Genetiese Predisposisie en Homoseksualiteit
Genetiese Predisposisie en Homoseksualiteit
Genetika en molekulêre biologie het belangrike insigte bygebring in die bestudering van menslike gedrag wat met oorerflikheid gepaardgaan. Tog kan dit nooit los van sosiologiese en psigologiese faktore verstaan word nie. Dit gaan dus altyd om die omvang van die invloed en die verhouding van voeding en opvoeding (“nature and nurture”). Maar die mens is ook nie net te definieer in terme van biologie en kultuur nie.
Biogenetiese wetenskap kan nie uitsluitsel oor etiese keuses gee nie. Die wetenskaplike feit bepaal immers lank nie die uitslag van ‘n etiese beslissing nie. Die wetenskap plaas ons altyd voor keuses: gaan ons onsself as slagoffers van omstandighede en dus onskuldig beskou, of gaan ons verantwoordelikheid vir ons omstandighede aanvaar? Eersgenoemde opsie kan ons wel terugneem na die kwessie van die oersonde van die skeppingsverhale en soos Adam, kan ons ook vandag sê, [die skuld lê by] “die vrou wat U my gegee het” (Genesis 3:12) en die tweede opsie kan ons weer bewus maak van die mens se vrye wil waarmee God ons geskape het en daarmee saam die kennis van goed en kwaad. Menslike gedrag is altyd ‘n funksie van oorerflikheid, omgewing én keuses.
Dit gaan ten diepste dus om ‘n bepaalde werklikheidsverstaan. Ten einde enige moontlike vorm van reduksie te voorkom in die verstaan van die werklikheid (of van die mens), is ‘n komprehensiewe benadering dus van die uiterste belang. Teologie is ‘n “konteks-sensitiewe” dissipline aangesien sy inhoude altyd met kulturele inhoude moet korrespondeer. En omdat teologie met dieselfde werklikheid te doen het as die ander wetenskappe, is dit essensieel dat teologie deurgaans in gesprek met hierdie wetenskappe sal bly verkeer. Die taak van die teologie is dan o a om kennis van die natuurwetenskap se resultate te neem, dit te interpreteer en dan binne ‘n bepaalde kulturele konteks te plaas. So kom koherensie eventueel tot stand.
Reduksionisme is ‘n vanselfsprekende konsekwensie wanneer ‘n liniêre oorsaaklikheidsverband van die DNS na gedrag gelê word. Mense begin hulleself nou verstaan as opgemaak uit gene, soos die aangetekende hofsake waarin beskuldigdes hulle verweer deur hulle op hulle genetiese predisposisie te beroep. Daarom word daar ook voortdurend verwys na die sogenaamde misdaad-geen, die geweld-geen, die alkoholis-geen, die gay-geen, die ras-geen, die geloof-geen en ander. Die genetiese kode vra egter om altyd binne ‘n groter verband geplaas te word waarin oorsaaklikheid en uitkoms begryp kan word. En hiervoor is die natuurwetenskap alleen totaal ontoereikend. Die DNS-kode moet steeds gedekodeer word en dit verg interpretasie. Genetiese predisposisie het dus sy besliste grense.
Aan die mens se seksuele oriëntasie kan weinig gedoen word, aan jou geestelike tuiste wel. Kerkwees is die heilige boog wat koms en wederkoms verbind; ‘n boog waaronder en waardeur die Christen gevorm word. Dit is die verhaal van mense wat deur God aangeraak is en wat hulle in die kragveld van die Gees bevind. Daarom moet die kerk ook altyd ‘n warme gemeenskap van gelowiges daarstel waar mense tuis kan kom en sin van alles kan vind. Dit moet ook ‘n onderdak kan bied vir die dakloses, ‘n nis vir die randfigure van die samelewing. Natuurlik sal daar verskillende “sacred canopies” wees waarbinne mense tot hulle reg kan kom; die keuse lê immers eventueel by die individu om binne ‘n bepaalde nis te eksisteer of nie. Die kerk het egter die sware verantwoordelikheid om voortdurend die korrelaat tussen Skrif en praksis te soek – want die liefdesgebod kan nooit gekompromitteer word nie.
AGTERGROND
Navorsing identifiseer sowel biologiese as kulturele faktore wat meewerk tot homoseksuele gedrag.
o Mense soos Hamer en LeVay het in hulle navorsing oor genetiese predisposisie en homoseksualiteit gevind dat wel sekere genetiese littekens op die langbeentjie van die X-chromosoom in die omgewing van Xq28 by homoseksuele mans voorkom. Die navorsing het ook verder uitgewys dat die moeder hierdie bepaalde genetiese patroon oordra en dat dit slegs in die manlike nageslag van so ‘n moeder manifesteer. Dit beteken dus gewis dat homoseksualiteit ‘n biologiese substraat het.
o Bem weer is daarvan oortuig dat ervarings en kulturele faktore aan ‘n persoon se seksuele oriëntasie meewerk. Sy sogenaamde Exotic Becomes Erotic -teorie (EBE) pretendeer dat die mens aangetrokke tot ‘n ander persoon is (van watter geslag ook al) in die mate wat verskil en onderskeid gedurende die kinderjare met daardie geslag beleef is. Die seksuele ontwikkeling volg dan ‘n bepaalde ketting: biologiese veranderlikes à kinderjare temperament à geslagskonformiteit of nie à ervaring van anders wees (“exotic”) à psigologiese aantrekking deur gelykes à seksuele hunkering na ander mense. Aangesien in meeste kulture die een geslag die ander geslag as “eksoties” ervaar, word ‘n evolusionêre proses van “eksoties-word-eroties” in die betrokkenes gevestig. Psigologiese aantrekkingskrag, ongeag die bron of aanleiding daartoe, lei dus na erotiese aantrekkingskrag.
