Die Handelinge van die Apostels: Mattias word in Judas se plek gekies (Hand 1:15-26) – Francois Malan
1:15 ‘In
daardie dae’ is ’n onbepaalde uitdrukking wat Lukas graag gebruik (6:1; 11:27).
Soos met die ‘eerste periode’ van Jesus se werke (Luk 1:5) plaas Lukas hier ’n
belangrike gebeurtenis aan die begin van die ‘tweede periode’ van Jesus se
werke. In hierdie wagtyd wat Jesus beveel het (1:4) plaas Lukas die verkiesing
van ’n persoon in die plek van Judas tot die twaalftal wat Jesus as apostels
aangestel het (Luk 6:13). Dit is die begin van Jesus se optrede deur sy
gemeente. Die verkiesing vind plaas in ’n byeenkoms van die apostels saam
met die res van die gemeente (vgl. ook 6:2).
Petrus staan
op tussen die broers as die woordvoerder van die twaalf, soos in Lukas 9:20;
8:45; 12:41; 18:28. Jesus het hom ook aangestel om sy broers te versterk (Luk
22:32). ‘Broers’ is ‘n benaming wat van die Ou Verbond oorgeneem is
(vgl. Hand 13:15; 22:5; 28:17,21). Maar vir die gelowiges het broers ’n dieper
en breër betekenis gekry deurdat Jesus sy volgelinge broers genoem het (Matt
25:40; 28:10; Joh 20:17). Broers (adelfoi) word dikwels gebruik vir
almal wat in Christus glo en sluit susters in. As broers van Jesus word
Christen-gelowiges kinders van God se gesin. Die gemeente in Jerusalem het
intussen aangegroei tot tien maal die aposteltal. In die lig van 1:14 was dit
120 mans en vroue. Die plek waar die 120 vergader het kon beswaarlik ’n
bovertrek van ’n huis gewees het, en verwys moontlik na een van die sale op die
tempelterrein vanuit die pilaargang van Salomo (vgl. Luk 24:53; Hand 3:11;
5:12).
1:16 Hier is
die eerste van ’n reeks toesprake van Petrus wat Lukas opteken. Hy spreek die
byeenkoms aan as ‘manne broers’ (andres adelfoi; die manlike anêr verwys
na ’n man, maar die meervoud ‘manne’ verwys dikwels na mense in die algemeen,
soos ‘broers’ ook ’n algemene term is vir gelowige mans en vroue. Die
kombinasie ‘manne broers’ gebruik Lukas ook in 2:29,27; 7:2; 13:15,26,38;
15:7,13; 22:1; 23:1,6; 28:17).
Petrus verwys
na Ps 41:10 waar die Heilige Gees by monde van Dawid oor Judas gepraat het, en
nou met die Seun van Dawid andermaal vervul is: ’Selfs my vriend, wat ek
vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’ So het
Judas as gids opgetree vir die mense wat Jesus gearresteer het. Vir Lukas is
die eintlike spreker by alle profesieë die Heilige Gees wat deur mense praat
(Hand 4:25; 28:25), so ook vir die getuienisse van gelowiges oor Christus deur
die eeue (vgl. 2 Petr 1:20-21). Daarom sê Petrus aan die begin van sy rede dat
dit so moes gebeur het. Die woord ‘moes’ (edei imperfektum van dei
wys op die voortgang van die noodwendigheid) wys hier na God se woord in die
Skrif wat vervul moes word (plêroō volmaak, voltooi, die ware betekenis
gee). Soos Dawid destyds ondervind het dat sy skoonvader Saul en later sy seun
Absalom en sy vriend Agitofel teen hom gedraai het (2 Sam 15:31), het die
Heilige Gees vir Dawid die woord laat neerskryf wat ook met Jesus sou gebeur.
Dawid word verder aangehaal in Hand 2:25, 29,34; 4:25 wat telkens na die Psalms
verwys. In Handelinge haal Lukas die Skrifte aan om die voortsetting van
Christus se werk deur sy volgelinge te verduidelik. Ps 41:10 word ook na verwys
in Mattheus 26:24; Markus 14:18; Lukas 22:21 en Johannes 17:12.
