) oor die skielikheid en ongewone van die verskynsel; ‘verbasing’ (ekstasis intense verbasing, buite jouself van verbasing). Deur die ontmoeting met die wonderkrag van God word die mens uit sy gewone denke uitgeruk. Uit die wondergenesing is dit duidelik dat Jesus sy werk op aarde voortsit deur sy gesante. Die gebeure vorm die aanleiding tot die volgende rede van Petrus, wat aan die verbaasde mense in die tempel gerig word.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die eerste gemeente (Hand 2:42-47) – Francois Malan

2:42 Na die beskrywing van die
Pinkstergebeure voeg Lukas belangrike sake in oor die lewe van die eerste
gemeente. Bestendigheid is vir die geestelike lewe saam met Christus net so
belangrik soos die begin daarvan (vgl. Joh 15:4 ‘Bly in My soos Ek in
julle…’  Volhard (proskartereō)
om te midde van moeilikhede aan te hou met toegewyde diens aan mekaar. Die lede
van die eerste gemeente het bly volhard in vier sake wat die lewe van die
eerste gemeente tipeer:

1) ‘in die onderrig/leer
(didachê die inhoud van wat geleer word) van die apostels…’  – hulle het gretig geluister na die onderrig
wat die apostels gegee het (vgl. Jesus se opdrag in Matt 28: maak
dissipels…doop hulle…en leer (didaskō) hulle om alles te onderhou
wat Ek julle beveel het). Die inhoud van die lering gaan oor die groot dade van
God in die optrede van Jesus (Hand 2:11), veral oor die betekenis van sy
kruisiging en opstanding uit die dood (Hand 2:32; 4:33) en die verklaring van
die Ou Testament in die lig van Christus se opstanding, soos in Petrus se
preek. 

2) ‘en in die gemeenskap…’
(koinōnia noue wedersydse verhoudings) – dit beteken dat hulle gereeld
saamgekom het, met vreugde in die kontak met mekaar en in die teenwoordigheid
van hulle opgestane Here, deur die inwoning van die Heilige Gees in hulle. Dit
sluit in dat hulle vir mekaar daar is, om mekaar te versorg en te dien.In
Markus 10:45 het Jesus gesê dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om
te dien. In Johannes 13:14-15 het Jesus gesê: ‘As Ek, julle Here en
Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.
Ek het immers vir julle ’n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos Ek
gemaak het.’

3) ‘in die breking
van die brood
…’ wat wys na hulle saam eet, die sogenaamde liefdesmaal (agapê),
waar veral behoeftiges gevoed is deur meer gegoede lidmate, met die viering van
die nagmaal daarna. So het Jesus as huisvader die brood gebreek aan die begin
van die maaltyd saam met die Emmausgangers (Luk 24:30), en het Jesus met die
instelling van die nagmaal die brood gebreek tydens die paasmaaltyd (Luk
22:19). Dit is ’n herinnering aan die maaltydgemeenskap van Jesus met sy
dissipels en die voortsetting daarvan deur die opgestane Here Jesus saam met sy
gelowige volgelinge by hulle liefdesmaaltye (vgl. Judas 12 se liefdesmaaltye; 2
Petrus 2:13 verwys na ‘julle liefdesfeeste’ – agapais; 1 Kor 11:20-22 se
saamkom vir die Here se maaltyd, 1 Kor 11:33-34 saamkom om te eet).

 4) ‘en in die gebede’ – om in hulle
samekomste met God te praat, met die Psalmboek as hulle gebedeboek, die Onse
Vader wat Jesus hulle geleer het, saam met lofsange, bv. van Maria en Sagaria
(Luk 1:46-55; 68-79) in voortsetting van die Ou Testamentiese lofsange, en die
nuwe psalms, lofgesange en geestelike liedere wat hulle gemaak het, waarna in
Efesiërs 5:19 en Kolossense 3:16 verwys word. ‘…maak in alles julle versoeke
aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank (Flp 4:6).

