13 November: Die lewe is vol ironie. – Jan van der Watt

Heb 13:9-25 (fokus 13:9-16)

Die lewe is vol ironie:

  • As ons jonk is, gooi ons ons gesondheid weg om geld te maak, en as ons oud is, spandeer ons daardie geld om ons gesondheid te probeer terugkry;
  • Ons leef asof ons nooit sal sterf nie, en ons sterf asof ons nooit geleef het nie;
  • Ons bekommer ons so oor die toekoms dat ons die hede vergeet. So lééf ons nie meer nie, nie in die toekoms nie en ook nie in die hede nie;
  • Ons wens ons lewens om. As ons kinders is, wil ons soos grootmense wees en as ons oud is, wil ons graag weer die vryheid en beweeglikheid van kinders hê.

Die lewe is sowaar vol ironie. Maar gelowiges hoef nie die lewe op die maat van daardie ironie te leef nie. Hulle het die wonderlikste boodskap in die hele wêreld, die goeie nuus van God self. Dit is ‘n boodskap wat mense se lewens kan verander, wat die toekoms vir hulle kan oopsluit. Christene kan hierdie lewe uit die krag van God se onverdiende goedheid leef (9). Hulle het al die rede om maar net te wees wie hulle is: God se kinders, mense wat oppad is na die hemelse blyplek wat aan die kom is (14). Dit sal die ironie van die lewe so bietjie afplat.

Gelowiges kan voluit vir God leef, want hulle is veilig in God se hand. By God hoef hulle ook nie bekommerd te wees oor die beweeglikheid van ‘n kind of wat die toekoms mag inhou nie. God sal eendag hulle trane afdroog, hulle siekte gesond maak. Hulle kan maar net voluit leef, want al sou hulle sterf, sal hulle tog vir altyd saam met God leef.

Christene moenie hulle lewens onnodig ironies maak nie: dit help nie ons weet hoe om te leef, maar ons leef nie so nie.




12 November: Gun jouself tyd om minder te doen. – Jan van der Watt

Heb 12:18-13:8 (fokus 13:1-8)

Ons word van kleins af gekondisioneer om “aksiemense” te wees. Mense tel nie so baie nie, maar wat hulle doen wel. Daarom meet ons mense aan wat en hoeveel hulle doen. Kyk maar net ‘n bietjie rond. By die werk is almal tevrede as ek “produseer”, maar daar is min simpatie met my as iets persoonliks verkeerd loop. Of ek nou sleg of siek voel, maak nie soveel saak nie, solank ek net “aktief produseer”. So kom ‘n mens agter dat aksies vir ons belangriker as mense is.

Die Here wil hê dit moet andersom wees. Vir Hom is die persoon die belangrikste. Persone moet swaarder as aksies weeg. Dit is wat liefde en lojaliteit beteken (13:1). Dink maar net hoe agterstevoor ons dikwels redeneer: Dit neem jare om vertroue in ‘n persoon op te bou, maar een aksie kan alles in een oomblik vernietig. Dan draai ons sommer teen die persoon. Vir ons gaan dit ook dikwels meer oor wat iemand het, as oor wie hy as persoon is. Sukses word gemeet aan wat jy met jou aksies kon bymekaar maak en nie oor wie jy is of hoeveel jy as persoon vir ander kan beteken nie.

Ons hele godsdiens is primêr op ‘n Persoon gebou: Jesus, wat gister, vandag en more dieselfde is (8). Hy het wel baie vir ons gedoen, maar wat ons deur die lewe dra is wie Hy is, sy liefde, genade, nabyheid. As ons net gaan konsentreer op wat Hy vir ons gedoen het, gaan ons Hom as persoon dalk mis. Ons moet leer om net die teenwoordigheid, die dáár wees van iemand te kan geniet, net om dat daardie Persoon is Wie Hy is. Die beste manier om dit te doen is deur stilte, deur op die Here te wag, deur sy teenwoordigheid te soek, deur op sy skoot te klim.

Gun jouself tyd om minder te doen, deur meer tyd te maak vir ander mense, ook vir Jesus.




