Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

image_pdfimage_print

Where Christ is truly preached, there is the gospel; and where the gospel is truly believed, there is the church. —Mark E. Ross

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (10)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Die kerk: Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.

 

Ons gemeenskappe staan vol kerkgeboue. Om saam met mede-volgelinge van Jesus in ‘n spesiale plek bymekaar te kom, is belangrik vir ons geestelike groei. Dit is ‘n sigbare herinnering dat daar meer aan die lewe is as besigheid, inkopies, vermaak, ens. Ongelukkig kan die gebou ons fokus van wat die ware kerk moet wees, wegtrek. Die kerk is mense.

 

In die ware kerk staan die Heilige Gees sentraal – in ons vergaderings, missie en gebede. Jesus is aan die werk om deur die Heilige Gees sy kerk uit te bou en hiervoor gebruik Hy  mans en vrouens as boumateriaal. Petrus stel dit so: Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Petrus 2:5). In hierdie heilige priesterdom dien ons as God se verteenwoordigers op aarde. N. T . Wright stel dit so: As priests, we are bringing the presence of God into the wider world, carrying forward the mission of declaring God’s powerful and rescuing acts, and beginning the work of implementation the messianic rule of Jesus in all the world.

 

Dit skep vir ons ‘n probleem. Baie mense sien die kerk as die plek waar jy vriende ontmoet en so ‘n ietsie van God leer. Hierdie is ‘n selfsugtige motivering – ons wil ons begeertes gedryf deur ons verbruikersmentaliteit bevredig. Wat nodig is, is dat ons ons priesterlike identiteit aanvaar en God deur die plaaslike gemeenskap dien.

 

In die afwesigheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid in die kerk, is die kerk stil en sonder lewe. Plaaslike gemeentes moet aanpas soos die kultuur om ons verander. Kerke moet verander om getrou aan Jesus, sy boodskap en sy verhaal te bly. Hierdie kerk wat voortdurend verander, is, volgens die belydenis, ‘n heilige kerk. Heiligheid beteken nie ons kom al die reëls na nie; heiligheid beteken ons word meer soos God: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:48). Dit maak die kerk anders as die kultuur waarin ons leef. Daarom moet die kerk anders as die wêreld lyk – die kerk leef volgens ander waardes.

 

God het die kerk tot stand gebring om vir die wêreld te wys hoe ons moet leef – verhoudings, die huwelik, die gesin, geregtigheid ens. Ongelukkig word die kerk so dikwels deur interne struwelinge gekenmerk. Dit vereis nederigheid en selfopoffering. Sien die samelewing reg en geregtigheid in die kerk?

 

Die kerk is ook ‘n algemene kerk. Dit beteken ons glo aan ‘n groter kerk as net ons eie plaaslike gemeente. Dit bestaan uit mense dwarsoor die wêreld wat in Jesus glo, die Skrif liefhet en die belydenis aanvaar. Maar wat van al die verskillende denominasies? Die belydenisse is die basis waarop ons die eenheid in die kerk behou. Ons kan verskil oor kerkleierskap of die vorm van openbare aanbidding, ens. Ons mag egter nooit toelaat dat hierdie nie-noodsaaklike elemente die belangrikste elemente in die lewe van die kerk word nie.

 

image_pdfimage_print

You may also like...