2:43-47 Die verse beskryf
hoe die gemeentelede geleef het
, en is ’n inleiding tot die eersvolgende
hoofstukke. Vers 43 lei wonderdade in, wat in 3:1-10 en 5:12-16 beskryf word.
Verse 44-45 verwys na die uitdeel van besittings soos in 4:32-37; 5:1-11. Verse
46-47a vertel van die nederige lewe van die gemeentelede en hulle aanvaarding
deur die gewone mense teenoor die offisiële teenstand teen hulle (4:1-22;
5:42). Vers 47b beklemtoon die konstante uitbreiding van die gemeente (4:4,31;
5:42).

2:43 Die Here het baie wonders
en tekens deur die apostels laat plaasvind. Wonders (terata) verwys in
Hand 2:19 na wonders in die hemelruim, maar in die res van Handelinge veral na
wondergenesings, bv. 4:30; wondersterftes van Ananias en Saffira 5:12; na die
wonders in Egipte en by die Rooi See 7:36; vgl. ook 6:8; 14:3; 15:12. Tekens (sêmeia)
word telkens saam met wonders gestel om die betekenis van die gebeure te
beklemtoon, veral van wondergenesings 4:22; in 2:19 van tekens onder op die
aarde. Die gevolg van die wonders en tekens was dat ‘almal’ (letterlik: elke
siel) met ontsag (fobos groot ontsag vir God) vervul is oor die werk van
die Here deur die apostels. Die woord fobos beteken ook ‘vrees’ en
verwys waarskynlik na die ongelowiges wat gevrees het. Die wonders en tekens
was ’n bewys dat die apostels as gestuurdes van Jesus die waarheid oor
Hom verkondig.

2:44 ‘Al die gelowiges (mense
wat in Jesus geglo het) was saam (letterlik: was op een plek)…’ Hulle het
voortgegaan om in noue verbondenheid met mekaar te lewe. Dit beteken nie dat
almal saam gebly het nie, maar dat hulle gereeld bymekaar gekom het.

‘…en het alles met mekaar
gedeel’ (eichon hapanta koina letterlik: ‘alles gemeenskaplik te hê,’ is
’n idioom vir om alles met mekaar te deel). Dit beteken nie dat hulle al hulle
besittings prysgegee het nie, maar dat hulle besittings beskikbaar was
om ander in nood te help, soos uit die volgende verse blyk.

2:45 Die vers verduidelik wat
in vers 44 gesê is oor die uitdeel van hulle eiendom (ktêmata eiendom
verwys gewoonlik na grond, en besittings (huparkseis dingewat
aan iemand behoort). Die twee woorde saam beklemtoon dat alle soorte
besittings
beskikbaar was. Van hulle het van hulle besittings verkoop en
uitgedeel aan almal (gelowiges), volgens die mate wat iemand behoefte het. Die
besluit om van tyd tot tyd van jou besittings te verkoop om dit vrywillig te
kan uitdeel (vgl. 5:4) wys hoe die Heilige Gees hulle barmhartig teenoor
behoeftiges gemaak het, en spreek van hulle liefdesband, hulle koinōnia
met mekaar.

2:46 Die vers gee ’n
aanduiding van die godsdienstige lewe in die gemeente. ‘Met wedersydse
ooreenkoms (homothumadon) het hulle daagliks met toewyding volhard in
die tempel (en tōi hierōi)’hulle het die tempel besoek vir
lering en aanbidding, soos Jesus (Luk 4:16), ‘en het van huis tot huis (te
kat’ oikon
) brood gebreek’ – ’n gemeenskaplike maal geniet. Kenmerke van
hierdie ‘saam gebruik van voedsel’ in mekaar se huise word genoem: dit
het geskied met intense vreugde-en-vrolikheid van hart, met nederigheid teenoor
mekaar, en eenvoudigheid van hart, harte wat heeltemal op God gerig was. In die
hele Nuwe Testament word gepraat van die vreugde wat die evangelie en die
Heilige Gees in die gelowiges werk: Hand 8:8 vreugde in Samaria; 8:39 die
eunuch wat sy reis met blydskap voortgesit het; 13:48 die heidene van Antiogië;
13:52 Ikonium se nuwe gelowiges; 15:3 groot vreugde oor die bekering van die
heidene; 16:34 die tronkbewaarder en sy hele huishouding was jubelend; Gal 5:22
blydskap as vrug van die Gees; Flp 4:4 Verbly julle altyd in die Here; 1 Thess
1:6 met blydskap die Heilige Gees ontvang; Jak 1:2 groot vreugde as beproewings
julle oorval.

2:47 Hulle het God
deurentyd geprys
– sy goedheid besing. Hulle lewe was ’n lewe van
dankbaarheid teenoor God vir sy genadige verlossing deur Jesus se offer vir ons
sonde, en sy inwoning deur die Heilige Gees. 

Die hele volk was hulle
goedgesind
– dit teenoor die gesindheid van die
godsdienstige leiers in hoofstuk 4:1-22; 5:17-41. Die eerste tekens van
teenstand van die volk se kant af begin in hoofstuk 6:8, wat toeneem totdat die
apostels vir hulle lewe moes vlug uit Jerusalem in 12:1-17. Dit volg die
patroon van Jesus se lewe in die Lukas Evangelie, wat aanvanklik toegeneem het
in guns onder die mense (Luk 2:52), almal wat met lof oor sy onderrig gepraat
het (Luk 4:15) en sy verwerping wat in Nasaret begin het (Luk 4:29).

Die gedeelte word afgesluit met ’n opsomming oor die lewe van die eerste gemeente: ‘En die Here (Jesus) het daagliks (dag vir dag) verlostes by hulle getal gevoeg.’  Die passiewe deelwoord ‘verlostes’ wys dat dit Jesus is wat die mense van hulle sonde verlos het en hulle verhouding met God reggemaak het (vgl Joh 16:8-11)). Deur die Heilige Gees is hulle van hulle sonde oortuig en deur die prediking het Hy hulle tot geloof in Jesus gelei. Die getal wat daagliks gegroei het tot ongeveer 3000 mense is die vervulling van die Here se belofte in Joël 2:32 oor die gevolg van die uitgieting van die Heilige Gees: ‘Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word…Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.’ 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die reaksie op Petrus se preek (2:37-41) – Francois Malan

2:37 ‘Toe hulle dit hoor – die
Israeliete wat Petrus se woorde gehoor het – is hulle diep in die hart getref (katanussomai
kom slegs hier in die Nuwe Testament voor,’n idioom, letterlik: om
die hart te deurboor) en hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: ‘Wat
moet ons doen, manne broers?’  Die
Heilige Gees het die woorde van Petrus gebruik om die harte van sy hoorders
teenoor Jesus radikaal te verander
. Die werk van die Heilige Gees is om
mense van sonde te oortuig en van geregtigheid, naamlik dat Jesus met sy dood
en opstanding ons verhouding met God kom regmaak het sodat ons sy kinders kan
wees, en van oordeel as ons ons nie bekeer nie (Joh 16:8-11). Die hoorders
se  vraag word gerig aan Petrus en die ander
apostels en die res van die 120 op wie die Heilige Gees gekom het.

2:38 Petrus se antwoord wys
hulle die weg. ‘Bekeer julle..’ (metanoeō om jou lewenswyse te
verander as gevolg van ’n totale omkeer van jou gedagte en houding oor sonde en
geregtigheid voor God). Dit beteken dat hulle heeltemal anders sal dink oor die
Jesus vir wie hulle gekruisig het; dat hulle in Hom sal glo as hulle Verlosser
en die Here oor hulle lewenswyse (vgl. Hand 16:31).

 ‘… en laat elkeen van julle gedoop word in
die Naam van Jesus Christus
tot vergewing van julle sondes…’ Die doop met
water is ’n sigbare simbool van Jesus se reiniging van sonde. Dit is die
sigbare teken wat bevestig dat jou verhouding met God reggemaak is omdat sy
Seun die straf op al jou sonde gedra het. Die doop is ’n uiterlike simbool van
God se genadeverbond wat Hy met ons sluit om sy kinders te wees deur ons
geloofsverbondenheid aan sy Seun. ‘In die Naam van Jesus Christus’ verwys na
die grondslag van die doop, dat die dopeling met die persoon en reputasie van
Jesus verbind is deur in Jesus te glo as die Seun van God. (Die naam Jesus
beteken ‘die Here is die Verlosser’ van ons sonde, Matt 1:21). Christus (Grieks
vir Gesalfde) wys na sy posisie, dat Hy gesalf is om ons Koning te wees
wat oor ons lewe regeer (Joh 15:10,17), ons Priester wat Homself vir ons
sonde geoffer het (Joh 1:29), en ons Profeet wat vir ons kom wys en
vertel hoe God teenoor ons is en wat Hy van sy kinders verwag (Joh 14:10,23;
15:15).

