Die blindgebore man – Hermie van Zyl

Jan vra:

In Johannes 9:3 maak Jesus ‘n opmerking wat ek nie verstaan nie. Hy sê: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word”. Met ander woorde hier is drie mense wat nie sonde ken nie en die seun se blindheid is vooraf georden met die doel dat Jesus hom op ‘n spesifieke tydstip siende kon maak om die “werke” van God openbaar te maak. Die vier Evangelies is vol van verhale van blindes wat deur Jesus siende gemaak is, óf deur aanraking óf slegs deur ‘n woord te spreek. In hierdie gevalle was die omstanders verbaas en die owerpriesters en skrifgeleerdes verontwaardig. In hierdie gevalle het Jesus seker tog ook die werke van God openbaar gemaak?

 

Prof Hermie Antwoord

Dit is belangrik dat mens eers die hoofoogmerk van die verhaal van die genesing van die blindgeborene in Joh 9 sal verstaan voordat mens na enkele verse kyk.

Dit is duidelik dat Johannes ‘n teologiese oogmerk met die verhaal het. Dié word reeds in 9:4-5 gestel, nog voordat die genesing vertel word, sodat die leser vooruit weet wat vir die verteller die swaarste weeg. Die sleutelwoorde vind ons in 9:5 – “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” Die genesing van die blindgeborene staan dus in diens van die teologiese tema dat Jesus die lig vir die wêreld is. Daarom val die hoofklem in die verhaal nie soseer op die genesing self nie, maar op die daaropvolgende gesprek tussen die Fariseërs en die geneesde en dié se ouers. Die doel is om te wys dat die man wat eens blind was, nou nie net letterlik kan sien nie, maar ook geestelik. Hy sien nou dat Jesus die Seun van die mens is, dit wil sê, die Gestuurde van God; hy glo in Hom en aanbid Hom (9:36-38). Daarteenoor is die Fariseërs wat daarop roem dat hulle kan sien, geestelik blind, want hulle kan nie insien dat Jesus die Gestuurde is nie (9:40-41). Daarom bly hulle blind. Die hele verhaal is dus daarop afgestem om aan te toon dat Jesus gekom het sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word (9:39).

En so word die werke van God geopenbaar, presies dit waarvoor Jesus in die wêreld gekom het (9:3-4). Jesus is die Een wat van God gestuur is om God se werke in die wêreld te kom bekendstel. Dít is sy identiteit: Hy is God se Gestuurde, die Lig vir die wêreld. Sommige sien dit raak (die blindgeborene), ander kan dit nie insien nie (die Fariseërs/Jode).

Nou kan in ons in groter besonderhede aandag gee aan Joh 9:3. Ten grondslag van die vraag van die dissipels in 9:2 is die destydse opvatting dat daar ‘n direkte verband is tussen sonde en siekte. Dit is egter moeilik om te aanvaar dat die man se blindheid die gevolg is van sy eie sonde, aangesien hy blind gebore is. Dan moet dit seker sy ouers wees wat gesondig het. Maar êrens moes iemand gesondig het, so is geglo. Hierdie gedagte vorm ook die agtergrond van die verhaal van Job in die Ou Testament. Job se vriende was van mening dat Job ernstig moes gesondig het om so te ly. Al wat hy nou kan doen, is om sy en sy kinders se sonde te bely, dan sal alles regkom (Job 8:4-7). Dieselfde gedagte onderlê ook die gebeure waar Pilatus sekere Galileërs laat doodmaak het, en waar ‘n hele klomp mense dood is toe die toring van Siloam ineengestort het (Luk 13:1-5). Populêre wysheid wou dit hê dat hierdie ongelukkiges se sonde groter moes gewees het as ander s’n, anders sou hierdie verskriklike dinge nie met hulle gebeur het nie. Jesus wys egter alle spekulasies rakende die oorsaaklike verband tussen sonde en siekte/ongeluk af.

Dieselfde doen Hy ook in Joh 9:2-3. Jesus ontken dat die man of sy ouers se sonde die oorsaak is van die man se blindheid. Trouens, Hy gaan glad nie op hierdie soort van spekulasies in nie, maar beklemtoon eerder dat God die man se blindheid gebruik om sy magtige werke as Redder en Geneser te openbaar. Ons mag dit egter nie so verstaan dat God die man se blindheid beskik het of “vooraf georden” het sodat God hom op ‘n spesifieke tyd gesond kon maak nie. Dan maak ons weer vir God, en nie ons sonde nie, die oorsaak van ons ellendes. Ons moet dus nie die “sodat” van Joh 9:3 deterministies verstaan nie, dit wil sê, asof God die man se blindheid vooraf beplan of verordineer het nie. Dit beteken bloot dat God hierdie ongelukkige situasie, ongeag die oorsaak daarvan (kan mens ooit weet?), so gebruik dat daardeur sy genesende krag blyk en dat Jesus die Gestuurde is wat namens God hierdie kragtige werk doen.

Hierdie gedagte om God se werke, mag of heerlikheid bekend te maak, is ‘n belangrike tema in Johannes. In Joh 11:4, by die dood van Lasarus, word ook gesê dat Lasarus se siekte nie op die dood sal uitloop nie (hoewel hy toe wel later dood is), maar gebeur sodat God se wonderbaarlike mag en die Seun se heerlikheid tot openbaring kan kom. En dit gebeur toe Jesus vir Lasarus uit die dood opwek. So val die fokus in Jesus se wonders nie soseer op die wonders self nie, maar op wat dit van Jesus sê. Hy is die Lig vir die wêreld, die Gestuurde van God. En in Joh 9 word die effek hiervan duidelik – die blinde man sien en glo, maar die Jode nie. Ook in die Ou Testament kom die gedagte voor dat God wonders doen om sy magtige werke en Naam bekend te maak. In Eks 19:16 (aangehaal in Rom 9:17) sê God aan Farao dat Hy hom spaar sodat dié al God se wonders en mag kan beleef. En so sal God se Naam oor die hele wêreld geroem word.

Die oogmerk van die wonders in die ander Evangelies is eweneens om Jesus se identiteit te openbaar, hoewel dit daar nie met die term “werke van God” omskryf word nie. Daar is dit meer so dat Jesus met sy wonders bewys dat die koninkryk van God ‘n werklikheid geword het op aarde (Luk 11:20). Maar saaklik gesproke is “werke van God” en “koninkryk van God” een en dieselfde ding. Ons moet dit dus nie so verstaan dat die genesing van die blinde in Joh 9 God se werke openbaar terwyl dit nie so is in die ander Evangelies nie. Johannes formuleer sy Evangelie net anders as die ander, maar almal demonstreer die werke van God.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl