4 Julie: Die Here wil menseoffers hê. – Jan van der Watt
Rom 11:33-12:8 (fokus 12:1-8)
Het jy al ooit oor offers in die Bybel gewonder? In die Ou Testament is daar net diereoffers. Menseoffers word totaal verbied. In die Nuwe Testament is dit net omgekeerd. Daar is diereoffers uit en menseoffers in: Jesus is vir ons geoffer en hier in 12:1 word daar selfs gesê dat ons offers moet wees. Hoe nou gemaak?
Wel, die verandering het gekom toe dapper Joodse soldate hulle lewens in die stryd teen die vyande verloor het. Toe het die Jode begin praat van mense wat hulle lewens vir die Here opgeoffer het. Hierdie mense was natuurlik helde, want hulle vasberadenheid, liefde en toewyding aan die Here was tot die dood toe. As iemand dus sy lewe so uit totale liefde vir ander gee, is daar van offers gepraat.
Natuurlik, toe Jesus kom en sy lewe uit totale liefde en oorgawe vir ons gee, kon dit nie anders nie – dit is ‘n offer genoem. Hierdie was nie sommer net ‘n “opoffering” nie, maar ‘n offer wat vir ons sonde by God betaal het.
En nou is die verhaal by jou (12:1): jy moet ook ‘n offer in God se hand wees. Om dit te kan wees moet jou lewe ook oorloop van liefde en lojaliteit teenoor Hom, anders gaan jy dalk oppad altaar toe omspring en weghardloop. Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom gee.
Maar jou offer werk bietjie snaaks: dit beteken nie dat jy doodstil op ‘n altaar gaan lê nie. Allermins, dit beteken dat jy elke oomblik sal reg wees om in oorgawe die wil van die Here te doen. Jou offer is nie ‘n “sondeoffer” nie; dit is ‘n “aksieoffer”.