Waarom Bybels verskil

Waarom Bybels verskil – Herman Grobler

Vir mense vanuit die Gereformeerde tradisie is die “Sola Scriptura”, alleenlik die Skrif, ‘n beginsel van groot belang. Die volle Woord, niks bygevoeg nie, maar ook niks weggelaat nie!

Wanneer ons egter na die Bybel kyk, sien ons soms ingrypende verskille tussen ouer vertalings van die Bybelgenootskap, soos die 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling, teenoor moderne vertalings soos die 1983 Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Bybel vir Almal. Ons kan dieselfde verwag met die komende 2016 Die Bybel: ‘n direkte vertaling (BDV).

Onafhanklike vertalings soos die Nuwe Lewende Vertaling, die Interliniêre Bybel en die Boodskap toon dieselfde tendens. Meeste van hierdie verskille kom ook in ander tale voor. Die Bybelvertalers self is hoog bekwame en edel kinders van die Here. Daarom is die verskille nie toevallig nie, maar het ‘n logiese verklaring.

In hierdie reeks artikels gaan ons kyk hoe hierdie verskille in die Nuwe Testament kon ontstaan het, en hoe ons die bewoording van die oorspronklike manuskripte kan vasstel. Ek het reeds sowat 100 verskille intensief bestudeer. Na my opinie kan ons die oorsake onder die volgende kategorieë indeel:

1. Taalontwikkeling. Die 1933-Ou Afrikaanse Vertaling is ‘n skamele 5 jaar na die erkenning van Afrikaans gepubliseer. Daarin word sekere woorde gebruik wat ons nie in die algemene spreektaal gebruik nie. Vir mense wat gereeld die Ou Vertaling gebruik, klink dit bekend maar oor die presiese betekenis is daar onsekerheid. Het jy al ooit “goedertierenheid” in ‘n gewone gesprek gebruik, of iemand anders dit hoor gebruik? Wat sou dit beteken? Uit die 154 verse in die Ou Afrikaanse Vertaling waar dit voorkom, haal ek Ps.5:7 aan: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan…” Die 1983 vertaling het dit vertaal met “groot liefde”. Op ander plekke vind ons in plaas van “goedertierenheid”, troue liefde, My trou, getrouheid, goedheid en so meer.

In ander gevalle het die Ou Vertaling sinsnedes wat vir my onverstaanbaar is. Kyk na die donker gedeelte in 2 Kor.2:17: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.” Ek verstaan hierdie sin werklik nie. God wil tog ondubbelsinnig met ons kommunikeer, sonder dat ons hoef te twyfel oor wat Hy bedoel, of iemand hoef by te roep om dit vir ons te kom verduidelik, nie waar nie?

2. Vertalingsbenadering. Omdat tale verskil, en grammatika nie dieselfde is nie, is ‘n absoluut woord vir woord vertaling onmoontlik. Kyk gerus in die Interliniêre Bybel na Joh. 3:16 en mens besef dat ‘n woord vir woord vertaling onverstaanbaar is. Ek haal aan: “So want Hy het liefgehad die God die wêreld…”. Aan die ander kant het woorde ook nie altyd dieselfde betekenis inhoud nie. So sal woorde soos priester, predikant, dominee, pastoor en leraar nie in alle gevalle met dieselfde woord in Engels gebruik kan word nie. Daar is dikwels ‘n mate van beskrywing nodig. Alle vertalings moet gevolglik op ‘n lyn tussen ‘n direkte woord-vir-woord vertaling en ‘n vrye vertaling of parafrase geplaas word. Die 1983-vertaling benut die “dinamies ekwivalente” benadering waar eerder gedagte vir gedagte vertaal word. In Openbaring 2-3 word die briewe aan die sewe gemeentes elk aan die “angellos” van die gemeente gerig. Die bedoeling in Openbaring is duidelik nie ‘n hemelse wese wat daagliks in God se teenwoordigheid kom nie, maar die menslike voorganger of leier van die gemeente. Daarom vertaal die 1983 eerder met “leraar” as die direkte vertaling “engel”.

3. Die Griekse Bronteks. Die Bybelvertaler moet besluit watter Griekse teks hy sal gebruik om as basis te dien vir sy aanbieding van wat God laat neerskryf het. Soos in alle handgeskrewe kopieë bestaan daar letterlik duisende variasies van die Griekse tekste. Hoewel die kopieerders deur die eeue met groot versigtigheid hul kopieë gemaak het, het foute en variasies soms onbewus, maar soms doelbewus ontstaan. Sulke variasies word noodwendig in opvolgende manuskripte oorgedra.
Toe Desiderius Erasmus in 1516 die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament saamgestel en uitgegee het, kon hy slegs ses Laat Middeleeuse manuskripte in die hande kry. Drie wat die evangelies en Handelinge bevat het, vier met die briewe en slegs een onvolledige manuskrip vir Openbaring. Hy moes na goeddunke tussen die variasies kies en het selfs ‘n hele paar eie veranderinge aangebring wat in geen manuskrip hoegenaamd voorkom nie. Waar sy manuskrip op Openbaring onvolledig was, het hy uit die Latynse Vulgaat sy eie Griekse vertaling gemaak en selfs ‘n woord geskep wat nie in Grieks bestaan nie! Kort na die publisering van Erasmus se teks, is uitgewys dat dit talle foute en tekortkominge bevat, maar die voordeel van ‘n beskikbare teks teen bekostigbare prys het dit laat voortstu. ‘n Halwe eier is immers beter as ‘n leë dop! Sy gedrukte teks is later die Textus Receptus of “ontvangde teks” genoem. Vanweë die gerief van hierdie gedrukte Nuwe Testament, is dit algemeen vir vertalings gebruik. Ook ons 1933/53 Ou Afrikaanse Vertaling het dit as grondteks gebruik.

Tans gebruik Bybelgenootskappe en meeste ander vertalers van die Nuwe Testament eerder die Nestle Aland Teks, of die United Bible Societies se teks. Hierdie tekste neem die ongeveer 5894 Griekse manuskripte in ag, asook meer as 18000 antieke vertalings en die aanhalings van meer as 200 ou kerkvaders. Die variasies word by elke vers onder aan die bladsy in hul tekskritiese apparaat geplaas sodat die vertaler ‘n oorsig het oor al die manuskripte tot ons beskikking. Nou is hy nie uitgelewer aan die lukraak keuse van iemand wat net insig in enkele manuskripte gehad het nie. Die gebruik van ‘n ander grondteks is die oorsaak vir die meeste ingrypende en ernstige verskille tussen ouer en moderne vertalings.

Om ‘n finale keuse tussen die variasies te maak, is ‘n uiters verantwoordelike maar ook delikate uitdaging. Ons wil immers by “Sola Scriptura” uitkom! Ons wil immers vasstel watter van die variasies die grootste moontlikheid bied om die oorspronklike bewoording van die Nuwe Testament te verteenwoordig.

In hierdie reeks gaan ons kyk na die variasies en die gronde waarop ‘n keuse gemaak word. Ek nooi lesers van hierdie blog uit om vrae en teksverse wat hulle hanteer wil hê, aan my deur te gee sodat ek die feite op die tafel kan plaas.
Dan is ons nie uitgelewer aan die propaganda vir die een of ander vertaling nie.
Kom ons vat hande en bestudeer die feite objektief.

Sola Scriptura! Soli Deo Gloria!

 

Skrywer: Herman Grobler