20 Augustus: Jy kan maar spog. – Jan van der Watt

2 Kor 10:12-11:6 (fokus 10:12-18)

Dis tog lekker om oor jouself te praat, net om seker te maak mense sien jou raak. Wie geniet dit nie? Party oordryf dit natuurlik so ‘n bietjie. Hulle praat die hele tyd oor hulleself. Dit word dan eintlik so iets van ‘n magspel. Jy spog maar net om te wys jy is belangriker en beter as die ander een. Daarvan hou die Here nie eintlik nie, want om met spoggery bo aan die leer te probeer kom moet jy op ander trap: “Ek is beter as jy, want jy is slegter as ek”. Moenie te veel oor jouself praat nie; laat ander dit liewer doen.

Dit is God se taktiek – Hy wag dat ons oor Hom spog (10:17). Hy wil hê ons moet oor Hom praat, vertel wat Hy doen en sy liefde vir ander aanbied. Enigiemand wat so oor God wil spog het genoeg materiaal om van te kies. Dit kan hom dag in en dag uit besig hou. En dit is nie spog wat op ander trap nie, maar wat ander uitnooi op hoër op leer te klim, nader aan God. Ja, dit is wat spog oor God doen – dit trek mense nader aan Hom.

Jy kan maar spog, nie oor jouself nie, maar oor Hom.




19 Augustus: Hou jou kop skoon. – Jan van der Watt

2 Kor 10:1-11 (fokus 10:1-6)

 Paulus is op die oorlogspad as dit kom by mense wat die evangelie wil verdraai. Soos hy sê, hy sal nie tweemaal dink om daardie mense voor almal vas te vat nie (10:2). Hy twyfel ook nie daaraan dat hy genoeg ammunisie en wapens het om dit te doen nie, want die Here self gee dit vir hom (10:4). Daar’s veral een wapen wat opval: “En elke gedagte wat deur ons kop gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit” (10:5).

Ons dade begin almal in ons koppe. Wat ons dink, bepaal wat ons doen, al lyk dit baie keer of party mense glad nie dink voor hulle doen nie. Hoe positief of negatief jy oor iets dink, gaan bepaal hoe positief of negatief jy gaan optree. As jou kop byvoorbeeld vol jaloesie teenoor iemand is, sal jy dit in jou geselsies en optrede nie kan wegsteek nie. Jy sal miskien vir ‘n rukkie jou “pose kan hou”, maar iewers gaan dit uitborrel. En ons weet, as ‘n sondige gedagte eers in jou kop vasgesteek het, kry jy hom nie sommer uit voordat jy dit nie eers gedoen het nie. Die gedagte maal en rol, rus ‘n bietjie en is dan weer daar. Boonop is die afstand van jou kop tot by jou hande maar kort – die sondige gedagte spring gou van jou kop tot by jou mond of hand. En as jy met mense werk, veral met mense waarmee jy nie saamstem of van wie jy nie hou  nie, kan dít gevaarlik wees.

Daarom: raak van sulke negatiewe en sondige gedagtes ontslae die oomblik wat hulle kop uitsteek. Moenie eers tweemaal daaroor dink nie. Hoe vroeër hoe beter. “Lewer dit aan Christus uit”, soos Paulus sê (10:5). So hou jy jou kop skoon en is daar baie plek vir goeie en positiewe gedagtes. Dan word jou gedagtes ‘n wapen… vir goeie optrede.

Hoe sterk is die wapen van jóú gedagtes?




18 Augustus: Die pad na God toe loop ook deur ons beursies. – Jan van der Watt

2 Kor 9:1-15 (fokus 9:6-13)

 Geld kan praat. Wat jy met jou geld doen kan vertel wat in jou hart aangaan of wie jou baas is. Dit kan selfs sê hoe jy oor die Here voel. Die rede is omdat geld soveel krag het. Dit kan mense se lewens verander, ook joune. As jy dit nie het nie, is die lewe maar ‘n gespartel. As jy dit het, moet jy die hele tyd seker maak jy gebruik dit reg, anders kan jou lewe in ‘n onophoudelike gejaag na geld verander.

Paulus moedig die Korintiërs aan om hulle geld te sit waar hulle mond is. Hulle praat so oor hulle geloof in God, maar dit moet nie net lippetaal wees nie (9:13). Geld kan ook vir God baie beteken, veral as jy dit vir mense gee wat vir Hom baie beteken. Ja, jou manier waarop jy jou geld hanteer praat met God ook. Dit sê hoe jy oor Hom voel. Ons kan God nie soos ‘n gas in ons huis ontvang en vir hom koffie en koek of ‘n lekker ete aanbied om te wys hoe welkom Hy by ons is of hoeveel ons van Hom hou nie. Nee, ons moet dit vir God op ander maniere wys… deur ons geld te vat en daardie dankbaarheid en liefde teenoor hom vir ander te gaan uitdeel. Daarom is God lief vir mense wat geld met blydskap gee, omdat hulle hulle liefde vir Hom in elke sent verpak wat hulle vir mense gee wat dit nodig het (9:7). Hulle praat nie net nie, hulle doen ook.

Geld kan ‘n probleem wees, veral as dit by godsdiens kom. Ons voel ander mense krap in ons beursies en daarvan hou niemand nie. Maar as dit by God kom, loop die pad na Hom toe ook deur ons beursies… nie om Hom te koop nie, maar om sy liefde vir ander op so manier uit te deel.




17 Augustus: Vergeet van ingewikkelde berekenings. – Jan van der Watt

2 Kor 8:1-24 (fokus 8:1-24)

 Die Here het ons vir mekaar gegee. Dit is sy meesterplan. As elkeen vir die ander een sorg, het jy ‘n hele kerk vol mense wat vir jou sal sorg. As jy te min het, sal ander vir jou sorg en as jy genoeg het, kan jy weer vir ander sorg (8:14). So kan jy veilig voel. Die swakpunt is egter dat as elkeen nie sy deel doen nie, die plan nie so goed werk nie.

Deesdae praat ons van die “tiendes” as dit by die plan van God kom. Dit is nogal ‘n groot onderwerp van bespreking. Ons het lang debatte of ons presies ‘n tiende van ons inkomste moet gee of nie. Paulus sê jy hoef nie jou tiende te gee nie. Nee, jy moet gee wat nodig is. Dit is nie ‘n saak van die wet nie, maar van die hart. Dit kom nie uit dwang nie, maar uit liefde (8:8). Daarom kan jy die een maand min gee, maar die volgende maand baie na gelang van die behoefte. Jy moenie na ‘n reëlboek kyk nie, maar na die behoeftes van jou broers en susters rondom jou.

Die Here is so goed vir ons en gee ons so baie (8:9). Wat Hy ons gee, kan ons nie met al die geld in die wêreld koop nie. Hy het ons lewens vir ons teruggegee, vir altyd. Wie kan dit in tiendes meet of terugbetaal? Daarom maak Paulus die saak vir ons eenvoudig. Jy behoort aan die Here en het Hom lief. Gee daarom aan die Here wat nodig is en vergeet van al die ingewikkelde somme en berekenings van tiendes en so aan.

Gee uit ‘n liefdevolle hart. Niemand forseer jou nie, en moet dit ook nie toelaat nie.