Die Christelike geloof versprei vinnig

image_pdfimage_print

Are you too bad to receive grace? How could you be too bad to receive what is for the bad? —David Powlison

 

Die Christelike geloof versprei vinnig

Candida Moss is Professor in Nuwe Testament en die Vroeë Christendom aan die Universiteit van Notre Dame. Sy het op CNN se Belief Blog ‘n artikel oor ‘n ernstige siekte in Egipte geskryf.

 

Argeoloë in Egipte het onlangs oorblyfsels opgegrawe van ‘n pessiekte wat sommige mense geglo het die einde van die wêreld ingelei het. Hierdie idee het gehelp om die verspreiding van die Christelike geloof te bevorder.

 

‘n Span van die Italian Archeological Mission to Luxor het onlangs die oorblyfsels van ‘n begraafplaas in die stad ontdek. In die begraafplaas kry hulle liggame bedek met ‘n dik laag kalk. Die kalk is betekenisvol, want in die antieke wêreld is dit gebruik as ‘n ontsmettingsmiddel om die verspreiding van die siekte te verhoed. Daar was ook die oorblyfsels van ‘n groot vuur waar die oorblyfsels van die slagoffers verbrand is, asook die oorblyfsels van drie oonde wat gebruik is vir die produksie van kalk.

 

 

Potte gevind in die oonde het die wetenskaplikes in staat gestel om die ontdekking in die middel van die derde eeu te dateer. Dit kon hierdie ontdekkings dateer met wat bekend staan as “die pes van Siprianus.” Siprianus was in die middel van die derde eeu die biskop van Kartago. In ‘n skrywe – De mortalitate – beskryf hy hierdie siekte: “Die derms word deur aanhoudende braking geruk; die oë is aan die brand met die geïnfekteerde bloed; in sommige gevalle word die voete of ander dele van die ledemate weggevreet deur verrotting.” Baie siekes word blind en doof.

 

Toe die epidemie op sy ergste was, sterf 5 000 mense per dag in Rome alleen. Dit sluit in twee keisers: Hostilianus en Klaudius II Gothicus. Die sosioloog, Rodney Stark, skryf dat tot twee-derdes van die bevolking van Aleksandrië gesterf het

 

Moderne wetenskaplikes glo dat hierdie epidemie pokke was. Vir Siprianus was die egter ‘n teken van die einde van die wêreld Hy sê dat alhoewel Christene ook gesterf het, dit net nie-Christene was wat iets te vrees gehad het. Dionysius, die biskop van Aleksandrië skryf dat hierdie’n tyd van “ongekende vreugde” vir Christene was.

 

Hoe is dit moontlik? Die feit dat keisers gesterf het en dat heidense priesters nie die siekte kon verduidelik of voorkom nie, het die posisie van die Christene versterk. Wydverspreide siekte en dood, en die wete dat hulle self mag sterf, maak die Christene gewillig om martelaarskap te aanvaar. Hierdie epidemie het ook saamgeval met Romeinse wetgewing gerig teen Christene. Martelaarskap word dus ‘n redelike opsie. As die dood dan net om die draai is, laat jou dood tel.

 

Die aaklige beelde van ontbindende lyke en brandstapels van lyke, het ook die vroeë Christene se beskrywing van die hel beïnvloed – die hel was immers alreeds vol vuur en swawel. Soos die siekte versprei het, het hierdie bedreiging – die hel – al hoe meer na ‘n werklikheid gelyk. Nou dat die hel ‘n plek op aarde geword het, word Christene toenemend angstig om die hel in die nadoodse lewe te vermy.

 

Die epidemie wat soos die einde van die wêreld gelyk het, bevorder in werklikheid die verspreiding van die Christelike geloof!

image_pdfimage_print

You may also like...