1:17 Petrus
verwys na Judas Iskariot se roeping, dat hy as een van hulle groep gereken is (katarithmeomai
as lid getel word, wat aan hulle behoort). Die passiewe perfektumvorm van
die werkwoord dui aan dat God hom as ’n blywende lid van hulle groep (van
twaalf apostels) gereken het (vgl. Luk 22:3); en hy het ’n aandeel aan hierdie
diens (van God) ontvang (vgl. Luk 6:12-13; 9:1-2). Daarmee beskryf Petrus
die bevoorregte posisie van Judas.
1:18-19
Hierdie weergawe verskil van Mattheus 27:3-10 se weergawe van wat met Judas en
sy geld gebeur het. In Mattheus 27:6,8
word die naam van die plek Bloedgrond
afgelei van die onskuldige bloed van Jesus (Matt 27:4). In Handelinge
word die naam afgelei van die skuldige bloed van die verraaier (Hand 1:19). In
Matt 27:7 het die hoëpriester die grond met die bloedgeld gekoop as ‘n
begraafplaas vir vreemdelinge. Volgens Handelinge het Judas self die grond
gekoop. Mattheus 27:5 beskryf sy selfmoord as ’n oordeel oor homself.
Handelinge skep die indruk dat dit God se oordeel oor Hom is – hy val en bars
oop. Die verskil wys na twee verskillende mondelinge tradisies daaroor wat by
Mattheus en Lukas uitgekom het. Augustinus het die twee gekombineer met die
voorstel dat Judas homself opgehang het, afgeval en oopgebars het. Mattheus
beklemtoon Judas se wroeging, wat hom tot selfmoord lei; Petrus op dit wat ná
Judas se dood moet gebeur, dat sy plek gevul moet word. Handelinge voeg
die ouer Aramese naam Akeldama vir Bloedgrond by. Die grond is geleë oorkant
die Hinnomdal aan die suidekant van die ou stad Jerusalem.
1:20 Die berig oor Judas se dood het Petrus se
inleiding tot die verkiesing van iemand in Judas se plek onderbreek om aan te
toon dat daar ’n vakature ontstaan het met Judas se dood. Die argument in vers
17 gaan hier voort om ’n rede uit die Skrif te gee waarom Judas se vakature
gevul moet word: ‘want daar is in die boek van die Psalms geskryf:
‘laat sy
woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin (in sy tente) bly nie’ (Ps
69:26)
en ‘laat ’n ander sy diens as kerkleier (episkopê) oorneem (laat oorneem laboi optatief,’n wens)’ (Ps 109:8).
laat oorneem (labetō imperatief, ’n opdrag) (Handelinge 1:20)
Die twee
aanhalings kom amper net so voor in die Septuaginta, die Griekse
vertaling van die Ou Testament, wat die Bybel van die eerste gemeentes was. Dit
was nog voordat die Nuwe Testament se boeke versamel was en later saam met die
Ou Testament gebruik is. Die aanhalings word egter hier in ’n ander sin as in
die Psalms gebruik. Ps 69 gaan oor ’n lydende regverdige wat sy vyande vervloek.
Petrus pas Ps 69:26 se ‘verlate woonplek sonder inwoner’ toe op Judas, wat sy
apostelskap vakant/verlate gelaat het.
Die bidder se
wens in Ps 109:8, verander Petrus in ’n opdrag van die Here oor Judas se
amp. In Ps 109:8 kla die bidder dat sy vyande sê: iemand anders moet sy amp
oorneem. Daarom vra die bidder dat die Here sy vyande moet straf. Petrus pas
die teks egter toe op Judas se vakature in die apostelamp en dat ’n ander
daarom Judas se amp moet oorneem.
