Die Apostoliese Geloofsbelydenis (14)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (14)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 Die lewe: Ek glo aan … ‘n ewige lewe

 

Johannes begin sy evangelie met hierdie woorde: In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (1:4 – 5). Jesus noem Homself die brood wat lewe gee en die opstanding en die lewe. Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (Johannes 10:10). Toe van Jesus se dissipels Hom verlaat het, vra Hy vir die twaalf of hulle nie ook wil weggaan nie. Petrus antwoord dan: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee (Johannes 6:68).

Hierdie lewe kan ons nie in onsself kry nie. Ons kan hierdie lewe ondervind, want Jesus gee ons daartoe toegang: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6).

Maar wat het ons nodig om hierdie lewe te ondervind?

Geloof – ons moet in iets glo. Die geloofsbelydenis maak dit duidelik wat hierdie iets is waarin ons moet glo. Natuurlik kry ons nie in die belydenis alles wat ons van God moet weet nie, maar dit is die fondament. Geloof verbind ons met die verlede – wat God gedoen het en hoe Hy Hom aan ons geopenbaar het.

Liefde. Ons het mense met wie ons ons liefde en ons lewe kan deel nodig. Liefde gaan oor verhoudings. Geen wonder Jesus het die gebooie opgesom in een woord nie – liefde.

Die Didache, ‘n antieke versameling van Christelike uitsprake, sê dat daar twee weë is – een van Lewe en een van Dood. Die Apostoliese Geloofsbelydenis open die deur na die ewige lewe.