‘…en julle sal die gawe van
die Heilige Gee
s ontvang.’ Die gawe van die Heilige Gees is die wonder dat
God in jou kom woon om jou tot geloof in Jesus te lei (Joh 15:26), en jou te
lei om op sy pad te lewe, om al meer soos Jesus te word, en die beeld van God
te vertoon (Joh 16:13-15; 2 Kor 3:18; Gen 1:26,27; Ef 4:24; Kol 3:10). Hoe die
vrug van die Heilige Gees se werk ons verander, word in Galasiërs 5:22-23
uitgespel.

2:39 Joël 2:32 sê: ‘Elkeen wat
die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar
uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is,
is by dié wat gered is.’

Petrus brei uit op Joël:
‘Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus
Christus tot vergewing van julle sondes’ wat wys na Joël se ‘Elkeen wat die
Here aanroep, sal gered word.’ ‘Want die belofte geld vir julle, en ook
vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom
toe roep.’ Die belofte wys hier na die redding en die gawe van die Heilige
Gees (Hand 1:4); eerstens vir die Jode wat na Petrus staan en luister; maar ook
vir hulle kinders wat deel word van die nuwe verbond van God, soos die ou
verbond met Abraham en sy hele huisgesin (Gen 17:10-12); en vir almal wat daar
ver is. Dit kan die Jode in die verstrooiing insluit (vgl Hand 2:5-11 vir hulle
verteenwoordigers), maar veral die nie-Jode wat oor die wêreld verspreid woon
(vgl. Hand 1:8 tot aan die einde van die aarde, en Hand 2:17 Ek sal my Gees
uitstort op alle mense).

‘Almal wat die Naam van die
Here aanroep’ is mense wat ‘die Here ons God na Hom toe geroep het
(proskaleomai om tot iemand te roep met die implikasie van ’n
wederkerige verhouding). Die Here ons God nooi ons na Jesus toe en daarom kom
ons na Hom toe (dit word onderstreep deur Jesus se woorde in Johannes 6:39
almal wat Hy My gegee het; 10:29 My Vader wat hulle aan My gegee het;
17:2,6-9,12,24; 18:9. vgl. egter Joh 6:44 niemand kan kom as die Vader hom nie
na My toe trek nie; Joh 6:65 as dit nie deur die Vader aan hom gegee is
nie). 

2:40 Met baie ander woorde het hy aangedring (diamarturomai getuig van wat hy seker weet; ernstig aandring; waarsku) en hulle aangespoor (parakaleō ernstig versoek of uitnooi; aanmoedig): ‘Laat julle red uit hierdie korrupte geslag(skolios krom,korrup, gewetenloos, oneerlik – die woorde word in Deutr 32:5 gebruik vir Israel wat die Here verlaat het, en nie aan God getrou was nie, Ps 78:8). Dit verwys na die Jode en hulle leiers wat vir Jesus verwerp het (Luk 11:50; 17:25). In Luk 13:34 en 19:41-44 het Jesus gehuil oor Jerusalem se onbekeerlikheid; Filippense 2:15 verwys na alle mense wat Jesus se verlossing verwerp as ’n krom en ontaarde geslag. Die menigte wat saamgedrom het (Hand 2:6) word opgeroep om hulle deur Jesus te laat red. 2:41 Hulle dan wat sy woord aangeneem het (apodechomai glo dat dit die waarheid is en daarvolgens optree) is gedoop en op daardie dag is ongeveer 3000 ‘siele/persone’ bygevoeg (psuchê  ‘siel’ verwys na jou binneste, jou denke, maar word hier figuurlik gebruik vir persoon). By die groep van ongeveer 120 gelowiges (Hand 1:15) is ongeveer 3000 mense bygevoeg wat in Jesus begin glo het. ‘Hulle dan’ lyk of dit almal van die menigte was wat daar in die tempel bymekaar gekom het in reaksie op die geluid soos ’n geweldige stormwind as teken van God se teenwoordigheid (2:6). Die passiewe vorm ‘is bygevoeg’ dui aan dat dit God is wat hulle bygevoeg het (vgl. 2:47; 9:31).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus se preek (deel 3; Hand 2:29-36) – Francois Malan

