Die Doop

Die Doop

Daar is seker in die teologie of kerk nie nóg ‘n onderwerp waaroor meer ver­skil word as die doop nie. Waarskynlik sal dit ook nie baie anders in hierdie kring wees nie. Ek gaan ook nie nou poog om ‘n breedvoerige teologiese daarstelling van die doop met al die tersaaklike probleme te bied nie, maar gaan ‘n soort van klankbord daarstel waarteen die twee voorgestelde formuliere geresoneer kan word.

Die Westerse teologie het die doop vanuit ‘n subjek-objekskema beoordeel. Hiervolgens is die klem óf op die objektiewe handeling van die doop óf op die subjektief-persoonlike ingesteldheid van die dopeling gelê. Die RKK het geleer dat die doop ‘n insigself werkende krag (ex opere operato) het en ook die erfsonde afwas (Augustinus). En omdat gemeen is dat ook babas in sonde ontvang en gebore word, was die argument, het hulle beslis ook die doop nodig. Die amptelike bediening van die doop deur die kerk (ex opere operantis) was ook van beslissende belang, soos in die stryd met die Donatiste al na vore gekom het.

Soos die Weste gaandeweg al hoe meer plek vir die individu en die mens se intrinsieke goedheid gemaak het, is die suigelingsdoop toe gevolglik deur die Waldense, Anabaptiste en Baptiste verwerp. Veral in Amerika het die Baptiste Beweging met ‘n sterk nadruk op die persoonlike geloofsbeslissing geweldig uitgebrei. Die doop word dus net aan belydende gelowiges bedien (believer’s baptism). Die 20e-eeuse Pinksterbeweging het hierdie opvatting oorgeneem en ook Karl Barth het die kinderdoop (alhoewel met ander argumente) afgewys.

Hierdie twee pole van objektiwiteit en subjektiwiteit staan dus teenoor mekaar (uit die perspektief van die mens), soos gawe en opgawe, passie en aksie. Metafories sou ons kon sê dat eers­genoemde is soos om in ‘n familie gebore te word en laasgenoemde is soos om in ‘n familie te trou. Albei hierdie aksente het ook stewige Bybelse grond.

Die probleem kom egter na vore wanneer die “Protestantse beginsel” (Paul Tillich) van die genade wat in geloof ontvang word, by die doop van ‘n kind ter sprake gebring word. Zwingli byvoorbeeld het daarom ‘n ander argument vir die regverdiging van die kinderdoop gevolg as Augustinus met sy erfsonde-leer, naamlik dat die doop die vaandel van die inlywing in die geloofs­gemeenskap is. Luther erken ook die band tussen geloof en doop onteenseglik, maar ontken ‘n voorskriftelikheid in die kronologie van die lewe van die individu. Verwerping van die kinderdoop, sê hy, en die gepaardgaande vereiste van die individu se persoonlike geloof, is volgens hom net ‘n bedekte vorm van werkgeregtigheid.

Dit behoort reeds duidelik wees dat ons in terme van hierdie twee pole, nie tussen die een of die ander hoef te kies nie. Ons kan en moet albei hierdie pole erken. Dit is immers ook ‘n misverstand dat sekere kerke téén grootdoop is – hulle verwerp net dat mense oorgedoop moet word. Boonop het Calvyn reeds gesê dat die doop altyd slegs kinderlik ontvang kan word – “alle” doop is dus wesenlik kinderdoop, ook grootdoop.

Die volgende drie stellings is samevattend vir ons van belang:

  • Die doop konstitueer die Christelike identiteit

Die gedoopte is één met Christus (se dood en opstanding) en is daarom ‘n nuwe mens. Die doop is dus meer as ‘n teken; die status van die betrokkene word verander. Dit is alleen moontlik omdat Gód sy Heilige Gees as die Bron van die lewe skenk. P T Forsyth sê dan ook dat soos wat doop op grond van geloof plaasvind, dit egter ook verstaan kan word as dat doop die induksie (inleiding) in die geloof (-gemeenskap) is.

  • Die doop het ‘n onlosmaaklike plek in die heilsgebeure

Geloof, bekering en wedergeboorte word dikwels met die doop in die NT verbind. Boonop word dit ook heel eksistensieel gedoen. Luther beklemtoon daarom ook die noue verband tussen doop en byvoorbeeld berou. Die eens-en-vir-altyd-wees (Romeine 6:10) van die doop in Christus word dus daagliks deur die gedoopte in die bekering bevestig. Die doop moet dus komprehensief verstaan word en wel in die sin dat die toekomstige dood en opstanding nou reeds (antisipatories) uitdrukking vind. Dit is ook die rede waarom die Nagmaal komplementêr tot die doop verstaan moet word: hierdie toe-eiening van die heilsgebeure duur die mens se hele lewe lank.

  • Die doop is inwydingsrite van die kerk

Die doop is altyd ‘n kerklike handeling. Dit gaan immers om die inlywing in die gemeenskap van gelowiges. Tog is die primaat die individu se gemeenskap met Christus. Die klassieke uitleg van die Twaalf Artikels se communio sanctorum, nl. dat die gemeenskap aan die “heilige dinge” (d i die sakramente, dus Christus), die gemeenskap aan die “heilige mense” voorafgaan, is dus ook hier van toepassing. Hierdie is ook die rede waarom die doop vandag toenemend in die ekumene diensbaar gemaak word.

Ten slotte moet ons altyd daarop bedag wees dat ons nie tradisie-ryke sakraments­teologieë in NT tekste indra nie (illegitimate totality transfer). Daar is seker min ander woorde in die Bybel wat soos ‘n “konsertina” (James Dunn) aangewend word. Tog beteken dit ook nie dat daar nou by twee duisend jaar se intense worsteling hieroor verbygegaan durf word nie. Oor ons koppe is immers die “sacred canopy” (Peter Berger) wat ons verwysingsraamwerk omspan. Ons betoog moet vanuit ‘n konsistente teologiese ontwerp geskied, en in ons geval, Bybels-Reformatories.

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag