18 Junie: Gaan aanbid!. – Jan van der Watt

Rom 1:18-32 (fokus 1:18-32)

ʼn Vriend van my sê altyd: “Ek gaan die Here aanbid”. Dan gaan hy na sy stukkie grond toe in die bosveld. Een dag vat hy my saam om te gaan “te gaan aanbid”. Toe verstaan ek hom beter.

As ʼn mens teen die heuweltjie uitstap en die vlakte lê onder jou met die vaal-groen bosse tot teen die horison waar die son sy kop begin knik om te gaan slaap… dan oorweldig iets jou. Jy weet jy is nie alleen nie, al is dit net die besies se eentonige geluid wat die stilte breek. Ja, jy is nie alleen nie, want jy kan ‘n Kunstenaarshand aanvoel: die hemel wat met pragtige hale van goudgeel en sagte rooi sonstrale beskilder is, die wolkies wat soos oorkookmelk teen die bergie hang, laat jou wéét: Hy is dáár. Dan aanbid jy… nie net omdat jy oorweldig word deur skoonheid nie, maar omdat jy dankbaar is om deel hiervan te wees. Dankbaar omdat jy die Here kan ken wat alles gemaak het.

Dit is wat Rom 1:20 ook bedoel. Niemand het God nog ooit met die oog gesien nie, maar as jy in sy skepping kom, weet jy Hy is dáár.

Gaan sit op die Here se skoot en aanbid Hom… op die heuwel in die bosveld, langs die strand, in jou tuin. Hy is dáár!




17 Junie: Jy gaan meer ontvang as wat jy gee. – Jan van der Watt

Rom 1:1-17 (fokus 1:8-15)

 Ek is nie altyd seker wat die lekkerste is nie, om geskenke te gee of te ontvang. Party mense sê dis lekkerder om te gee, want dan hoef jy nie dankiebriefies te skryf nie. In ons huis is die gesin gewoonlik meer opgewonde as ek as hulle vir my ʼn geskenk gee. Hulle wil die reaksie sien as ek dit oopmaak. As ek bly is, is hulle ook bly. Onnodig om te sê, lyk ek maar altyd bly.

In Rom 1:11-12 sê Paulus dat hy nie kan wag om vir die gelowiges in Rome geskenke te bring nie. Hy hou baie daarvan om dit uit te deel, want dit is nie sommer gewone geskenke nie. Die geskenke kom uit God se geskenkekas en is deur sy Gees toegedraai – Paulus moet dit net aflewer. Die geskenke is ook om ‘n ander rede spesiaal. Die wat dit oopmaak se geloof word baie versterk. En dit maak God bly.

Maar dit is nie net Paulus wat kan lekkerkry oor die geskenke wat hy uitdeel nie. Ons kan ook, want God het sulke geskenke vir ons ook toegedraai om uit te deel. Maar hoe lyk die geskenke? Ons hande, ons ore, ons geduld en liefde is God se geskenke aan ander. Ons moet ander se geloof te versterk, al vra dit wat…  as dit bemoediging vra, moet ons bemoedig; as dit gebed vra, dan moet ons bid; of ondersteuning, dan moet ons ondersteun. So gebruik God ons hande, ore, geduld en liefde om sy geskenke vir ander uit te deel.

En weet verseker: met die uitdelery sal jy uiteindelik meer ontvang as wat jy gee. Dit is die lekkerste van alles.




16 Junie: Gebruik jou kanse saam met God. – Jan van der Watt

Hand 28:1-31 (fokus 28:23-31)

 Spyt kom altyd te laat, veral as dit om verspeelde kanse gaan. Dit is asof jy iets kon gehad het en dit nou nie meer het nie; asof jy iets kon gewees het, maar dit nou nie is nie.

In 28:28 praat Paulus so oor die Jode wat hulle kanse met God verspeel het. Wat kon gewees het – hulle vriendskap met God – is nie meer nie.

Maar wat doen ons anders as ons fisies in die kerk sit, maar met ons koppe besig is om die week se program uit te dink; of as ons op ons knieë gaan om vinnig te bid voor ons in die bed spring, maar tydens die gebed ons gedagtes op allerhande paaie stuur behalwe op die pad na God toe.

As ons mooi dink is ons ook besig met verspeelde kanse. Die tyd wat ons vir God opsy gesit het, gebruik ons tog maar weer vir onsself. So verspeel ons die kans om God se hart te voel klop, om sy stem te hoor, om net stil te word en sy teenwoordigheid in te drink. Op die manier kan ons nie geestelik groei nie.

As jy dus tyd opsy sit om by God te wees, gebruik dit ten volle. Moenie jou kanse verspeel nie.




15 Junie: God se liefde wip nie op en af nie. – Jan van der Watt

Hand 27:1-44 (fokus 27:13-20)

Jy moet nie God se liefde meet aan hoe goed of sleg dit met jou gaan nie.

As ons God se liefde moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan, sou Paulus in ernstige moeilikheid gewees het. Hy sou beslis kon getwyfel het of die Here hom hoegenaamd liefhet. Lees maar net Handelinge: as hy in ʼn stad kom gooi hulle hom of in ʼn tronk, of lag hom uit, slaan hom, gooi hom met klippe en as hy op ʼn skip klim, soos hier in hoofstuk 27, sink die skip. Sy lewe was alles behalwe maanskyn en rose.

Interessant genoeg, het Paulus nooit een oomblik aan God se liefde getwyfel nie; nie onder die slae wat val, die klippe wat reën, of die skip wat sink nie. Deur dit alles het hy een ding geweet: God het hom lief!

God se liefde is immers op ʼn ander plek onbetwisbaar bewys… aan die kruis op Golgota. Daar staan dit vas in die geskiedenis ingegrafeer en niemand kan dit ontken nie. As ons mooi dink besef ons hoe slim God se plan was. Dink net hoe onseker sou ons van sy liefde gewees het as ons dit moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan: soos ons omstandighede op en af gewip het, sou ons die een dag seker van sy liefde kon wees en die volgende dag weer nie. Nee, God se liefde wip nie so op en af nie.

Moenie God se liefde vir jou aan jou wisselende omstandighede meet nie. Meet dit aan die kruis op Golgota. Daar het God vir jou gewys dat Hy jou innig liefhet.