Ou
Testamentiese tekste word toegepas op Christus en sy gemeente. In
Christus is daar ’n innerlike eenheid tussen die Ou en Nuwe Testamente. Die Ou
Testament is vir die skrywers van die Nuwe Testament ’n boek vol geheimenisse
van God. Die Heilige Gees onthul aan hulle stellings en gebeure in die Ou Testament
wat op Christus en Christene van toepassing is. Daarom word die Ou Testament in
die lig van die Christusgebeure uitgelê en kry Ou Testamentiese stellings,
onder leiding van die Heilige Gees, ’n heel nuwe en voller betekenis. So
gebruik die Heilige Gees die Ou Tstamentiese tekste om Petrus te lei.
Wat Hand 1:25
die ‘apostelamp’ noem (apostolê spesiale gesant), word volgens Ps 109:8
as ’n ‘opsienersamp’ gesien (episkopê diens as leier).Volgens Hand 20:28
word die ouderlinge deur die Heilige Gees aangestel as opsieners (episkopos
versorger, helper en leier) oor die hele kudde om die gemeente van God
herderlik te versorg. Die beslissende kenmerk van die christelike apostelamp
is egter diens, in navolging van Christus (Hand 1:25 hierdie diens, diakonia,van apostel; Luk 22:27 ‘Tussen julle is Ek egter soos een wat dien (diakoneō).’
[episkopos is in Engels vertaal as bishop, wat wel ’n opsienersamp
aandui, wat dikwels net as ’n gesagvoerder oor ander beskou is en nie altyd as
’n diens aan ander nie].
1:21-22 Die gevolg van die Skrifaanhalings in vers 20
is dat iemand in Judas se plek gekies moet word. Maar dit moet van die manne
wees wat van Jesus se doop deur Johannes tot die dag van Jesus se hemelvaart,
die hele tyd saam met Jesus en die apostels was. Een van dié verkose manne moet
saam met die apostels getuig van Jesus se opstanding uit die dood. Om een van
die kring van twaalf apostels te word, moes hy die hele tyd ’n ooggetuie
gewees het van Jesus se optrede. Die eintlike vereiste is dat hy Jesus persoonlik
moes ken, Hom gevolg het en getuie van sy opstanding is. Letterlik staan daar
dat hy ‘die hele tyd wat Jesus in en uit onder ons was,’ saam met ons was. ‘In-
en uitgaan’ is ’n Semitiese uitdrukking wat daaglikse omgang aandui, soos in
9:28 se ‘assosieer en besoek.’
1:23 Die
gelowiges wat daar bymekaar was, neem Petrus se voorstel aan, dat iemand in
Judas se plek gekies moet word, volgens die tekste wat Petrus aangehaal
het. Hulle het toe twee manne voorgestel (moontlik was hulle twee deel van die
72 van Lukas 10:1).
Josef het drie
name, twee Joodse en een Latynse naam: Josef heet na die stamvader Josef, maar
word ook Barsabbas ‘genoem’ (kaleō iemand op sy naam noem) – Bar-sabbas,
seun van die Sabbat, of Sabbatseun – op die Sabbat gebore. In Latyn is hy
genoem (epikaleō iemand ’n hoedanigheid toesê) Justus, wat regverdig
beteken (Afrikaanse Joost). Die twee name vertel iets van die goeie naam van
die man.
Die tweede
nominant is Mattias, ’n verkorting van Mattatias, ‘Geskenk van Jahweh’
(Sy beendere is later glo deur keiser Konstantyn na Trier gestuur; deur die
Noormanne uitgehaal, wonderbaarlik later weer gevind. Dit is dan die enigste
apostel wie se beendere in Duitsland rus – die skedel in Italië).
Ons hoor egter
nie weer van die twee in die Nuwe Testament nie, behalwe in Hand 6:2 waar die
twaalf vir die laaste keer saam opgetree het, met Mattias waarskynlik onder
hulle (vgl. Openb 21:14 vir die twaalf name op die simboliese twaalf fondamente
van die Nuwe Jerusalem, as grondleggers van Jesus se kerk, vgl. Matt 16:18). In
Luk 22:29-30 het Jesus vir die twaalf wat deur al sy beproewings by Hom gebly
het, gesê dat Hy aan hulle ’n koninkryk bemaak sodat hulle in sy koninkryk aan
sy tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf
stamme van Israel.
