7 Desember: Sondebelydenis is genesingstyd. – Jan van der Watt

1 Joh 1:1-2:2 (fokus 1:5-10)

Die oomblik dat jy jou sonde voor die Here bely is altyd ʼn oomblik van genesing. Dit is dan dat jy sy hart weer vir jou hoor klop en sy arms die warmste om jou voel vou.

Maar waaruit bestaan sondebelydenis?

  • Stap een is om jou fout (sonde) te erken. Sondebelydenis is nooit iets algemeens nie. Dit is altyd spesifiek. Daar is iets wat tussen jou en God staan wat jou verhouding met Hom bederf. Dit mag vloek, oneerlikheid, skinder, of wat ook al wees, maar dit is altyd spesifiek. En dit moet weg… en dit kan nie weg as jy dit nie erken nie.
  • Stap twee is om afskeid te neem van daardie “ding” wat tussen jou en God staan. Dit is nie altyd maklik nie, want jy moet besluit om dit nooit weer te wil doen nie. Dit moet in jou lewe verby wees. Daardie wrok teen iemand anders moet eindig. Die gevloek of oneerlikheid moet iets van die verlede wees. En dit gaan iets van jou vra, want dit is jý wat sal moet ophou vloek of skinder.
  • Die derde stap is om jou band van liefde vir die Here net weer stywer as ooit vas te bind: aan wie behoort jou lojaliteit? Wie wil jy regtig dien? Sondebelydenis is nie regtig sondebelydenis as jy nie vir die Here kies en dit diep uit jou hart vir Hom sê nie.

Sondebelydenis is die kans wat God jou gee om jou geestelike lewe weer splinternuut te maak.




6 Desember: God tel anders. – Jan van der Watt

2 Pet 3:1-18 (fokus 3:8-13)

As ons oorsee gaan leer my vrou eerste hoe om in die vreemde taal te tel. ʼn Mens moet immers kan sê hoeveel appels jy wil hê, uitvind hoeveel dit kos en jou geld reg kan tel.

Hoe tel God? Nie soos ons nie, sê Petrus (3:8). Sy somme lyk heeltemal anders as ons s’n. Vir Hom is een dag soos ʼn duisend jaar en duisend jaar soos ʼn dag. Dit maak nie sin nie, maar dit werk so, omdat God anders tel as ons. Ons kan God nie bereken of verklaar nie. Ons kan God nie voorspel of inperk nie, want Hy is anders. Hy is God en ons is mense. Daarom is al wat ons kan doen maar net om Hom te aanbid. En aanbidding beteken stille verwondering: omdat Hy so groot en so anders is. En die verwondering sluit aanvaarding in, aanvaarding dat God in ons lewens op sy manier werk.

Ons sal nooit soos Hy kan tel nie. Daarom sal ons nooit die datum van sy wederkoms kan bereken nie; nie die grootheid van sy genade kan uitwerk of die diepte van sy liefde kan peil nie.

Voor ons dalk te uitgesproke oor God raak, moet ons miskien maar wag vir ons finale reis… hemel toe en om daar op God se manier te leer tel.




5 Desember: Leer uit jou foute. – Jan van der Watt

2 Pet 2:11-22 (fokus 2:20-22)

ʼn Mens se geestelike lewe is soos bergklim – ʼn mens gly maar altyd op pad boontoe ʼn bietjie terug. Die groot vraag is egter of jy ten spyte van die teruggly tog op die lange duur vorentoe gaan? Daar is immers twee maniere van “teruggly”.

  • Die een manier van teruggly laat jou moed verloor. Jy het vol ywer die geestelike avontuur aangepak, maar dit word vir jou net te glipperig en glyerig. Om elke keer as jy teruggly weer op te staan en vorentoe te beur, vra net te veel. Dan draai jy maar om en kyk terug. Dis wat met die mense in 2:20-22 gebeur het.
  • Die ander manier is om uit jou teruggly te leer… te leer waar jy foute maak en sorg dan dat jy die nie weer maak nie. Moenie twee maal oor dieselfde klip struikel nie. So maak teenslae jou geestelik sterker, omdat jy leer hoe om dit te hanteer. “Teruggly” word so dus ʼn belangrike deel van jou geestelike groei omdat jy op die manier geestelik net sterker word. En dit maak jou net meer en meer vasberade om nie op te hou nie. Daarvoor is die avontuur van die Christelike lewe te groot en te lekker.

As jy gly, leer daaruit en kyk vorentoe.




4 Desember: Kies self en bepaal jou lewe. – Jan van der Watt

2 Pet 1:16-2:10 (fokus 1:16-20)

Daar was nog maar altyd mense wat niks van God af wou weet nie. In 1:16 lees ons van mense wat gedink het die evangelie is uit die duim gesuig. So het Nietzsche, ʼn filosoof, in 1882 God “dood” verklaar. Interessant genoeg, leef God vandag nog, terwyl die “dapper” Nietzsche lankal dood is (en miskien waar hy nou is sy gevleuelde woorde bitterlik berou).

Die probleem is: daar is eintlik net een van twee keuses. Of ʼn mens erken God en eer Hom as God; òf jy maak die mens god en verwag dan maar alles van hom. ʼn Ander keuse is daar eintlik nie. Ons as mense is òf skepsele van God, òf ons is self (miskien deur die toeval van evolusie?) die hoogste wesens.

Die keuse wat jy hier maak, gaan jou hele lewe bepaal. Dit gaan bepaal hoe jy probleme gaan aanpak, waar jy sin in die lewe gaan soek, hoe jy jou toekoms gaan sien… ja, alles wat jy doen gaan deur die keuse beïnvloed word. Kies jy die mens, moet jy maar met die bietjie wat die mens kan bied tevrede wees. Kies jy God, kan jy met die vlerke vlieg wat Hy vir jou gegee het en op die wieke van die winde van sy genade en grootheid seil.

Ja-nee, jou keuse gaan jou of aan die voete van die lewende Here bring, of jou op ʼn selfgemaakte troon sit vanwaar jy jou eie lewe sal moet probeer regeer.

Kies maar self.