Skrifgesag en uitdagings vir die Kerk

SKRIFGESAG EN UITDAGINGS VIR DIE KERK

Watter uitdagings wag daar vir die kerk? Die vier opmerkings wat nou volg, wil van die kernsake noem wat op die kerk se pad lê as die by Bybellees kom.

 

Die Bybel is van die begin af die kerk se boek en daarom moet dit veral binne die ruimte van die kerk en sy lidmate verantwoordelik bestudeer word. Dit beteken nie dat die kerk moet voorskryf wat in die Bybel staan nie. Dit beteken eerder dat Christene wat die respek vir die Bybel en die lang tradisie van die interpretasie van die Bybel deel, met mekaar in gesprek tree en na die waarheid soek. Natuurlik bly besluite, selfs van die kerk, altyd tentatief en oop vir korreksie, maar dit mag nie beteken dat geen standpunt ingeneem mag word nie. Besluite moet geneem word in die lig – en die volle lig – wat daar op daardie oomblik is. Daarom het die mense in die kerk mekaar „se liggies” nodig.

1) Om by ‘n basisvraag te begin: die kerk se besluit oor wat die Bybel presies vir die kerk is – met ander woorde, hoe word die Bybel gesien – sal bepaal wat die kerk as legitieme skrifhantering sien. Daar is verskeie moontlikhede, byvoorbeeld, as jy die Bybel sien as ‘n boek wat God se woord bevat, maar nie oral nie, sal jy kies en keur (volgens jou eie kriteria) wat jy wil glo en wat nie, ook as dit by die oplos van probleme kom. Dit wil voorkom of baie hededaagse postmodernistiese mense nie meer weet wat hulle dink die Bybel is nie – dit spreek hulle egter nie meer aan as die outoritatiewe Woord wat die boodskap van God deurgee nie.   

2) Hedendaagse mense dink nie meer in terme van antieke kultureel-sosiaal bepaalde opvattings soos ‘n plat aarde nie. Aan die ander kant word die Bybel tog ten spyte van die kulturele bepaaldheid, nog altyd as die Woord waarin God Hom aan ons openbaar, hanteer. Die vraag is egter hoe ‘n mens ‘n verband vind tussen die Bybel wat in die kultuur van 2000 jaar gelede geskryf is en die boodskap (ook vir vandag). Herrformulering van die boodskap in hedendaagse taal is en was nog altyd deel van die kerk se taak, maar dit beteken nie nie vervanging, reduksie of verandering van dit wat in die Bybel gekommunikeer word as God se boodskap nie.   

3) Die kritiese kernsake moet geformuleer word, m.a.w. die sake waarsonder Christene voel hulle nie meer Christene genoem kan word nie – wanneer word daar soveel van die boodskap en Bybel prysgegee dat daar te min oor is om nog werklik as Christelik te kwalifiseer? Sake wat ononderhandelbaar en bepalend vir die wese van die Christendom is, moet duidelik uitgespel word. Watter dele van die Bybelse boodskap beskou die kerk nog as ononderhandelbaar? Is iets soos die fisiese opstanding byvoorbeeld nog werklik ononderhandelbaar?

4) Die hedendaagse tydsgees en filosofie beskou enige vorm van gesagsaanspreke as onaanvaarbaar en dit plaas die kerk met sy Bybelse boodskap onder druk. Postmodernisme laat ons verstaan dat daar nie objektiewe waarheid is nie en dat alle gedagtes relatief en vloeibaar is. Niemand, ook nie die Skrif nie, kan enigsins aanspraak maak op waarheid of gesag wat bo die persoonlike opinies van mense uitgaan nie. Hier lê ‘n wesentlike probleem. Indien daar na die boodskap van die Bybel gekyk word, is dit ‘n openbaringsverhaal wat met goddelike gesag praat en die kerk is die verkondiger en verteenwoordiger van hierdie outoritatiewe boodskap, of dit nou in die mode van die tydsgees is of nie. Die postmodernistiese tydsgees eis egter dat die kerk sy outoritatiewe aanspreke moet los en dit raak die wese van die kerk se verkondiging, aard en missie. Die kerk moet sy standpunt hieroor formuleer en die konsekwensies van sy besluit bereken. Word daar in die rigting van die postmodernisme beweeg sal die konsekwensies van disintegrasie van eenheid, gemeenskap en gemeenskaplike opinie aanvaar moet word, want dit is wat postmodernisme vra. Word daar nie in die rigting van postmodernisme beweeg nie, maar eerder in die rigting wat die gesagsaansprake van die Skrif aanvaar, sal die kerk die konsekwensies daarvan ook moet besef. Dit sal die verantwoordelikheid op die kerk laai om ten spyte van moontlike kritiek steeds sy standpunt duidelik te formuleer en morele leiding aan sy lidmate te bied. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Wat is die verhouding tussen mense se opinies en die gesag van die Bybel?

Wat is die verhouding tussen mense se opinies en die gesag van die Bybel?

