Christelike vryheid – sekere beginsels
There is a world of difference between tempting God and putting Him to the test. The former is forbidden; the latter welcomed – Wachrman Nee
Christelike vryheid – sekere beginsels
Sinclair Ferguson het ‘n interessante artikel oor die uitleef van ons Christelike vryheid geskryf. Is dit sonde as die Duitsers bloedwors eet? Levitikus 17:10 – 16 verbied tog uitdruklik die eet van bloed. Sulke debatte bring basiese teologiese sake na vore:
- Wat is die verband tussen Ou en Nuwe Testamente?
- Wat is die verband tussen die wet van Moses en die evangelie van Jesus Christus?
- Hoe moet ‘n Christen sy vryheid in Jesus Christus uitleef?
Die vergadering in Jerusalem (Handelinge 15) het hierdie soort praktiese vrae probeer beantwoord. Paulus gee baie aandag aan hierdie soort vrae – hy was immers een van die mense wat die besluite van hierdie vergadering moes uitdra en die brief wat die vergadering opgestel het aan die mense verduidelik. Die gemeente in Rome vra dieselfde vrae. Hy gee aan hulle ‘n stel beginsels wat vandag nog net so geldig is (Romeine 14:1 – 15:13). Hier gee hy vir ons noodsaaklike riglyne vir die beoefening van Christelike vryheid. Hier is vier sulke riglyne:
Riglyn #1: Christelike vryheid moet nooit vertoon word nie. Laat jou oortuiging hieroor ‘n saak tussen jou en God wees (14:22). Ons is vry van die dieetwette van Moses – Jesus het alle voedsel rein verklaar (Markus 7:18 – 19). Ons kan maar bloedwors eet. Maar jy hoef nie jou vryheid uit te oefen om dit te geniet nie. Paulus vra deurdringende vrae oor diegene wat daarop aandring om onder alle omstandighede hulle vryheid uit te oefen. Bou dit nou werklik ander op? Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (14:19).
Die subtiele waarheid is dat die Christen wat sy vryheid moet uitoefen in werklikheid ‘n slaaf van daardie ding waarop hy aandring, is. Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie (14:17) – as jy dit dink, verstaan jy nie die evangelie en die vryheid van die Gees nie.
Riglyn #2: Christelike vryheid beteken nie dat jy jou mede-Christene eers verwelkom nadat jy hulle siening oor X en Y ondersoek het. God het hulle in Christus verwelkom net soos hulle is – en ons moet dieselfde doen. Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil … Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem (14:1, 3). Natuurlik sal God hulle nie los soos hulle is nie, maar hulle patroon van optrede is nie die basis vir Jesus verwelkoming van hulle nie. Ons moet dit ook nie doen nie.
Ons het baie verantwoordelikhede teenoor ons naaste, maar om hulle te oordeel is nie een van hulle nie. Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee (14:12). Oppas vir ‘n gees van veroordeling. Met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word (Matteus 7:2).
Riglyn #3: Christelike vryheid mag nooit so gebruik word dat dit ‘n struikelblok vir ander word nie. Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem jou liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie (14:13). Dit moet deel van ons denkwyse word en ons gedrag beïnvloed. Ons het vryheid in Christus sodat ons ander kan dien en nie om ons aan ons eie voorkeure oor te gee nie.
Riglyn #4: Christelike vryheid vereis dat ons die beginsel van Christelike balans uitleef: Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie (15:1 – 3). Dit reduseer die saak tot die basiese vrae van liefde vir Jesus Christus en ‘n begeerte om Hom na te boots, want sy Gees bly in ons om ons meer en meer soos Hom te maak.
Ware Christelike vryheid beteken nie dat ons op ons regte aanspraak maak nie. Die Christen besef dat voor God hy geen regte het nie – in ons sondigheid het ons al ons regte verloor. As ons besef dat ons nie ons regte verdien nie, kan ons hulle as voorregte beoefen. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie … Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie (14:15, 20).
In Christus is ons vry, maar ons leef in ‘n wêreld wat nie ons vryheid kan hanteer nie. Die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê (Romeine 8:21).
‘n Christen is die vryste mens van almal, en aan niemand onderworpe nie; ‘n Christen is die mees pligsgetroue dienaar en onderworpe aan almal (Martin Luther)