4 Augustus: Jy gaan dalk nie glo wat jy sien nie . – Jan van der Watt

1 Kor 15:12-28 (fokus 15:12-20)

Die waarheid van die evangelie balanseer op ‘n speldpunt. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is Christene net ‘n hopelose spul mense (15:19), sonder hoop en sonder ‘n toekoms. Maar die feite is: God het Jesus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. Daar het God gewys Hy het die krag om elkeen wat aan Hom behoort ook so uit die dood uit te haal.

As ons mooi dink, balanseer die Christendom regtig op daardie speldpunt. As Jesus nie opgestaan het nie, sou daar geen rede gewees het waarom ons kon dink dat daar ‘n lewe na die dood is nie. Ons sou ook geen bewys gehad het dat God ons enigsins na ons dood weer lewendig sou wou maak nie. Ons hoop op ‘n lewe saam met God sou nie verder gegaan het as die dag dat ons ons laaste asems uitblaas nie… en dit is eintlik geen hoop nie.

Maar nou hét Jesus opgestaan en daarmee vir ons die toekoms oopgesluit. Nou weet ons daar is iets na die dood en ons weet God bedoel regtig om sy mense uit die kloue van die dood uit te haal en ‘n nuwe lewe saam met Hom te gee, vir altyd.

Die vraag is dus nie meer óf daar ‘n lewe na die dood is nie, maar eerder of jy die lewe na die dood gaan hê. As jy nie aan God behoort nie, mag jy dalk nie glo wat jy sien as jy anderkant wakker word nie.




3 Augustus: Jesus het opgestaan. – Jan van der Watt

1 Kor 14:34-15:11 (fokus 15:1-11)

 Vir baie mense is dit baie swaar om te aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit is nie iets wat ons wetenskaplik kan verklaar of wat normaalweg rondom ons gebeur nie. En in ons dag is sien maar glo.

Paulus en die ander vroeë Christene was egter meer as oortuig dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het. Trouens, hulle het die leë graf gesien en daarna het hulle met Jesus gesels, saam met Hom geëet en kon aan Hom vat. Vir hulle was daar geen twyfel dat Hy werklik uit die dood opgestaan het nie. Daarvoor sou en het hulle hulle lewens gegee. Min van die oorspronklike dissipels is volgens tradisie op ‘n normale manier dood. Hulle het hulle bloed en lewens vir die opgestane Here gegee.

Die vroeë Christene het geweet die graf was leeg en niemand – nie eers die grootste vyande van Jesus – het dit nog ooit ontken nie. Jesus se liggaam was eenvoudig nie daar nie. Die vraag is: hoe het die graf leeg gekom? Die owerhede het die liggaam nie gesteel nie, want wat sou makliker gewees het om die dissipels wat aan almal die opgestane Here verkondig het, stil te maak deur hulle na die “liggaam in die vol graf” toe te vat. Die teorie dat Jesus nie heeltemal dood was en toe later self uit die graf uitgekom het, het soveel probleme: hoe het al die mense dit misgekyk dat Hy nog asem haal? Hoe het Hy uit die graf gekom? Daar was ‘n geweldige rots voor die graf wat eintlik net van buite af oopgemaak kon word. En as Hy uiteindelik die rots op ‘n manier weggekry het, hoe het Hy verby die wagte gekom?

Hoe verklaar mens die verskynings? Wel, party sien dit as hallusinasies. Maar hoe hallusineer 500 mense gelyk en verbeel hulleself presies dieselfde ding op dieselfde oomblik in hulle koppe? (15:6)

Nee, die beste verklaring vir die leë graf en die verskynings van Jesus bly nog dat Jesus opgestaan het.




2 Augustus: Die erediens is nie ‘n heilige oorlog nie. – Jan van der Watt

1 Kor 14:20-33 (fokus 14:26-33)

 Daar was al menige geveg in die kerk oor hoe ons die Here moet dien. Party wil net dit sing, ander wil die wet op ‘n sekere manier gelees hê, sommige soek ‘n toga en preekstoel terwyl ander die predikant met ‘n oopnek hemp voor op ‘n verhoog sien, en so kan ons aangaan. En die gevegte kan nogal baie emosioneel word, so asof as dit nie op jou manier gebeur nie, jy nie meer die Here kan dien nie. Die slegste is dat mense dikwels in die gesprekke hulle eie opinies met díe van die Bybel verwar. Dan word die stryd oor wat jy dra en hoe jy sing byna ‘n heilige oorlog.

Die meeste van die gevegte is verspilde energie. Daar is baie maniere om dinge te doen, verduidelik Paulus al van hoofstuk 10 af. ‘n Mens moet dit net op die regte manier doen. Dinge moet mooi en op hulle plek gebeur (14:33), met ander woorde, almal moet darem kan volg wat aangaan en kan deelneem, al is dit nou nie presies soos jy dit wil doen nie. Ons moet mekaar konsidereer en nie in mekaar se pad staan nie (14:39-40).

Paulus is dus hier baie meer bekommerd oor die praktiese manier van dinge doen – dit moet werk, al hou ek nie noodwendig van die manier waarop dit werk nie. Dit moet nie op ‘n deurmekaarspul uitloop waar elkeen doen wat hy of sy wil nie. Ons is immers bymekaar om aan die Here die lof en hulde te bring. Dit gaan nie oor of ons lekkerkry of ons sin kry nie, maar of Hy gelukkig is.

Uiteindelik is daar ‘n paar dinge wat tel: gebeur dinge prakties sinvol; konsidereer ons mekaar; voel die Here goed daaroor. Ons moet dus nie te veel energie mors op dinge wat nie regtig so belangrik vir die Here is nie. Of anders gestel, ons moet nie so baklei oor watter liedjie ons wil sing dat as ons begin sing ons asems uit is nie.




1 Augustus: Praktiese Christenskap. – Jan van der Watt

1 Kor 14:6-19 (fokus 14:6-19)

 ‘n Student sê eendag hy is so bly hy’s in Suid-Afrika gebore en nie in Frankryk nie, want hy kan nie ‘n woord Frans praat nie. Ja-nee, as jy nie die taal in ‘n land kan praat nie, het jy probleme.

Hier in 1 Kor 14 Paulus praat van ‘n spesiale taal wat God vir ‘n mens gee om met Hom te kommunikeer (14:2). Ander kan dit nie verstaan nie en dit het eintlik net waarde vir die persoon wat praat, behalwe as dit uitgelê word (14:2,6). Daarom sê Paulus dat as jy tussen ander mense is, jy liewer maar ‘n paar woorde moet praat wat hulle kan verstaan as duisende woorde in daardie spesiale taal wat hulle niks van verstaan nie. In so ‘n situasie het die paar woorde meer waarde.

Hier sien ons Paulus, die praktiese Christen. Hy vra eers wat het die meeste waarde vir ander in ‘n spesifieke situasie. ‘n Christen leef nie vir vertoon of eie belang nie, maar vir God. Daarom vra Christene altyd praktiese vrae: wat is die voordeligste vir ander? Wat moet ek doen om die meeste vir my mede-gemeentelede te beteken? Dit is die wese van praktiese Christenskap: die opbou en versterking van van God se mense. As jy dit doen is jy vir die Here op jou beste en doen jy vir Hom die meeste.

Gelukkig het ons nie ‘n kommuniasieprobleem as dit by God kom nie. Hy verstaan woorde en dade wat prakties vir ander iets beteken baie goed… daardie taal kan elke Christen praat.