1:24 Die
verkiesing word deur die eensgesinde gebed van die hele groep voorberei (proseuksamenoi
eipan ‘biddende het hulle gevra’). So het Jesus ’n nag in gebed deurgebring
voor Hy die twaalf apostels uitgekies het (Luk 6:12-13; vgl. Hand 1:2) en het
die gemeente in Antiogië biddende vir Paulus en Silas uitgestuur (Hand 13:2-3;
vgl. ook Hand 6:6). As Here en kenner van die harte word Jesus gevra om
die regte persoon van die twee aan te wys, wat Hy reeds as sy apostel uitgekies
het, omdat Hy as God weet wat in die mens is (Joh 2:25; Luk 5:22; 6:8; 9:47).
Die verkiesing van Mattias is die eerste taak wat Jesus deur die apostels
verrig ná sy hemelvaart.
1:25 Die Here
word gevra om iemand aan te wys ‘om die plek (ton topon) in hierdie diens
(diakonias tautês) van apostelskap oor te neem…’ Hier beklemtoon die
gemeente se gebed dat die apostolaat ‘’n diens’ is. Jesus stuur mense uit (apostellō)
in sy diens, om soos Hy, sy nederige dienende getuies te wees.
Judas
(Iskariot) het egter sy ‘plek’ in hierdie diens van apostel laat vaar om na sy
‘eie plek’ of ‘besondere plek’ te gaan. Lukas speel met die woord topos ‘plek.’
Sy eie plek verwys waarskynlik nie net na sy eie grond van 1:18 nie, maar na
die plek van pyniging van Lukas 16:28 waarna die rykman verwys het. ‘Eie’ (idios)
verwys hier na sy besondere plek. In Johannes 17:12 verwys Jesus na Judas wat
verlore gegaan het as die seun van die verderf (apōleia vernietiging).
Daarvolgens het Judas sy plek in die koninkryk van God opgegee en ’n plek in
die ryk van die Satan ingeneem. Hoewel die Here hom gekies het as een van sy
twaalf apostels, het hy die plek, wat die Here vir hom aangewys het, verlaat
vir die plek van sy eie keuse.
1:26 Die aanwysing deur die lot word noú verbind aan die gebed van die gemeente dat die Here moet aanwys wie Hy gekies het (Luk 1:24; vgl. Spr 16:33). ‘Hulle het geloot…’ (letterlik: hulle het aan hulle die lotte gegee). Beslissing deur die lot was goed bekend terwyl die tempel nog bestaan het. Vgl. Levitikus 16:8 waar Aäron lootjies moes trek oor die twee bokke, een gemerk ‘vir die Here’ wat hy as sondeoffer offer, en die ander een ‘vir Asasel’ waarop hy na al die reinigings sy hande lê met al die sonde van die Israeliete, waarna iemand wat beskikbaar is die bok die woestyn injaag waar die bok agtergelaat word. Die diensbeurte van die priesters by die tempel en die keuse van die priester wat die wierook in die heiligdom moes bring is met die lot aangewys (Luk 1:9). So is die verskillende take in en om die tempel ook daagliks met die lot aan persone toegeken. Hier val die lot van die Here toe nie op dié Judas met drie name wat skynbaar die gunsteling was nie, maar op Mattias van wie niks verder gesê word nie. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg as die twaalfde lid in Judas Iskariot se plek. Na die uitstorting van die Heilige Gees word nie weer van die gebruik van die lot gepraat nie, maar van die direkte leiding deur die Heilige Gees. Keiser Gratianus (regeer 375-383 n.C.) het as gevolg van die misbruik van die lot, die lot saam met heidense gebruike in die kerk verbied
Skrywer: Prof Francois Malan