Die Apokriewe boeke (4)

Die Apokriewe boeke (4) – Jan van der Watt

1.Barug

In die boek Barug, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, konsentreer die skrywer op ‘n paar gedagtes wat eeue lank baie belangrik vir die Jode was. Die belangrikstes hiervan is:

(1)    Die gedagte dat God die Een is wat volledig beheer het oor alles wat met Israel gebeur;

(2)    Dat die Jode swaarkry omdat hulle sonde gedoen het en God hulle straf vir hulle sonde; en

(3)    Hoe belangrik wysheid is en dat die wet van die Here die beste uitdrukking van die wysheid is.

In hoofstuk 1 kry ‘n mens ‘n aangrypende skuldbelydenis wat op hierdie gedagtes gebaseer is:

15 Julle moet sê: “Die Here ons God het reg gedoen, maar ons is vandag openlik in skande – ons, die mense van Juda, die inwoners van Jerusalem, 16 ook ons konings, ons leiers, ons priesters, ons profete, en ons voorouers, 17 want ons het sonde gedoen teen die Here ons God. 18 Ons was ongehoorsaam aan Hom; ons het nie geluister wat Hy vir ons gesê het nie; ons het nie die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het, nagekom nie. 19 Vanaf die dag wat die Here ons God ons voorouers uit Egipte gebring het tot vandag was ons aan Hom ongehoorsaam. Ons het ons nie aan Hom gesteur nie en nie geluister wat Hy vir ons sê nie. 20 Nou ervaar ons die slegte goed, die vloek wat die Here vir Moses gesê het hy moet aankondig toe Hy ons voorvaders uit Egipte gebring het om vir ons ‘n land wat oorloop van melk en heuning te gee.

21 Ons het nie geluister wat die Here ons God sê toe Hy met ons gepraat het deur die profete wat Hy na ons gestuur het nie. 22 In plaas daarvan het ons elkeen gedoen waarvoor ons lus was; ons het slegte dinge gedoen en ander gode gedien en dinge gedoen waarvan die Here ons God nie gehou het nie.”

 

2. Die brief van Jeremia

Een van die groot versoekings vir Israel was altyd dat hulle sal swig voor die afgode van die vyand. Dit kon byvoorbeeld maklik gebeur dat hulle dink dat Israel se vyande so magtig is omdat hulle gode sterker as die Here is en dan begin hulle om die afgode te aanbid. In die Ou Testament kry ‘n mens gereeld gedeeltes waarin die Here sy volk waarsku om nie voor so ‘n versoeking te swig nie. In Die Brief van Jeremia, een van die Ou-Testamentiese apokriewe, kry ‘n mens dieselfde soort waarskuwing. Die skrywer doen sy absolute bes om die onvermoë van die afgode te beklemtoon:

 

45 Daardie gode word deur skrynwerkers en goudsmede gemaak; hulle kan niks anders wees behalwe dit wat hierdie vakmanne wil hê hulle moet wees nie. 46 Die mense wat hulle maak, leef self nie eens baie lank nie. Hoe kan dit wat hulle maak, dan gode wees? 47 Al wat hulle ná hulle dood vir die mense wat nog kom, nalaat, is leuens en skande! 48 Wanneer daar oorloë of rampe kom, praat die priesters onder mekaar oor waar hulle met die gode kan gaan wegkruip! 49 Hoe is dit moontlik dat ‘n mens nie kan besef dat hierdie goed nie gode is nie? Hulle kan hulleself nie uit oorloë of rampe red nie! 50 Hulle is houtbeelde wat met goud en silwer oorgetrek is. Later sal dit uitkom dat dit alles bedrog was. Alle mense en konings sal sien dat hulle nie gode is nie, maar net die handewerk van mense. Ja, God werk nie deur dié gode nie. 51 Wie besef nie dat hulle nie regtig gode is nie?

52 Hulle kan nie ‘n koning aan bewind bring oor ‘n land nie en hulle kan nie vir mense reën gee nie. 53 Hulle kan nie aan hulleself laat reg geskied of iemand red wat onregverdig behandel is nie. Hulle is magteloos – soos kraaie wat tussen hemel en aarde rondhang. 54 As daar ‘n vuur uitbreek in die tempel van hierdie houtgode wat met goud en silwer bedek is, sal die priesters vlug en wegkom, maar die gode sal soos die tempel se balke in die vuur uitbrand. 55 Hulle kan nie ‘n koning of vyandelike magte weerstaan nie. 56 Hoe kan iemand erken dat hulle gode is of hulle gode noem?

Outeur: Prof Jan van der Watt