10 Junie: Moenie skinder nie. – Jan van der Watt

Hand 21:15-22:16 (fokus 21:21-25)

Iemand het eendag droog opgemerk: “Adam en Eva het seker nie baie met mekaar gesels nie, want daar was niemand anders om oor te skinder nie”. Skinder is seker een van die mees vernietigendste tydverdrywe wat daar is en tog hou mense so daarvan. Die gevaar van skinder is dat dit so seermaak en afbreek. Die bedoeling met skinder is nooit goed nie. Kyk net hoe seer het dit vir Paulus gemaak. Skinderstories het gesorg dat hy in Jerusalem in die tronk beland (21:21).

  • Skinder is agterbaks. Dink mooi… dit is om iemand agter sy rug seer te maak en af te kraak. Die persoon is nie eers self daar om homself te verdedig nie. Dan draai jy gewoonlik die inligting dat dit so sappig as moontlik klink.
  • Skinder is ook gewoonlik ʼn bietjie van ʼn gelieg. Omdat die persoon nie daar is nie, kan jy mos sê wat jy wil sonder om bang te wees dat jou leuens gaan uitkom of dat iemand jou gaan teëspreek. Wie sal nou weet as jy so bietjie aandik?
  • Skinder is ook venynig, want gewoonlik skinder ʼn mens nie om te vertel hoe goed iemand is nie! Inteendeel.

Wie wil nou ʼn agterbakse, venynige leuenaar wees? Moet dan nie skinder nie.




9 Junie: Die Gees lei jou doodgewoon. – Jan van der Watt

Hand 20:13-21:14 (fokus 20:17-26)

Hoe lei die Heilige Gees ʼn mens met jou besluite? Ons lees op ʼn paar plekke in Handelinge dat Paulus sê die Heilige Gees het hom gelei, soos hier in 20:22. Maar presies hoe het dit gebeur?

As ons in die gedeeltes begin soek na wat die Heilige Gees presies gedoen het, kry ons min. Maar dit sê juis vir ons baie. Ons lees nie van weerligstrale en groot stemme uit die hemel nie. Alles is doodgewoon, maar in die doodgewoonheid van die lewe weet Paulus wat die Gees wil hê hy moet doen.

Dit is hoe die Heilige Gees normaalweg in ons ook werk… doodgewoon. Doodgewoon omdat die Heilige Gees elke tree van ons lewenspad saam met ons is. Hy slaan nie net af en toe soos ‘n weerligstraal in ons lewens in nie. Ons bely mos die Heilige Gees is by ons, nee, nog beter, in ons, elke dag en vir altyd. As ons dus die geestelike ore van ons hart en verstand oopmaak, sal ons sy stem hoor. En as ons gehoorsaam luister, sal ons gaan waar Hy ons lei. Ons moet net seker maak ons ore is oop sodat ons kan hoor.

Of prakties gestel: As ons die Gees vra om ons met ʼn belangrike besluit te help en ons maak dan biddend ʼn beslissing, hoe moet ons dan oor ons besluit voel? Moet ons sê God het niks daarmee te doen nie, of moet ons aanvaar dat die Gees ons in ons besluit gelei het en dat God dus daarmee tevrede is? Verlaat die Heilige Gees jou skielik as jy belangrike besluite moet neem? Dink bietjie hieroor na… en vra jouself  af wat die implikasie van jou antwoord is.




8 Junie: Hoekom slaap mense in die kerk?. – Jan van der Watt

Hand 19:21-20:12 (fokus 20:7-12)

 ʼn Klein seuntjie het eenmaal vir sy ma gesê hy dink die kerk is so stil omdat die mense so slaap. Daar is darem troos vir die arme dominees in wie se kerke dit gebeur. Dit het met Paulus ook gebeur – Eutigus het tydens een van Paulus se preke op die vensterbank aan die slaap geraak en bo uit die venster van die gebou uitgeval (20:9).

Ons mag so bietjie grappies maak oor die geslapery in die kerk, maar eintlik is dit een van die dinge wat my nog altyd laat wonder het… hoekom kom mense kerk toe om te slaap? Of is dit dalk dat hulle nie bedoel om te slaap nie, maar dat hulle nie anders kan nie. Dit wat daar gebeur kan hulle eenvoudig nie wakker hou nie. ‘n Mens wonder.

Daar is seker baie redes waarom mense die moeite doen om kerk toe te kom en dan daar kom slaap. Tog is elke persoon wat ek in die kerk sien slaap vir my soos ʼn preek op sy eie. Dit laat my wonder waarom ek daar is. Wat kom doen ek daar? Sit ek nie ook dalk met my oop oë en al en slaap nie?

As jy weer iemand in die kerk sien slaap… moenie te lank vir hom kyk nie. Dink liewer aan die redes waarom jy daar is.




7 Junie: As jy daai spookhuisgevoel kry, hardloop!. – Jan van der Watt

Hand 19:1-20 (fokus 19:13-20)

Die ouer seuns het ons kleintjies lekker banggemaak. Hulle het vir ons stories oor die “spookhuis” daar naby ons vertel wat ons bloed laat stol het. As klein seuntjie het ek net eenmaal by daardie spookhuis gaan inloer, want daarna was ek te bang. Ek onthou vandag nog daai vrees wat my daar beetgepak het. My hart het gebons, maar tog was daar ʼn tinteling wat my vir ‘n rukkie daar gehou het. Op ʼn punt was dit egter vir my net te veel en ek het gehardloop…

Die duiwel se “spookhuis” staan tussen ons. Ons lewe elke dag in sy omgewing. En die Bybel draai nie doekies om oor hoe gevaarlik dit daar is nie. Daar is egter ʼn verskil tussen my ou “spookhuis” en die duiwel s’n. In myne sou daar nie regtig iets gebeur het nie, want daar is nie spoke nie; in die duiwel s’n kan jy regtig seerkry, want die duiwel speel nie – kyk maar na Skeva se seuns (19:15-16).

Ja, as ons op ons lewensreis by ernstige sonde ʼn draai maak, kry ons soms ook daai “spookhuis”-gevoel. Ons is alleen saam met iemand anders se vrou of man… ons teken ‘n kontrak wat ons weet nie so eerlik is nie… Ons hart bons, maar dit is asof ons nie kan wegkom nie. En as ons nie dan vinnig weghardloop nie, is dit dalk te laat.

Hier is goeie raad: As jy daai “spookhuis”gevoel kry, los en hardloop…  Want om op die voorstoep van die duiwel se “spookhuis” te speel is nie ʼn grap nie. Die duiwel sal jou speelgoedjies so pak dat dit mooi in ʼn ry by sy voordeur inloop, tot jy diep in sy “huis” in is. Dan gaan jy sukkel om uit te kom. Los liewer die “speelgoedjies” en hardloop.