In die lig van die artikel oor invloede by die lees en verstaan van die Bybel is dit te verstane dat ‚n spanning tussen die gesag van die Bybel en mense se opinies ontstaan. In ‘n tydsgees waar klem op vrye keuses val, is dit egter te verwagte dat die aandrang op die relevansie en bruikbaarheid van die Bybel al hoe belangriker vraag vir mense word. ‘n Belangrike vraag is dus: wat vra dit om Bybels relevant te wees? En verder: Waar lê die kritiese punt waar die behoefte om “in en relevant” te wees belangriker as die Bybel word as mense besluite moet neem.

Kom ons kyk na twee voorbeelde van Skrifgebruik – een uit Amerika en een uit Europa – waar ons die vraag kan vra: funksioneer die Bybel nog hier as gesagvol? Hierdie benaderings is grootliks beïnvloed deur dieselfde tydsgees as wat hierbo uiteengesit is en wat ons huidiglik rigtingewend beïnvloed.

a) Anti-Judaïsme binne Europa het ‘n sosiaal-etiese taboe na die Tweede Wêreldoorlog geword. Om geen kritiek teen Jode te lewer nie het in sommige gevalle belangriker as die historiese lees van die Skrif geword. (Natuurlik kan niemand anti-Judaïsme goedpraat nie, maar hier gaan dit om enigiets wat Jode doen, al is dit verkeerd. Daar word dus “na die ander kant gesondig”). Op punte waar dit lyk of daar uitsprake teen die Jode in die Skrif is, word die Skrif verwerp as irrelevant en selfs as sondig. Daar word so geargumenteer: die Skrif is deur sondige mense geskryf en bevat dus sondige dele; en nou die belangrike afleiding – watter dele verwerp moet word, word deur die voor- en afkeure van die lesers self bepaal. Díe dele wat nie vir jou ‘reg’ lyk volgens die norme wat vir die gemeenskap gangbaar is nie, kan jy as sonde ignoreer en as irrelevant uit die Bybel gooi. Die konsekwensie is duidelik: As ek nie van iets in die Skrif hou nie, verklaar ek dit tot onaanvaarbaar en uitgedien en volg my eie oplossing. Hierdie benadering word dikwels in debatte oor moeilike etiese sake, soos byvoorbeeld homoseksualisme, of sekere ander seksuele, politieke en ekonomiese gebruike aangetref.

b) Die tweede voorbeeld word uit die hedendaagse Jesusnavorsing geneem. Met verfynde argumente meen byvoorbeeld Crossan dat die hedendaagse mens nie meer in ‘n God kan glo wat oordeel of wat verwag dat sy Seun bloeddorstig aan ‘n kruis sterf om ander se sonde te vergewe nie. Die godsbeeld is net nie meer aanvaarbaar vir moderne mense nie. Tog is dit juis die boodskap van God wat ook die goddelose kom straf, ten spyte van sy liefde vir die wêreld wat graag almal tot bekering wil bring, wat deur die Bybelskrywers beklemtoon word. Om hierdie elemente uit die verhaal weg te laat of daaraan te verander beteken om die wese van Christelike boodskap te verander. Dan raak die Bybelverhaal soos Rooikappie sonder wolf, of krieket sonder ‘n kolf.

Dit doen iemand soos die bekende Crossan dan ook. Op grond van eie voorkeure het Crossan die sentrale elemente van die Christusverhaal, naamlik die kruis en die opstanding as onrealisties vir die hedendaagse navorser verklaar en uitgeskakel. In terme van krieket is die kolf nou weg. Hy aanvaar nie meer die Bybelse weergawe van die verhaal nie, en maak dus sy eie nuwe evangelieverhaal. Sy evangelieverhaal maak van Jesus net ‘n goeie prediker oor die koninkryk van God wat in liefde reeds hier en nou gekom het. Die opstanding van Jesus is bloot ‘n metafoor (of teologiese skepping) wat na geen historiese realiteit verwys nie en daarom kan gelowiges ook nie ‘n opstanding uit die dood of ‘n ewige lewe verwag nie. As ons dood is is ons dood.    

Die vraag is nou of  bogenoemde hanterings van die Skrif binne die raakwerk van die Christelike tradisie nie die kritiese punt oorsteek om werklik as legitieme Bybelse standpunt gereken te word nie? As die kern van die boodskap, soos dit in die Christelike bronne aangebied word, nie meer deel van die Christelike verhaal is nie, en ‘n ander narratief in die plek daarvan aangebied word, of as die Skrif ondergeskik gestel word aan norme wat buite die Skrif om in die gemeenskap funksioneer, raak dit al hoe moeiliker om dit as Bybels outentiek en legitiem te sien, al word daar na tekste in die Bybel verwys.  

In die volgende artikel kyk ons na die uitdagings vir die kerk. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Invloede by die lees en verstaan van die Bybel

DIE LEES VAN DIE BYBEL IN DIE LIG VAN HEDENDAAGSE UITDAGINGS

Wat beïnvloed die lees en verstaan van die Skrif in ons konteks? In die volgende paar artikels gaan allereers gevra word na van die invloede wat ons gemaak het wat ons is, gevolg deur illustrasies van watter konsekwensies sekere besluite ten opsigte van die Skrif het.

