Die Biddende Hande – Hermie van Zyl

Susan vra:

Kan julle asb aan my inligting verskaf of die biddende hande ’n “curse” is wat ons aanbid? Mag ek die biddende hande in my huis hê as simbool van God se liefde vir my in gebed?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met “biddende hande” verwys ons vraagsteller waarskynlik na die bekende penskets deur Albrecht Dürer van die gevoude biddende hande waarvan daar afdrukke in baie huise hang. Die oorspronklike is ongeveer in 1508 geskets en hang tans in die Albertina-museum in Wene, Oostenryk. Oorspronklik was dit deel van ’n groter skets van ’n apostel besig om te bid. Die hande het toe later losgeraak van die groter eenheid en as ’n selfstandige skets voortbestaan. Daar word gespekuleer dat Dürer sy eie hande gebruik het as “model” vir die skets. Die punt is egter: die hande is die uitbeelding van ’n innige gebedshouding, en juis om daardie rede het dit so bekend en gewild geraak as simbool van ’n lewenshouding van opregte Godsvertroue.

Nou is daar egter sommige Christene wat allerlei sinistere betekenisse in die biddende hande probeer vind. Hulle sien dit as bedelaarshande met ’n heidens-Oosterse agtergrond, spesifiek in die Hindoeïsme of Boeddhisme, en merk dit selfs as Satanisties aan. Dit word verder ook so voorgehou dat as jy dié hande in jou huis het jy (onwetend) gekontamineer raak met heidense invloede en jy so ’n vloek oor jou huis bring. Allerlei anekdotiese verhale word dan ook vertel oor hoe sleg dit met mense gegaan het met dié hande in die huis, en die oomblik toe dit verwyder is, het dit beter met hulle begin gaan. Daar is spesifiek ook ’n finansiële konnotasie: die gevoude hande sou dan bedelaarshande voorstel wat eintlik niks van God verwag nie; daarom gaan dit finansieel sleg met mense wat dié hande in die huis het. Daarteenoor word dan die ware Bybelse gebedshouding gestel – die oopgespreide, opgehefde hande tot God (bv Ps 28:2; 134:2; 1 Tim 2:8). Slegs so – met die regte gebedshouding – kan dan ook finansiële voorspoed verwag word.

Hoe moet ons oor hierdie siening oordeel? Die volgende gesigspunte is myns insiens relevant:

  • Dit is vir my moeilik om in te sien hoe ’n erkende simbool van Christelike gebedspiëteit sonder meer in verband gebring kan word met heidense invloede. Selfs al sou daar ’n tradisie in een of ander Oosterse godsdiens bestaan van saamgevoude bedelaarshande, beteken dit nog nie dat óns daardie konnotasie daaraan (moet) heg nie, veral nie as die biddende hande van Dürer spesifiek geskets is om Godsvertroue uit te beeld. Dit klop net nie. “Beauty is in the eye of the beholder”, lui die Engelse spreekwoord, bedoelende: die waarde wat iets vir jou het, hang alles af van die waarde wat jý daaraan tóéken. Die punt is: daar is niks intrinsiek aan die biddende hande wat dit koppel aan een of ander heidense godsdiens nie. Inteendeel, die ontstaan van die skets is juis Christelik. Daar is niks inherent boos aan die biddende hande nie; dit hang af van hoe jy daarna kyk. Soos Paulus dit stel in Romeine 14:14: “… niks is vanself onrein nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein.”
  • Dit is wel so dat opgehefde hande ’n gebedshouding is wat in die Bybel voorkom. Maar dit beteken nie dis die enigste regte gebedshouding nie. Gebedshoudings is baie kultuurgebonde; gevoude hande (soos in Dürer se skets) het veral in die Weste ontwikkel as ’n simbool van gebedspiëteit, waar die bidder sy afhanklikheid van en vertroue in God uitbeeld. Dit druk verder die gedagte uit dat jy op niks geregtig is nie, maar pleit om God se genade. Die sogenaamd Bybelse gebedshouding van opgehefde hande is dus nie beter as ander net omdat dit in die Bybel voorkom nie. Dit verseker ook nie gebedsverhoring nie. Gebedsverhoring het niks te make met jou gebedshouding nie, maar met die ingesteldheid van jou hart. Daarom het die tollenaar van Lukas 18:9-14 regverdiger huis toe gegaan as die Fariseër, al het die tollenaar nie die regte gebedshouding gehad nie. Hy het nie eens na die hemel opgekyk nie, maar op sy bors geslaan toe hy bid. En in elk geval, opgehefde hande is nie die enigste gebedshouding wat in die Bybel voorkom nie; daar is ook gevalle waar mense op die grond neerval voor God (Num 24:4; Matt 4:9). Die punt is: daar is verskillende gebedshoudings, in die Bybel en in verskillende kulture. En verder, die “regte” gebedshouding verseker nie outomaties die regte resultate by God nie; omgekeerd, ’n “verkeerde” gebedshouding kan ook die “regte resultate” lewer. Dit hang alles van die bidder se ingesteldheid af.
  • Die siening dat die biddende hande ’n heidense konnotasie het, raak ook die hele kwessie van toevallige beïnvloeding aan. Sommige Christene glo dat as jy ’n “heidense” simbool aanraak of in jou huis inbring, jy daarmee outomaties ’n vloek of demoniese binding op jou huis plaas. Godsdiens werk egter nie so nie. Natuurlik moet mens mooi dink om sommer enige afbeelding of simbool in jou huis in te bring, want waarmee jy jouself omring, sê ook iets van jouself. Maar dit het niks te make met outomatiese besoedeling of demoniese binding nie. Fisiese voorwerpe is nie as sodanig boos nie en kan nie outomaties ’n vloek op jou huis plaas nie. Die enigste manier waarop die Bose beslag kan lê op ’n mens is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die Bose begin besig hou. So ’n beslaglegging volg egter eers na ’n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig Sataniese binding of duiwelbesetenheid tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid aan God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die Bybel wys ’n duidelike weg aan hoe om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake (vgl Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8-9; Efesiërs 6:11).
  • ’n Mens moet oppas vir ’n raak nie, smaak nie, roer nie aan nie-houding. Paulus waarsku hierteen in Kolossense 2:16-23 as hy sê dat die gemeente hulle nie moet laat mislei deur ’n selfgemaakte godsdiens van danige nederigheid en van menslike leerstellings en gebooie wat ander gedurig waarsku nie: hieraan mag jy nie vat nie; daaraan mag nie jou mond sit nie; daaraan mag jy nie raak nie. Dit kan uitloop op ’n soort wettiese godsdiens waar jy jou selfgemaakte reëls aan ander opdring en ander veroordeel wat nie jou opvattings deel nie. Nee, oor sekere dinge het Christene bepaalde vryhede en keuses wat hulle mag uitoefen. En ek dink dat die afbeelding van gevoude biddende hande een van daardie dinge is waaroor ons mekaar ruimte moet gun om te verskil, sonder om wetties en rigied daaroor te raak. Ek hoef my nie te laat intimideer deur mense wat my vanuit hulle “dieper kennis van sake” probeer oortuig dat hulle siening reg is nie. Maar daar is nog ’n verdere perspektief, wat ons by die laaste gedagte bring.
  • Ons kan gerus leer uit Paulus se hantering van sake waar Christene in sy tyd radikaal verskillende sieninge omtrent die gevaar van duiwelbeïnvloeding gehad het. In Romeine 14 en 1 Korintiërs 8 handel hy oor die destyds sensitiewe aangeleentheid van vleis wat in afgodstempels aan afgode gewy is en agterna in die slaghuise vir die algemene publiek beskikbaar gestel is. Sommige Christene het geweier om van die vleis te eet omdat hulle gedink het dat mens so deel kry aan die afgodsdiens. Ander het geredeneer dat afgode in elk geval nie bestaan nie; vleis is vleis, Christene is dus vry om daarvan te eet. So tussen die reëls blyk dit dat Paulus ook so gedink het, maar hy hanteer die saak nogtans so deur daarop te wys dat hierdie verskillende sieninge nie deurslaggewend vir ’n mens se geloof is nie. Christene moet dus mekaar se standpunte respekteer. Veral diegene wat nie gewetensbesware teen die eet van afgodsoffervleis het nie moet die ander wat dit wel het se gevoelens in ag neem en nie onnodig aanstoot gee deur hulle oortuigings op die ander af te dwing nie. Dis die weg van die liefde. Toegepas op die kwessie van gebedshande: As dit vir jou ’n gruwel is, bly weg daarvan. Maar moenie ’n kruistog daarvan maak asof almal jou siening moet deel en ook sulke afbeeldings uit hulle huise moet weghou nie. As hulle nie daardeur gepla word nie – trouens, juis daardeur gestig en versterk word – respekteer dan hulle siening. Andersom: mense wat geen probleem het met die gebedshande nie, moenie dié wat dit wel het afmaak as bekrompe geesdrywers wat in alles ’n duiwel sien nie. Al stem jy nie met hulle standpunt saam nie, respekteer dit en aanvaar hulle as mede-Christene wat ook die Here liefhet.

My slotsom is: In die lig van bostaande uiteensetting hoef ons vraagsteller na my oordeel nie bang te wees dat sy ’n vloek oor haar huis bring met ’n skets of beeld van die biddende hande nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl