Die Bybel is ‘n lewegewende wet
“I would rather wear out than rust out,” George Whitefield
Die Bybel is ‘n lewegewende wet
Min mense raak opgewonde oor wette. In Psalm 119 noem die skrywer herhaaldelik die Skrif as die wet. Dit maak nie juis ons harte warm nie – dit intimideer ons.
Die skywer van Psalm 119 het iets geweet wat ons dikwels nie raaksien nie: God se wet bring lewe. Dit is iets soos ‘n maatlyn – jy maak seker jy het die regte lengte materiaal. Sonder dat jy gedurig meet, verval die eenvoudigste take in chaos.
God se wet is die maatband waarmee ons alles meet; dit is die standaard waarmee ons bepaal wat goed of sleg en reg of verkeerd is. Natuurlik haat ons dit as iemand anders vir ons sê wat reg en verkeerd is – ons sal eerder ons eie insigte volg. Ons weet ons harte is nie 100% rein nie. As ons nie ‘n maatband het nie, weet ons nie wat reg of verkeerd is nie. Ons het iets ekstern nodig om reg van verkeerd te onderskei. Daardie iets is die woord van God.
Die Bybel behoort ons soms te weerspreek en te ontstel. Gebeur dit nie, lees ons nie die Bybel korrek nie. Ons projekteer net ons vooropgestelde idees na God en verbeel ons dat Hy met ons saamstem. Al weerspreek God se woord ons lei dit ons tog deur die lewe. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:105). Dit is asof jy verlore was en weer die pad kry. Nou kla jy nie dat die pad te nou of beperkend is nie – jy verbly jou net daarin dat jy nie meer deur dorings en distels moet voortstrompel nie.
Dit is waarom die skrywer van Psalm 119 hom in die wet verbly. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad oor my die oorhand kry nie (119:133). Die Satan wil hê dat daar dele van ons lewens moet wees waar ons God se woord verontagsaam. So baie van ons laat dit toe. Die wysheid van God is nie arbitrêr nie. Dit is nie ‘n opsionele deel van ons lewens nie. Die wysheid van God is die lewe self.