1 Mei: Jou lewe in ritmiese pas met God. – Jan van der Watt

Joh 8:12-47 (fokus 8:21-30)

Nou die dag land ons in ʼn bergpas agter ʼn motorfiets, een van daai grotes. Ons kon die twee motorfietsers lank voor ons dophou, want die pad was maar draaierig en ons kon nie verbygaan nie. Dit was ʼn pa en sy seun. Beide het sulke ronde Harley Davidson harde hoede opgehad en beide het jeans met ʼn leerbaadjie aangehad. Dit was nie al nie, as die pa sy bene rek, skiet die seun s’n ook uit. As die pa vorentoe buk, buk die seun ook. Soos die pa, so die seun.

Dit is waarvan Johannes praat as dit by gehoorsaamheid aan God kom. In 8:29 sê Jesus dat Hy maar altyd net sy bes vir sy hemelse Vader doen. Hy praat van daai soort  gehoorsaamheid wat God volg sonder teëpraat en vrae; die gehoorsaamheid wat God se wil soek en dit doen.

Daarmee het Jesus vir ons ‘n voorbeeld gestel wat ons moet volg. Om al ons draaie van ons lewensreis moet ons leer om God so dop te hou, soos die seun op die motorfiets sy pa dopgehou het. Soos God, so ook jy. As ‘n mens mooi gekyk het, sou jy agtergekom het dat die seun nie kon sien wat voor aangaan nie – hy het in sy pa se rug vasgekyk. Hy het nie geweet wat kom nie, maar sy pa het. Daarom het hy geweet dat as sy pa sy lyf eenkant toe gooi, hy dit ook moet doen, tensy hy van die motorfiets wou afval. God sien verder as ons. Daarom moet ons doen wat Hy doen, sy “bewegings” in hierdie lewe volg. So sal ons lewe in ʼn ritmiese pas met God se wil kom! Jesus het ons gewys hoe.




30 April: Moenie die skuldlas wat Jesus van jou skouers afgehaal het weer optel nie. – Jan van der Watt

Joh 7:31-8:11 (fokus 7:53-8:11)

Vergifnis het baie met jouself te doen. As jy nie eers jouself vergewe of ten minste leer om jouself te vergewe nie, sal jy nie ver kom om ‘n normale en vreugdevolle Christelike lewe te lei nie. Jy sal gedurig in skuldgevoelens verdrink en nooit regtig die vars lug van vryheid kan inasem nie. ʼn Stukkende jy, vol skuldgevoelens kan nie ‘n heel lewe lei nie.

Daarom moet jy die Here toelaat om jou van jou skuldgevoelens te genees. Eien sy vergifnis vir jouself toe, want dit is waar jou vergifnis vir jouself begin. As jy weet dat wat jy gedoen het nie vir Hom te groot is nie, sal jy van jou skuldlas ontslae kan raak. Jy moenie probeer dra wat die Here klaar van jou skouers afgehaal het nie.

Net soos vir daardie arme vrou wil Jesus jou genees, met jou sonde en skuld klaarspeel. Eers as die vrou verstaan dat ons almal vergifnis nodig het, net soos sy, kan sy wegstap om voor te begin. Dan eers sê Jesus vir haar: gaan stel nou ʼn voorbeeld van gehoorsaamheid aan God (8:11) en sy kan dit doen ook, want Jesus self het die skuldlas van haar skouers afgehaal.

Vergifnis het baie met jouself te doen. Moenie die skuldlas wat Jesus van jou skouers afgehaal het weer optel nie.




29 April: Kyk na God en nie na my nie. – Jan van der Watt

Joh 7:1-30 (fokus 7:14-24)

“Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is! Kyk na Hom en nie na My nie”. Dit is niemand anders as Jesus se woorde nie (7:18). As Hy dit sê, wat moet ons dan nie sê nie!

Partymaal staan ons so in die pad van God dat niemand Hom raaksien nie. Ons kan so kla oor ons groot probleme, so oor onsself praat, so in ons eie gevoelens verdwaal dat ons vergeet dat God deel van ons lewens is en wil wees.

As gelowiges moet ons vra watter boodskap ons by ander agterlaat as ons so oor ons eie lotgevalle sanik. Kom hulle agter dat jy ʼn God het wat jou in jou swaarkry vashou? Kry hulle die idee dat jy hoegenaamd dankbaar is oor wat God vir jou doen? Weet hulle dat jy op jou lewensreis ʼn Metgesel het wat vir jou die verskil maak? Kom hulle hoegenaamd agter dat die Here jou God is?

Dra jou lewe die volgende boodskap: Kyk na God en nie na my nie?!




28 April: Selfverwyt kom altyd te laat. – Jan van der Watt

Joh 6:35-71 (fokus 6:60-71)

Almal wat al gereis het, ken seker so ‘n stukkie selfverwyt oor daai keer dat jy opgegee het – jy het gevoel dit is net te ver, of jy is net te moeg. Nou kan jy nooit regtig sê jy was “dáár” nie. Ons was in Kaapstad, maar daai laaste kilometer Kirstenbosch toe was net te ver. Nou sit in jy Pretoria en wonder hoe dit daar lyk, maar wat help dit nou? Selfverwyt kom altyd te laat.

Hier in hoofstuk 6 lees ons ook van mense wat opgegee het en nooit die eindpunt gehaal het nie. Christenskap het vir hulle net daai stukkie te moeilik begin lyk. Daar is net ‘n bietjie te veel van hulle gevra. In 6:67 wonder Jesus selfs of sy naaste dissipels nie ook dalk wil opgee en omdraai nie. Christenskap ken nie kompromisse nie. Jesus pas nie die eise vir Christenskap by jou aan nie, maar verwag dat jy by die eise sal aanpas. Jy kan Jesus nie net halfpad volg nie. Om op te gee of selfs net halfpad te loop, beteken om nooit die einde te sien nie; om nooit te weet hoe dit regtig “dáár” by Jesus is nie.

Daarom ken Christenskap nie die woord “opgee” nie. Christenskap beteken deurdruk en uithou. En daar is ʼn goeie rede voor, soos Petrus sê: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie!” (6:68). As jy eers vir Jesus leer ken het, watter ander pad is daar dan vir jou om te loop? As jy omdraai, na wie toe sal jy gaan?

Stap nou die pad saam met Jesus en stap dit enduit, al kos dit wat. Dit is sowaar die moeite werd. En onthou, selfverwyt kom altyd te laat.