17 Mei: Moenie net die helfte van die waarheid raaksien nie. – Jan van der Watt

Hand 1:1-2:13 (fokus 2:5-13)

Wonders sien ʼn mens nie met die blote oog raak nie, maar met die geloofsoog van die hart. Dit is soos die ou wat hulle na ʼn ernstige ongeluk na die ambulans toe wou dra. Die hele tyd wou hy in sy half bedwelmde toestand van die draagbaar afklim en weghardloop. Toe hulle hom later vra wat gebeur het, het hy gesê dat die ongeluk langs ʼn vulstasie was. Al wat hy gesien het was “hell”, want iemand het voor die “S” van die Shell bord gestaan.

Ons sien ook partymaal net die helfte van die werklikheid raak, soos daardie ongelowiges op Pinksterdag – hier was een van die grootste wonders in geskiedenis besig om voor hulle af te speel en hulle dink dit is maar net mense wat dronk is (2:13). Dis hoe ons is. Ons sal vir elke wonder in die lewe ʼn ander verklaring kry, net om nie te erken dat dit n wonder was nie: “Dis toevallig”, “Ek was gelukkig”, of “Ek weet nie mooi wat gebeur het nie, maar…”. Ons weier om die “S” raak te sien en daarom eindig ons waar ons nie wil wees nie… mense wat nooit God se wonders of God self in hulle lewens kan raaksien nie.

Kyk ʼn slag met jou hart na dinge wat rondom jou gebeur. Soek die “S”, oftewel God se teenwoordigheid in jou lewe. Verwag dat Hy jou op wonderlike maniere sal help en verras… en jy sal die wonders in jou lewe begin raaksien.




16 Mei: God meet jou hart nie jou kop nie. – Jan van der Watt

Joh 20:24-21:25 (fokus 20:24-29)

 As God ʼn mens meet, meet Hy die afstand om jou hart en nie om jou kop nie.

Tomas wou nie glo nie, want sy kop het vir hom gesê dat Jesus nie kon opstaan uit die dood nie. Toe die lewende Here Jesus egter aan hom verskyn en het alles verander. Toe het sy hart begin praat. Oorweldig het hy gesê: “My Here en my God” (20:28).

Ons koppe kan partymaal so swaar weeg dat dit ons hart dooddruk. Ons wil so graag soveel slimmer wees as wat ons regtig is. Ons wil God uitpluis en uitredeneer, want ons dink ons kan.

Niemand het dit nog ooit reggekry nie, want jy sal God nooit kan “uitpluis” nie. Hy is immers God en ons is maar net mense. Daarom sal ons ook nooit die opstanding van Jesus met ons koppe kan uitredeneer nie. Dit is iets wat ons met ons harte moet omhels… mits ons swaar koppe die hart net ʼn kans wil gee.

God is nie bereikbaar net met die verstand nie. Ons het die hart ook nodig. Dit is as ons hart vol word van geloof in God dat God begin glimlag oor wat sy “maatband” vir Hom vertel.




15 Mei: Reis met Jesus se padkaart. – Jan van der Watt

Joh 19-31-20:23 (fokus 20:1-23)

 Toe jy die dag ʼn Christen geword het, het jy ʼn lewenslange reis saam met Jesus begin. Die geheim van ‘n suksesvolle reis is dat Jesus die padkaart vashou en nie jy nie. Hy moet die rigting bepaal en die stilhouplekkies kies. Immers, ons is oppad na die bestemming wat Hy vir ons in gedagte het. As ons ons eie pad loop, gaan ons waarskynlik nie die bestemming haal nie.

In 20:21-23 kan jy so bietjie loer na Jesus se beplanning vir jou reis. Deel van die reis is om geskenke af te lewer, ja, om vir ander uit te deel wat Jesus vir jou kom gee het. Die Vader het immers vir Jesus gestuur om vir mense die gawe van die ewige lewe te gee. Net so stuur Jesus jou nou om dieselfde te gaan doen (20:21). Op jou reis moet jou stilhouplekke geleenthede wees om af te laai… ja, die boodskap van Jesus af te laai. As jy van die stilhouplek af vertrek moet die geur van Jesus se verlossingsboodskap in die lug bly hang. Dit is hoe Jesus jou reis vir jou beplan het.

Jesus laat jou elke dag by baie plekke stilhou. Wat bly agter?




14 Mei: Jou keuses moet die regtes wees. – Jan van der Watt

Joh 19:1-30 (fokus 19:1-16)

Regte of verkeerde keuses kan ons lewenspad radikaal beïnvloed. Een verkeerde keuse kan jou heeltemal op die verkeerde pad sit. Die Jode het in 19:15 een so ʼn radikale keuse gemaak. Hulle moes tussen God en die keiser kies… en toe kies hulle die keiser. Daarmee het hulle in een oomblik hulle rug gedraai op alles wat hulle geglo het en die verkeerde pad, weg van God af, gekies.

Dit is nie dat hulle doelbewus teen God wou draai nie (sien 16:2). Hulle geestelike oë het egter so dof geword dat hulle Hom nie meer kon raaksien nie. Hulle het so vol van hulleself en hulle eie godsdiens geword dat daar nie meer plek vir God in hulle keuses was nie. As jy jou oë so van God afhaal sal jy Hom nie meer so helder kan sien nie – dan kies jy gewoonlik maar vir jouself en jou eie belange (sien 11:49-50).

As gelowiges moet ons nooit toelaat dat ons geestelike oë so dof word dat ons God in ons keuses begin miskyk nie. En die vinnigste manier om jou oë dof te kry is om net na jou eie behoeftes te staar en van God se agendas te vergeet. Nee, ons keuses en agendas moet die regtes wees… dit wat Jesus gelukkig maak.