18 September: Moenie jou laat onderkry nie. – Jan van der Watt

Fil 3:1-6 (fokus 3:1-6)

Om die hele tyd te sukkel maak ʼn mens moeg. Dit tap al jou energie en later is jy sommer lus vir niks nie. Maar dan sê Paulus: “Moenie jou laat onderkry nie” (3:1). Ons kan seker maar vra: “Hoekom nie?”

Omdat God aan jou kant is; sy hand rus op jou. Dit is wanneer jy jou oog van Hom begin afhaal en van Hom begin vergeet dat dinge vir jou begin skeefloop. Dit is dan dat jou lewenskrag begin uitloop en jy jou lewensblyheid begin verloor.

Jy moet jou geestelike fokus altyd op God hou. Dit is God se Gees self wat ons hart verander (3:3). Die geheim is om hierdie verandering, hierdie nabyheid van God se Gees toe te laat om deur jou lewe te spoel. Dit sal jou geestelik verfris. Op jou moeilikste tye sal jy agterkom dat Hy vir jou daar is. As jy voel jy val op jou seerste en laagste, sal Hy by jou wees om jou op te tel.

Sit jou lewe in die hande van die Gees, leef uit sy nabyheid, wy jou aan Hom toe… en die lewe sal jou nie onderkry nie.




17 September: God is daar vir jou. – Jan van der Watt

Fil 2:12-30 (fokus 2:12-18)

ʼn Dominee sê eenmaal vir ʼn tuinier: “Broer, jou en die Here se tuin lyk mooi”.

“Ja, Dominee”, kom die antwoord, “Maar jy moes gesien hoe dit gelyk het toe die Here alleen hier gewerk het”.

Dit is eintlik ʼn diep storie hierdie. Die tuinier wil so bietjie krediet hê. Die mooi beddings en dinge is darem sy werk. Sy sweet het ook op daardie stukkie grond gedrup, en dit is reg so. Aan die ander kant wil die dominee weer sê dat ons niks sonder God kan doen nie. Altwee is ewe reg. Sonder die reën, grond en groeikrag van God kan daar niks wees nie, al werk die boer hoe hard. En tog verwag God van die tuinier om die saadjies in rye te saai en die bome te snoei, anders lyk dit ook nie soos dit moet nie. En die les: Jy en God is ʼn span!

Dit is aan hierdie twee sye van die lewe waaraan Paulus die mense in Filippi in 2:12-18 herinner. Hulle moet alles doen om soos God se kinders te leef, want “God self is by hulle betrokke” (2:12). Van Hom kan hulle alles verwag. Moet nooit jou eie verantwoordelikheid vergeet nie, maar onthou altyd dat jy nie alleen op jou lewenspad is nie.

God is dáár vir jou en jy moet dáár wees vir God: dit is die resep vir ʼn suksesvolle lewe.




16 September: Moenie terughou nie; adverteer. – Jan van der Watt

1:27-2:11 (fokus 1:27-30)

Dinge is nie altyd wat dit lyk nie, veral nie as dit by advertensies kom nie. Nou die dag koop ek ʼn stelletjie om die ink in my rekenaar se drukker vol te maak. Op die TV het dit so maklik gelyk, maar, o wee, probeer dit en jy en die tafel en die drukker en alles is vol ink. Ek was nie beïndruk nie – wat ek gekry het was nie wat geadverteer is nie.

Paulus wil ook hê dat ons advertensies moet wees, maar nie die soort wat jou op die einde met vuil hande en vol ink los nie. Ons hoef nie daarvoor bang te wees nie, want die “Produk” wat ons adverteer sal ons nooit in die steek laat nie. Ons adverteer Christus (1:27).

ʼn Advertensie doen veral twee dinge. Dit lok jou nader en dit gee jou inligting.

  • Christene moet mense nader lok met die goeie dinge wat ons doen, met die manier waarop ons saamwerk, mekaar liefhet, die manier waarop ons bereid is om die minste te wees (1:27, 2:1-5). Ja, ons lewens is die advertensieborde vir Christus.
  • Ons weet ons “Produk” kan nooit misluk nie. Wat ons vir mense wil gee is die Een wat ʼn naam het bo alle name, die Een voor wie almal uiteindelik sal moet buig, Jesus die Here. En oor Hom sal ons nooit uitgepraat kan raak nie.

Jou advertensie sal nie iemand vol ink los nie, maar dit behoort wel ‘n onuitwisbare indruk op hom te maak, want as hy luister sal hy ‘n vriend van God word. En dit mors nie ink op sy hande nie, maar verander sy lewe.

Jy moet nie terughou nie. Jy moet adverteer.




15 September: God het ‘n plan met jou lewe. – Jan van der Watt

Fil 1:12-26 (fokus 1:19-26)

 God is so anders, want Hy is God. En Hy kan ons soms so verras met die paaie wat Hy met ons loop. Dit het Paulus ook geleer. In Filippi was Paulus bekend as die een vir wie God die tronkdeure laat oopswaai het (Hand 16:25-34). Nou sit hy in Rome in die tronk en die deure wil nie oopswaai nie. Natuurlik wonder die mense nou: het God vir Paulus dalk in die steek gelaat? Waarom help God hom nie?

Maar Paulus oordeel nie sommer vinnig op die oppervlakte soos ons soms maak nie. Toe hy mooi kyk, besef hy dat hy en die tronkpolisie in die tyd goeie vriende geword het. Hulle het al meer van die Christene begin hou en sou hulle nie sommer in die tronk gooi nie. Dit het beteken dat die Christene daar buite nie meer bang was om vir die mense van God te vertel nie. In plaas van een man (Paulus) was daar nou ʼn groot groep getuies… God se plan het gewerk, al het dit vir Paulus beteken dat sy plek in God se plan daar in die tronk tussen die tronkpolisie was.

God het ʼn plan met jou lewe. Soms lyk die plan vir jou maar deurmekaar. Vertrou die Here vir jou lewe. Sê soos Paulus: “Ek het geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie” (1:19).