Hiervandaan verduidelik Petrus dat die
woorde van Ps 16 na Jesus verwys. Hy wys dat die psalm nie slegs na Dawid
verwys nie, maar verder, want Dawid het gesterf, is begrawe, en sy graf kon nog
steeds aangewys word, 1000 jaar na sy dood. Die finale betekenis van die
psalm se profesie is vervul in Jesus Christus.
God het Hom nie in die
doderyk laat bly nie en sy liggaam het nie ontbind nie.

Dié gedeelte van Petrus se preek vorm ’n eenheid wat twee aanhalings insluit: 29b-31 gaan hoofsaaklik oor Dawid; 32-35 hoofsaaklik oor Jesus en vers 36 is ’n slotsom van die redenasie. Elkeen van die twee gedeeltes sluit af met ’n aanhaling uit die
Skrif om Jesus se opstanding uit die dood en sy verhoging tot heerlikheid te
bevestig.

2:29 ‘Manne broers’ is ’n algemene
term vir die eerste gemeente, wat die dames insluit. Hier vereenselwig Petrus
hom met Israel as sy broers. Hy kan met vrymoedigheid met hulle praat want wat
hy oor Dawid sê is by hulle bekend. Hy noem Dawid die aartsvader, die Here se
gesalfde koning wat die Jode se ideaal is van vryheid en mag en die beeld van
hulle verwagting van die Messias wat kom. Die graftombe van Dawid, onder die
koningsgrafte in Jerusalem (2 Kon 16:20), was tot die einde van die Bar-Kogba
opstand teen Rome in 132-135 n.C. nog vir elkeen te sien in Jerusalem, terwyl
die meeste ander grafte buite die stadsmuur geleë was, vgl. Nehemia 3:16. In
135 n.C. het keiser Aelius Hadrianus Jerusalem egter heeltemal platgeslaan en
’n Romeinse stad bo-oor gebou met ’n nuwe naam, Aelia Capitolina. 

2:30 Petrus noem Dawid ’n profeet.
Terwyl Dawid nog geleef het, het hy vooruit oor Jesus se opstanding
geprofeteer, want hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat Hy
iemand uit Dawid se nageslag op sy troon sal sit. Die belofte van die Here is
by monde van die profeet Natan aan Dawid oorgedra (2 Sam 7:12-13,16). In Psalm
132:11, ‘n lied wat die pelgrims elke jaar op pad na Jerusalem vir die fees en
tydens die Paasfees gesing het, word gesing van hierdie eed van die Here aan
Dawid 1000 jaar tevore. Hierdie eed van die Here is ook in Ps 89:4-5 deur Dawid
se Levitiese tempelsanger Etan, ’n lied wat in onderrig gebruik is, en is
daarom wyd bekend. Die eed is deel van hulle Messiasverwagting. Messias is die
Hebreeus vir Gesalfde, dieselfde as Christus in Grieks. Daarom sou elke
Israeliet van die belofte aan Dawid geweet het en kan Petrus met vrymoedigheid
na Dawid se profesie oor Jesus as Dawid se afstammeling verwys.

2:31 As profeet het Dawid vooruitsiende
in Ps 16:10 gepraat oor die opstanding van Christus, ‘dat Hy nie aan die
doderyk oorgelaat sou word nie, of dat sy liggaam ontbinding sou beleef nie.’

2:32 Petrus herhaal wat hy in 2:24
gesê het: ‘God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal
getuies.’ Die profesie van Dawid is met Jesus se opstanding uit die dood
vervul. Die getuies van Jesus se opstanding is die twaalf en almal wat die
opgestane Jesus gesien het (vgl. o.a. 1 Kor 15:5-7 wat selfs meer as 500 broers
tegelyk meld). Omdat God Jesus laat opstaan het, is dit seker dat Jesus God
se beloofde Messias, die Gesalfde Koning is
.