Sedert die 1990’s het neuro-, kognitiewe wetenskap en artifisiële intelligensie (AI) geweldig opgang gemaak. Daar word hoofsaaklik onderskei tussen die brein, die bewussyn en die gees . Eersgenoemde handel oor anatomiese, fisiologiese en chemiese data; die bewussyn weer betrek sake soos intensie, aksie, persepsie, gewete en verantwoordelikheid; en laasgenoemde kategorie betrek weer die godsdienstige dimensie. Hierdie klassifikasie wil dus stel dat werklikheid ‘n dinamiese begrip is wat altyd word en dat daar ‘n progressiewe evolusie van die laer vlakke na die hoër vlakke toe is. Murphey & Ellis onderskei hoofsaaklik tussen die vlakke van die selstruktuur (l), die organismestruktuur (ll) en die gemeenskapstruktuur (lll), én hulle verstaan etiek integraal deel van die werklikheid. Die sosiale wetenskappe is per se onvolledig tensy etiek dit dus kompleteer. Die sosiale wetenskappe het hierdie toegevoegde betekenisvlak daarom nodig ten einde die vraag na die uiteindelike sin van alles te beantwoord.
Met die koms van homo sapiens het die biologiese evolusie sy kulturele dimensie bygekry. Die mens beskik nou gevolglik oor sowel ‘n organiese as ‘n superorganiese oorerflikheidsleer. Etiek is die resultaat van kulturele en nie van biologiese evolusie nie. Daar is met ander woorde geen isomorfisme tussen die gedrag wat deur biologiese impulse en die gedrag wat deur kulturele impulse plaasvind nie. Dit beteken dat die biologiese geneigdheid om waardeoordele te maak, eers tot etiese gedrag omgesit kan word wanneer dit deur ‘n bepaalde moraal (nie-biologies dus) gekomplementeer word. Morele gedrag vind dus geensins sy korrelaat in die “altruïsme” van diere nie.
Foucault het ook baanbrekerswerk gedoen om seksualiteit binne so ‘n sosio-kulturele raamwerk te plaas en die problematiek van seksualiteit as bloot ‘n modernistiese uitvindsel aangetoon. Botha bou hierop voort en sê dat homoseksualiteit eers in die laaste kwart van die negentiende eeu binne biologiese en mediese kontekste gebruik is en dat die Bybel daarom glad nie praat van die gerigtheid of oriëntasie van seksualiteit nie. Die Bybel veroordeel slegs bepaalde seksuele dade. Menswees konstitueer daarom in terme van verhoudings en die menslike persoon se keuses daarin. Eksistensie realiseer dus altyd binne ‘n bepaalde sosiolinguistiese milieu waar bepaalde oortuigings en moraliteit geld. Menswees is dus ‘n wisselwerking van enkeling en groep, tradisie en ervaring, en alleen binne hierdie netwerk – of nexus, soos Peter Berger dit in sy nuutste boek ook noem – is die mens eers werklik méns. En hierbinne maak die mens keuses, assosiasies en ook dissosiasies. Veral Paul Tillich het baie moeite gedoen om die mens juis ook binne ‘n kulturele sfeer te verstaan. Sy bekende stelling in hierdie verband lui ook, “Religion is the substance of culture, culture is the form of religion.” Elke subjek het dus ‘n bepaalde omgewing waarin dit lewe. Die geheel gaan die onderdeel ontologies vooraf en bepaal daarom die karakter daarvan. Wanneer ek ‘n besluit maak, sê Tillich, spreek die konkrete geheel mee en nie net bloot ‘n geïsoleerde subjek nie. Die mens se persoonwees word dus basies gekonstitueer deur die simbiose van sowel biologiese gene as kulturele meme. Kultuur bring waardes en moraal voort en veronderstel ‘n bepaalde vryheid.
Uit die genetiese navorsing kan die volgende insigte samevattend gestel word:
o Gene handel nooit geïsoleerd nie. Die gene is altyd in wisselwerking nie net onderling nie, maar ook in ‘n wyer konteks. Daar bestaan dus ‘n multifaktoriale oorsaaklikheid.
o Gene se aktiwiteit is altyd indirek. Die bloudruk van die genoom vra om – soos die planne van ‘n gebou – altyd eers gelees en geïnterpreteer te word.
o Gene kan aan- en afgeskakel word. Ten spyte van monosigotiese tweelinge se identiese stel gene, is die ontwikkeling daarvan nietemin verskillend. Selle kan gekloon word, maar nie die mens nie.
o Gene handel slegs op bepaalde fases van ontwikkeling. Alhoewel daar ‘n bepaalde volgorde in die ontwikkeling van die embrio is, is dit tog merkwaardig dat gene ook uit die breinstam migreer en eenvoudig net wegraak.
o Gene en omgewing is altyd interaktief. Dit word veral met byvoorbeeld in die geval van diabetes gesien. Alhoewel die genetiese predisposisie in ‘n mate bestaan, is dit omgewingsfaktore en keuse-uitoefening wat dit laat of nie laat manifesteer nie.
Skrywer: Prof Johan Buitendag