Drie invloede wat ‘n belangrike rol speel in wie ons is, gaan nou genoem word, naamlik die kerkhistoriese, die filosofiese en die sosiale faset.

 

1 Kerkhistoriese perspektief

Wesentlik tot die Christelike godsdiens is dat Skrif en kerk deur die hele geskiedenis onlosmaaklik aan mekaar gebind was en mekaar wedersyds beïnvloed het. Die kerk kon gesagvol optree omdat die Skrif aan die kerk daardie gesag toegesê het en binne die kerk is die Skrif as gesagvol (normatief) erken. Sover ek dit kon nagaan was dit egter eers aan die einde van die twintigste eeu in Europa waar ‘n groot beweging binne die konvensionele Christendom ontstaan het wat beide die gesag van die Skrif (bv. soos dit in die opstanding of versoeningswerk van Jesus uitdrukking vind) en van die kerk (bv. belydenisskrifte) bevraagteken en selfs verwerp het, maar hulle self nog as Christene wou beskryf. Die beweging verteenwoordig nie ‘n hervorming nie en word in Europa ook nie so genoem nie, maar is ‘n ontkoppeling aan die tradisionele norme, tradisie en kultus van die Christendom. Daarom is en word die Christendom juis nou voor beslissende vrae ten opsigte van sy eie identiteit gestel – wie is Christene en wat maak hulle so?  Wat is die presiese verhouding tussen Skrif, kerklike leierskap en Christenskap? Bv. sou ‘n mens nog Christen genoem kon word as jy die gesag van die Skrif ontken of besluit om kerklos te funksioneer?

 

2 Filosofiese impasse

‘n Goeie tipering van die 20-eeuse filosofie is dat dit nie meer vertroue het in sy eie bestaansreg nie, aangesien die individu met sy regte alles in relatiewe subjektiwiteit laat opgaan. Daar is nie meer waarheid nie – elkeen glo wat hy of sy wil. Gemeenskaplike tradisionele opvattings en gebruike – of dit nou filosofies, godsdienstig of polities is – het hulle gemeenskaplike belang, waarheid en invloed in die gemoedere en oortuigings van die Westerse mens verloor. Vanuit ons Westerse perspektief is die hoogtepunt by die draai van die vorige eeu bereik onder die slagwoord van ‘postmodernisme.’  Hoewel die term moeilik omskryfbaar is, kenmerk individualisme, ekstreme egalitarisme en die afwesigheid van absoluuthede die benadering. Sekerhede en outoriteit is vaarwel toegeroep. Niemand (veral nie die kerk nie) mag homself meer die reg aanmatig om te dink dat sy waarheid hoër as die ander een se waarheid is nie. Dit impak op die Christendom is voelbaar. Die Bybel het nie meer absolute gesag nie en dit maak dit aanmatigend om bv. te beweer dat Jesus die enigste Verlosser is. ‘n Relatiwistiese tydsgees wat alle gesag bevraagteken stel die kerk voor moeilike keuses, waarop later teruggekom word.

 

3 Sosiale verskuiwinge

In Suid-Afrika het ons belangrike sosiale, politieke en kulturele veranderinge in die afgelope dekade beleef, veral met die invoering van menseregte. Menseregte verplaas die setel van besluitneming en outoriteit grootliks na die mens. Mense besluit nou wat hulle as relevant beskou op grond van hulle eie voorkeure. ‘n Wesenskenmerk van die Christendom as openbaringsgodsdiens is egter dat dit gesag en outoriteit buite die mens soek, naamlik in God en in die Skrif. Hierdie eksterne gesag in God bots egter met ‘n basiese uitgangspunt van menseregte, naamlik die vryheid van die individu tot die vorming van eie opinies. Die belangrike punt hier is: die mens as besluitnemer bepaal wat relevant is en wat nie. Waarhede binne die Christendom is nie meer wetenswaardig of belangrik omdat dit  goddelike waarhede as sodanig oordra nie (ek verwys hier onder andere na dele van die belydenisskrifte) – die mens stel net eintlik belang in wat vir hom of haar op daardie oomblik relevant is. Die konsekwensie is dat as daar dus skrifwaarhede is wat nie as relevant of aanvaarbaar ervaar word nie, kan die mens as besluitnemer dit eenvoudig ignoreer, onaanvaarbaar of as irrelevant verklaar.        

Aan bogenoemde drie realiteite kan ons nie verander nie, maar kan dit alleen binne ons situasie erken en daarmee rekening hou. Ons moet besef dat die band tussen Skrif en kerk wesentlik aan die Christendom deur die eeue was, dat die gesag egter in postmodernistiese relatiwisme opgelos word en dat die mens deur menseregte die besluitnemer geword het in die plek van ‘n gesagvolle openbaringsaansprake deur God.

In die volgende artikel gaan daar gekyk word hoe bogenoemde die lees van die Bybel beïnvloed/beïnvloed het.  

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt