19 Julie: Wie die minste is, sal die meeste wees. – Jan van der Watt

1 Kor 5:9-6:11 (fokus 6:1-11)

Dit is soms verstommend hoeveel Christene kom glad nie met mekaar oor die weg nie. Hulle sit in dieselfde kerkbanke en sing vroom die lof van die Here maar wil na die diens mekaar nie eers groet nie. Wat verstaan sulke mense nie van die evangelie nie? Die evangelie sê tog dat Christene vir mekaar moet omgee, meer nog, mekaar moet liefhê.

Wat sulke mense waarskynlik nie verstaan nie is dat in God se familie jy nooit die belangrikste is nie. Die voorreg word vir ander gereserveer. Om die waarheid te sê, jy moet altyd terugstaan om plek te maak vir ander. So ‘n houding tel baie by God. Ja, die segging van Jesus maak dit glashelder: Wie die minste is, sal in die oë van God die meeste wees.

Waarom bly ‘n mens vir iemand kwaad? Omdat jy nie wil terugstaan nie. Jou ego is gekwets en nou moet die ander een betaal. Hier wil die Here juis hê jy moet maar verby jou gewonde ego kyk en die ander persoon as jou broer raaksien en waardeer. Waarom wil jy nie die ander persoon groet nie of beledig jy hom met ‘n skewe kyk? Omdat jy nie wil terugstaan en die minste wil wees nie. Dit is vir jou belangriker om te wys wie jy is as om ander God in jou lewe te laat raaksien.

Wat verstaan ons nie as ons met allerhande negatiewe gevoelens teenoor ander Christene rondloop? Ons verstaan nie dat in God se familie die een wat die minste is, die meeste sal wees nie.




18 Julie: Snuffel die sonde uit. – Jan van der Watt

1 Kor 5:1-8 (fokus 5:6-8)

 Baie van ons is spesialis “sondebelyers”. Ons doen dit in die kerk (sommer so met die lied wat ons na die wetsbediening sing), in ons gebede voor ons gaan slaap en selfs partymaal voor ons eet. Here, vergeef ons ons oortredinge en sonde…

Nou ja, sondebelydenis sonder om met mening van daai sonde in jou lewe ontslae te raak is soos om water in ‘n stukkende emmer te tap sonder om die gat in die emmer reg te maak. Dit help regtig nie veel nie.

Sonde is soos kanker. As jy dit nie heeltemal uitsny nie, groei dit weer en soms erger as tevore. Die probleem is mos dat ons daaraan gewoond raak. Die eerste maal dat ek vloek voel ek baie ongemaklik, maar die tweede maal gaan dit makliker, dit weet ons almal. Dan voel ek nie meer so sleg nie en is ook nie so vasberade om van die vloek ontslae te raak nie. Juis daarom wil die Here hê ons moet die sonde sommer vinnig uitsnuffel en dadelik daarvan ontslae raak, heeltemal ontslae raak, in alle geval voordat jy daaraan gewoond begin raak. As jy daai eerste maal vloek en jy vra die Here om verskoning, moet dit sommer ook die laaste maal wees. Daar moet nie eers ‘n ou klein stukkie, ja, ‘n effense gedagtetjie om weer te vloek agterbly nie. Dit is die enigste manier. So moet dit ook met oneerlikheid, geskinder, woede en wat nog alles in jou lewe gaan. Dit moet vinnig en effektief uitgesnuffel en van ontslae geraak word.

As jy sonde bely, doen dit ordentlik; moenie soos ‘n emmer met ‘n gat in wees nie. Snuffel daai sonde uit en raak heeltemal daarvan ontslae.




17 Julie: Ken jou eie beperkinge. – Jan van der Watt

1 Kor 4:8-21 (fokus 4:8-21)

 Die verskil tussen ‘n verstandige mens en ‘n windbol is dat ‘n verstandige mens sy beperkinge en grense ken. Een van die grootste flaters wat ‘n mens in die Bybelse tyd kon maak was juis om nie jou eie grense en beperkinge te ken nie, met ander woorde, om te dink jy is belangriker as wat jy eintlik is. Vandag voel ons nie meer so sterk daaroor nie, en skryf dit dikwels sommer as ydelheid af.

Miskien het die mense destyds iets meer van menswees verstaan as ons. Windmakerigheid oorskrei grense op so manier dat dit op ander se tone trap. Windmakers moet ander altyd minderwaardig probeer maak sodat hulle hulleself so vol wind kan probeer pomp. Ander moet altyd verstaan hoe belangrik hulle is, hoeveel beter hulle is, hoeveel sterker hulle is… en dit is altyd ten koste van die ander.

So gaan ‘n mens nie met ander mense om nie. Jy probeer nie hulle waardigheid of menswees deur jou windmakerigheid vertrap of seermaak nie. As jy dit doen, wys dit juis jou eie minderwaardige gebrek aan selfkennis. Vir die Here is dit belangrik dat jy as sy kind jou grense en beperkinge ken. Jy hoef nie minder te wees as wat jy is nie, maar jy moet ook nie maak of jy meer is nie. Wees net jouself. Dit is wat ‘n verstandige mens doen.




16 Julie: God en jy: ‘n onkeerbare span. – Jan van der Watt

1 Kor 3:16-4:7 (fokus 4:1-7)

 Daar is ‘n uitdrukking: “Die Here sal dit vir my gee, as ek hard werk”. ‘n Ander uitdrukking sê weer: “Bid asof jy nie gewerk het nie en werk asof jy nie gebid het nie”. Beide hierdie uitdrukkings sê een ding: Christenskap is spanwerk. Jy kan nie alleen in jou eie klein hoekie speel nie. God nooi jou uit, nee, moedig jou aan, om saam met Hom in sy span te speel.

 Ons sukkel soms om die balans reg te kry: Partymaal verwag ons te veel van die Here en te min van onsself. Ons sê maklik: die genade van die Here is genoeg en dan is dit afgehandel. Ander kere verwag ons weer te veel van onsself en te min van God. Ons neem al ons beplanning in ons eie hande en vergeet eintlik bietjie van God.

Om saam met God in sy span te speel, beteken om balans te hou tussen wat die Here doen en wat jy doen. Die Here is daar om jou te help en te seën, maar dan moet jy dinge doen waarmee Hy jou kan help en waar Hy jou kan seën. Uit die teenwoordigheid van die Here in jou lewe moet jy elke dag leef, maar dan moet jy so leef dat die Here by jou teenwoordig wil wees. Sy wysheid en liefde moet jy soek as jy regtig ‘n lewe van wysheid en liefde wil leef. Dit is sy krag en genade wat jou sal dra as die druk vir jou te groot raak, maar dan moet jy net nie gaan sit nie – anders sal jy nie sy krag en genade kan ervaar nie.

Die Here doen nie die dinge vir jou nie, maar sonder Hom kan jy die spel van die lewe ook nie ordentlik speel nie. Christenskap is spanwerk. Laat die Here toe om sy deel in jou lewe te doen en doen jy voluit jou deel… Saam maak julle ‘n onkeerbare span.