11 November: Uit die slegte kan jy baie goeie goed leer. – Jan van der Watt

Heb 12:4-17 (fokus 12:7-11)

God los nooit sy kinders nie, ook nie as hulle verkeerde paaie begin loop nie. Soos enige pa of ma wat hulle kinders reg wil leer, leer God ons ook. As jy nou jouself sou vra hoe God ons op die regte pad hou, veral as ons nie wil luister nie, is daar nie net een antwoord nie. God praat op baie maniere: Hy kan deur ons gewete praat, ons deur ander mense waarsku, ja, Hy kan selfs dinge vir ons laat skeefloop, net om weer ons aandag te kry.

God gebruik ook dinge wat skeef loop ten goede. Ons almal weet hoe vinnig ‘n mens na God toe hardloop as iets verkeerd loop. Dan bid ons vurig en pleit. Dan maak ons skielik beloftes aan Hom of vra dat Hy moet wys Hy’s daar deur vinnig met die probleem te help. Ja-nee, dinge wat verkeerd loop het die geneigdheid om ons oë vinnig vir God oop te maak en ons vinnig aan Hom te laat dink. Dan onthou ons Hom skielik goed. Daarom gebruik God soms dinge wat verkeerd loop om weer ons aandag te kry (8). Dit is wat ‘n liefdevolle Pa doen.

Een fout moet ons egter nie maak nie: nie alles wat verkeerd loop is God se straf nie. Ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie en die duiwel slaan ook maar links en regs. Ons hoef nie elke keer as iets nie reg loop te wonder watter sonde ons nou weer gedoen het nie. Maar ons moet konstant ons verhouding met God weeg, oordink en as ons agterkom iets is wel verkeerd, moet ons dit regmaak. Alleen so sal ons “God se soet kinders” kan word.

Sleg is nie altyd sleg nie. Uit sleg kan jy baie leer, ook wat goed is. Haal dus die positiewe uit die slegte en leer daaruit. Dit sal jou net ‘n sterker en beter mens maak.




10 November: Moenie opgee nie; laat die skare jou dra. – Jan van der Watt

Heb 11:32-12:3 (fokus 12:1-3)

‘n Tuisskare maak ‘n reuse verskil. Dit sal elke sportman jou vertel en ‘n mens sien dit gewoonlik aan die punte ook. As daai skare skreeu is dit amper asof hulle jou dra. Die energie wat hulle uitstraal word jou energie.

Christene het ook ‘n “tuisskare”, vertel die Hebreërskrywer. Hierdie tuisskare moedig ander gelowiges net so sterk aan as enige skare by die grootste rugbywedstryd. Hierdie skare is ‘n spesiale skare, want hulle bestaan uit ander Christene wat die wedloop van die geloof klaar gehardloop en gewen het (12:1). Dit is gelowiges wat die pad wat ons nou deur hierdie lewe loop, klaar geloop het. Hulle het ook swaargekry, getwyfel, gewonder… maar hulle het deurgedruk en ontdek dat al die twyfel en gewonder verniet was. Hulle het geleer dat God dáár is, altyd. In hulle swaarkry deur die wedloop het hulle geleer om maar net aan te hou deur op God te vertrou.

Dit is hulle wat op die “pawiljoen” sit en ons nou aanmoedig. Hulle doen dit uit eerstehandse kennis. Hulle gejuig op die pawiljoen vertel ons een verhaal: God is getrou, vertrou op Hom en jy sal nie teleurgesteld wees nie.

As ons begin twyfel of ons geestelike knieë begin lam raak, moet ons opkyk pawiljoen toe. Daar is derduisende Christene wat ons aanmoedig om die wedloop voluit en reg te hardloop – hulle het dit gedoen en het die wenpaal gehaal, ja, het in die oop arms van God ingehardloop. Deur aan te hou en vol te hou kan jy dit ook doen. Laat die getuienis van die skare, al die ander Christene wat dieselfde pad as jy geloop het, jou dra. Hulle sal vir jou sê: dit is nie verniet nie. Moet nooit tou opgooi nie.