27 Desember: Oppas vir ‘n “nee” uit die mond van God. – Jan van der Watt

Open 14:14-16:9 (fokus 14:14-20)

Met parstyd word druiwe in ʼn groot houer gegooi en word dan korrel vir korrel stukkend getrap. Wie sou kon dink dat dit die beeld sou word wat die Bybel gebruik om God se straf vir sondaars mee te beskryf? Die druiwekorrels in die beeld is eintlik mense… (14:19-20).

Die beeld is byna te kru om aan te dink, maar juis dit maak die boodskap soveel kragtiger. Dit is die moeite werd om maar met God rekening te bly hou, want jou pad gaan iewers finaal met syne kruis. Dan moet dit liefs ʼn vriendelike ontmoeting wees, anders… is jy dalk ‘n druiwekorrel.

Die ou spreuk is waar: ʼn mens kan nog probeer om sonder God te leef, maar moet net nie sonder Hom sterf nie. God het nie plek vir mense wat Hom nie eer of respekteer nie en as jy sterf is dit te laat om iets daaraan te doen. Daarom bied God nou vir mense ʼn vredesooreenkoms in Jesus aan. Onvoorwaardelik nooi Hy elkeen uit om weer sy vriende te word. Die vrug van die vriendskap sal hulle vir ewig kan geniet.

Maar ʼn “nee” vir Jesus beteken ook ʼn “nee” vir God. Die “nee” vir God verander dan in ‘n “nee” van God. En ‘n “nee” uit die mond van God is nie iets wat enigiemand wil hoor nie. ʼn Druiwekorrel wil niemand seker wees nie.




26 Desember: Kyk reg en wen. – Jan van der Watt

Open 13:1-14:13 (fokus 14:1-5)

As party mense die woord Openbaring hoor dink hulle dadelik aan die “merk van die dier” (13:16). Daarvoor moet jy oppas, want dit gaan sleg wees, waarsku hulle dan ook dadelik. Daarsonder sal jy nie kan koop of verkoop nie (13:16-17). So sal die duiwel die donker kombers van sy mag oor almal trek… niemand gaan dit vryspring nie.

As mense jou so bangpraat, nooi hulle uit om net ʼn versie of wat verder te lees. Net in die volgende hoofstuk lees ons van die Lam en die 144,000 (‘n simboliese getal vir al die mense van God) wat op die berg Sion staan (14:1). Nie een van God se mense het iets oorgekom van al die ellende wat die duiwel oor hulle pad probeer bring het nie. Al 144,000 is nog daar, ongeskonde by die Lam. God het hulle deur al die bose planne en pogings van die duiwel heen veilig in sy hand gehou. Ja, niks wat op hierdie wêreld gebeur kan jou van God skei nie. Nee, God laat eenvoudig nie ‘n haar van die hoof van sy mense val sonder sy toestemming nie.

Hierdie is ook die verhaal van die godsdiens. Hoe ons na die lewe kyk, hang dikwels af van waarna ons kyk: kyk ons na die merk van die dier of na die 144,000 op Sion. Leef ons uit vrees vir die sonde of uit die oorwinning wat God self vir ons gee? Verloor ons in die lewe of wen ons?

God wil jou troos. Jy kan wen, al voel dit soms nie vir jou so nie. Om die waarheid te sê, jy het al gewen as jy by die Lam staan. Jy moet net seker maak dat jy daarop fokus, anders leef jy dit dalk mis.




25 Desember: God was hard aan die werk sodat ons kersliedere kan sing. – Jan van der Watt

Open 12:1-18 (fokus 12:1-6)

Die beskrywings van die krip in Betlehem dra ʼn rustigheid oor. In die sagte lig van die ster sien ons die wyse manne en die herders wat kom kyk. Ons hoor die engelekoor en Simeon en Anna wat God vir sy groot Geskenk dank.

Agter die geestelike skerms wat dit egter nie so rustig nie. In 12:2-5 lees ons van die bloeddorstige draak, die duiwel, wat alles in sy vermoë wou en sou doen om die Kind by sy geboorte te verslind. Die draak het gereed gestaan vir die stryd.

Op Kersdag is die Kind toe gebore, maar die draak was te stadig… of liewer God was te vinnig. Die draak kon God se plan nie keer nie, nie deur al die blyplek in Betlehem vol te maak of Herodes met sy soldate te stuur om al die babaseuntjies in Jesus se omgewing dood te maak nie. God se Seun ís gebore as Redder vir hierdie wêreld, daarvoor het God gesorg. Terwyl ons dus rustig uit dankbaarheid Kersliedere sing, moet ons weet: God het nie gerus nie. Hy was hard aan die werk vir ons – nie alleen om sy Seun vir ons te gee nie, maar ook om die draak te verslaan.

God hét oorwin en juis daarom kan ons rustig op Kersdag as oorwinnaars God vir sy groot Geskenk dank.




24 Desember: Die soet en die bitter van die evangelie. – Jan van der Watt

Open 10:1-11:19 (fokus 10:1-11)

Daar is een persoon wat nie sommer ʼn biblioteekkaart sal kry nie, want hy eet boeke: dit is die profeet in 10:9-10. (Esegiël moes dieselfde doen toe hy as profeet aangewys is).

Biblioteke is egter nie in gevaar nie. Die eet van die boek het hier natuurlik ʼn spesiale simboliese boodskap. Toe die profeet dit eet, was dit lekker soet in sy mond. Die sooibrand daarna was egter iets vreesliks. Daarmee sê die Bybel vir ons dat die verkondiging van die Evangelie iets soets en iets bitters aan het. Kyk maar, die soet van die geboorte van die kindjie Jesus moes deur die bitter van die kruis ook loop, sodat ons die goeie nuus kon hoor.

Dit is lekker om die evangelie te verkondig. ʼn Mens voel jy vertel vir mense iets wat hulle lewens kan verander. Dit is mos goeie nuus dat Jesus vir ons gebore is. Tog is die gevolge soms bitter. In hoofstuk 11 lees ons hoe die profete selfs doodgemaak is omdat hulle die boodskap van God gebring het. Net so moes Jesus ook vir sy boodskap sterf.

Ons loop vandag miskien nie meer die gevaar om doodgemaak te word omdat ons mense van God vertel nie. Tog staan die verkondiging van die goeie nuus van God vandag ook nie meer so hoog op die gewildheidsleer nie. Mense kan jou kwalik neem as jy dit doen, as oudmodies beskryf, of selfs so bietjie spot. Afgesien daarvan is dit ook nie altyd so maklik om jou eie skaamte of vrees eenkant toe te skuif nie. Dan bly jy maar stil. Die vrees vir die bitter laat jou die soet misloop. Die bitter moet en mag ons egter nooit ontmoedig nie. Hierdie bitter is hoe dit “proe” om oor die evangelie te praat. Gelukkig is daar die soet ook – ons moet dit net nooit vergeet nie.