2:33 ‘Nadat Hy tot die regterhand van
God verhef is, en die belofte van die Heilige Gees van sy Vader ontvang het,
het Hy (Jesus) die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.’ Aan God
se regterhand ontvang Jesus die volmag en die opdrag van sy Vader om die Vader
se belofte te vervul dat Hy die Heilige Gees sal stuur (1:4). Die uitstorting
van die Heilige Gees op almal wat in Jesus glo, is Jesus se werk in opdrag van
sy Vader. Dit is die bewys dat Jesus die Jode se verwagte Messias is. Die skare
wat na Petrus luister het die tekens van die koms van die Heilige Gees gehoor
in die geluid soos van ’n geweldige stormwind en gesien in die tonge soos van
vuur op die Jesusvolgelinge. En nou is Petrus se hoorders almal getuies van die
uitstorting van die Heilige Gees. Dit is die Gees van die Here wat kragtig in
Dawid gewerk het vandat hy deur Samuel gesalf is (1 Sam 16:13), maar nou in
elke volgeling van Jesus werk, nie net in konings en priesters nie. Die
‘uitstorting’ (2:17,33) wys na die oorvloed van die seën, dat God self by
mense kom bly
om hulle te lei en van hulle sy getuies te maak en toe te
rus. Uitstorting ekcheō beteken:in oorvloed gee; ten volle te
laat beleef, vgl. Rom 5:5. God se liefde is in ons harte uitgestort deur die
Heilige Gees wat aan ons gegee is; Ef 3:16-19.

2:34-35 Soos verse 29-30 met ’n
Skrifbewys in vers 31 ondersteun word, word verse 32-34 ook ondersteun met ’n
Skrifbewys in verse 34-35. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie,
maar sê self in Ps 110:1: Die HERE het aan my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand
totdat Ek u vyande ’n voetbank vir u voete gemaak het.’ Daarmee wys Dawid dat
God die Vader die vyande van Dawid se Here, naamlik Jesus, sal onderwerp, en
vir Jesus op die ereplek aan sy regterhand laat sit om oor die hemel en die
aarde te regeer (Jesus het die teks aangehaal in Luk 20:42-44). Dit is die
vervulling van Daniël 7:14 ‘Aan dié menslike wese (Seun van die Mens) is die
heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe
hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie ophou
nie.’

2:36 Petrus eindig sy preek met ’n
opsomming van sy hele boodskap in drie kort sinne. Die teks begin met die woord
asfalōs ‘Vir seker waar… om die volle betroubaarheid van die stellings
te beklemtoon. ‘Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet…’ Die woord oikos,
huis, word hier gebruik vir die hele nageslag van Israel (Jakob) wat al die
Jode insluit. Paulus het die term Israel in Romeine 11:25-26 uitgebrei tot
die hele gesin van God
, naamlik al die Christusgelowiges uit die heidendom
en uit Israel: ‘Die hele Israel sal gered word as hulle hulle tot die Here
Jesus bekeer,’ met aanhalings uit Jesaja 59:20 en Jeremia 31:33 om dit te
ondersteun.

‘…dat God Hom (Jesus) sowel Here as Christus gemaak het…’ Hy is die Here aan wie God seggenskap gegee het oor die ganse skepping, en oor elke mens se lewe (vgl. Mattheus 28:18 ‘Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde’). As die Here is Hy die Regter van die eindtyd wat oor die hele lewe van elke mens sal oordeel. En Hy is die Christus, die verwagte Messias van Israel, die Gesalfde Koning wat oor ons lewe regeer, Priester wat Homself vir ons geoffer het en vir ons intree by God, en Profeet wat die waarheid oor God aan ons geopenbaar het in sy woorde en dade. Daarvoor het God Hom met die Heilige Gees gesalf met sy doop (Luk 3:21-23), en Hom met sy hemelvaart laat sit aan sy regterhand (Luk 22:69; Ps110:1). ‘…hierdie Jesus wat julle gekruisig het.’ Wat God met Hom gemaak het, staan in skrille kontras met wat die verharde arrogante Israel met hulle Messias en hulle God gemaak het. Hulle het Hom gekruisig! (vgl. Matt 27:25 ‘Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!’). God het Hom deur sy optrede in Israel en deur sy dood, opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees, aan Israel voorgestel as hulle Here en hulle Messias, hulle Verlosser en Regter.

Skrywer: Prof Francois Malan