13 Mei: Hoe goed is ou geheue?. – Jan van der Watt

Joh 18:12-40 (fokus 18:12-27)

 Hoe goed kan jy onthou? Interessant genoeg, daar is gewoonlik ʼn direkte verhouding tussen die lengte van jou geheue en die situasie waarin jy is. Dink maar hoe vinnig ʼn kind kan vergeet wat hy gedoen het, as die moeilikheid begin nader kom. Aan die ander kant onthou die visserman gewoonlik té goed hoe groot die vis was wat weggekom het. Ons geheues laat ons ook (gerieflikheidshalwe) nogal dikwels in die steek as dit kom by vullis uitdra of daai stukkende ding in die huis wat reggemaak moet word. Natuurlik is dit nie ‘n geval van hoe goed jou geheue is nie, maar hoe sterk jou wil is – wat wil jy onthou en wat wil jy vergeet.

Petrus het ook eenmaal so ʼn “blank” geslaan toe sy situasie vir hom begin warm word het. Hy kon of wou glad nie onthou dat hy Jesus ooit gesien het of naby Hom was nie. “Neeee, hy was noooooit ʼn dissipel van Hom nie” (18:17,25). Toe dinge vir Petrus te warm begin word het, het sy geheue hom ook lelik in die steek begin laat (26).

Dit laat my wonder hoe goed my geheue is as dinge vir my as Christen begin warm word?  Wat onthou ek van Jesus as ek by ʼn plek kom waar mense nie van Jesus wil hoor nie? Vergeet ek ook maar om te onthou?

Hoe goed is jou geheue? Of anders gestel, hoe graag wil jy Jesus onthou as dinge vir jou begin warm word. Die antwoord sal nogal vir jou baie vertel van jou verhouding met Hom. As die antwoord nie so positief is nie, onthou dan maar weer vir Petrus. Hy het kans gekry om sy foute reg te maak en het dit gebruik. Jy moet ook as dit nodig is.




12 Mei: Moenie die Here op die verkeerde manier help nie. – Jan van der Watt

Joh 17:1-18:11 (fokus 18:1-11)

 Petrus kap sowaar Malgus se oor af (18:10). ʼn Mens wonder waarom nou juis sy oor en nie sy hand of so iets nie. Wel, ons weet nie presies nie, maar een ding is seker – Malgus sou nou nie meer so lekker na die Evangelie kon luister nie.

Ons kan soms met die beste bedoelings mense se ore vir die evangelie afkap. Petrus wou die Here beskerm of selfs help. Dit klink tog goed en ʼn mens kan seker nie daarmee fout vind nie. Maar dinge het verkeerd geloop by die manier waarop hy dit wou doen. Hy wou dit met aggressie doen en dit is nie die taal van die evangelie nie. Dit is om ander se ore vir die evangelie af te kap. Hulle hoor dan niks verder van die evangelie nie, maar sien net die aggressiewe swaard raak. Die evangelie wil liewer gesonde ore hê wat die taal van liefde en vergifnis kan hoor.

Baie keer kan dinge vir ons reg lyk. Dit kan voel of ons in die voorste linies vir God veg.  Maar die manier waarop ons daarvoor “veg” kan ander eerder doof maak vir die boodskap van God. Ons moet met die wapens van liefde veg, want dit kap nie ore af nie.

Ja-nee, ons mag nooit die saak van God skei van die manier waarop ons daardie saak in hierdie wêreld stel of verteenwoordig nie…




11 Mei: Moenie jou voorregte opmors nie. – Jan van der Watt

Joh 16:1-33 (fokus 16:1-5-18)

Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons as Christene is nie. Ons lees byvoorbeeld baie maklik mis wat daar in 16:16 staan: “Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is”.

Kinders kon destyds nie sommer by hulle pa’s instap en gesels nie. Die reëls was anders. Gewoonlik het die ma of ʼn gunsteling (oudste) seun namens die kinders gaan vra as daar iets te vra was. Daarom is daar gevoel dat ‘n mens nog minder sommer met God aan die gesels kon raak. Dit priesters was veronderstel om dit te doen, nie jy nie. Hulle moes offer en met God praat. Self kon jy dit nie doen nie.

Jesus het dinge kom verander. Hy sê: julle kan maar reguit met die Vader praat… Wat ʼn gewone kind nie eers behoorlik met sy eie pa kon doen nie, kan jy nou met God doen. Jy kan na Hom toe gaan en gesels; op sy skoot sit en praat; in sy oë kyk en hulp vra… sommer so reguit.

Dit is wat Jesus vir sy vriende bring: ʼn Vader met oop arms wat na jou toe uitgestrek is. Dan wonder ek hoeveel keer God vir my sit en wag om met Hom te gesels, en ek nie dáár is nie? Dit is darem nou om ‘n voorreg te mors.




10 Mei: So naby…. – Jan van der Watt

Joh 15:1-27 (fokus 15:1-8)

Ons gebruik baie uitdrukkings en woorde om oor ons geestelike verhouding met Jesus te praat. Ons sê Hy sit op die troon van ons hart, of ons volg Hom, of ons gee ons hele lewe vir hom… en so kan ons aangaan.

Dit is nogal interessant om te luister wat Jesus sê as Hy daaroor praat. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan ʼn druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby julle bly – soos ʼn druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies” (4). Wat kan nader aan ʼn druiwestok wees as ʼn takkie. Om die waarheid te sê, sonder die druiwestok is die takkie dood. Alleen as die takkie sy lewensap dag vir dag uit die druiwestok kry, kan die takkie bly leef en vrugte dra. Die druiwestok is die takkie se bestaan; hulle is onafskeidbaar.

Dit is hoe Jesus oor sy verhouding met jou praat. Jy moet geestelik so aan Hom vasgegroei wees dat Hy elke deeltjie van jou bestaan met sy lewenskrag deurspoel word. Elke gedagte van jou hart, elke beweging van jou hande moet uit Hom kom.

Niks mag tussen jou en Jesus kom staan nie, anders gaan die vrug maar min wees.