Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47)
Die derde gesprek: Jesus die Seun van God (5:19-47) – Francois Malan
Hierdie gesprek is die sleutel om die hele Evangelie van Johannes mee te verstaan en te verklaar. Hierin verduidelik Jesus wat Hy in vers 17 bedoel het. Dit gaan oor die unieke verhouding tussen die Vader en die Seun, wat gestuur is as die instrument van God se finale doel met die mensheid en die skepping.
Die verhouding tussen die Vader en die Seun (5:19-24)
5:19 Die Jode het Jesus ernstig beskuldiging dat Hy die sabbat geskend het en Hom aan God gelyk gestel het. Daarop antwoord Hy met groot nadruk: (Amen, Amen) Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle. Wat hulle as ontheiliging van die sabbat beskou, is in werklikheid juis die uitvoering van God se wil; wat hulle as godslastering bestempel, is die uitdrukking van die ware verhouding tussen Vader en Seun. Die verbintenis is so innig dat Hy niks wil, wat die Vader nie wil nie (so anders as die mens se sonde wat sy eie weg wil inslaan sonder en teen God). Daar is geen botsing tussen die Vader en Seun se wil, denke of optrede nie. Soos die Vader doen, doen die Seun ook omdat Hy een is met die Vader (17:21-22). ‘wat Hy die Vader sien doen’ – hierdie ‘sien’ het die gedagte van ‘begryp’ ‘insig’ – die Seun begryp wat die Vader doen. In wese is Hy gelyk aan die Vader en tree met goddelike gesag op; in sy Middelaarswerk is Hy volkome gehoorsaam aan die Vader, saam het hulle die pad vir Hom bedink. Hy tree met die gesag op van Hom deur wie Hy gestuur is.
5:20 Die rede vir die wedersydse kennis van mekaar is die liefde van die Vader vir die Seun. Die woord wat hier gebruik word vir liefde, fileoo, gee uitdrukking aan die vriendskapsverhouding tussen die Vader en die Seun. Die teenwoordige tyd van die werkwoord druk die blywende verhouding uit, waarin die Vader voortdurend alles wat Hy doen aan die Seun wys, soos ook die genesing van die lam man op die sabbat. Die ‘groter dade’ word uitgespel in die volgende twee verse. Die Jode sal wel verbaas staan oor wat Jesus nog gaan doen, maar die meeste van hulle sal nie daardeur tot geloof in Hom kom nie; dié wat wel tot geloof kom sal daardeur die Vader eer (v23).
5:21 Twee bewyse word gegee dat die Seun aan die Vader gelyk is in goddelike mag en majesteit: (i) Volgens die Ou Testament is dit God alleen wat kan dood maak en lewend maak (Deutr.32:39; 1 Sam 2:6; 2 Kon 5:7; vgl. Rom 4:17; 8:11). Nou verklaar Jesus dat die Seun net soos die Vader ook die dooies kan lewend maak (vgl. Lasarus in Jn 11:41-44). Hy maak lewend wie Hy wil – en sy wil is nooit in stryd met dié van die Vader nie (v30).
5:22 (ii) Volgens die opvatting van die Jode is dit God wat sal oordeel oor die mens. Jesus sê die Vader het daardie taak geheel en al aan die Seun oorgedra, soos die Vader ook in ander dinge deur die Seun werk, byvoorbeeld sy woord oor die sabbat en sy genesing van die lam man op die sabbat. Dat Hy die wêreld en die mense oordeel, word deur Paulus uitgespel in Hand.17:31. Jesus sê Hy het gekom om skeiding tussen mense te maak (Jn 9:39), sodat dié wat nie in Hom glo nie, klaar veroordeel is (Jn 3:18). By die voleinding hou Hy gerig (Mat 13:40-43; 25:31-34; 41). Die Seun het dieselfde gesag as die Vader omdat Hy en die Vader een is.
5:23 Die Jode moet goed begryp dat hulle nie die Seun as godslasteraar kan uitwerp en tog meen dat hulle God daarmee eer nie. Wie die Seun nou reeds eer, eer ook die Vader. Die Seun is die volle selfopenbaring van God teenoor die mens (vgl. 14:7-11).
5:24 Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle – met groot nadruk word die volgende waarheid deur Jesus onderstreep: ‘wie my woord hoor en Hom wat My gestuur het, glo, het die ewige lewe, en kom nie in die oordeel nie, maar het klaar oorgegaan uit die dood in die lewe.’ ‘My woord’ sluit Jesus se hele heilsboodskap in. ‘Hoor’ sluit ‘aanneem’ en ‘gehoorsaam’ in. Om God te ‘glo’ beteken ‘n persoonlike verhouding van kinderlike vertroue op Hom, om jou self aan Hom toe te vertrou soos ‘n kind wat hom in sy vader se arms werp. So ‘n persoon is reeds in hierdie lewe deel van God se ewige lewe, van God se ewige huisgesin, saam met sy Seun. Vir die gelowige is daar geen veroordeling nie. Sy sonde is reeds deur Christus gedra. Vir die gelowige het die oorgang uit die ewige dood na die ewige lewe reeds plaasgevind (Jn 3:18,36).
Skrywer: Prof Francois Malan