26 Junie: Junie Laat Jesus jou die regte taktiek leer. – Jan van der Watt

Rom 7:1-25 (fokus 7:7-25)

 Het jy al op jou lip gebyt omdat jy  “ja” gesê het toe jy eintlik “nee” wou sê? Het jy al gewens jy kan die horlosie terugdraai om te kan regmaak wat jy opgemors het? Paulus ken daai gevoel (7:18-25). Sonde het die styl om onverwags op jou af te kom. Dit vang jou onkant en voor jy jou kan kry land jy vierkantig daarin. Baie keer is dit nie asof jy daarvoor gesoek het nie. Voor jy jou kon kry, was dit daar – die sonde het jou gesoek.

Paulus weet hoe om sulke onaangename verrassings uit te skakel sodat jy nie onkant gevang word nie. Daarvoor het jy iemand nodig om jou die regte taktiek te leer: Jesus (7:25). Jy en Jesus kan dit saam doen. Maar hoe? Jy moet op jou hoede wees, en daarvoor help beplanning. Jy moet saam met Hom ʼn plan uitwerk om met die sonde in jou lewe klaar te speel, ja, op so manier klaar te speel dat jy glad nie onkant gevang kan word nie. Jy moet die sonde uitoorlê in plaas van andersom.

Dit is nie iets wat sommer oornag gebeur nie, want jy moet die regte taktiek aanleer. Nie alleen jou wil nie, maar ook jou deursettingsvermoë en toewyding moet gevorm word deur die regte taktiek, God se taktiek. Jy moet leer om te kan luister en reg te kies. Jy moet met toewyding luister wat Jesus wil hê en dan met deursettingsvermoë te gaan doen wat Hy vra. Maar jy moet ook so doof soos ‘n kwartel wees en so onwillig soos ‘n steekse donkie… as dit by die sonde kom. Jy moet ‘n “sesde sintuig” ontwikkel wat sonde kan uitruik voor dit nog by jou uitkom. Dit is ʼn kwessie van “los wat verkeerd is om plek te maak vir wat reg is”. As jy bereid is om Jesus toe te laat om jou sy taktiek te leer, is daar vir jou hoop!

SAAM met Jesus KAN jy regtig WEES wat jy as Christen WIL wees.




25 Junie: Oppas vir hokkies in jou lewe. – Jan van der Watt

Rom 6:11-23 (fokus 6:11-23)

Baie mense deel hulle lewens in hokkies in, veral as dit by die kerk of godsdiens kom. As hulle Sondae by die kerk klaar is, bêre hulle die “dinge van die siel” in ‘n hokkie en gaan met ander dinge in die lewe aan. Dan kom jy nie eers agter hulle is in die “dinge van die siel” geïnteresseerd nie.

Dis nie die idee wat die Here van die lewe het nie, in alle geval nie vir jou as Christen nie. Om Christen te wees beteken nie net om die hokkie van jou “siel” vir die Here te gee en so vir die res van die week sy invloed uit die ander hokkies uit te hou nie; nie eers as jy dit onbewustelik doen nie. Rom 6:13 praat van elke liggaamsdeel van jou, ja, die héle jy, wat die Here s’n moet wees, elke dag, die hele dag.

Jy kan maar by jou kop begin. God wil ons nie net van ons nek af onder toe hê nie. Hy soek nie net ons harte nie. Nee, Hy wil ook, maar veral ons koppe hê. Ons moet anders dink, ja, soos Hy begin dink. Want as ons anders begin dink, gaan ons anders begin doen. Dan gaan ons tong anders begin praat en ons ore anders begin luister. Dan gaan ons hart anders begin klop, meer nog, vir God se dinge begin klop. Ons lewe vir die Here kan nie in ʼn hokkie toegesluit word nie, nie in die kerk nie, nie in ons stiltetyd nie, nêrens nie. Dit wat ons vir die Here Sondae in die kerk sê moet Maandag en Dinsdag ook ons lewensleuse wees.

Gooi die hokkies in jou lewe weg – leef voluit saam met God.




24 Junie: Moenie God se genade mors nie. – Jan van der Watt

Rom 5:12-6:10 (fokus 6:1-10)

 Die evangelie is soos om deur ʼn vreemde land te reis. Daar is verrassings om elke hoek en draai. Waarskynlik een van die grootste verrassings op reis deur die evangelie is God se genade – nie net dat Hy ons genadig is nie, maar omdat sy genade so groot is. Rom 5:21-6:10 is een van die stilhouplekke op ons reis saam met God waar ons dit die duidelikste sien.

Wat sien ons hier? Wel, kan ons soveel sonde doen dat God se opgaartenks van genade sal leegloop? Of anders gestel: kan ons God ooit bankrot maak aan genade? Nooit!

As daar een ding is waarvan God genoeg het, dan is dit genade. Al kan ʼn mens al die sonde wat gelowiges ooit gedoen het, aan een kant van die skaal pak, sal die kant met God se genade nog altyd swaarder bly weeg.

Maar, al is daar so baie genade mag ons dit nooit mors nie. Ons mag nooit dink dat ons maar net kan aanhou sondig omdat God maar net weer en weer genadig sal wees nie. Dit is waar God die krane toedraai. Hoewel daar baie genade is, is dit nie goedkoop nie. Jesus het elke druppel daarvan vir ons met sy bloed verdien. Al is daar baie genade, raak dit tog skaars of droog selfs op as jy dit begin mors.

Jy mag nooit God se genade goedkoop maak nie. Vir die wat verstaan hoe kosbaar genade is, is daar ‘n oorvloed. Dit kan net nooit opraak nie. Maar vir die wat dit goedkoop maak deur te dink dat dit maar net sal aanhou omdat dit verniet is, sal verbaas wees hoe gou genade klaar raak.




23 Junie: Moenie vals geestelike note sing nie. – Jan van der Watt

Rom 5:1-11 (fokus 5:1-11)

 ‘n Ou vertel eendag dat nadat die dominee hom in die kerk hoor sing het, het hy hom toestemming gegee om liewer op Sondae te gaan golf speel. Ons geestelike lewens is dikwels ook maar so. Ons moet liewer maar iets anders gaan doen, want ons maak dikwels ʼn gemors van die geestelike lewensnote wat ons sing.

Hier in Rom 5:1-3 lees ons van vrede, feesvier, blydskap en sulke dinge. Dit is hoe Christene se lied moet klink. Dit is die note wat ander van ons kant af moet hoor. Dit is musiek wat mense opgewonde en vol blydskap moet maak, en dit oor die Here.

Ons moenie in ons lewe verkeerde of vals geestelike note maak nie, want ander mense hoor dit. En die ongeluk is dat die vals note die res van die goeie musiek ook sommer bederf. Dan wil ander nie eers meer verder na ons luister nie. Hulle verlang ook sommer dadelik na die “gholfbaan”. As ons as Christene die note van ontevredenheid of terneergedruktheid of  ʼn gebaklei sing, gaan dit nie mense opgewonde maak oor ons lied nie. Dan moet ons onsself vra of ons in die kerk hoort en nie liewer daarbuite op die “gholfbaan” nie. Maar as die vreugde wat net Jesus kan gee, die feesklanke van iemand wat gered is, die uitstraling van iemand met vrede, die note is wat ons “sing” sal ander wil saamsing.

Hou by die regte note in jou geestelike lewe.